Woordloos

Terwyl ek hier tik, staan ‘n tienerseun iewers voor ‘n spieël en druk aan ‘n puisie, want more het hy ‘n afspraak met ‘n mooi meisie en hy wil vlekkeloos wees. Op dieselfde tyd, op ‘n ander plek is ‘n klein foxterriër besig om aan sy eienaar se skoene te kou, want sy tandvleis jeuk en die skoene bied verligting. In ‘n ander tydsone is ‘n ma besig om haar kind se doek te ruil en kan sy nie help om die kleur van die doek se inhoud te vergelyk met haar skoonma se sitkamermure nie.

Ek hou van humoristiese vertellings. My inspirasie kom dikwels uit dooswyn, vals naels en manlike logika. Self besit ek nie een van hierdie drie dinge nie, maar die onverkrygbare fassineer my. Met die ses en twintig letters van die alfabet kry ek dit (soms) reg om beskrywende opstelle te kan skryf wat mense laat glimlag, want die bril waardeur ek na die lewe kyk, is kleurvol.

Mense wat op ‘n piesangskil gly of in ‘n glasdeur vasloop is nie noodwendig vir my snaaks nie, maar ek lees op ‘n pakkie vol grondboontjies “May contain nuts” en ek lag lekker. Ek kyk hoe Moeder Karma ‘n aflewering maak aan ‘n persoon waarvan ek nie hou nie… en ek skree van die lag. Ek sien onderwysers as mense wat lank gelede gedink het hulle hou van kinders. Ek kyk na tienermeisies en verstaan hoekom sekere diere hul kinders by geboorte opeet. My sin vir humor is swart… en daarom is ek nie ‘n rassis nie. Al slaap ek nie laat nie, krap ek nie rond in my onderklere nie, al kan ek nie vier ure lê en rugby kyk nie… is ek steeds bly dat ek ‘n vrou is, want mans is vir my soos kinders: snaakse goed.

Die wêreld is ‘n wrede plek. Daar is oorloë wat mense se lewens steel. Selfmoordbomaanvalle maak vals beloftes oor die hemel. Sigarette word aangesteek, bierbottels word nie herwin nie en walvisse word uitgemoor. Dit is dinge wat nie my binnekring binnedring nie. Dit is dinge wat ek op die nuus sien en dan eenvoudig die televisie afskakel of die koerant toemaak.

Maar terwyl ek hier tik is daar ‘n onderwyseres wat chemoterapie kry, want die kanker is terug. Meer aggressief as vantevore. Iewers huil ‘n ma oor die kind wat sy 20 maande terug moes begrawe. Die hartseer wil nie weggaan nie. Iewers lê ‘n niggie op ‘n dialiesemasjien, terwyl sy bid vir ‘n nier. Sy het reeds iemand anders se pankreas. Terwyl ek hier tik, wag ‘n vriendin vir die fertiliteitspesialis, want na haar vierde miskraam is sy moedeloos. Iewers staan ‘n vrou, met trane in haar oë en kyk af na die stippellyn waar sy haar handtekening moet maak om haar egskeiding te finaliseer. Sy was nege jaar getroud en skielik is sy dankbaar sy het nie kinders nie.

Iewers drink ‘n man koffie, want hy het sy werk verloor en hy het niks om vandag te doen nie. Hy is maar net gestres oor waar hy geld gaan kry om huur te betaal. Iewers wroeg ‘n seun met sy seksualiteit, maar sy pa is ‘n boer en gaan hom dooddonner as hy ‘n mofgat is. Hy oorweeg dit om homself te hang. Iewers is ‘n terapeut besig om pille voor te skryf vir die depressielyer wie se kinders emigreer het. Iewers is ‘n prokureur besig om vorms in te vul, sodat die sewejarige meisie verwyder kan word uit haar pa se huis, want hy verkrag haar elke aand. Iewers bid ‘n epilepsielyer dat die aanvalle moet minder word, want sy wil net die beste vir haar kind hê. Iewers verlang ‘n kind na sy ma se kookkos, want hy is duisende kilometer ver weg… en hy… wel, hy mis sommer net sy mense.

Iewers kry nog ‘n boer se familie die tyding: plaasmoord het jou statistiek gemaak. Iewers sit ‘n bejaarde oom langs die telefoon en wag dat sy kind, wat net om die hoek bly, hom moet bel. Maar hy wag nou al ses jaar en hy is besig om moeg te word vir wag. Iewers is daar die ma van drie seuns, wat sielsmoeg en tevrede nog ‘n broodjie maak, terwyl sy net smag na een aand van ononderbroke slaap. Iewers word ‘n kar gesteel, word ‘n huisinbraak suksesvol uitgevoer en trek ‘n polisielid net sy skouers op. Iewers skenk ‘n sestienjarige geboorte aan ‘n seun, maar daar is nie vreugde nie, want daar is nie heenkoms of uitkoms nie.

Iewers mis kinders die hondjie wat weggeloop het, terwyl enkelouers harder moet werk om kop bo water te hou en studente in vrees klas gaan draf om die graad met minder lekkerkry net klaar te kan kry. Iewers sit ‘n mynbaas met sy kop in sy hande, want hy weet mense gaan hul werk verloor en hy kan niks doen nie. Iewers staan ‘n onderwyser en weet dat die swaarkry in haar klas, nooit vakansie kry nie en dat hongersnood nie net ‘n begrip op papier vir die kinders is wat voor haar sit nie. Iewers skinder, kritiseer en oordeel iemand en trap so ‘n selfbeeld plat.

Ek wou nie gehad het dat die wêreld se wreedheid by binnekring binnekom nie, maar dit het. Dit dreig al hoe nader. My glimlag word gewurg, my kleurvolle bril kraak. Ek wil iets doen, maar ek kan nie siekte genees, pyn wegvat, tyd terugdraai of lewe skep nie. Ek kan niemand forseer om ander te aanvaar nie, al keur hulle nie noodwendig goed nie. So ek wil my ses en twintig towerletters gebruik. Ek wil probeer om die bloed te keer en die trane op te vee, maar ek is vanoggend… woordloos.

Vleisskade

Ek hou nie van spinnekoppe, blaarslaai of ongemaklike stoele nie. Nes ek hierdie dinge liefs vermy, loop ek ook maar draaie om my man se selfoon. Ek het geen begeerte om deur sy boodskappe te lees, te spioenneer in sy Google-geskiedenis of te sien wie en wat hy op Facebook bevriend/ontvriend nie. Ek weet menige vrouens dink hulle hou hul mans op hul tone as hulle gereeld sy foon “skandeer” vir enige aanduidings van buite-egtelike gholftoernooie, verhoudings of uitgawes, maar ek het eenvoudig nie krag vir dit nie. Ek vertrou hom dus maar blindelings en naïef.

Toe hy dus vanoggend sy foon tuis vergeet, moes ek noodgedwonge deur sy kontaklys soek om ‘n vriend van hom se nommer op te spoor. En dis toe dat ek op die woord “vleisskade” afkom. Iemand het vir hom ‘n boodskap gestuur met net dit: #vleisskade. Asof die foon melaatsheid kon oordra, het ek die foon in die kombuiskas, tussen die waspoeier en bleikmiddel gaan bêre. Ek weet nie hoekom nie, dit voel net vir my veilig daar. As ek skrik, doen ek snaakse dinge.

Maar die woord spook by my. Wat beteken dit? Het iemand die slaghuis se trokkie omgestamp en nou is daar baie #vleisskade? Het die hond die biltong wat in die spens gehang het bygekom en nou ly my skoonpa aan #vleisskade? Skielik dink ek aan vrot vleis. Ek onthou vloer sewe in die manskoshuis… nà die Aprilvakansie… toe Nicol ‘n hele pakkie maalvleis in sy vrieskas gelos het, maar vergeet het om die vrieskas aan te los. Die wurms, die gemengde gevoelens, die reuke en die verwyte… o, die verwyte. Want die reuk van vrot vleis kom nie so maklik uit nie. Dit trek in die mure en later in jou menswees in. Dalk is dit #vleisskade?

Miskien het dit niks met die vleis te doen nie, maar met mense; my man het immers ‘n paar baie vreemde vriende. Dalk is dit wat hulle die goedkoop meisies, die oggend nà ‘n aand se vleeslike plesiertjies noem? Hulle kan uitgeken word aan die gesmeerde maskara, deurmekaar hare en gisteraand se klere. En die feit dat hulle skelm-skelm uit die hings se stal wil ontsnap doen nie wondere aan hul reputasies nie. ‘n Stukkie vleis op twee bene wat skade aangedoen is deur die bul van die week. #vleisskade ?

Miskien praat hulle meer spesifiek van ons vroulike liggame. My bobene dril nou nie so dat ek iemand sal seesiek maak nie, maar sellulietvry is ek beslis nie. My maag lyk darem nie soos vetkoekdeeg wat te lank in die son laat lê is nie, maar plat en glad is my pensie ook nie. My boude het nie hul eie poskode nodig nie, maar klein en fyn is nie woorde wat my agterwêreld sal beskryf nie. Dalk is so ‘minder verleidelike’ lyf iets wat die manne sal bestempel as #vleisskade?

Miskien verwys die begrip met die hits eerder na iets afskuwelik… soos braaksel. Na 24 biere kon die manne nie die braaivleis hanteer nie en… ag, julle kry die idee. #vleisskade.

Miskien was een van sy vriende in ‘n geveg betrokke? Daar is ‘n paar brandefientjies gegooi en onder in die whiskeyglas, loop iemand toe in iemand anders se vuis vas. ‘n Oogbank bars oop, ‘n kakebeen kraak, ‘n tand breek en die bloed vloei omdat testosteroon en alkohol soos petrol en ‘n vlam, nie langs dieselfde vuur sit nie. Die gevolg? #vleisskade.

Miskien is melodrama weer besig om my logika te oorheers en verwys die term na iets meer onskuldig. Soos ‘n slaai. ‘n Slaai kan sekerlik #vleisskade wees? Dalk word daar meer spesifiek van vegetariërs gepraat? My man reken dat jy nie iemand kan vertrou wat nie vleis eet nie. Hoender en vis is groente. Dit is #vleisskade. Rooivleis is nie net kos of proteïene nie, dis sy kultuur. Dalk het ‘n vegetariese vrou (want manlike vegetariërs is ook vroue, aldus karnivore) iemand verkeerd opgevryf en ‘n uitlating gemaak oor hoe wreed jag is en…

Die lig gaan aan. Jag. My liewe, onskuldige, dierbare man is ‘n jagter. Ek weet nie alles van jag af nie, maar ek weet wel dat ‘n soliede punt op ‘n patroon, die wondtonnel* op die dier se lyf klein hou. ‘n Sagte punt beteken dat die patroon die dier se lyf binnedring en dan basies soos ‘n voedselverwerker tekere gaan om alle ingewande te versap. Daar is dus meer vleis wat nie gebruik kan word nie, as gevolg van #vleisskade.

Ek is so verlig dat ek die raaisel opgelos het, dat ek sommer ‘n rukkie gaan lê en skoon vergeet van die ‘skoon’ toestelletjie. Toe Jagter dus ‘n uur later tuis opdaag en hy sy foon begin soek, was daar meer as ‘n frons sigbaar toe hy die I-Phone bel en hom opspoor tussen die skoonmaakmiddels.

Ek sit nou en tik. Alle kinders se magies is vol vleis en niemand het skade nie. Ek weet egter dat as die kinders vanaand gaan slaap het… en die kombuis skoon is… en die wasgoed weggepak is… dan sal ek moet verduidelik hoekom ‘n selfoon onder die Sunlight- bottel beland het. En ek is bereid om geld te wed dat manlief na my storie gaan luister… vir homself ‘n whiskey gaan ingooi, lank na my gaan kyk, gaan lag en dan gaan dink my brein het #vleisskade.

 

*Later sou my man verduidelik dat dit ‘n “wondkanaal” is, maar “wondtonnel” klink net soveel lekkerder op die oor, so ek volstaan by my woordkeuse. 

 

 

Koek

In die tuisnywerheid van die lewe, dink die koeke hulle is beter as die res van die tuisgebak. Die arme terte word tot die agterste rakke verban, die karamelhorinkies word op die lae rakke uitgepak en die koeksisters word in die yskaste weggebêre. En al is kolwyntjies teoreties koek, word hulle nie in die vertoonvenster uitgestal nie, maar eerder gelos vir by die toonbank. Die spreekwoordelike nagedagtenis.

 

Ek is mal oor koek. Dubbellaag-, vla-, sjokolade-, vanielje-, reënboog- of fluweelkoek. Maak nie saak nie, ek sal vir hom eet. Tot die laaste krummel op is. Maar die koek kyk neer op die terte, kolwyntjies, pasteitjies, oliebolle, wortelkoek (want dit is mos nie regtig koek nie) en ander lekkergoed in die kombuis.

Sien, terte se standaarde is laag. Dikwels hoef hulle nie eers gebak te word, voor hulle geëet kan word nie. Terte kry selde versiering bo-op, wat hulle baie minder indrukwekkend laat lyk as die stywe botterroomversiersel wat op die sjokoladekoekstapel pryk. Terte se kors word sommer met die hand in die bak vasgedruk, terwyl niemand se vingers naby die koekbeslag kom nie.

Pasteitjies en ander soutgoed wat in die tuisnywerheid opgespoor kan word, gee sooibrand. Punt. Southappies laat mens opswel en my ouma dink ‘dis daai worsrolletjies’ wat veroorsaak dat haar voete so baie water terughou. Dit is ook nie aanvaarbaar om by iemand se huis op te daag met ‘n bak vol garage pies nie, maar ‘n koek sê aan die gasvrou: “Ek het klas, styl en maniere. Ek is opgevoed.”

Oliebolle is die dieselmechanics in die wêreld van gebak. Jy het nie besonder baie boekekennis nodig om die perfekte oliebol te bak nie, maar jy moet met jou hande kan werk. Om ‘n koek perfek te kan bak, moet jy die resep noukeurig kan volg. Jy moet lees, lees en nog so bietjie lees, voor jy eers jou hand aan ‘n pak meel slaan. ‘n Oliebol is maar net olie, meel en suiker… amper soos ‘n vetkoek, net bietjie meer kommin. 

Malvalekkers wat in sjokolade gedoop is, bakkies wat vol karamel geskep is, Marie-beskuitjies waarop ‘n gesiggie geverf is met versiersuiker… dit is die klug van die snoepwinkel. Enige bakster sal met afsku in hul oë neerkyk op die vlooimarkgemors wat gemik is daarop om naïewe kinders na hul ouers se beursies te laat gryp. (Dit word ook dikwels verkoop saam met die gehekelde toiletringe vir die gastebadkamer.)

 

Die enigste ander gebak wat ‘n koek dalk sal uitstaan, is tuisgebakte beskuit. Dit verg talent, geduld en baie werk, vandaar die besonderse hoë prys van hierdie klein pakkies heilsaamheid. Steeds is dit egter nie koek nie. Koek staan in die middel van die tuisnywerheid. Die spoguitstalling van Tan’ Snoes se Kosblik of Ta’ Malie se Winkel. 

Mens sou dink dat omdat kolwyntjies so naby aan die koekfamilie is, hulle meer status in die gemeenskap sou geniet, maar die hoop beskaam. Kolwyntjies het die Saterdagoggend-tydverdryf van elke student en Graad 7 Entrepreneur geword. Kolwyntjies word meestal sommer uit boksies voorberei, kompleet met versiering en al. Ek lees omtrent twintig webjoernale wat handel oor kos, sodat ek my feite reg het vir hierdie inskrywing: die kolwyntjie is nie kuns nie. Dis nie vlyt nie. Dis mode. En daarom kyk die koek op die kolwyntjie neer.

 

Vir die wat nog nie die simboliek gesnap het nie: Natuurlik vergelyk ek elke snuistery met die mense wat op my webjoernaal kommentaar lewer, want sien, hoe langer ek skryf, hoe dikker word my vel, hoe meer sien ek raak, hoe duideliker lees ek tussen die lyne… en boetie, die berge beter maar op my val, want soms voel dit of ek gedoem is vir die asblik agter die tuisnywerheid. Dan ruk ek my versiersuiker weer reg, klits my eierwitte styf en maak seker al die gemufde deeltjies van die tert is afgesny, sodat ek weer vol suiker en gluten die lewe voluit in die oë kan kyk.

Ek drink wyn, tog het ek nog nie een keer ‘n geheelonthouer probeer oortuig om ‘n slukkie te vat nie. Ek het tattoeërmerke, tog het ek nog nooit die wat skoon en rein van vel is, probeer forseer om ink in hul pigment te kry nie. Ek is dalk nie self ‘n roker nie, maar nog nooit het ek die preek gegee oor jy gaan ‘hoesend en proesend aan kanker sterf nie’. Ek eet kitskos, maar probeer nie een van my gesonde maatjies oortuig dat McDonalds lekkerder ruik as ‘n slaai nie. Ek lag hopeloos te veel, te hard en te lelik volgens my ma, maar het nog nooit haar probeer oortuig dat haar sagte gegiggel nie so lekker op die oor val soos my lagbuie nie. Ek het die taalgebruik van ‘n matroos (darem nie altyd nie), maar probeer nie die gladdebekke, heelbekke, toebekke en skoonbekke sover kry om ‘n swets te laat glip nie. Ek leef. Maar ek laat ook leef. Iets wat meeste koeke nog nie uit hul glashuise en hoë torings kon regkry nie. Hulle bid sodat Jesus my kan vergewe, kraak my af oor ek die silwer randjie raaksien en ja, een reken selfs ek is nie ‘vroulik’ nie. Gaan ek myself verdedig? Nee. Hoekom? Vir wie? Laat hulle maar saam met my bid, die hemel weet, niemand kan tè veel gebed kry nie. Laat hulle skinder, dit gaan nie my lag minder maak nie. Laat hulle maar vingerwys, ek sal aanhou skryf. Laat die koeke maar koekeloer en kekkel en kritiseer. Ek is ‘n gelukkige tert, hier in die agterkant van die lewe se tuisnywerheid. Een met ekstra room.

Snaaks

Ek wou vandag iets snaaks skryf. Iets wat mense spontaan laat lag van lekkerkry. My woorde moes die oorsaak van pure plesier wees. Om uit die maag te lag, lelik en sonder enige etiket, is mos die is een van die min vreugdes wat nog gratis verkrygbaar is. So ek wil iets skryf wat dit veroorsaak.

Sou ek iets skryf oor die Blou Bulle? Hulle is mos maar ‘n snaakse klomp. Nee wag, dalk eerder oor die Bulle se ondersteuners? Snaakser as snaaks. Maar daar is te veel van my skoonfamilie  in hierdie teikengroep, so ek vermy die ongemaklike gesprek eerder.

Miskien moet ek polities raak… politici is tog sulke maklike teikens as dit by humor kom. Oor Zuma sal ek geen rep roer nie, want hy is ‘n grappie onderaan ‘n padda se hol, sommer so op sy eie. ‘n Miljoen stemme/kinders vir Steve? Dalk Julius en sy Ekonomiese Fryheids Fegters (jip, dis hoe oom Julius dit spel). Dan kan ek seker sê hulle is maar vokken snaaks. Want as ek die f/v verkeerd gebruik, tel dit sekerlik nie as ‘n vloekwoord nie? Of is dit dan maar net ‘n skewe floekwoord? Amper soos Casper, net meer stylvol… soos Nataniël dalk?

 

Ek het dit oorweeg om iets oor my kinders te skryf. Die feit dat Petrus sy voet in die toilet gedruk het (na sy verligte ervaring van nommer twee) en die hele huis vuil getrap het, is egter nog nie vir my snaaks nie. Dis kak. Die feit dat Lehja nou geleer het om “bla-bla-bla” te sê  as ek haar iets vra, dryf my na drank. Alkoholiese drank. Baie daarvan. Dis ook nie snaaks nie.

Vyf en twintig paar oë staar my aan asof ek besig is om ‘n opehartoperasie uit te voer, in Hebreeus, met Duitse onderskrifte, in ‘n Wiskundeklas. Maar die blote gedagte dat meer as 90% van my klas so slim is soos die houtbankies waarop hulle sit, laat my nie glimlag nie. Daar is sekere ooreenkomste tussen my klas se uitslae en die van Julius Malema se houtwerkpunte. En as een onderwyser weer sê dat daar nie iets soos ‘n dom vraag bestaan nie, gaan ek ‘n stuk bordkryt in sy anale opening opdruk. Hy sal stof poep vir ‘n week.

“Juffrou, moet ek die datum skryf?” Nee, ek skryf die datum want ek is lus om ink te mors.

“Moet ek die antwoord neerskryf?” Nee wat, gaan leer die verkeerde antwoord en bid maar ek vra die verkeerde vraag.

“Moet ek met ‘n pen of potlood skryf?” Ek gee nie om of jy met die snot wat by jou neus uitloop skryf nie, kry net iets in jou boek sodat jou ma ten minste dink jy het gewerk vandag.

“Die bladsy is vol, moet ek omblaai?” Dis nie nodig nie. Skryf sommer op die tafel verder.

En een van my gunstelinge: “Gaan ons werk vandag?” Ja. Soos gister. En eergister. En elke dag verlede week. Hierdie is nie die kuns- of Engelse klas nie (grappie). Steeds spandeer ek ten minste sestig sekondes elke periode om te verduidelik HOEKOM ons moet werk. Sug.

My pa het lank, lank gelede vir my gesê dat sarkasme die laagste vorm van humor is… wel, my pa was nie ‘n onderwyser nie, so ek sal hom vergewe.

Maar ek wil nogsteeds iets snaaks skryf…

Die verskille tussen man en vrou is mos maar altyd snaaks, so miskien moet ek my inspirasie by my man soek, maar hy het ‘n broek vol planne en ek moet hom dus liefs vermy. Buite sy bereik bly. Want ek het nie hoofpyn nie, is nie lus om te jok nie en my nerwe hang aan ‘n dun draadjie vandag.

So sluit ek myself in die badkamer toe. Ek is bewapen met ‘n glasie wyn, my rekenaar, ‘n halwe plak sjokolade en ‘n kussing. Die kussing help darem om die bad se bodem sagter te maak. Moenie lag nie, maar dikwels is die badkamer die stilste, heiligste, veiligste plek in die huis. Hier kan ek die stemme in my kop ten minste in ‘n ry laat staan. Ek trek die stortgordyn toe, gaan sit op die kussing in die bad en maak myself gemaklik. Ek haal diep asem, sluk nog ‘n blokkie sjokolade met wyn af en ek begin tik. Ek weet nog nie waaroor nie, ek weet net dit moet snaaks wees.

Bokkoors

Die sweet druppel op sy voorkop. Sy asemhaling is vlak en onreëlmatig. Die enorme koedoebul se horings reik uit na die hemel en hy tel: een… twee… drie… drie en ‘n half draaie. In sy geestesoog sien hy die horings in sy kroeg pryk en hy weet sy vriende gaan groen van jaloesie wees oor dié een. Sy mond water as hy aan die biltong dink. Die adrenalien wat deur sy byniere afgeskei word, laat die suur in sy spiere opbou en sy hart klopklopklopklopklopklopklop sonder koppeltekens. Hy loer deur die visier: kruisie perfek belyn vir die ideale kopstoot, waar die minste vleis gemors word en die koedoe niks gaan ly nie. Een skoot, dis al wat hy het… as hy tog net die sweet uit sy oë kan hou. Die kolskoot klap. Die bok val. Die jagter laat sak sy kop, skielik doodmoeg en effe bewoë. Die spanning is gebreek.

Bokkoors. Iets wat nie ‘n vreemde verskynsel in die jaggemeenskap is nie. Dis nie dodelik nie (wel, nie vir die jagter nie) en alhoewel die veldwagters dikwels die stories met oorgawe vertel, is daar ‘n samehorigheid onder jagters wat geen koorsstuipe kan breek nie. Solank die dier nie gekwes word nie, is die saak reg.

Ek dink egter die jagters kry nie net bokkoors voor hulle die skoot aftrek nie, maar hulle word ook koorsig as hulle mooi bokke en wapens sien, hetsy dit in ‘n tydskrif, boek of op televisie is. My man het ‘n paar vriende wat so opgewonde raak om oor jag te gesels, dat hulle ook spontaan begin sweet. Adrenalien pomp deur hul are, solank hulle tog net oor patroondoppies, greinlading en visierakkuraatheid kan gesels. Ek reis na ‘n droomwêreld waar ek wyn drink uit ‘n halwe pynappel, terwyl ek onder ‘n palmboom lê en lees… en dit terwyl manlief my probeer verduidelik wat die verskil is tussen ‘n .300 en .303. Sug. Geweerkoors. Dieselfde as bokkoors, net erger, want dit kan ENIGE tyd, ENIGE plek jou man koorsig maak.

Ek kyk egter so om my rond en besef dat alle Suid-Afrikaanse mans ook maar bokkoors kry… Springbokkoors. Die lieflike minister van sport, Fikile wat “fokolo” weet van sport, kondig aan dat geen land balle kan kom jag op Afrika-velde nie, want daar is te veel albino bokkies en te min swart springbokke. Die vleiskwaliteit en bedreigdheid van die spesie, word glad nie in ag geneem nie, die besluite word somme roekeloos en sonder veiligheid van wapens gemaak. Die bokkoors loop hoog. Die verkope van brandewyn styg. Braaivleisvure brand simbolies ons trots, die ‘trane die rol ons bokkies’ en die mense is kwaad. Hulle moermeters is in die rooi en ‘warm onder die kraag’ begin nie eers verduidelik hoe siek bokkoors mens kan maak nie. In die buiteland waar ek my bevind is die Boere nie vies nie, hulle is sommer skuinsweg bedonnerd… en dis die mooiste woord waaraan ek kan dink.

Dis juis met so ‘internasionale’ byeenkoms dat die werklikheid my beetpak: eintlik het meeste mans maar ‘n vorm van bokkoors.  Dalk moet ek dit eerder bokkie-koors noem, want sien, mans hou maar van ‘n  mooi bokkie. Veral as sy lang blonde hare, blou oë en ‘n lyf het wat my so bietjie in my mond laat opgooi van jaloesie. Die manne struikel oor hul woorde, stammel tussen flou grappies deur en dis eintlik komieklik om te sien hoe die enkellopendes, getroudes, geskeides en pensioenarisse oor hul voete en tonge val om met die bokkie te praat. Nou kyk, as manne nie oor mooi karre, mooi wapens of mooi meisies kan praat nie, dan moet jy maar weet: die man is self ‘n bokkie wat jy nie sonder handskoentjies gaan aanpak nie.

 

Eintlik moet bokkoors ‘n reuse kompliment wees vir die bok. Jagters kry nie bokkoors oor die kleinste rooibokkie nie. Nee, dis die groot eland, die trofeë-njala en die statige koedoe wat die sweet laat loop. Dis nie die tengerige kettie of die plastiekgeweer wat die manne se vingers laat jeuk nie. Nee, dis die imposante .458 en die .300 met ‘n lang geskiedenis wat die manne opgewonde maak. Dis nie die onder 12 span van die kleinste laerskool wat die land op hol jaag nie. Nee, dis diè Bokke, die SPRINGBOKKE. Dis nie die walglike walvismeisies (met die persoonlikheid van ‘n badspons) wat manne se IK laat val nie. Nee, dis die slimmes, die mooies, die oulikes en die wat persoonlikheid het wat die manne se knieë lam maak. Laat hy dus sweet soos hy wil, want dis die horing wat die bokkoors veroorsaak.

Worry

Ek bekommer myself selde. Ek worry sommer net. Alhoewel die bande van my motor afloop, gee die starter soms moeilikheid en wil die clutch nie aldag saamwerk nie. Ek dink in elk geval as ek vir die motorwerktuigkundige gaan sê dat my knormoer en wisselaar die humeur het van ‘n afgetrede Wiskundejuffrou in ‘n ry by Binnelandse Sake, gaan hy my kwotasie verdubbel, want hy sal eers ‘n tolk moet aanstel. Let wel dat hy nie ‘n mechanic is nie, maar ‘n vierde-generasie-Swanepoel wat al jare lank sy hande in  die onderdele van motors indruk en probleme oplos.

My skootrekenaar se data, geheue en moederbord is meer as voldoende vir my behoeftes, maar flashdrives raak gereeld verlore. Die restart knoppie is my rekenaar se koffie in die oggend. Dis asof sy kop nie lekker agtermekaar is as hy nie nie eers sy fix gekry het nie. Ek hou nie van woorde soos “datavinger” en”sentrale verwerkingseenheid” nie. Ek tik sekere woorde in bold, maar is gek oor die woord kursief. Dit klink so eksoties en eksklusief. Ek hou van woordspel en soms is my pun intended. 

My man is my wederhelfte, eggenoot, geliefde en ja, soms is hy my partner-in-crime. Hy is nie my BAE (wat, so terloops, ‘n Deense woord vir poo is), my baby of my hubby nie. My kinders is my senuwees, my kort humeur, my hartjies, my prinses en prins en die rede hoekom ek wyn drink. Hulle is nie my kiddos, my lovies of my angels nie. Petrus gooi ‘n vloermoer en Lehja kry besoeke van die Tandmuis.

Ons braai steak, eet braaibroodjies en ons is nie skaam om prawns in knoffelbotter te bestel nie. In die vrugbtebak lê appels, piesangs, guavas en ‘n pomelo. Ek drink gin, maar hou nie van jenewer nie. Ek kry babelaas en soek dan toast met Marmite op. En dit gaan nie aldag met my klopdisselboom nie, soms gaan dit net okay. 

Ek is mal oor my taal. Dis die taal waarin ek vloek en bid. Dis die taal waarin ek bemin word, maar ook haatspraak kry. Dis die taal wat eens die spreekbuis van die “onderdrukker” was, maar dis ook die taal wat vandag vrylik buite die kombuis rondhardloop. Afrikaans is maar, relatief gesproke, ‘n jong taal. ‘n Tienertaal. En nes ‘n tiener puisies kry, wispelturig is, soms onseker voel oor sy toekoms, soms onnodig aggressief optree, soms té selfversekerd is en soms die verkeerde meisie vry, net so is Afrikaans ook maar. Afrikaans gaan nie uitsterf omdat die regering die taal verafsku nie, want die liefde van die sprekers is groter as dit. Afrikaans gaan nie die emmer skop net omdat tieners sms-taal gebruik, soms hul tale meng en nie na Afrikaanse musiek luister nie. Dalk is dit ‘n naïewe geloof wat ek het, maar ek glo dat as ek my kinders se liefde vir Afrikaans aanwakker, dit nie saak maak dat hulle in Engels en Arabies onderrig word nie. Lehja is mal oor Amanda Strydom, Karen Zoid en Kaleidoskoop se musiek. Petrus is gek oor die stories van Trompie en sy boksombende. Ons praat Afrikaans tuis en Engels by die skool. Natuurlik meng en pas ons om ons lewe te vergemaklik. Maar is ek ‘n spreekwoordelike terroris van Afrikaans hieroor? Nee.

 

Onderwysers, ouers en taalpuriste oor die aarde heen… ek rig die versoek vriendelik: moenie ons taal versmoor deur die outydse en argaïese uitdrukkings op ons kinders af te forseer nie. Dit kweek haat en afsku. Leer hulle om mooi Afrikaans te praat, leer hulle om die ougoed te respekteer en leer hulle van register: wanneer mag hulle spreektaal gebruik en wanneer is formele taal nodig. Daar is ‘n plek vir sms-taal… IN ‘n sms, nie in ‘n opstel nie. As leerders kan sien dat hulle manier van Afrikaans nie verkeerd is nie, maar net nie geskik is vir ALLE geleenthede nie, sal hulle dalk nie so opgewonde word oor die aanleer van Mandaryns en Frans nie. Dis cool om take-aways te bestel as jy by vriende kuier, maar nie as jy ‘n toespraak lewer vir ‘n Afrikaanse punt nie. Jy mag maar chill oor die naweek, maar Maandag moet jou fokus in die klas, wees op die ordentlike taalgebruik waarvoor ons voorouers so hard baklei het. Gooi mielies, ruk die hoender, rol in die idiome, pluk die vrugte, saai wat jy gemaai het, vang die wind en dra die somer op jou tong. En as jy soms ‘n eisj, ayoba of thanx in ‘n Afrikaanse sin hoor, moenie na hartpille, senuweepille of setpille gryp nie. Praat die taal, leef die taal, omhels die taal. Laat Afrikaans deur jou murg en pype dans en berus dan by die wete dat die Engelse ook maar “leen” by ons. Hulle braai, eet ook lekker, saam met vriende kuier hulle oor naweke en ek hoor gereeld woorde soos mosag en ja-nee in Engelse sinne. Waarvan die hart vol is, loop uit by die mond. En Afrikaans is ook in die Engelse harte. ‘n Engelse woord gaan nie ons taal dood nie… ook nie emigrasie of die regering se sinnelose besluite nie. Afrikaans SAL bly voortleef. Solank as wat ons daaroor worry, daaroor bid en daaroor praat, sal ons beslis oukei wees. Oukei?

Mislukking

Ek het misluk. Nie ‘n klein, vernederende oomblik waarin jy wens die aarde sluk jou in nie, o nee… ‘n mislukking so groot soos Nando’s se laaste advertensieveldtog. Weet jy nie waarna ek verwys nie? Presies!

Sien, ek het so week of wat gelede besluit om te dieet. Vir die eerste keer in my lewe, wou ek ‘n dieetplan slaafs navolg. Kalorie vir kalorie tel en afmeet en weeg soos ‘n effektiewe eetmasjien. Ek was gedetermineerd om die ekstra kilo’s af te skud en weer in my normale broeke te pas. Al wat ek verloor het, was drie dae. Ek het geweet die moeilikheid is oppad, toe ek die tert in die bakkery se vertoonvenster sien en nie dink aan die meisie wat in matriek met ‘n push-up bra skool toe gegaan het nie. Die woord tert het nog nooit my maag laat grom nie, want ek het dit nog altyd met ‘n maklike meisie geassossieer. Nes ek nie die woord koek as ‘n lekkerny beskou het nie, maar as die bleeksiel wat voor in die klas gesit het, een hand op die Bybel, die ander op haar Wiskundeboek. Dit is nie blote toeval dat “boek” met “koek” rym nie. So het ek altyd in my mou gelag… maar wie lag nou laaste? Seker die koeke en terte wie se liggaamsmassa nie hul IK’s oorskry nie.

Ek is dalk goed met Wiskunde. Ek is dalk goed met woorde. Ek is absoluut pateties met diëte. Ek het teen dag twee al begin fantaseer oor karamel wat eroties oor ‘n piesanggevulde pannekoek gedrup word… en teen dag drie was die versoeking te groot. Ek het voor die suikerinhoud van die vyand geswig. Ek het ‘n oliebol, twee roomyse en drie melktertjies verorber. Opgevreet. Verslind. Dierlik en instinktief. Tannie Emsie sou stik in haar tee oor die gebrek aan my eet-etiket.

Ek dink wat my erger laat voel as die gefaalde dieet, is die feit dat ek nie eers skuldig voel daaroor nie. Ek vind berusting in die sukrose, glukose en allerhande koses van my koffie. Nee, nie koffie nie, cappucinno. Met ekstra room. Ek verlustig my in die vetinhoud van die croissant wat lig en vol roomkaas saam met die salm vir my knipoog. Ek flankeer openlik met veerligte kolwyntjies. Ek fladder my oë vir die afleweringsman wat pizza tot op ons drumpel dra… nie oor hy aantreklik is nie, maar oor die dubbelkaas en ekstra hoender so ongelooflik ruik. Ek lek my lippe af as die reuk van roosterbrood deur ons huis walms blaas…

Ek kan dit eenvoudig nie keer nie. Ek het nou maar een maal ‘n liefdesverhouding met kos wat niemand verstaan nie. En toe word ek boonop geseën met ‘n man wat nie oordeel nie, maar gedienstig en gedweë roomys inskep en vir my kaaskoek gaan koop by die Belgiese bakkery.

 

Ek is nie net lief vir soetgoed nie. Ek hou van allerhande soorte kos. Ek sukkel om tevrede te wees met NET slaai vir middagete. Ek kan eenvoudig nie oor die weg kom met een gekookte eier, drie snytjies komkommer en die reuk van koffie nie. Ek soek kos. Iets wat vullend is. Nie net vir die maag nie, maar ook vir die siel. Sien, vir my is elke happie ‘n reis. Ek onthou Ouma se hande as sy vir my pannekoek bak. Ek raak nostalgies as ek naartjies ruik en aan die buurtannie met die groot buuste dink wat sommer drie in my hande stop. Ek ruik oregano en ek word weggevoer na ons vakansie in Italië. Ek sien die knoffelbotter Naan wat langs die kerrie lê en smeek om geëet te word en ek word weggevoer na die Indiese platteland, waar ons onsself in ‘n glutenbelaaide koma ingeëet het. Kos is ‘n avontuur. ‘n Plesier. Iets waarsonder ek nie kan, of WIL, lewe nie.

 

Ek het besluit die sukses vir my ekstra tien kilo’s lê hier: elke kilo vertel ‘n verhaal van plesier en genot. Elke duikie op my bobeen laat my laggend dink aan ‘n ete saam familie. Elke ekstra sentimeter om my middel, getuig van vrede en berusting wat ek in elke happie gevind het. Ek weier eenvoudig om my verder te onderwerp aan die kreun van ‘n dieet. Ek sal eet. Nie net vir oorlewing nie, maar ook vir die lekker. Ek sal nie ‘n visgraat wees nie. Ook nie ‘n potjierol nie. Maar êrens in die middel, sal ek my balans vind. Iewers tussen die donker afgrond van hoë bloeddruk en die euforie wat ‘n happie lekker Boerekos gee, sal ek nie net oorleef nie, maar lééf. Ek gaan stap so entjie in die aand. Let wel, ek draf nie. Laf is ek ook nie. Ek klim trappe. Ek probeer om myself te behaag met EEN stukkie tert, in plaas van drie. Maar ek weier om weer toe te laat dat een dieet my die woord “misluk” aan myself sal koppel. Net soos ek nie mis sluk nie, net so sal ek nie weer misluk nie. Lank lewe die boereworsrol en koeksister!

Verbrand

Ek het gisteraand die hoender gebrand. Nie gebraai of gerooster nie, maar veras. Ek het vol selfvertroue die oond aangeskakel, die gemarineerde hoender met foelie bedek en die tydknop gedraai om my oor 25 minute te waarsku… helaas, my poging was futiel. Die hoender het pikswart en gekrimp na 102 minute uit die oond tevoorskyn gekom. Die resultaat van my deurmekaarbrein en toe ore as ek eers begin lees. My man het net sy kop geskud en na die kombuis geloer. Ek het alles wat moontlik kan nodig wees om lekker kos te kan voorberei, maar ‘n kok is ek beslis nie.

Ek lag hardop vir myself. Ek neem ‘n foto van die vermoorde hoender met my selfoon en stuur dit aan my liewe Moeder in Suid-Afrika met die opskriffie: “Ma moes my dalk minder laat buite speel en meer tyd in die kombuis laat spandeer het” Lag, lag, lag. Ek is verspot. Nie lank nie toe kom my ma se antwoord: “Ek reken jy het iets verbrand, kan nie mooi op die foto sien nie. Hou op bewe as jy die knoppie druk.” Ek sug. Ek besit ‘n kamera, maar ‘n fotograaf is ek beslis nie.

Met gekoopte burgers sit ons eindelik aan vir ete. My liefste dogtertjie begin sing. “Loof Hom met die dromme, loof hom ook kliphard.” Ek giggel vir haar kinderlike gehoor en onopgesmukte sang. Sy klink nie soos die volgende popsensasie nie. Ek wil graag hê my duifie moet soos ‘n nagtegaal klink, maar die waarheid is dat dit klink of sy die kat in die donker knyp. Ek sing maar saam. Ons lag en is vrolik. Net omdat mens KAN sing, beteken nie dat jy ‘n loopbaan daarvan moet maak, of dit eers in die publiek moet oorweeg nie.

Na ete, gaan sit my seun voor die klawerbord. Tokkel, tokkel, tokkel. Ek besef binne dertig sekondes dat ‘n instrument nie van jou ‘n musikant maak nie. ‘n Klavier in jou voorportaal beteken nie jy is ‘n pianis nie en ‘n kitaar in die kas maak nie van jou ‘n rock-ster nie. Ons maak hom stil en hy beweeg aan na die waterverf wat soos ‘n onskuldige dier lê en wag op die jagter. Met ‘n verfkwas in die hand, skep my liefste seun ‘n kunswerk vir die yskas. ‘n Kunswerk wat ek sal koester, want dit is met liefde geverf. Die waarheid is egter dat ‘n verfkwas in die hand jou nie ‘n volwaardige kunstenaar maak nie.

By die skool vanoggend luister ek na die hoof se bla-bla-bla oor assesseringstake wat moet in. Sy probeer ons motiveer deur ‘n goeie toespraak van ‘n voormalige Amerikaanse president aan te haal. Maar om ‘n toespraak te hê, maak nie van jou ‘n spreker nie. Ek begin skelm lees. Want sien, ek lees baie boeke en ek weet vir ‘n feit, dat een boektitel agter jou blad, jou nie noodwendig ‘n skrywer maak nie.

 

Ons het oueraand by die skool. Ek probeer verstaan hoe ouers hul donkies in resiesperde wil omskep. Hoe die verwagting van ‘n arend aan die mossies gekoppel word, gaan my verstand te bowe. Hulle wys vingers na onderwysers, die kurrikulum en die skool. Hulle blameer siektes en te min leertyd, maar ek weet dat die toets eenvoudig net bo die kind se vuurmaakplek was. Ek luister met ‘n mond wat oophang na die relaas van ‘n ouer. Ek voel simpatie teenoor die kind wie se pa op sy Wetenskaponderwyser skree. Ek wil die Ma klap wat haar kind se hare trek oor hy nie geluister het in die klas nie.

Skielik weet ek dat my verkoolde, verbrande hoender nie eintlik saak maak nie, want ek sing saam ‘n vals stem, ek plak ‘n skewe prent teen die muur, ek lag oor verwondering, ek vang middagslapies voor die televisie, terwyl ‘n kind op my skouer kwyl. Ek is nie perfek nie. My kinders ook nie. Nes ‘n kombuis jou nie ‘n kok maak nie; nes ‘n klas jou nie ‘n onderwyser maak nie; nes ‘n opinie jou nie slim maak nie; nes ‘n rugbybal jou nie ‘n Springbok maak nie… NET SO, maak ‘n kind jou nie noodwendig ‘n ouer nie.

 

 

Die onbekroonde troon

92 dae. Dis hoe lank die gemiddelde mens in sy leeftyd op die troon sal spandeer. Die koninklike troon wat onbekroond in huise, kleedkamers en blou plastiekhokkies langs die pad staan. Die porseleintroon, oftewel die toilet. Ek het nog altyd ‘n weersin in die woord “toilet” gehad. TOI-LIT. Dit klink so… vuil. Kommin. Jiggie. En tog is dit ‘n noodsaaklikheid in die menslike bestaan. Ons moet eet, asemhaal en wel… die kleedkamer besoek.

Die longdrop was een van die vroegste maniere om te “ontlas” (afskuwelike woord). In Afrikaans is hierdie oorspronklike woord al menigmale vertaal, die resultate sal jou na dubbellaag sagtheid laat verlang: dieptroon; doefpoef; gemakgat; plaaspardoems; plofstoel; plonsput; plonspardoems… om maar net ‘n paar te noem. Een ding moet ek darem ons taal toegee, ons is beskrywend.

Mense beskryf die daad verskillend. Party “loop ‘n draai”. Dit is so lekker eufemistiese manier om te beskryf jy gaan iets doen wat stink. Ander gaan “poeier hul neusies”. Hierdie uitdrukking werk egter net vir lede van die vroulike geslag en moet liefs nie deur menere in die geselskap geuiter word nie. Sekeres besoek die “biblioteek”, want sien, meeste mans kan mos nie uit hul koppe uit k… “toiletteer“* nie. Nog so juweeltjie wat ek in ‘n middeljarige paartjie se huis gehoor het. Kortom: die toilet is nie romanties nie. Niemand het nog die ja-woord gevra op die troon nie. En as hulle het, hoop ek van harte nie daar is ‘ja’ gesê nie. Die daad om jou blaas/ derms leeg te maak is nie ‘n mooi taak om af te handel nie. Dis nie visueel stimulerend nie, dit doen absoluut niks vir ‘n mens se reuksintuig nie, om die plis-plas in die water te hoor is nie kalmerend op die oor nie en van die smaakervaring het ek ongelukkig geen kennis nie. Die tassintuig se reaksie op hierdie onaangename proses, is verdeeld. Sien, niemand vat fisies (hopelik) aan die produk waarvan hier gepraat word nie, maar ek het die volgende raakgelees wat my laat wonder het: “Nothing is as overrated as sex and as underrated as a good shit“. Stof tot nadenke.

 

Die kleedkamer word deur Adam en Eva besoek. En al sou mens wou glo dat ons hier op gelyke vlak speel, is dit absoluut nie die waarheid nie. Mans kan staan, hurk of sit… ons vrouens se beweging is redelik beperk. Tog dink ek meeste vrouens handel die takie met so bietjie meer styl af as meeste mans. Gaan in, sluit die deur, doen jou ding, beweeg uit. Reuke het min tyd vir ontsnapping en dus is die gevolge van vroulike kleedkamerbesoeke minder onaangenaam. Mans redeneer egter die tyd op die troon is daargestel om die geduld van die kakkerlakke te toets. Behalwe dat dit die enigste tyd is wat baie mans enigsens lees, word hierdie tyd ook aangewend om Facebook te besoek, Candy Crush te speel en e-pos te beantwoord. Ek “plant” boeke in die badkamer. Dan merk ek sekere hoofstukke wat ek graag onder my liefste eggenoot se aandag wil bring. So het my man darem ook al “Hoe om dogters groot te maak” deur James Dobson gelees. En eintlik slaan mens dan twee vlieë met een klap, want sien as jy so effe hardlywig voel, kan jy altyd net na dr. James se gesig op die agterblad staar… probleem opgelos!

 

Is dit ook net ek wat dink dat die geur- en reukmiddels wat vervaardig word, die natuurlike reuke net soveel erger maak as dit in beknopte spasies gebruik word? Hoekom op dees aarde sal ek die badkamer soos “aarbeie en room” wil laat ruik na die afhandel van so grusame daad? Hoekom kies hulle titels soos “Denneboom Woude” en “Suurlemoen Droom” vir lugverfrissers. Die gedagte daaraan maak my effe naar. Die enigste titel wat sin  maak is POTpourri… en ek vermoed die woordspel was nie opsetlik nie.

 

Hierdie klink dalk na ‘n grillerige, onvanpaste, kru en baie kras onderwerp en dalk is dit, maar ek dink die porseleintroon se lofliedere word hopeloos te min besing.  Toiletpapier is ‘n multimiljoenrand industrie. Die troon red ons daagliks van ondenkbare skaamtes en of jy nou van die Ooste van Pretoria is en of jy nou van Brakpan kom, maak nie saak nie, want die toilet maak almal se status eenders. Ons spandeer almal immers 162 minute per week daarop. Die maer mensies wat soos visgrate lyk, die dikkes wat dril, die mooies en makkes, die manne, muise, miljoenêrs en magteloses… ALMAL moet hul ding doen. Almal kan spuitpoep of hardekool kry. Almal poep skelm. Almal poef agter hul hakskene. Niemand se piepie ruik soos parfuum nie en niemand se drolle kom met strikkies aan nie.

Die ewige gelykmaker: die onbekroonde troon.

 

* Ek is nie seker van die spelling van die woord “toiletteer” nie, die woord bestaan blykbaar nie in die HAT nie.

 

Fout

Nogal snaaks hoe mense van foute hou. Nie hul eie nie, maar die van ander.

Ek skryf byvoorbeeld ‘n artikel van 956 woorde. Een spelfout sluip in. Ek erken, ek het die artikel dalk nie genoeg deurgelees alvorens ek dit gepubliseer het nie, maar die fout is daar. Vir almal om te sien. En nee, dit was nie ‘n tikfout nie. Ek sal die verantwoordelikheid swaar op my skouers laat rus: ek het ‘n woord verkeerd gespel. Op ‘n webjoernaal, in Afrikaans.Vanaand sal ek in my kussing huil, my ma sal haarself skaam vir my nalatigheid, my Afrikaanse onderwyseres sal selfmoord oorweeg en die aarde sal ophou draai. Nee wag, nou is ek weer melodramaties. Niks sal gebeur nie.

Ek haat nie my taal nie. Ek wil nie doelbewus iemand by die ATKV of ‘n soortgelyke instansie afwater nie. Ek het geen verskuilde agenda waarin ek ‘n taalterroris wil word en #AfrikaansMoetVal wil bevorder nie. Ek het bloot een woord (uit 956 woorde) verkeerd gespel. Ek was 0,001% verkeerd. Maar dit is wat sommige mense gekies het om te sien: die 0,001% fout.

 

Niemand was lelik met my nie. Niemand het gegil of geskree of vuil taal op Facebook gebruik nie. Dit is vriendelik onder my aandag gebring. Wel, vriendelik met ‘n uitroepteken. En ‘n aanmaning. Tsk-tsk. Diegene wat my ken, sal weet dat ek nie slapelose nagte oor hierdie aanmaning sal hê nie, maar in hierdie betrokke geval was dit presies wat gebeur het. Ek het deurnag gelê en worstel oor die mensdom. Wanneer het ons die naald in die hooimied begin soek? En nie die pylreguit, blink naald nie… o nee, ons soek die skewe, geroeste naald. Dìt is die naald wat ons so graag aan die wêreld wil uitwys, net sodat ons in blye verheerliking kan staan en uitbasuin: “Kyk hoe wonderlik en perfek is ek. Ek het die 0,001% raakgesien en uitgewys. Nou is die wêreld ‘n beter plek.”

 

Ek het geen probleem om die aarde ‘n beter plek te maak nie. Inteendeel. Ek het geen probleem om foute reg te maak, spelling te verbeter of selfs te sê “ek is jammer” nie. Maar ek begin al hoe meer dink ek het ‘n probleem met suurgatte wat dink hulle lewens is perfek. Mense wat hulself as superieuse wesens aansien wat nooit foute maak nie en hulself aangestel het om die foute van ander uit te wys. Vingerwysers. Beoordelaars. Pyn-in-die-gat mense wat nie meer na enige braai uitgenooi word nie, want hulle weet eenvoudig tè veel. Mense wat alleen sal doodgaan en dan deur hul katte opgeëet gaan word, want hulle het nie meer vriende oor nie. Nie eers hul eie kinders wil naby hulle wees nie. Want niemand wil heeldag en aldag aan hul menslikheid en foute herinner word nie. Nie eers die alomwetende suurknolle nie. En ja, die sielkundiges wat hier lees gaan nou iets kwytraak soos “sien, die aanmaning pla die skrywer wel, want anders sou sy nie haarself na kru taal, sarkasme of beledigings gewend het nie“. En miskien is dit so. Of miskien is dit die sielkundiges wat weereens net fout soek, sodat hulle aan die einde van die maand die duur (Duitse) motorpaaiement kan betaal.

Regoor die aarde heen, maak mense geld uit foute. Prokerowers kapitaliseer op egskeidings, onregmatige afbetalings en dagvaardigings. Taalversorgers word vergoed vir elke punt en komma wat gemis word. Ouditeure lag al die pad bank toe as hulle ‘n vermiste miljoen opspoor wat iemand anders misplaas het. Die media is seker die mense wat die meeste baat uit foute van ander. ‘n Egskeiding van ‘n beroemde paartjie verkoop meer koerante as die Proteas se oorwinning. ‘n Dwelmskandaal of buite-egtelike baba lok meer lesers as  die oom wat 120 kg verloor het vir sy dogter se troue. Wanneer het ons begin om onsself te verlekker in die gebrande rys, in die tienerswangerskap en in die prinses se skurwe hakke? Wanneer het ons die kat aan die stert beetgekry? Ons wil sien hoe iemand die kat in die donker knyp, in plaas daarvan om die kat se nege lewens te vier.

 

Ek verkondig nie dat ek foutloos is nie. Ek maak daagliks droog. Ek druk gereeld my voet in my mond en dink te min voor ek tik, praat of doen. Ek raak kwaad, ek huil oor simpel goed, ek raak geïrriteerd as mense my laat wag en skewe goed/mense/dinge pla my nie. Ek is gelukkig, want ek is immers 99,999% goed genoeg. Soms. Ek leer daagliks nuwe woorde aan, hoe om myself beter uit te druk, wanneer om die ellips reg te gebruik en so aan ensovoorts. Ek voel beslis beter na hierdie skrywe, al vermoed ek iemand gaan dalk more sê my uitlatings was ‘n fout.