Worry

Ek bekommer myself selde. Ek worry sommer net. Alhoewel die bande van my motor afloop, gee die starter soms moeilikheid en wil die clutch nie aldag saamwerk nie. Ek dink in elk geval as ek vir die motorwerktuigkundige gaan sê dat my knormoer en wisselaar die humeur het van ‘n afgetrede Wiskundejuffrou in ‘n ry by Binnelandse Sake, gaan hy my kwotasie verdubbel, want hy sal eers ‘n tolk moet aanstel. Let wel dat hy nie ‘n mechanic is nie, maar ‘n vierde-generasie-Swanepoel wat al jare lank sy hande in  die onderdele van motors indruk en probleme oplos.

My skootrekenaar se data, geheue en moederbord is meer as voldoende vir my behoeftes, maar flashdrives raak gereeld verlore. Die restart knoppie is my rekenaar se koffie in die oggend. Dis asof sy kop nie lekker agtermekaar is as hy nie nie eers sy fix gekry het nie. Ek hou nie van woorde soos “datavinger” en”sentrale verwerkingseenheid” nie. Ek tik sekere woorde in bold, maar is gek oor die woord kursief. Dit klink so eksoties en eksklusief. Ek hou van woordspel en soms is my pun intended. 

My man is my wederhelfte, eggenoot, geliefde en ja, soms is hy my partner-in-crime. Hy is nie my BAE (wat, so terloops, ‘n Deense woord vir poo is), my baby of my hubby nie. My kinders is my senuwees, my kort humeur, my hartjies, my prinses en prins en die rede hoekom ek wyn drink. Hulle is nie my kiddos, my lovies of my angels nie. Petrus gooi ‘n vloermoer en Lehja kry besoeke van die Tandmuis.

Ons braai steak, eet braaibroodjies en ons is nie skaam om prawns in knoffelbotter te bestel nie. In die vrugbtebak lê appels, piesangs, guavas en ‘n pomelo. Ek drink gin, maar hou nie van jenewer nie. Ek kry babelaas en soek dan toast met Marmite op. En dit gaan nie aldag met my klopdisselboom nie, soms gaan dit net okay. 

Ek is mal oor my taal. Dis die taal waarin ek vloek en bid. Dis die taal waarin ek bemin word, maar ook haatspraak kry. Dis die taal wat eens die spreekbuis van die “onderdrukker” was, maar dis ook die taal wat vandag vrylik buite die kombuis rondhardloop. Afrikaans is maar, relatief gesproke, ‘n jong taal. ‘n Tienertaal. En nes ‘n tiener puisies kry, wispelturig is, soms onseker voel oor sy toekoms, soms onnodig aggressief optree, soms té selfversekerd is en soms die verkeerde meisie vry, net so is Afrikaans ook maar. Afrikaans gaan nie uitsterf omdat die regering die taal verafsku nie, want die liefde van die sprekers is groter as dit. Afrikaans gaan nie die emmer skop net omdat tieners sms-taal gebruik, soms hul tale meng en nie na Afrikaanse musiek luister nie. Dalk is dit ‘n naïewe geloof wat ek het, maar ek glo dat as ek my kinders se liefde vir Afrikaans aanwakker, dit nie saak maak dat hulle in Engels en Arabies onderrig word nie. Lehja is mal oor Amanda Strydom, Karen Zoid en Kaleidoskoop se musiek. Petrus is gek oor die stories van Trompie en sy boksombende. Ons praat Afrikaans tuis en Engels by die skool. Natuurlik meng en pas ons om ons lewe te vergemaklik. Maar is ek ‘n spreekwoordelike terroris van Afrikaans hieroor? Nee.

 

Onderwysers, ouers en taalpuriste oor die aarde heen… ek rig die versoek vriendelik: moenie ons taal versmoor deur die outydse en argaïese uitdrukkings op ons kinders af te forseer nie. Dit kweek haat en afsku. Leer hulle om mooi Afrikaans te praat, leer hulle om die ougoed te respekteer en leer hulle van register: wanneer mag hulle spreektaal gebruik en wanneer is formele taal nodig. Daar is ‘n plek vir sms-taal… IN ‘n sms, nie in ‘n opstel nie. As leerders kan sien dat hulle manier van Afrikaans nie verkeerd is nie, maar net nie geskik is vir ALLE geleenthede nie, sal hulle dalk nie so opgewonde word oor die aanleer van Mandaryns en Frans nie. Dis cool om take-aways te bestel as jy by vriende kuier, maar nie as jy ‘n toespraak lewer vir ‘n Afrikaanse punt nie. Jy mag maar chill oor die naweek, maar Maandag moet jou fokus in die klas, wees op die ordentlike taalgebruik waarvoor ons voorouers so hard baklei het. Gooi mielies, ruk die hoender, rol in die idiome, pluk die vrugte, saai wat jy gemaai het, vang die wind en dra die somer op jou tong. En as jy soms ‘n eisj, ayoba of thanx in ‘n Afrikaanse sin hoor, moenie na hartpille, senuweepille of setpille gryp nie. Praat die taal, leef die taal, omhels die taal. Laat Afrikaans deur jou murg en pype dans en berus dan by die wete dat die Engelse ook maar “leen” by ons. Hulle braai, eet ook lekker, saam met vriende kuier hulle oor naweke en ek hoor gereeld woorde soos mosag en ja-nee in Engelse sinne. Waarvan die hart vol is, loop uit by die mond. En Afrikaans is ook in die Engelse harte. ‘n Engelse woord gaan nie ons taal dood nie… ook nie emigrasie of die regering se sinnelose besluite nie. Afrikaans SAL bly voortleef. Solank as wat ons daaroor worry, daaroor bid en daaroor praat, sal ons beslis oukei wees. Oukei?

Advertisements

3 thoughts on “Worry

  1. Ek voel mos dieselfde oor die Engelse en swart woorde in Afrikaans. Maar dat Afrikaans sprekendes glo hulle kinders moet Engels skoolgaan om beter in die wereld te presteer, gee my ‘N KRAMP! Het hulle nog nie die afgelope 300 jaar geleer dat Afrikaanssprekendes uitstekend in die wereld vaar nie, ondanks (of dalk juis agv) hulle Afrikaanse opvoeding. Dus, hou maar ‘n Afrikaanse universiteit of 2. Laat ook tog asb julle kinders in Afrikaans skoolgaan ( en verbeter so jou kind se meertaligheid). En dis waar:Afrikaanse onnies: KOM BY!

  2. Ek hou van wat jy hier skryf. Ek probeer my taal te verbeter, maar nes by jou, glip daar baie Engelse woorde tussen-in.
    Wat egter vir my ‘n bekommernis is dat die taalgebruik baie verswak waar kinders dit nie meer op skool leer nie. Bekommernis is ook seker nie die regte woord nie. Ek merk op dat my familielede oorsee se kinders nog ‘n goeie basiese Afrikaans praat, maar dit glad nie meer lees nie. Ek aanvaar dit so, hulle sal seker daar bly en in ‘ n ander taal leef en leer. Tog sal ek graag wou hê dat ons Afrikaanssprekende kinders hier in SA tog nog Afrikaans in skole, en hopelik by sommige universiteite sal behou. Vir die behoud van ons taal. Maar solank ons dit praat en skryf en lees kan ek ook nie dink dat dit sal uitsterf nie. Vir eers nie. Tot dit dalk doodgedruk word, wat ek hoop NOOIT sal gebeur nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s