Verbrand

Ek het gisteraand die hoender gebrand. Nie gebraai of gerooster nie, maar veras. Ek het vol selfvertroue die oond aangeskakel, die gemarineerde hoender met foelie bedek en die tydknop gedraai om my oor 25 minute te waarsku… helaas, my poging was futiel. Die hoender het pikswart en gekrimp na 102 minute uit die oond tevoorskyn gekom. Die resultaat van my deurmekaarbrein en toe ore as ek eers begin lees. My man het net sy kop geskud en na die kombuis geloer. Ek het alles wat moontlik kan nodig wees om lekker kos te kan voorberei, maar ‘n kok is ek beslis nie.

Ek lag hardop vir myself. Ek neem ‘n foto van die vermoorde hoender met my selfoon en stuur dit aan my liewe Moeder in Suid-Afrika met die opskriffie: “Ma moes my dalk minder laat buite speel en meer tyd in die kombuis laat spandeer het” Lag, lag, lag. Ek is verspot. Nie lank nie toe kom my ma se antwoord: “Ek reken jy het iets verbrand, kan nie mooi op die foto sien nie. Hou op bewe as jy die knoppie druk.” Ek sug. Ek besit ‘n kamera, maar ‘n fotograaf is ek beslis nie.

Met gekoopte burgers sit ons eindelik aan vir ete. My liefste dogtertjie begin sing. “Loof Hom met die dromme, loof hom ook kliphard.” Ek giggel vir haar kinderlike gehoor en onopgesmukte sang. Sy klink nie soos die volgende popsensasie nie. Ek wil graag hê my duifie moet soos ‘n nagtegaal klink, maar die waarheid is dat dit klink of sy die kat in die donker knyp. Ek sing maar saam. Ons lag en is vrolik. Net omdat mens KAN sing, beteken nie dat jy ‘n loopbaan daarvan moet maak, of dit eers in die publiek moet oorweeg nie.

Na ete, gaan sit my seun voor die klawerbord. Tokkel, tokkel, tokkel. Ek besef binne dertig sekondes dat ‘n instrument nie van jou ‘n musikant maak nie. ‘n Klavier in jou voorportaal beteken nie jy is ‘n pianis nie en ‘n kitaar in die kas maak nie van jou ‘n rock-ster nie. Ons maak hom stil en hy beweeg aan na die waterverf wat soos ‘n onskuldige dier lê en wag op die jagter. Met ‘n verfkwas in die hand, skep my liefste seun ‘n kunswerk vir die yskas. ‘n Kunswerk wat ek sal koester, want dit is met liefde geverf. Die waarheid is egter dat ‘n verfkwas in die hand jou nie ‘n volwaardige kunstenaar maak nie.

By die skool vanoggend luister ek na die hoof se bla-bla-bla oor assesseringstake wat moet in. Sy probeer ons motiveer deur ‘n goeie toespraak van ‘n voormalige Amerikaanse president aan te haal. Maar om ‘n toespraak te hê, maak nie van jou ‘n spreker nie. Ek begin skelm lees. Want sien, ek lees baie boeke en ek weet vir ‘n feit, dat een boektitel agter jou blad, jou nie noodwendig ‘n skrywer maak nie.

 

Ons het oueraand by die skool. Ek probeer verstaan hoe ouers hul donkies in resiesperde wil omskep. Hoe die verwagting van ‘n arend aan die mossies gekoppel word, gaan my verstand te bowe. Hulle wys vingers na onderwysers, die kurrikulum en die skool. Hulle blameer siektes en te min leertyd, maar ek weet dat die toets eenvoudig net bo die kind se vuurmaakplek was. Ek luister met ‘n mond wat oophang na die relaas van ‘n ouer. Ek voel simpatie teenoor die kind wie se pa op sy Wetenskaponderwyser skree. Ek wil die Ma klap wat haar kind se hare trek oor hy nie geluister het in die klas nie.

Skielik weet ek dat my verkoolde, verbrande hoender nie eintlik saak maak nie, want ek sing saam ‘n vals stem, ek plak ‘n skewe prent teen die muur, ek lag oor verwondering, ek vang middagslapies voor die televisie, terwyl ‘n kind op my skouer kwyl. Ek is nie perfek nie. My kinders ook nie. Nes ‘n kombuis jou nie ‘n kok maak nie; nes ‘n klas jou nie ‘n onderwyser maak nie; nes ‘n opinie jou nie slim maak nie; nes ‘n rugbybal jou nie ‘n Springbok maak nie… NET SO, maak ‘n kind jou nie noodwendig ‘n ouer nie.

 

 

Advertisements

Die onbekroonde troon

92 dae. Dis hoe lank die gemiddelde mens in sy leeftyd op die troon sal spandeer. Die koninklike troon wat onbekroond in huise, kleedkamers en blou plastiekhokkies langs die pad staan. Die porseleintroon, oftewel die toilet. Ek het nog altyd ‘n weersin in die woord “toilet” gehad. TOI-LIT. Dit klink so… vuil. Kommin. Jiggie. En tog is dit ‘n noodsaaklikheid in die menslike bestaan. Ons moet eet, asemhaal en wel… die kleedkamer besoek.

Die longdrop was een van die vroegste maniere om te “ontlas” (afskuwelike woord). In Afrikaans is hierdie oorspronklike woord al menigmale vertaal, die resultate sal jou na dubbellaag sagtheid laat verlang: dieptroon; doefpoef; gemakgat; plaaspardoems; plofstoel; plonsput; plonspardoems… om maar net ‘n paar te noem. Een ding moet ek darem ons taal toegee, ons is beskrywend.

Mense beskryf die daad verskillend. Party “loop ‘n draai”. Dit is so lekker eufemistiese manier om te beskryf jy gaan iets doen wat stink. Ander gaan “poeier hul neusies”. Hierdie uitdrukking werk egter net vir lede van die vroulike geslag en moet liefs nie deur menere in die geselskap geuiter word nie. Sekeres besoek die “biblioteek”, want sien, meeste mans kan mos nie uit hul koppe uit k… “toiletteer“* nie. Nog so juweeltjie wat ek in ‘n middeljarige paartjie se huis gehoor het. Kortom: die toilet is nie romanties nie. Niemand het nog die ja-woord gevra op die troon nie. En as hulle het, hoop ek van harte nie daar is ‘ja’ gesê nie. Die daad om jou blaas/ derms leeg te maak is nie ‘n mooi taak om af te handel nie. Dis nie visueel stimulerend nie, dit doen absoluut niks vir ‘n mens se reuksintuig nie, om die plis-plas in die water te hoor is nie kalmerend op die oor nie en van die smaakervaring het ek ongelukkig geen kennis nie. Die tassintuig se reaksie op hierdie onaangename proses, is verdeeld. Sien, niemand vat fisies (hopelik) aan die produk waarvan hier gepraat word nie, maar ek het die volgende raakgelees wat my laat wonder het: “Nothing is as overrated as sex and as underrated as a good shit“. Stof tot nadenke.

 

Die kleedkamer word deur Adam en Eva besoek. En al sou mens wou glo dat ons hier op gelyke vlak speel, is dit absoluut nie die waarheid nie. Mans kan staan, hurk of sit… ons vrouens se beweging is redelik beperk. Tog dink ek meeste vrouens handel die takie met so bietjie meer styl af as meeste mans. Gaan in, sluit die deur, doen jou ding, beweeg uit. Reuke het min tyd vir ontsnapping en dus is die gevolge van vroulike kleedkamerbesoeke minder onaangenaam. Mans redeneer egter die tyd op die troon is daargestel om die geduld van die kakkerlakke te toets. Behalwe dat dit die enigste tyd is wat baie mans enigsens lees, word hierdie tyd ook aangewend om Facebook te besoek, Candy Crush te speel en e-pos te beantwoord. Ek “plant” boeke in die badkamer. Dan merk ek sekere hoofstukke wat ek graag onder my liefste eggenoot se aandag wil bring. So het my man darem ook al “Hoe om dogters groot te maak” deur James Dobson gelees. En eintlik slaan mens dan twee vlieë met een klap, want sien as jy so effe hardlywig voel, kan jy altyd net na dr. James se gesig op die agterblad staar… probleem opgelos!

 

Is dit ook net ek wat dink dat die geur- en reukmiddels wat vervaardig word, die natuurlike reuke net soveel erger maak as dit in beknopte spasies gebruik word? Hoekom op dees aarde sal ek die badkamer soos “aarbeie en room” wil laat ruik na die afhandel van so grusame daad? Hoekom kies hulle titels soos “Denneboom Woude” en “Suurlemoen Droom” vir lugverfrissers. Die gedagte daaraan maak my effe naar. Die enigste titel wat sin  maak is POTpourri… en ek vermoed die woordspel was nie opsetlik nie.

 

Hierdie klink dalk na ‘n grillerige, onvanpaste, kru en baie kras onderwerp en dalk is dit, maar ek dink die porseleintroon se lofliedere word hopeloos te min besing.  Toiletpapier is ‘n multimiljoenrand industrie. Die troon red ons daagliks van ondenkbare skaamtes en of jy nou van die Ooste van Pretoria is en of jy nou van Brakpan kom, maak nie saak nie, want die toilet maak almal se status eenders. Ons spandeer almal immers 162 minute per week daarop. Die maer mensies wat soos visgrate lyk, die dikkes wat dril, die mooies en makkes, die manne, muise, miljoenêrs en magteloses… ALMAL moet hul ding doen. Almal kan spuitpoep of hardekool kry. Almal poep skelm. Almal poef agter hul hakskene. Niemand se piepie ruik soos parfuum nie en niemand se drolle kom met strikkies aan nie.

Die ewige gelykmaker: die onbekroonde troon.

 

* Ek is nie seker van die spelling van die woord “toiletteer” nie, die woord bestaan blykbaar nie in die HAT nie.

 

Fout

Nogal snaaks hoe mense van foute hou. Nie hul eie nie, maar die van ander.

Ek skryf byvoorbeeld ‘n artikel van 956 woorde. Een spelfout sluip in. Ek erken, ek het die artikel dalk nie genoeg deurgelees alvorens ek dit gepubliseer het nie, maar die fout is daar. Vir almal om te sien. En nee, dit was nie ‘n tikfout nie. Ek sal die verantwoordelikheid swaar op my skouers laat rus: ek het ‘n woord verkeerd gespel. Op ‘n webjoernaal, in Afrikaans.Vanaand sal ek in my kussing huil, my ma sal haarself skaam vir my nalatigheid, my Afrikaanse onderwyseres sal selfmoord oorweeg en die aarde sal ophou draai. Nee wag, nou is ek weer melodramaties. Niks sal gebeur nie.

Ek haat nie my taal nie. Ek wil nie doelbewus iemand by die ATKV of ‘n soortgelyke instansie afwater nie. Ek het geen verskuilde agenda waarin ek ‘n taalterroris wil word en #AfrikaansMoetVal wil bevorder nie. Ek het bloot een woord (uit 956 woorde) verkeerd gespel. Ek was 0,001% verkeerd. Maar dit is wat sommige mense gekies het om te sien: die 0,001% fout.

 

Niemand was lelik met my nie. Niemand het gegil of geskree of vuil taal op Facebook gebruik nie. Dit is vriendelik onder my aandag gebring. Wel, vriendelik met ‘n uitroepteken. En ‘n aanmaning. Tsk-tsk. Diegene wat my ken, sal weet dat ek nie slapelose nagte oor hierdie aanmaning sal hê nie, maar in hierdie betrokke geval was dit presies wat gebeur het. Ek het deurnag gelê en worstel oor die mensdom. Wanneer het ons die naald in die hooimied begin soek? En nie die pylreguit, blink naald nie… o nee, ons soek die skewe, geroeste naald. Dìt is die naald wat ons so graag aan die wêreld wil uitwys, net sodat ons in blye verheerliking kan staan en uitbasuin: “Kyk hoe wonderlik en perfek is ek. Ek het die 0,001% raakgesien en uitgewys. Nou is die wêreld ‘n beter plek.”

 

Ek het geen probleem om die aarde ‘n beter plek te maak nie. Inteendeel. Ek het geen probleem om foute reg te maak, spelling te verbeter of selfs te sê “ek is jammer” nie. Maar ek begin al hoe meer dink ek het ‘n probleem met suurgatte wat dink hulle lewens is perfek. Mense wat hulself as superieuse wesens aansien wat nooit foute maak nie en hulself aangestel het om die foute van ander uit te wys. Vingerwysers. Beoordelaars. Pyn-in-die-gat mense wat nie meer na enige braai uitgenooi word nie, want hulle weet eenvoudig tè veel. Mense wat alleen sal doodgaan en dan deur hul katte opgeëet gaan word, want hulle het nie meer vriende oor nie. Nie eers hul eie kinders wil naby hulle wees nie. Want niemand wil heeldag en aldag aan hul menslikheid en foute herinner word nie. Nie eers die alomwetende suurknolle nie. En ja, die sielkundiges wat hier lees gaan nou iets kwytraak soos “sien, die aanmaning pla die skrywer wel, want anders sou sy nie haarself na kru taal, sarkasme of beledigings gewend het nie“. En miskien is dit so. Of miskien is dit die sielkundiges wat weereens net fout soek, sodat hulle aan die einde van die maand die duur (Duitse) motorpaaiement kan betaal.

Regoor die aarde heen, maak mense geld uit foute. Prokerowers kapitaliseer op egskeidings, onregmatige afbetalings en dagvaardigings. Taalversorgers word vergoed vir elke punt en komma wat gemis word. Ouditeure lag al die pad bank toe as hulle ‘n vermiste miljoen opspoor wat iemand anders misplaas het. Die media is seker die mense wat die meeste baat uit foute van ander. ‘n Egskeiding van ‘n beroemde paartjie verkoop meer koerante as die Proteas se oorwinning. ‘n Dwelmskandaal of buite-egtelike baba lok meer lesers as  die oom wat 120 kg verloor het vir sy dogter se troue. Wanneer het ons begin om onsself te verlekker in die gebrande rys, in die tienerswangerskap en in die prinses se skurwe hakke? Wanneer het ons die kat aan die stert beetgekry? Ons wil sien hoe iemand die kat in die donker knyp, in plaas daarvan om die kat se nege lewens te vier.

 

Ek verkondig nie dat ek foutloos is nie. Ek maak daagliks droog. Ek druk gereeld my voet in my mond en dink te min voor ek tik, praat of doen. Ek raak kwaad, ek huil oor simpel goed, ek raak geïrriteerd as mense my laat wag en skewe goed/mense/dinge pla my nie. Ek is gelukkig, want ek is immers 99,999% goed genoeg. Soms. Ek leer daagliks nuwe woorde aan, hoe om myself beter uit te druk, wanneer om die ellips reg te gebruik en so aan ensovoorts. Ek voel beslis beter na hierdie skrywe, al vermoed ek iemand gaan dalk more sê my uitlatings was ‘n fout.

Poespaspoort

Voor iemand my oordeel oor die titel van hierdie inskrywing, moet ek dalk net eers noem dat dit ‘n blote samestelling is. “Poespas” word gedefinieer as ‘n deurmekaarspul, terwyl “paspoort” daardie groen boekie is wat ons dikwels die taalgebruik van ‘n matroos laat nuttig. En almal wat buite die grense van die Republiek wil reis, het so boekie nodig.

Om aansoek te doen vir ‘n paspoort is amper so aangenaam soos ‘n besoek aan die tandarts… as jy weet jy sal ‘n wortelkanaalbehandeling moet kry… sonder verdowing. Ek was so opgewonde om die Departement te besoek soos ek was om ginekoloog toe te gaan. Ek het geweet my privaatheid gaan aangetas word en iemand gaan my beslis verkeerd opvryf. Omdat ek en my man redelik lief is vir reis, het ons nie ‘n keuse gehad nie… ons moes sommer kort na ons dogter se geboorte die proses aan die gang te sit.

 

‘n Paspoort is nie net ‘n getuigskrif van jou buitelandse reise nie, dit getuig ook van matelose geduld, jou deursettingsvermoë om met ‘n regeringsdepartement te werk en jou vaardigheid om dieselfde vorms oor en oor en oor in te vul.

 

Gewapen met ‘n volgepakte doeksak, volgelaaide selfone en tablette, ‘n fles vol koffie, ons eie skryfbehoeftes, genoeg foto’s en ‘n gememoriseerde Bybelvers, daag ons toe een oggend lekker vroeg by die Departement van Binnelandse Sake op. Albei ouers is teenwoordig. Ek probeer so min as moontlik gril vir die knoffelasem wat in my nek blaas. Daar is ‘n baie verdagte vloeistof wat uit die dak drup en teen die muur afloop en ek is steeds nie seker of dit kougom of wondergom was wat die geskeurde plakkaat teen die mure gehou het nie. Die spelfoute in die handgeskrewe aanwysings laat my nek styftrek en ek staan dus ongemaklik die heeltyd na links en staar. Daar hang so vreemde hoender-reuk in die lug en elke keer as ek so vars briesie daarvan kry, wonder ek of dit regtig al tyd vir middagete is.

Ons staan slegs 96 minute in ‘n tou. Ons is beïndruk. Alle vorms is reg ingevul en ons word sonder moeite of enige vloekwoord na die volgende toonbank verwys. Foto’s word geneem, vingerafdrukke word in die rekenaar ingeskandeer (verskoon die vieslike anglisisme) en na slegs 124 minute is ons by die deur uit.

 

Ons verkondig wyd en Suid aan kennisse van die voortreflike diens en hoe hulle die papiere aanvaar het sonder probleem, al was daar twee oliemerke van hoenderhandjies op, met komplimente van Toonbank 1, natuurlik.

 

Ons maak onsself reg vir die lang wag. Ses tot agt weke. Groot is ons verbasing toe ons na slegs drie weke die sms kry: Lehja se paspoort is reg en kan afgehaal word. Na veertien oproepe leer ek eindelik dat dit nie nodig is vir albei ouers om daar te wees vir die afhaal van die paspoort nie en so staan ek en Lehja vroeg die volgende oggend, slaggereed en papierperfek, voor die deure van Binnelandse Sake.

Ons is derde in die ry by “Colecctions”. Ek oorhandig my eie ID, die papiere wat bewys alles is ingehandig en Lehja se geboortesertifikaat. Ek moes geweet het die proses was te goed om waar te wees. En dit was.

“I need ID of applicant”, kom die brak Engels van Patience. Ek verloor my stem, lag skalks en dink Patience maak ‘n grappie. Toe nie. “Maar sy is soos vier maande oud en het nie ‘n ID nie?” sê-vra ek, effe benoud oor die intellek waarmee ons begroet word.  Lehja bekyk die spul vanuit my arms. Haar ma wat soos ‘n aap staan en staar na die ander aap wat verwag dat my vier maande oue dogter ‘n ID boekie moet hê. Die plakkaat agter teen die muur verduidelik dit so mooi: Jy moet sestien jaar oud wees as jy wil aansoek doen vir ‘n ID boekie. Ek moes met twee amptenare en die bestuurder praat. Hulle weier om die paspoort te gee as Lehja nie haar ID wys nie. Dis toe dat ek my humeur verloor en sommer uitblaker: “Haar ID is gesteel!”

En jou wrintie, net daar verander die dinamika van my besoek. Ek moet een vormpie invul waarop ek verklaar dat haar ID gesteel is. My verklaring lui as volg: “ID was stolen from her handbag while shopping in Woolworths” Dit word aanvaar. ‘n Amptelike brief word gestempel en onderteken. En so stap ek by ons Binnelandse Sake uit, met Lehja se paspoort en ‘n vergete Bybelversie.

 

Daar is seker nie baie dinge wat Suid-Afrika se Departement van Binnelandse Sake kan red nie, maar ‘n sin vir humor is beslis op die lysie van vereistes. So as iemand dalk Lehja se handsak êrens optel en haar ID is binne-in, handig hom asseblief in by die naaste polisiestasie.

 

** Hierdie is ‘n ware verhaal wat homself in 2010 in Centurion, Suid-Afrika afgespeel het. Intussen het ons Lehja se paspoort hernu, sonder ‘n ID.  

 

Om in slaai te krap

Ek is nie ‘n jaloerse mens nie. Geen vrou se ogies sal uitgekrap word as sy in my alfa se rigting loer nie. Geen man se tande sal uitgeslaan word as hy wulps vir my Adam glimlag nie. Wel, ten minste nie deur my nie. Maar net omdat ek nie jaloers is nie, beteken nie vir een oomblik my slaai kan in gekrap word nie.

 

In my huwelik is daar nie ‘n hoekie vir eensames nie. Tannie Ruth se raad  vryf my dikwels verkeerd op. Ek het nie ‘n ma en ‘n skoonma nie… ek het twee Mammas… en nie een van hulle se huweliksjuweeltjies word slaafs in my lewe gevolg nie. Hulle kap nie my tamaties namens my nie. Ek groei my eie sprietuitjies en skommel my eie slaaisous.

 

In die kombuis moet niemand se vingers in my pappot gedruk kom word nie. Ek is dalk nie die beste kok in die kontrei nie, maar in my kombuis is dit net my voorreg om die soutpot te misbruik. Ek kan die bredie peper na hartelus en die brood aan albei kante botter sou ek wou. En as ek die lepel lek, soek ek nie kommentaar of kritiek van die gehoor nie. Ek sit letterlik die kos op ons gesin se tafel. My kinders gaan slaap nooit honger nie. As my kos dus nie aan jou vyfster-vereistes voldoen nie, basta met jou pasta… los my slaai uit.

 

As ek my kinders probeer grootmaak, staan ander se tugtingsplanne en roetinewysers my nie aan nie. Ek maak die kinders groot wat ek het, nie die kinders wat ek wil hê nie. Ek pas aan, elke dag. Ek hoor wat ander sê, maar luister nie noodwendig nie. Baie raad val eenvoudig op dowe ore, want ek weet dat my kinders en jou kinders, dalk dieselfde ouderdom is, maar nie dieselfde kinders is nie. Ek druk my seun in die badkamer om sy ore oop te maak, my meisiekind word gedreig met een minder perdles… Ek gebruik soms die tv as baba-oppasser en soms drink en dink ek om hul probleme op te los. Ek oorleef op die stadium net ouerskap, moet dus nie my komkommers kom opeet nie.

 

Voor ‘n klavier is ek nie ‘n wêreldpianis nie, maar voor in die klas, vaar ek nie sleg nie. Op die atletiekbaan is ek niks werd nie, maar as onderwyser staan ek vir geen stout kind of helikopterouer terug nie. Liewe ouers, maar ouers dink hulle weet baie. Sonder enige formele opleiding in die onderwys, sonder enige amptelike ervaring, wil die advokate, rekenmeesters, dokters en polisiemanne vir my kom vertel hoe om Wiskunde vir Graad 8’s aan te bied. Tog gaan staan ek nooit in die ingeneur se kantoor en skree op hom oor hoe hy die brug moet bou nie. Ouers krap nie net in my slaai nie, hulle krap my sommer om ook… en dan kan niemand glo dat die appel nie ver van die boom af, tot in my slaai val nie.

 

In briewekolomme en Facebook-artikels word ons raad gegee oor hoe om te lewe, hoe om kinders groot te maak hoe om ons huwelike te red, hoe om orgasmes te kry en hoe om waarlik gelukkig te wees. Ons steur ons dikwels so baie aan die idees en opinies van ander, dat ons vergeet om dinge op ons eie maniere te doen. Ons laat toe dat ander in ons slaai kom krap.

Ek lewe my lewe met die oog op my eie doelwitte. My oë neem dalk waar en my ore let op, maar my hande word nie in ander slaaibakke gedruk nie. Ek hou my tong in toom, want nes ek nie iemand anders se olywe sal lek nie, net so sal ek my tong vurk oor ander se doen en late nie. Ek aanvaar raad, omhels kritiek en oorweeg alle nuwe idees, maar eindelik is dit net ek wat my slaai maak. Niemand hou van ‘n slaaikrapper nie, maar iemand wat nog minder respek verdien… is die een wat nie eienaarskap van sy eie slaai kan neem nie.

 

 

 

 

 

Tragedie

‘n Tragiese gebeurtenis het homself vanoggend in ons huis afgespeel. Ons dogtertjie is al vir die laaste twee dae vreeslik siek. Hoë koors, wil nie eet of drink nie, en die kind wat gewoonlik sprankelend en vol verwagting die dag begroet, is skielik slaperig en komatoos. Toe Lehja dus vanoggend vra vir ‘n tuna-mayonaisse toebroodjie, het my hart gebokspring, want ‘n eetlus impliseer dat sy beter voel.

Ek het die kombuis met die ywer van ‘n honger tienerseun bestorm… net om die tragedie in die yskas aan te tref: ons mayonaisse het die emmer geskop, die lepel in die dak gesteek, die tydelike met die ewige verruil. Dis verby, klaar, finito.

Dalk is ‘n verduidelik nodig. Ons woon in Abu Dhabi, waar kossoorte vanoor die hele wêreld mildelik beskikbaar is. Ons kan Fillipynse speserye, Indiese kerriepoeiers, Amerikaanse pop tarts, Franse brode en selfs Australiese vleis koop. Hier is ‘n Steers wat in ons Cream Soda en burger-behoeftes voorsien en meeste supermarkte verkoop Mrs. Balls se blatjang en Nando’s se peri-peri sous. Maar mayonaisse is ‘n probleem. ‘n Krisis. ‘n Katarsis wat net Suid-Afrikaners in die Midde-Ooste verstaan.

Die mayo wat ons hier kry is verby aaklig. Dis óf te suur, óf te dik of sommer net eenvoudig oneetbaar. Ek het die eerste vier maande wat ons hier was, elke botteltjie en produk probeer. Honderde dirhams spandeer om alle soorte uit te toets, maar helaas, niks kon die smaak van Crosse & Blackwell mayonaisse  vervang nie.

Verstaan asseblief dat ons nie mayonaisse-verslaafdes is nie. Ek gebruik dit maar spaarsamig en beslis nie op ‘n daaglikse basis nie. Maar as deel van ‘n burger, op ‘n braaibroodjie of self oor ‘n slaai, is mayonaisse darem maar baie lekker. My Ouma het my selfs geleer dat so skeppie mayo in jou maalvleis vorentoe kan smaak. Maar as jy 6500 km weg van jou huis af is, jy niemand het om by te kla nie, dan is die afwesigheid van hierdie stukkie “huis” traumaties.

Dis ook nie onmoontlik om Crosse & Blackwell of Nola in die hande te kry nie. Daar is ‘n baie oulike Suid-Afrikaanse winkel in Dubai wat dit aanhou… en teen ‘n baie billike prys. Hulle lewer ook in Abu Dhabi af, maar skielik voel dit vir my asof ek nie die twee dae sal kan uithou nie. Ek kan nie wag nie.

Ek mis Mooikloof Spar. Ek mis dat ek sommer net daar kon inval vir vars broodrolletjies, ham (varkvleis is maar skaars hier) en natuurlik mayonaisse. Ek mis dat MY SPAR gaar hoenders kon voorsien op aande wat ek te moeg was vir kosmaak en te skuldig gevoel het oor ongesonde kitskos. Ek mis die bestuurder wat altyd vriendelik gegroet het, in Afrikaans.

Ek sit Afrikaans is Groot se dvd kliphard in die kombuis aan. Ek sing saam met ‘n knop in my keel. Ek waai die Suid-Afrikaanse vlag en staar vir ‘n goeie twintig minute na my familie in Suid-Afrika se Facebook-profielfoto’s. Ek mis Jakaranda FM, Kyknet, Woolworths en braaivleis. Al hierdie emosies borrel oor as gevolg van een bottel Crosse & Blackwell.

My man is weereens die stabiele logika wat die stemmetjies in my kop stil maak, die histerie onderdruk en die mayonaisse-bottel in perspektief plaas. Dis NET mayonaisse. En dis nie ‘n onoorkombare probleem nie. Niks is nie. Hy is reg. Maar soms, net soms, wil ek oorreageer en my geboorteland mis. Soms wil ek huil oor ‘n leë bottel mayonaisse en my sommer oorgee aan mintroomys en Simba-tjips. Want skielik besef ek hoe dankbaar ek moet wees: dat die grootste tragedie in my lewe NET ‘n leë bottel mayonaisse is. Ek glimlag oor al ons seëninge… en lag dan hardop as ek hoor dat die familie in Suid-Afrika aan ons ook dink in hierdie “moeilike” tyd.

 

Ek huil ja, maar ek lag meer. Ek verlang natuurlik, maar ek is meer gereeld dankbaar. My kinders word siek, maar ook weer gesond. En ek berus met dankbare gemoed dat die tragedie verhoed kan word: ek koop ekstra bottels mayonaisse vir die kas… want nie eers ‘n vervaldatum skrik my nou meer af nie.

Onregverdig

Hoekom slegte dinge met goeie mense gebeur, weet of verstaan ek nie. Ek beskou myself as ‘n goeie mens, tog gebeur daar gereeld slegte, onregverdige, dinge met my. Ek kies my eie Magnum, maar as ek die papier afhaal is die hele sjokolade-omhulsel gekraak. My broodjie val met die gebotterde kant grond toe, al het ek geld aan die man op die hoek gegee. Ek help die ou tannie oor die straat en daag dan te laat op vir die pizza wat (gratis) uitgedeel word in die personeelkamer. Gawe mense hardloop laaste oor die wenstreep, sal ‘n sleg vertaalde uitdrukking lui. Ek oorweeg om my twee kinders sommer uit die staanspoor onregverdig groot te maak, sodat hulle voorbereid is op die grootmenswêreld waar die skale nie altyd gebalanseerd is nie. Miskien moet ek nou al ‘n gunsteling kind kies, sodat hulle nie onrealistiese, regverdige of konsekwente verwagtinge oor die toekoms sal hê nie.

 

Ek sal my dogtertjie AL die huiswerk laat doen, terwyl my seunskind net voor die televisie kan slaplê, want die wêreld behandel mans en vrouens nie dieselfde nie. Ons taal is nie eers regverdig nie. Noem ‘n vrou ‘n “koei”, “teef” of “merrie” en jy kan maar weet: moeilikheid en ‘n moontlike vuis in die gesig, is oppad. Maar noem ‘n man ‘n “bul”, “reun” of “hings” en sy ego word ongemaklik gestreel. Die laaste paar jaar word daar ook nie meer onderskeid getref tussen “onderwyser” en “onderwyseres” nie… ons vrouens moes maar net by die manlike groepering inval, ongeag die inhoud van ons onderklere. As ek dus my dogter van kindsbeen af leer om harder te werk, sal dit haar nooit in ‘n opblaastierwyfie laat verander as sy tiener word nie, want dan weet sy reeds van beter. Sy sal weet dat daar altyd op haar en haar baarmoeder neergesien sal word, punt.

 

Ek sal my seun altyd minder sakgeld gee, want  hoe gouer hy leer dat hy vir die geskiedenis se foute moet betaal, hoe beter. In Suid-Afrika sal hy, as blanke man, nooit regverdig behandel word nie. Ek sê nie dat hy nie sal werk kry nie, ek verwys nou na die feit dat hy die minste BEE-punte tel. Groot maatskappy gaan eers na gestremdes, vrouens, gekleurdes en dan voorheenbenadeeldes kyk, alvorens hy in aanmerking sal kom, maak nie saak van sy kwalifikasie of persoonlikheid nie. Die samelewing het hom reeds in ‘n boksie gesit, deur bloot na sy velkleur te kyk. Ons geskiedenis was nie regverdig nie, ons hede is nie regverdig nie en ons toekoms sal ook nie regverdig wees nie. Ons word op die buiteblad van ons paspoorte getakseer, want sien, Suid-Afrikaners is kriminele, rassiste of vigslyers. Ek ervaar dit daagliks hier in die multikulturele land waar ek myself bevind. Hier waar die plaaslike mense meer geld verdien net omdat sy paspoort ‘n ander kleur het as myne. Onregverdig.

 

Ek moet my kinders wys dat een altyd meer lekkers, meer geld van die tandemuis, groter geskenke onder die Kersboom en meer geleenthede sal kry as die ander een, want ouers is nie regverdig nie. Hulle was nog nooit en sal ook nooit wees nie. Oudste kinders word altyd strenger grootgemaak, middelkinders word altyd afgeskeep en jongste kinders word bederf. Die stereotipes bestaan, want hulle is so waar. Die grense en grade van hierdie onregverdigheid verskil ook maar en dis geen besliste saak nie. Dis maar net nog ‘n titseltjie onregverdigheid in die kuns van ‘n oog vir ‘n oor, ‘n arm vir ‘n been en ‘n appel vir ‘n ei. Boeke en boeke is reeds vol geskryf oor die belangrikheid van konsekwente ouerskap, maar die waarheid is dat ouers ook net mens is… en mense is onregverdig. Ons bedoel nie sleg nie… en hoe meer ek daaroor dink, hoe meer dink ek ons doen ons kinders eintlik ‘n reuse guns… want die wêreld is nie ‘n regverdige plek nie.

 

As ek hulle tuis leer om nooit dieselfde vergoeding, komplimente, skeidsregters, punte of wat ook al te verwag nie, sal hulle nooit teleurgesteld wees in onregverdige onderwysers nie. Want nes ouers, is onderwysers ook net mens, en kan geen juffrou die kind se persoonlikheid verontagsaam as sy opstelle merk nie. Ek het myself al telkemale betrap waar ek ‘n stout kind se eksamenvraestel met so “effense stywer” rooi pen merk as die sterkind met die goeie maniere wat ook vir my ‘n blom bring elke Vrydag.  Ons vergewe dalk, maar vergeet nie sommer nie. Skole trek die sportsterre voor en die koorkinders word afgeskeep. Meer erkenning word aan die atlete gegee as die akademiese uitblinkers. Redenaars en skaak is mos vir sissies… ware manne speel rugby en krieket. Kinders kry onregverdige etikette om die nek, want die skole is nie regverdig nie.

 

Ons sien so uit na regverdigheid, dat ons vergeet om nie te oordeel nie. Die waarheid is egter dat die wiel nie altyd draai nie. Karma mis soms die afspraak. Wat op gaan, kom nie altyd af nie. Die baba word soms saam met die badwater uitgegooi. Die appelkar word omgestamp en niemand tel die appels op nie. Ek kyk net vir ‘n bord kos en ek word vet, terwyl iemand anders se metabolisme beter en vinniger werk as die Chinese in ‘n klerefabriek. En dan praat ek nie eers van ernstige sake soos hongersnood, oorlog en kanker nie. Wie kies wie in oorvloed geseën word en wie gaan veg net om eindelik te sterf? Ek dink niemand. Ek dink ons gryp na grashalms. Dis eintlik eenvoudig: Die lewe is onregverdig.

 

Party mense reken die herberekening sal in die hemel geskied. Ek weet nie of ek so lank wil wag nie… en ek wil ten minste daar wees om hierdie “regstellende aksie” te sien. Dus laat gaan ek liewer die wrok wat ek koester. Ek kies om maar die wiel uit te los en net te fokus om my eie voertuig se onderstel. Ek maak my kinders onregverdig groot.

Ek leer hulle dat meisies en seuns verskil en dat die wêreld hulle anders gaan behandel.  Maar ek leer hulle ook dat hulle ingesteldheid teenoor meeste dinge dieselfde kan wees: vergeet van karma, doen wat goed en reg is en verwag dat jy nie regverdig behandel sal word nie. Daar sal altyd iemand wees wat meer karamelsous oor sy roomys gekry het. Daar sal altyd iemand met ‘n groter motor, kleiner selfoon of duurder paar tekkies wees. Moenie jouself met die buurman, maatjie wat langs jou in Wiskundeklas sit of sepiesterre op televisie vergelyk nie. Doen net jou eie ding. En doen dit goed. Maak jouself gelukkig. Want my liefste kind, die lewe is onregverdig.