Dag 13

Die kamer is klein. Die gebrek aan vars lug maak dit nog kleiner. Ons is vier mense wat in hierdie klein spasie moet oorleef. Vir 21 dae. Ons mag nie oor die drumpel van die deur trap nie. Ons mag nie ‘n venster oopmaak nie. Ons mag nie in die gang draf nie (nie dat dit ooit vir my opsie was nie). Ons is in Hong Kong in kwarantyn. Vandag is dag 13.

Op 19 Julie 2021 het ons die Verenigde Arabiese Emirate vaarwel geroep en in ‘n blikvoël se pens geklim. Agt ure en 6000 km later het ons weer ons voete op vaste grond gesit. Dit het gereën. Twee covid-toetse en ure se sit op yskoue lughawe-stoele en ‘n ongemaklike busrit het gevolg. Soos kos wat te lank in iemand se tande vasgesit het, is ons uitgespoeg in kamer 815. Ons moes ons eie tasse opsleep. En toe het daardie deur agter ons vier gekliek. Toe. Ingegrendel. Ingeperk. Isolasie-stasie. Kwarantyn-konyne. Noem dit wat jy wil… ons is al 13 dae hier en geen oulike naampie maak dit meer aanloklik nie.

Die twee dubbelbeddens spog met wit beddegoed. Die matte lyk asof dit van ‘n porno-filmstel van 1988 gesteel is. Die bruin leerstoel lyk so moeg soos oom Cyril tydens sy derde familie-afspraak in Julie. Maar die handoeke is sag en wit. En ek gril nie vir die stort nie. Die grootste genade is dat die internet nie stadig is nie. Op ons eerste dag het ons geslaap. Tussen dag 2 en 10 het ek tred verloor met dag en datum. Van tyd kon ek nie ontsnap nie. Klokslag 9 uur elke oggend word ons wakker gemaak met ‘n klop-klop-klop. Ontbyt wag vir ons op ‘n plastiekstoeltjie by die deur. Dit wissel van eiers wat blou gekook is, tot ‘n ongure bedryf wat in sop dryf, tot varkworsies wat (met ‘n titseltjie verbeelding) nog kan oink. Een uur gebeur dieselfde, maar nou is dit middagete van rys, noedels, ‘n souserige bedryf waarin enigiets van poedel tot pikkewyn sou kon borrel, afgesluit met opgekookte blomkool. Ek het net een keer die fout gemaak om daai groentebakkie in ons kamer oop te maak. Die reuk het tussen die lakens, in die mure, deur die tv-skerm, tot in die bure se longe loop lê. Ek vertrou dit sal oor 84 jaar werklik weer vars ruik in die kamer, maar tot dan vermy ek die groentebakkies en spuit ons maar parfuum.

Saans sesuur sal die klop-klop-klop aandete aankondig. Nog rys. Nog noedels. Nog gegeurde, waterige bakkies vol bedenklikhede. Op dag 4 identifiseer een van die kinders ‘n hoenderpoot. Chaos. Die drama was erger as die taalfoute op die Benoni Koop/verkoop groepie op Facebook. Nadat ek al my sonde bely en gesmeek het vir genade, was daar eindelik weer rustigheid tussen die vier mure. Ons bou legkaart, speel kaart, teken prentjies en kyk fliek. Daar is nie nuus nie. Ons word herhaaldelik getoets vir covid. Ons eet. Ons slaap. Ons was ons onderklere in die stort en ons koffiebekers in die wasbak. Ons eet in die bed en sit op die mat. Dis dag 13.

Ek gaan nie jok en skryf dat alles net mooiweer en maanskyn is nie. Maar dat dit nie net donderweer in die donker is nie, is ook waar. Ons moet 21 dae hier bly voor ons lewe in Hong Kong kan begin. Die nuwe hoofstuk. Ons is geseënd met wonderlike mense wat daagliks inloer: “Het jul iets nodig?”; “Hoe voel julle?”; “Lewe die kinders nog?” Ons ervaar simpatie: “Daai kamer is so klein.”; “Ek wens ons kon ‘n bord kookkos stuur.”; “21 dae is mos moer lank”. Maar dis al dag 13. In die groter skema is 21 dae niks. ‘n Vlietende oomblik in die kosmos van tyd. Maar dalk is dit net die gebrek aan vars lug wat nou praat. Ons gesels later weer.

Sweet

Ek sou myself nou nie juis as romanties beskou nie. Pik ek ‘n ou traantjie as ek twee verliefde oumense hand-aan-hand sien loop? Ja. Raak ek effe bewoë as ek sien hoe ‘n man op sy knieg neersak om ‘n ja-woord te vra? Soms. Maar al is ek altyd dankbaar vir blomme en skuimbaddens, is dit nie die dinge wat my lewe sin gee nie. Ek is maar ‘n eenvoudige meisie as dit by liefde kom. Bring vir my getrou koffie in die bed, elke oggend. Help my om die kombuis skoon te maak. Luister saam met my musiek, terwyl ons die bottel wyn drink. Ek voel liefde in my binnegoed, nie aan my buitekant nie.

Ek is wel bewus van dinge wat nie romanties is nie. Soos snot wat bo ‘n kinderlippie hard word. Gril. Soos gisteraand se oliespatsel teen die kombuismuur. Dubbel gril. En ‘n sweetdruppeltjie wat onder jou oksel geproduseer is en teen ‘n asemrowende spoed teen jou sy afhardloop om tot in jou lies te loop lê… dit is ook nie romanties nie. Dit is hoog somer in Abu Dhabi. Met temperature wat maklik bo 50 grade styg en die humiditeit wat selde onder 60% is, kan ek verstaan hoekom parfuum so groot deel uitmaak van die Midde-Oosterse kultuur. Dis om die walglike sweetreuke te verbloem. Ek het al baie gewonder of satan sommer self ‘n klomp kerrie vreet en dan hier kom staan en wind afblaas, want dit voel beslis so. Dalk is die woestyn die pizza-oond van die Noorse gode, of iets. Dis ook moontlik dat dit hierdie deel van die aarde die ruimtereisigers se stoompot is. Iewers moet ‘n verklaring wees vir die hitte, maar helaas, die slimmes skryf dit toe aan wetenskap en biome en allerhande geografiese liggings.

Nou kyk, ek is nie iemand wat hou van warm kry of sweet nie. Dis een van die redes hoekom ek nie oefen nie. Sweet wat in my oë drup, onder my arms versamel of tussen my boude afloop is nou maar nie een van my plesiertjies nie. Ek is dan maar eerder vet en koel in die koelte. Ek verlaat die gemaksone van lugverkoeling in my ou huisie selde en nie sonder absolute nood nie. Toe ek dus vanoggend my neus buite moes gaan wys (om ‘n verpligte Covid-toets te laat doen), was ek nie gelukkig nie. Minder as 15 sekondes in die son en ek was klaar so nukkerig soos ‘n tannie wat 45 minute gelede hoender bestel het in die Spur en dit uiteindelik gekry het… rou… en met die verkeerde sous. Manlief het my net so onderdeur sy sonbril deur beloer en ek sweer ek kon sy skietgebedjie hoor: “Sit tog net vrede in haar hart en ‘n wag voor haar mond.”

Ongelukkig word nie alle gebede dadelik verhoor nie. Ek was meer as net warm onder die kraag. Toe die sekuriteitswag, wat my aan ‘n moeë Nelson Mandela herinner, my byna twee minute die verkoelde ingang tot die mediese tent weier, was my moermetertjie besig om te styg. Toe die dame, wat soos ‘n verslae weergawe van Shrek met jig lyk, ‘n stokkie tot duskant my brein indruk, was ek allermins in ‘n vriendelike bui. Toe ek my identiteitskaart nie een keer nie, nie twee keer nie, maar vier keer laat val het, was ek al lank verby geduldig se afdraai. Om alles te kroon, bied Manlief toe aan om vir my koffie te koop. Koffie? KOFFIE? Hoekom? Sodat my binnegoed saam met die plastiekdrade teen die lamppale kan smelt? Sodat my maermerries (wat lank lank gelede maer was) ook in sweetkolle moet uitslaan? Sodat my bloed LETTERLIK kookpunt kan bereik?

Dis nou ‘n uur later. Ek sit in my gunsteling stoel, met ‘n lieflike gegeurde yskoffie (en ekstra room) in die hand. Ek het al die onromantiese sweet van my lyf afgewas en die woestynstof uit my hare gespoel. My voete is in die lug, die wasgoed is opgehang, daar is musiek wat speel en die lewe is weer ‘n lied. In die lafenis van my veilige, koel hawe, stuur ek die positiwiteit van ‘n sinvolle klimaat die wêreld in. Mag jy ook vandag, ‘n klein bietjie koel vreugde in die malligheid van die warm wêreld vind.

Verduideliking

Apie sien, apie doen. Ons volg blykbaar van geboorte af die voorbeelde wat ons om ons raaksien. Pappa lyk konstant soos ‘n smeulende skoorsteen. Een waarin Kersvader sommer oombliklik longkanker sal opdoen as hy daarin sou afgly. En omdat Pappa al 42 jaar lank die een stinkstokkie na die ander tussen sy lippe druk, is die waarskynlikheid dat Kleinboet ook ‘n kettingroker gaan wees, groot. Of…

Omdat ek Pappa gaan onthou as die reuk van ‘n asbakkie in die Spur se rokersafdeling na ‘n Saterdag van Blou Bul rugby, kry ek sommer geelsug elke keer as ek ‘n kankerkierie se klank in my neus voel kriewel. Dus skryf ek my afkeur van enige tabakvorm in my eie bybel op as gebod.

As Mamma haar seepboks in haar handsak pak elke keer as sy die huis verlaat, gaan jy grootword met die idee dat dit aanvaarbaar is om jou geloof, geldsake en grotmaniere in ander se kele af te druk. ‘n Graad een juffrou dra die mooiste pêreloorbelletjies en jou lewensideaal is om eendag jou eie te bekom. ‘n Maatjie bring nooit sy eie kosblik skool toe nie en jy lê ‘n eed in jou binneste af om nooit jou kinders te laat swaarkry nie. Jy vee jou boude van agter tot voor af (om anders om), want dis hoe jy gewys is. Jy gooi eers die melk in voor jy die koffie in die beker dompel, want Oupa het geglo die koffie gaan “brand” as jy dit so direk met kookwater in kontak laat kom. Jy flos nie elke aand nie, want jou hele familie se tande het dan so mooi gehou vir 40 jaar. Al dra almal nou tande in die dag wat in die nag in ‘n glas water lê, los jy steeds laas Kersfees se lamsboud tussen jou kiestande. Die voorbeelde wat ons sien, beïnvloed ongetwyfeld die manier hoe ons ons eie lewenspad loop.

Ek hoor dit daagliks. My ma was ook so verslaaf aan suiker soos ek, dus is ek maar gedoem tot vetsug. My pa het my as ‘n rassis grootgemaak. Ek kom maar uit ‘n Katolieke huis. My boetie het net so gesukkel met wiskunde. Al die vroue in ons familie lyk siek in lemmetjiegroen. Ons is maar almal onderwysers, want ons ken niks anders nie. Ons volg die voorbeeld.

Maar iewers tussen wasgoed was en kos maak, terwyl my dogter oor my skouer loer, wonder ek oor die voorbeeld wat ek stel. Wat gaan sy onthou? Wat gaan sy volg? Wat gaan sy herhaal? Wat gaan sy verander? En is daar enigiets wat ek vandag kan doen, sodat sy eendag ‘n makliker lewe sal kan hê? Gaan my mikrogolf-sjokoladekoek haar lewe vergemaklik? Ek maak elke oggend ons bed op en verwag van haar om dieselfde te doen. Ek probeer die belangrikheid van selfsorg beklemtoon. Sy kan al die koffiemasjien op haar eie gebruik, haar hare self droog blaas en omdat die wag voor my mond met langverlof is, ken sy al die vloekwoorde, sodat sy weet watter voorbeelde om NIE te volg nie. Lank gelede het ek geskryf: ons elkeen kan ons kinders op ons eie maniere opfoeter. Ek glo dit steeds. Maar vanaand bid ek vir ietsie ekstra. “Liewe Vader, gee my die wysheid om asseblief altyd ‘n voorbeeld te wees. En nie ‘n verduideliking nie.”

Wie is ek ?

Die wêreld is eintlik maar ‘n wrede plek. Terwyl die neus van ‘n logge liggaam skeef optrek vir die kaviaar wat voor hom bedien word deur ‘n Griekse god met ‘n wit knopieshemp, is daar ‘n kind besig om in die geraamte arms van sy ma te sterf. Terwyl die fris Kris homself in die gimnasium-spieël beloer, is daar ‘n tiener wat ‘n pistool teen sy slaap druk. Terwyl ‘n jong meisie ‘n puisie so hard druk dat hy geel spat, is daar ‘n olifant wat deur ‘n lat gelooi word sodat hy more nog mense kan vat vir ‘n plesierrit.

Ek rol roekeloos deur die digitale bladsye van sosiale media. Beurtkrag in Benoni. Plastieksakke in die strate van Pretoria. Covid in die Kaap. Nog mense sterf. Ander vang grade. ‘n Klomp raak verloof. Daar is gekraam (letterlik en figuurlik), gekerm, gekibbel, gekonkel, gekak. Ek wonder al ‘n geruime tyd of die kuberruim nog die moeite werd is. Is die vals profiele en identiteitsdiefstal en leuens en woede die moeite werd? En waar pas ek in hierdie raaiselpret in? Want wie is ek dan nou?

Is ek maar net die gesiglose sleutelbord-soldaat wat graag haar eier lê? Want kom ek wees nou maar eerlik: ek het baie opinies en nie almal is logies, gewild of sosiaal aanvaarbaar nie. Ek vloek onverskillig baie. Ek praat ongeskik hard. Ek lag altyd onder my diafragma uit. En ek huil sommer in die middel van die winkel. Regtig. Die sekuriteitswag het vandag voor die Burger King gestaan, na die geld in sy hand gestaar en toe maar sy vuiste gebal in sy broek gedruk en weggeloop. Ek was te stadig om agterna te hardloop en aan te bied om vir hom ‘n Whopper te koop. En toe tjank ek. Van dankbaarheid en hartseer en woede en die wete dat die lewe te onregverdig is om regtig lekker te kan slaap.

Ek het nooit ophou skryf nie. Ek het net niks meer op sosiale platforms gedeel nie, want dit het werk geword. Mense steel jou woorde en verkoop dit as hul eie. Dit steel ook my vreugde. Mense lieg. Hulle is oneerlik. Mense oordeel. Hulle gun die son oor niemand anders skyn nie. Mense klik en wys vinger en is beterweterig tot op die punt waar ek sommer ‘n Rennie eet voor ek Facebook oopmaak. Maar in my siel en wese is ek ‘n woordenaar. Ek sien hoe hasies uit inspirasie gebore word. Ek rol die alfabet in my kieste en sinne vind hul weg tot tussen my kurwes. Ek kan nie vokale ontsnap nie. Dalk is die wêreld net eenvoudig te wreed vir my.

En toe, terwyl ek my hande was, dink ek aan daardie sekuriteitswag. En die burger wat hy nie bestel het nie. En die kaviaar wat teruggestuur is kombuis toe. En ek wonder waar ek inpas. Wie is ek? Ek weet nie regtig nie. Dink ook nie ek wil alles nou ten volle ken nie. Maar al lieg ander, probeer ek ten minste altyd eerlik wees. Al is alles onregverdig, probeer ek balans hou. Terwyl die grootmense kerm, soek ek die silwer randjie om daai donker wolk. Ek praat baie, maar poog om meer te luister. My hart is al gebreek, maar ek hou nie op liefhê nie. My ID sê ek is amper middeljarig, maar ek voel nog soos ‘n kind. Ek kan nie noot hou nie, maar ek sing uit volle bors. Ander breek, ek wil bou. Ek wil skryf, al kopieër ander dit. So ek gaan myself weer tussen die klinkers en konsonante soek. Ek weet wat ek NIE is nie. Ek is nie perfek nie. Maar een ding is ek oor seker: al is die wêreld wreed, is ek nie.

Pizza

Ek is moeg. Ek weet een aand se goeie nagrus gaan eenvoudig nie genoeg wees om die moegheid te laat wyk nie. Jy kan mos nie ‘n foon met ‘n pap battery vir 2 minute laat herlaai en dan dink hy gaan nog nuttig wees vir 24 uur nie. Ek het ‘n vakansie nodig. Een waarin ek kan slaap, eet, slaap, lees, eet, slaap en dan, net om seker te maak, nog so bietjie eet en slaap en lees.

Covid maak seker ons bly in ons huis. Agter slot en grendel, gemasker en ontsmet, poog ons om virusvry te bly. Dit beteken ek hou skool, help met huiswerk, bedien drie etes per dag, verf, speel kaart, vou wasgoed op, handel skryfwerk af, sorteer deur ou eksamenvraestelle en probeer die finale taalfoute in ‘n akademiese artikel regskaaf… en dit alles net by die eetkamertafel. Nou kyk, ek weet ek moet dankbaar wees dat ek nog ‘n eetkamertafel het. En dat ek kos het om daarop te bedien. En ‘n werk wat ek daar kan doen. En ek is. Wraggies, ek is vir so baie dinge inniglik dankbaar. Maar net omdat ek dankbaar is, beteken nie dat ek nie ook moeg kan wees nie. En dan voel ek sommer moeg vir die skuldig voel oor ek moeg is tussen al die dinge waarvoor ek dankbaar is. Ek is te moeg om te dink oor die regte leestekens en wanneer ek nou eintlik die eindpunt van ‘n sin bereik het, maar ek nie presies seker was waarheen my gedagtes eintlik op pad was nie…

Ek sukkel om werk en huis te skei. Seker omdat ek nou handoeke kan ophang terwyl die graad 11’s besig is om aanlyn eksamen te skryf. Ek kan die hondepoef optel terwyl ons skoolhoof bla-bla-bla op die agtergrond oor die nuwe e-pos sisteem wat van volgende week geïmplementeer word. Met twee laerskoolkinders aan tafel, elk in hul eie lesse, probeer ek ma-wees met juffrou-wees met vrou-wees met mens-wees balanseer… en ek is nie aldag seker of ek slaag nie. En ja ja ja, ek weet ek kla met ‘n wit ciabatta onder die arm, maar is moeg. Regtig egtig moeg. My siel skree om te gaan verken, te ontdek. Ek raak verlore in die Travel Channel en begin drome droom oor katedrale in plattelandse dorpies en argitektoniese wonders in betonwoude. Ek kry angsaanvalle as ek dink dat ek dalk nooit weer my voete in die Atlantiese Oseaan gaan kan sit nie. Ek is moeg om te verlang na my mense wat ek nou net via Zoom kuiers kan sien. Ek mis drukkies en die klingel van my wynglas teen diè van ‘n vriendin en opkrulslaap van familiekinders op die bank. Ek verstaan ek moet dankbaar wees vir tegnologie wat die wêreld minder eensaam maak, maar ek is moeg vir skerms en slapelose nagte en my paspoort wat stof opgaar.

Ek is so moeg dat ek vanmiddag besluit ek gaan nie kos maak nie. Ek moet nog dit en ek moet nog dat… maar ek is te moeg. Ná skool, toe almal hulle rekenaars toegemaak het, dwing ek almal om ten minste onderklere aan te trek en tande te borsel. Gemasker stap ons gesin die pad af, tot by die naaste pizzaplek. In die hoek sak ons in ‘n kokon van sagte kussings neer en ek haal die pak Uno-kaarte uit. Ons lag. Ons gesels. Ons maak planne sodat Pappa nie moet wen nie. Ons leer dat vandag Internasionale Pizza dag is. Elkeen bestel sy eie. Niks word gedeel nie. Ek sê nie nee vir gaskoeldrank nie en bestel sommer ekstra sjokolade-lawa-koek met roomys. Ons vergeet van tyd en covid en afstand en huiswerk en die wasgoed. Ons herlaai deur te lag. Op pad terug huis toe kom die kinderwoordjies: “Mamma, hierdie dag was onbeskryflik baie lekker. Dankie.” Opreg. Sonder aarsel. En skielik voel ek nie meer so moeg nie. Dit moes seker iets in die pizza gewees het.

‘n Lekker mens

Sommige mense is net nie lekker mense nie.

Haar ogies trek fyner as ‘n fronsende Sjinesie s’n. Ek kan haar haat soos sooibrand in my slukderm voel. Ek verstaan nie lekker waaroor die venynigheid gaan nie, maar ek weet dit laat tot die fyn haartjie op my toon krul van angs. Ek druk my waterbottel terug in my sak, skakel die rekenaar af en verlaat die vertrek. Vir stront is ek nie lus nie.

Sy glimlag is so vals soos ons bure se seun as hy viool (probeer) speel. Die kakofoniese klanke hanteer ek met oorfone, maar hierdie man se gebleikte tande is te wit vir gemak. Hy probeer my wysmaak dat sy finansiële pakket tans die beste op die mark is, maar die fynskrif getuig van jakkalsstreke. Met ‘n goedgemanierde “nee dankie” blaas hy geen aftog nie en dis eers met ‘n eufemistiese “gaan poef in die duik en duik in die poef” dat hy die boodskap begryp.

Ek betaal my koppie koffie en loop weg van die skindersessie wat homself by die pragtige koffiekroeg afspeel. Ek sing Sarie Marais vier keer in my kop voor ek my humeur verloor met die vrou wat nie wil insien dat dit verkeerd is om jou papiere op die strand te los nie. Toe tel ek maar haar papiere op en gooi dit in die drom. Die wit tenk van ‘n motor, wat voor my injaag op die snelweg, kompenseer nie net vir ‘n skaarste in die onderlyf nie, maar ook vir die gebrek van logika. Daar is ‘n president wat rassistiese uitlatings maak en lag as hy gekonfronteer word. Daar is ‘n leier wat oorlog aanwakker. Daar is ‘n vrou wat naakfoto’s van haar eie kinders op die internet smous. Daar is ‘n man wat ‘n plaasboer moor en lag as die bloed uit sy keel borrel.

Sommige mense is net nie lekker mense nie.

Ek smeek vir die wysheid om my kinders te leer van empatie, menslikheid, goedheid, guns, gaafheid, maniere en goedhartigheid. Ek bid vir die geduld om hulle te leer van wegstap uit ongure situasies en wegdraai van sotlike mense. Ek vra vir die genade om hulle te beskerm teen die bose. Ek kan nie mense in stroop doop of in suiker rol om hulle lekker te maak nie. Jy kan in elk geval nie ‘n drol in ‘n strikkie toedraai en dan verwag dat dit moet lekker ruik nie. As ek die mag kon hê om alle onmin uit te wis, venyn te bestry, ongure gedagtes te keer, sou ek dit sonder aarsel uitvoer. Maar helaas, ek is net mens. Ek kan net myself verander. Mag jy, nes ek, elke dag opstaan en hoop om lekker te wees.

Dank

Ons sit aan vir aandete. Skaaptjoppies met ordentlike vetjies, vars oor die kole gebraai. ‘n Braaibroodjie met ‘n dubbellaag kaas en genoeg sout om my mond sommer van voor af te laat water. ‘n Vuurgaargemaakte aartappel met suuroom. Ek kyk na my bord kos en voel skuldig, al samel die speeksel van afwagting in my kieste. Dis te veel stysel en vet, geen groente… en dit terwyl daar kinders in Afrika is wat honger gaan slaap.

Ek vat ‘n vuurwarm stort, klim onder ‘n wit donsveerduvet in en droom van ‘n bosveldvuur, ‘n nagapie in die takke en ‘n mooi glas waarin die Amarula blink. Ek word wakker van ‘n manlike gasserigheid wat vanuit onder die komberse ontsnap. Ek weet nie wat die gastronomiese ontploffing langs my veroorsaak het nie, maar soos die reuk my neusholtes tref, word ek weggevoer na ‘n tyd waar ek met my voorvaders kan dans en rondomtalie ek tot in die armholte van ‘n tuinwerker oor die hitte van die dag. Ek snak letterlik na asem.

Klanke van La Traviata dwing my eindelik tot by ‘n beker sielskos, vars gepars van Kenya se koffiebone. Ek trek ‘n skewe wenkbrou as ek die donker kringe onder my (amper) veertigjarige oë probeer wegdokter en hyg soos ‘n olifant op hitte as ek sukkel om die rits van ‘n (reeds) knap broek vas te wurg. Dis die stysel, troos ek my gewete. Die kinders is traag en ek moet twee keer my stem so hoog verhef dat ek soos ‘n siek sopraan in ‘n opera vir doofstom varkies klink. Eindelik is ons soos die gemaskerde bende op pad skool toe.

36 e-posse. Twee histeriese kollegas. ‘n Koffiebeker wat begin lek het oor my spliknuwe wit tafeldoek, ironies genoeg oor die woord “genade” wat met liefde deur ‘n vriendin daar geverf is. Ek sug so diep dat ek spontaan in kolle van onsekerheid en angs uitslaan. Skerms vol kinders. Stemme in my kop en in my oor. ‘n Graad 11 leerder word siek in sy masker en ek vlug na die naaste venster, terwyl ek smag na ‘n Rennie en ‘n glas wyn. Dis skaars 10 uur in die oggend en ek is so moeg soos ‘n maltese poedel in ‘n ouetehuis.

Na twaalf gebede lui die laaste klok van die dag. Ek staar by die venster uit en kyk hoe vier onderwysassistente die kinders in ‘n bus druk. Ek sien die sekuriteitsman glimlag vir die ouers wat hul bloedjies kom oplaai. ‘n Kinderoppasser dra ‘n baba op die heup en vat ‘n kleintjie aan die hand. ‘n Tiener tel ‘n botteltjie op en gooi dit in die asblik. Daar is soveel goed en mooi in die wêreld. Ek voel weer skuldig. Hierdie keer nie oor die stysel en vet nie. Ek wonder waar ek bydra? Kla en kerm en kots ek ook net negatiwiteit van oggend tot aand? Ek kan nie. Wil nie. Sal nie.

Ek sal daai skaaptjop aflek soos ‘n worshond wat weke laas geëet het, want ek is nie honger nie. Ek sal elke warmwaterdruppel koester, want om skoon te voel is genade. My wit beddegoed sal soos die hemel wees, want soveel is nie so bevoorreg nie. ‘n Poep in die nag sal my herinner dat ek nie alleen hoef te slaap nie. My kinders is gesond, gelukkig, geseënd. Ek het werk. Ek het vriende. Ek onderneem om elke asemteug… elke tree… elke oomblik… in nederige dankbaarheid te leef. Want nes die skaaptjop vaal proe sonder sout, so is die lewe maar ‘n lyding, sonder dank.

Draai

Ek wil 2020 oor begin. Om mee te begin sal ek nie ‘n dagboek koop nie.

Ek was nie voorbereid vir die mal wêreld wat soos ‘n granaat oopgebars het en toe alles wat mooi en goed is, kom bevlek het nie. My kop se ratte wil nie die rigting van die aardbol se bewegings verstaan nie. My brein hardloop soos ‘n lawwe babahondjie al agter sy eie stert aan en my maag lyk soos vetkoekdeeg wat iemand in die son vergeet het.

Dis 1 September. Lentedag in die Suide, al is dit steeds koud en dra my ma ‘n serp op die foto. Dis net so rapsie onder 50 grade hier by ons, tog is dit amptelik die begin van herfs. Die Noordpool smelt en Kersvader is op Atkins se dieet en die elfies het Koronakoors en ek dink ons moet sommer voorlopig en vroegtydig Krismis kanselleer. Voor ons kinders hoop gee en dan hulle harte met ‘n maer Kersvader sonder geskenke moet breek.

Die skole het begin. Angstige ogies loer oor maskers vir my as ek in die gange afstap. Alles ruik soos ontsmettingsmiddel en spanning. Ek reken dis soos ‘n vergete bedpan in die ouetehuis se verswakte-afdeling verdoesel sou word, met die reuk van ammoniak en alkohol. Die gedagte dat daar alkohol in die waterlose handseep kan wees wat oral teen die mure in deurskynende houers lek, het my amper oortuig om vingers te begin suig. Die skool het skielik ‘n tronk geword. Jy mag aan niemand raak nie en afstand moet gehou word. Daar is afgebakende gebiede vir elke groep en sekuriteit staan oral en wag vir ons om iets verkeerd te doen. Lig jou masker oor jou neus. Laat sak jou hande. Haal ligter asem. Moenie hoes nie. Ek wil my albasters verloor.

Ses maande van isolasie het my mens-sku gemaak. Ek ruik almal se asems. Selfs van agter die maskers af. Ek gril vir ‘n kollega se vingernaels en voel hoe my battery pap word in gesprekke waar kla en kerm oorneem. Ek wil nie gesprekke voer oor wie se lewens meer saak maak nie, want hoe meer mense daaroor praat, hoe groter voel die skeiding vir my. Ek wil nie petisies teken, honde aanneem, aansluit by nog Faceboek-groepe of myself steur dat sekere speelgoedpoppies nou my dogter na tienerswangerskap en aborsies gaan lei nie.

Vanaand begeer ek stilte. Ek wil soos ‘n volstruis my kop in die grond druk en die mallemeule ignoreer. Te veel mense slaan op hul bors, skree hul frustrasie, dreig, vereis, verwag, soek nog nog nog nog nog… en die wat werklik sukkel en snak na asem, doen dit geruisloos. Kanker steel twee borste, ‘n ma druk ‘n kussing op haar maag sodat die kinders nie die hongerpyn kan hoor nie, ‘n pa trek die lem oor sy pols sodat die bloed saggies in die bad uitloop, ‘n baba verdrink, ‘n groot hand druk ‘n kindermond toe terwyl hy skandelik peuter, ‘n vrou begrawe haar man alleen. En dit alles terwyl die massas skree vir wyn en sigarette. Terwyl die tannies op hul hoë perdjies aandring om die bestuurder te sien. Terwyl politikuste lieg en blaam aanskuif en Brad Pitt ‘n meisie 30 jaar sy junior vra om te kys.

Die spanning sal verlig word. Die virus sal kwyn. Die vliegtuie sal die osoonlaag weer opfoeter en my kinders sal weer sonder aarsel drukkies uitdeel. Ek sal seker weer ‘n dagboek koop. Hoe hartseer is dit nie? Die mal wêreld hou net aan met draai. En mense juig.

Antwoord

‘n Herrie bars los, oor iemand ‘n vraag gevra het. Is Apple beter as Samsung? Moet ek regtig ‘n masker dra? Doen ons president die regte ding? Hoekom maak swart lewens saak?

Jy kan maar verder lees, ek gaan nie antwoorde gee nie. Ek is nie hier om op ‘n politiese seepboks te klim en my opinie uit te basuin nie. Dis nie asof my mening nou tog regtig die wêreld kan verander nie. Ek bedoel, wie is ek nou eintlik? Die effense berese, belese wese in die woestyn wat nog nooit gesien het hoe ‘n spinnekop kraam of ‘n vlermuiswang geëet het nie? Ek is net ‘n onderwyser. En al glo ek dat ek ook ‘n lewenslange leerder is, weet ek baie dinge nie. Ek weet nie eers wat ek nie weet nie. En as ek dink ek weet wat ek nie regtig weet nie, wat dan van die volgende stel kennis waarvan ek nie eers weet nie?

Nou moet mens nog boonop verstaan dat kennis in verskillende vorme voorkom. Daar is mense wat oor ongelooflike boekkennis beskik. Ek kan ure in verwondering sit en luister hoe iemand oor die oorlog vertel, die stories en staaltjies, die werkinge van ‘n weermag, die intelligensie wat soms ooglopend ontbreek. Daar is ‘n ingeneur wat in vervoering raak oor binêre kode en hoe 1 en 0 eintlik nie 0, 1 of 10 is nie, maar die verduideliking van hoekom die kliek van ‘n muis so lekker werk. My oogarts verduidelik in die mees eenvoudige terme aan my hoekom ek nie kwalifiseer vir laserbehandeling nie en gedoem is om bril te dra tot ek die ewige lig sal kan sien. Om te Google-loer maak kennis redelik maklik beskikbaar. Ongelukkig is dit dikwels die verkeerde kennis, in die verkeerde hande… amper soos ‘n hiperaktiewe kleuter wat met ‘n skêr in sy hand deur ‘n glaswinkel hardloop.

 

Aan ‘n ander hoek is daar intellektuele vernuf. Logiese denkers wat sistematies en analities probleme kan oplos en redenasies an voer wat my mond laat water. Hierdie is nie ‘n kuns wat jy leer nie. Dit word geoefen. Geslyp met ervaring. Geskaaf met refleksie. Ek dink dit is ook diegene wat Maslow se hoogste trappie van self-aktualisering bereik. Dis magies om te aanskou en in die laaste paar jaar het dit ‘n droom geword. Een wat ek weet nie bewaarheid sal word nie… en dit maak my selfs meer opgewonde.

 

Iets ongelooflik orgasmies en organies gebeur as die boekkennis met die intellektuele vermeng word. Dis mooier as ‘n sonsopkoms of ‘n paar stywe boude aan ‘n gespierde man. Dis meer inspirerend as ‘n hoëveld-storm of ‘n blinde kind met ‘n nagtegaal-stem wat Idols wen. As jy olie en water skud, meng dit vir die oomblik, maar as gevolg van digthede, skei hulle eindelik weer. Boekkennis en intellektuele vernuf werk nie so nie. Dis soos twee swetende lywe wat een word in ‘n passievolle oomblik, maar dan permanent deel word van mekaar. Onafskeidbaar. ‘n Nuwe tipe feniks wat uit die onkunde van ‘n nasie verrys. Dit maak my so opgewonde soos daai kleuter met die skêr. Die moontlikhede is grensloos.

 

Daar bestaan allerlei vorme van kennis en intellek en slimgeit. Ons kan nie alles bemeester nie. Ons moet vra vrae. Ons moet soek en eksperimenteer en uitvind. Ons moet ontdek en nuuskierig wees. Ons moet lees en ondersoek en soms ongemaklik voel. Dis deel van groei.

Ons hoef egter nie altyd op alles te antwoord nie. As ek wel antwoord, antwoord ek gewoonlik met ‘n aanhaling:

  • “Daar is twee oneindige dinge: die heelal en menslike sotlikheid. Ek is nie so seker oor die heelal nie.” – Albert Einstein
  • “Die verskil tussen genialiteit en sotlikheid is dat daar ‘n beperking op genialiteit is” – Albert Einstein
  • “Slim mense vra aanhoudend vrae. Dom mense antwoord dit aanhoudend.” – Michael Crichton

 

Miskien is die ware toets van kennis, in die wete dat stilbly soms die kragtigste antwoord is.

Kleintoontjie

Ek het my kleintoontjie gestamp. Nie net effens nie, maar ordentlik. Daar was bloed en ‘n halwe toonnael en vloekwoorde en trane. Met ‘n voet op ses kussings gestut, jenewer in die hand en die tv-kontroleerder in my beheer, voel ek toe tydelik beter. Die volgende oggend is my linkervoet so wisselvallige reënboog van violet, purperpers, koningsblou, grys, geel en groen. Die feit dat ek ook nie my allemintige gewig op die voet kon neerdruk nie, moes seker ook ‘n aanduiding gewees het dat iets groter fout is. Die dokter by ongevalle het sonder aarsel verklaar dat my kleintoontjie morsaf gebreek is. Daardie toontjie is gegespe en gegom en in watte toegedraai soos nog nooit vantevore nie.

Nou kyk, in die laaste vier dekades het ek myself nie vreeslik gesteur aan my kleintoontjie nie. Net as ek hom met ‘n deurkosyn of stoelpoot of Legoblokkie laat kennis maak het, was ek werklik bewus van hom. Andersins het ek hom maar bloot pienk geverf, soos die ander nege tone aan my paddapootjies. Ek het maar altyd gedink die kleintoontjie se doel is om meubelstukke in die donker te vind. Maar ek lees dat jou kleintoontjie eintlik help met balans. Hy het ‘n ondersteunende rol as dit kom by die voet en maak loop, hardloop en spring maklik. As jy jou kleintoontjie moes verloor, sou jy nie nodig hê om ‘n rolstoel aan te skaf of ‘n sintetiese ledemaat te koop nie. Om met ‘n ekstra kleintoontjie aan jou voet gebore te word, staan bekend as polidaktolie en is redelik algemeen. Die addisionele syfertjie word selde chirurgies verwyder, want… wel, hoekom? Hy maak mos niemand skade nie!

 

Toe ek by die dokter was, was hy baie besorg oor my kleintoontjie. Hy het daardie karnallie wraggies goed versorg. Nie een keer het die dokter vir my gesê dat ek moet huis toe gaan omdat ek dan nog nege ander gesonde, ongeskonde tone het nie. Nie een keer het hy gedreig om daardie toon af te sit of te ignoreer nie. Ongeag hoe klein en nuttig daardie kleintoontjie vir my voorgekom het, die dokter het my laat besef dat al my tone waarde het. Party tone doen meer en het meer verantwoordelikheid as ander, maar al tien tone is tog geregtig op mediese sorg? En al tien tone moet tog ewe mooi en netjies geverf word by die salon? Ek bedoel, ek gaan lekker kwaai wees as die tannie wat my hakke skuur, net ses van my tien tone verf en die ander aan die natuur se genade oorlos.

Ek gaan nie enige plakkaat maak waarin ek die kleintoontjie ophemel tot iets wat hy nie verdien nie. Ek gaan nie ‘n petisie teken om die kleintoontjie meer waarde te gee as waarvoor hy gewerk het nie. Maar ek gaan beslis nie skoene koop wat my kleintoontjie verkrummel nie. Ek kyk waar ek loop, want ek wil nie een van my tien tone stamp nie. Ek smeer my voete elke aand room en knip my kloutjies gereeld, want ek wil nie my lakens stukkend skeur met skerp kleintoontjienaels of growwe hakke nie.

 

Kyk, al tien my tone is belangrik. Nes my vinger ook waarde het. En so ook elkeen van die 206 bene in my lyf. Maar onlangs het my kleintoontjie seergekry. Hy het ‘n ekstra bietjie aandag nodig gehad en moes so bietjie pamperlang word. My lewe het aangegaan. Ek het maar ‘n ou pynpilletjie gedrink en wag nou vir die herstel wat sal plaasvind. Ek gaan nie sosiale media bestorm met melodrama van “by die dood omdraai” of “amper was ek fisies gebrekkig” of “ek is jammer oor ek nie my kleintoontjie erken het nie”. Want te veel mense gaan lag en ander gaan blomme stuur en my ma gaan haarself in ‘n maagseer in stres en my vriende gaan hulle oë rol en ag, ek is nie lus vir drama nie. So ek laat my kleintoontjie maar net in stilligheid genees.

Ek kyk wel nou af na my ligpers linkervoet ek weet, my kleintoontjie maak ook saak.