Diep op ‘n Dinsdag

Mense probeer deesdae baie hard om diep te wees. Soos in filosofies, sielkundig, lewenswys en sommer net beterweterig. Dan gaan soek hulle ‘n prentjie waar die son deur die wolke breek en skryf die diep gedagte daarby. Viola! Sukses op ‘n foto. Dit maak nie saak as die woorde niks met die son te doen het nie, solank dit net mooi is, want die son maak alles mos eintlik diep… en o, as die gesig van ‘n engel of so iets boonop in die wolke geïdentifiseer kan word, nou dan het jy ‘n nuwe diepte bereik.

Ek het myself nog nooit juis as “diep” beskou nie, behalwe die kere wat ek kniediep in die k*k gestaan het. Ek plaas die * (asterisk) nou doelbewus in die middel van die kru woord, anders bel my ma my nou-nou weer om my te berispe oor my onwelvoeglike taalgebruik. Hieruit behoort u af te lei dat die diepte van die moeilikheid waarin ek myself bevind, dikwels afhang van die omstandighede en mense betrokke.

Stille water, diepe grond, onder draai die duiwel rond… gelukkig is ek nie skaam om my stem te gebruik nie en my man het al redelik gereeld gesê hy wens hy kon my volume beter beheer, maar helaas, duidelik het ek nie diep duiwels wat in stilte en dieptes ronddraai nie.

My morele waardes sink vinniger, hoe dieper ek in die bottel kyk. Dan sou die woordeboek dit beskryf as ek wat “te diep gevat het”. Ek het klein kinders, so dit gebeur nie te gereeld dat ek die onderkant van die wynbottel sien nie, maar ek sal waarlik lieg as ek sê ek geniet nie my glasie wyn in die aand nie. Dis mos goed vir die hart en al daai dinge…en natuurlik help dit om die diepste geheime bloot te kan lê.

Ek het vanjaar dieper die dertigs ingeval en met die ouderdom saam, kom die refleksie. Ek kon sien waar ek in diep waters geworstel het, ek kon sien waar ek my hande te diep in die sak gesteek het en ek kon beslis sien wie diep spore in my lewe getrap het. Terwyl ek so diep ingedagte sit en skryf, besef ek dat dit more al Junie is. Junie! Is ons werklik al agt maande in die woestyn? In die spreekwoordelike diep waters ingegooi? Ons swem dan nou so gemaklik? Wanneer het ek my voete gevind en ‘n nessie geskrop vir ons?

Gun my dus die geleentheid om almal formeel te bedank vir die ondersteuning en liefde. Die guns en voorspoed wat ons vergesel, is ‘n grenslose seën en ons dankbare beker loop oor. Ek is voorwaar diep in die skuld… wat ek dalk nooit eers sal kan terugbetaal nie.

 

Hoe is dit nou, vir diep op ‘n Dinsdag wees?

 

 

Vals

Die negende gebod lui dat ons nie vals getuienis mag lewer nie. Jy mag dus nie jok soos ‘n bok of lieg soos ‘n vlieg nie. Verskoon maar die sinnelose rym, ek het ‘n sesjarige in die huis wat my rympatrone beïnvloed.

As onderwyser ken ek van valse getuienis. Darem nie die lewer daarvan nie, maar beslis die aanhoor van sinne so vals soos my Ouma se tande. Die leuens en stories wat kinders opdis, gee my dikwels sooibrand. “Juffrou het nooit vir my die werkkaart gegee nie”; “Juffrou het nie gesê dat dit huiswerk is nie”; “Ons het nie hierdie werk in die klas behandel nie.”

As ma ken ek ook valsheid. Nie net is ek vals as ek in die stort sing nie, maar vals trane van melodramatiese kinders, word meeste van die tyd suksesvol aangewend om aandag te kry.  Ek hoor die vals “mmmm” wat my man maak as hy die hap spinasie of blomkool voor die kinders vat.

As vriendin ervaar ek ook valsheid. Almal het mos deesdae vals naels met blinkertjies en patroontjies op. Dit voel of ek die enigste een is wat nie tyd het om elke drie weke vir twee uur in die salon te gaan sit nie (al wil ek hoe graag). Ek hou nie van vals cocktails (oftewel mocktails) nie… dit voel soos tydmors. Ek hou van die vals  ivoorinlegsels in die kabinet, maar verpes vals parfuum. Ek glimlag as ek die vervalste kunswerk in die sitkamer sien, maar frons oor die buurvrou se vals bates. Nie omdat hulle vals is nie, maar omdat hulle altyd uitpeul, oorloop en dril as sy loop.

As vrou sien ek die vals beeld in die spieël. Ek sien plooie, maar voel hulle nie. Ek sien rekmerke, maar ervaar nie die begeerte om dit reg te ‘room’ nie. So vals soos sekere sterre se hare, so vals is sekere vrouens se lag, trane en omgee. Facebook is ‘n vals beeld van die mensdom, want ons sit tog nie die volle waarheid op ons muur nie. Ons kies en ken en sien net gedeeltelik. Ons sien selde egte foto’s en bevriend min ware vriende. Ons glo vals politici, volg die bewoording op vals pillehouers en vertrou selfs die valse voorblaaie van die poniekoerante.

Om eg te wees, is om nie vals te wees nie. Ons tree ook in die eg as ons trou. Is almal wat enkellopend is, by implikasie dan vals? Buite-egtelike kinders is tog waarlik kinders en word nie vals grootmense nie, of hoe? Dra ‘n egte handsak belangriker items as ‘n vals een? Laat die ware tekkies jou vinniger hardloop as die vals paar? My ‘vals’ kontaklense laat my tog beter sien as my regte oë en die vals diamant om my nek, het vir my meer waarde as die regte een in die winkelvenster.

Ons ervaar vals vryheid. Want as ons regtig vry was, sou daar geen reëls bestaan het nie. Ons sou kon moor en steel sonder enige gevolge. Ons ervaar valse vrede, want elkeen baklei in sy eie oorlog. Ons ervaar valse voorwendsels met elke advertensie en winskoop. Ons drink vals koffie, eet vals suiker en tog is dit alles regtig, egtig kos. Vervalste paspoorte is erger as die vervalste handtekening op ‘n kind se eksamenvraestel… of is dit? Ek dink die skeidslyn tussen vals en eg is een groot grys area. Niemand is 100% eg nie. Nes ek glo dat niemand 100% vals is nie. Die kuns van die lewe is om die persentasie reg te balanseer… want al sing jy vals, moet jou slaap immers eg wees.

 

 

Blind

My bril is so dik soos ‘n Pyrex-bak. Ek lyk soos ‘n goudvis onder ‘n vergrootglas. My 20/20 visie is deur tienerhardkoppigheid opgefoeter. Ek het soos ‘n besetene gelees: by kerslig, op die agterste sitplek van die bewegende voertuig, onder die komberse met ‘n flits, in die skelson op die strand… Toe die oogarts dus my bril voorskryf op ouderdom 11, het my ma net gesug: “Sien jy wat gebeur as jy nie vir my luister nie?” Die ironie was dat ek skielik wel kon sien, beter as ooit. Dit het beteken ek kon meer lees, sonder die blinde hoofpyne wat my so maklik kon kelder.

Ek het verdwyn tussen die bladsye van boeke. Stapels en stapels daarvan. Romantiese vertelllings, gedigte, Saartjie, speurverhale, geskiedenisboeke, sielkundige verslae, die Wêreldspektrum en deesdae slurp ek ook die woorde van webjoernale op. Ek verloor myself tussen letters en vergeet dat die Leeus ook ‘n rugbyspan is wat die naweek iets met die Bulle gedoen het wat nie vir kinderore bedoel is nie. My varkies hol vry rond tussen paragrawe van inligting, terwyl een of ander minister die geskiedenispot met so 2000 jaar mis sit. My skroewe moet seker vasgedraai word, maar ek hou van die wankel tussen woorde, sodat ek my nie hoef te steur aan nog ‘n baba van ‘n Afrikaanse musiekster nie. En met die lees van elke brokkie en braaksel, word ek wys.

 

Sien, ‘n blinde hoender pik dalk soms ‘n pit raak, maar dis die goed ingeligte hoender wat nie op KFC se spyskaart beland nie. Dis die hoender wat ‘n eier kan lê en daardie eier kan staaf en bewys, wat eindelik koning kan kraai. Die belese hoender ontsnap die kuikenhok en sò ook  Nando’s se peri-peri sous. Al is die liefde dalk blind, is kennis eintlik die krag. En kennis word net op twee maniere verkry: deur te doen… en deur te lees.

 

Lees verskuif grense. Nie net jou eie nie, maar ook jou brein se kapasiteit. Met die koms van my kontaklense, was my swak sig en blindemolstatus nie so ooglopend nie, tog het die etiket van ‘boekwurm’ reeds stewig om my nek gehang. Wreed dat die intellektuele reuse dikwels as ‘wurms’ geklassifiseer word. Sou ‘n vlinder nie meer gepas wees nie? Vry, mooi en sonder die beperkinge van ‘n kokon waar jy net die wêreld teen ‘n blinde hoogte kan aanskou.

Ek sien die wêreld deur ‘n vreemde bril, tog word ek blind van woede as menings gelug word sonder oorleg of denke. Al skiet ‘n blinde soms ‘n kraai, is dit die ingeligtes wat uitgevind het dat ‘n teiken en oop visier beter werk om kos op die tafel te sit. Dis die lesers wat leiers word… en as die leiers nie lesers is nie, druip hulle nie net die akademiese invloed nie, maar word die land ook gefaal.  ‘n Blinde puisie is onooglik en seer. Jou blindederm is nutteloos en kan lewensgevaarlik ontsteek word. Sien is mos glo en ek sien wonderwerke gebeur as mense lees. Ek sien hoe kinders Wiskunde verstaan as hulle die taal van onderrig beter begryp. Ek sien hoe grootmense begin om vir hulself te dink. Ek sien hoe jare se bagasie agtergelaat word en die pad vorentoe met durf aangepak word. Ek sien hoe depressie oorwin word, verveeldheid verdryf word en hoe kennis ook MAG word.

 

Niemand is so blind soos die wat nie wil sien nie, behalwe die wat nie wil lees nie. Ek kan nie sonder boeke sien of klaarkom nie. My sienswyse is dat almal wat die lig wil sien, ‘n boek moet oopmaak en die woorde moet analiseer. Lees breek mure af, laat die mis verdwyn en sit die ligte aan. Ek gaan begin braille leer. Sodat ek kan lees en sien al is ek blind. Dis my hoop. Dis my vlam. En almal wat ook so voel, is sekerlik BRILjant.

 

Waar die son nie skyn nie

Wat gebeur in iemand se kop om konstant negatiewe ensieme af te skei? Ek wonder maar net, want dit wil voorkom asof sekere mense niks anders kan doen as gal braak nie. Die son moet tog net nie ‘n halwe sekonde langer op iemand anders skyn nie, dan word vloekwoorde oor sosiale media geslinger en modder oor selfoonseine heen gegooi. Haat, venyn en verdriet is al wat gesaai word.

Het sekere mense werklik niks om oor te glimlag nie? En dan voel hulle dit is hulle plig om ook ander af te kraak, te verkleineer en te verneder? Ek wonder maar net, want ek lees die allerverskriklikste boodskappe op Facebook se mure. Dreigemente en beledigings wat Hitler na ‘n lieflike kleuterskooljuffrou sal laat lyk.

Is dit jaloesie? Hoogmoed? Beterweterigheid? Arrogansie? Ek wonder maar net, want ek kan eenvoudig nie verstaan hoekom die mensdom net mompel, grom, kerm, kla en mekaar valse goeie wense gee nie. Van kleintoontjienaels wat ingroei, tot die strandhuis in Mauritius wat verkoop is, tot die bure wat tot nege-uur op ‘n weeksaand buite braai. Mense kla met twee witbrode onder die arm en ‘n goue lepel in die mond. En hierdie mense vat die lief en leed weg van die wat waarlik ons steun nodig het.

Ek kla ook. Die son skyn nie elke dag helder oor my gemoed nie. Ek raak ook geïrriteerd en moedeloos en sommer net moerig oor sekere dinge. Party dae druk die depressie ook my keel dat ek snak na asem. Genade, ek hou nie eers aldag van myself nie, wat nog te sê ek moet vir ander glimlag. Maar iewers, êrens handhaaf my brein ‘n relatiewe balans. Ek is geseënd, ek weet.  Ek wonder maar net hoe ons lig kan oorreed om aan te raak, daar waar die son nie natuurlik skyn nie…

Ironie

ek laaik dit stukkind, ek smaakit kwaai

ek wonner of j weet, wonner of j kan raai

waana ek kyk, waadeer ek blaai

ek voel my bryn groei, voel hoe my kop draai

in my moedirtaal, sy laat my tong swaai

want ek lees di HAT, dismy boek daai!

 

Waar die skoot klap

Om van ’n bakkie af te skiet, maak jou nie ’n moegoe nie. Om uit ’n skuiling uit te skiet, maak jou nie ’n lafaard nie. Om met plastiekplakkies in die veld te loop en soek vir jou aandete, maak jou nie kommin nie. Om die duurste jas van Sniper te dra as jy uit die vyfster lodge stap, maak nie van jou ’n swak stadsjagter nie.

Ek dink ’n Hilux in die stad, met daai blou ‘goete’ wat agteraan hang, maak van jou ’n baie groter moegoe as die jagter wat die eland van die Cruiser af skiet. Die Isuzu wat tussen spoedhobbels jaag en die kinders van die laerskool vir hul lewe laat vrees, is ’n baie groter moegoe as die jagter wat die dak van ’n Ranger gebruik om die koedoe ’n kopskoot te gee. Wiele is net dit: wiele. Dit dien ’n doel. Bakkies bestuur nie hulself nie en gewere skiet nie diere nie.

Ek dink om agter jou vrou te skuil, maak van jou ’n groter lafaard as om ’n gemsbok uit ’n skuiling te skiet. Die man wat agter die bottel Klipdrift skuil in plaas daarvan om te gaan werk, is ’n groter lafaard as die ou wat vir ure in die skuiling sit en foto’s neem voor hy eindelik die vlakvark dreun. ’n Skuiling is net dit: ’n plek waar jy vrede vind. ’n Klomp bakstene is nie noodwendig ’n huis nie en die bosveld gee jou nie net biltong nie.

Ek dink mans wat in die kar rook, met hul kinders wat op die agtersitplek sit, is baie meer kommin as die jagter wat met ‘flip flops’ gaan skiet vir die pot. Die aandpak van ’n bekende ontwerper laat jou dalk soos ’n heer lyk, maar as jy jou vrou slaan in daardie selfde aandpak, is jy baie meer kommin as die jagter wat sonder duur uitrustings sy eerlike bestaan op die plaas maak. Klere is net dit: iets om jou lyf te bedek en die rooibok gee nie om of jy Reeboks dra nie.

Ek dink jagters wat drank en ’n 30-06 meng, is swak. Ek dink jagters wat skiet sonder oefening, sonder voorbereiding en sonder denke, is swak. Maak nie saak hoeveel geld jy vir die jagtog betaal nie, maak nie saak in watter voertuig jy daar opdaag of watter klere jy aanhet nie… as jou hart op die regte plek sit, is jy ’n jagter, ongeag hoeveel keer per jaar jy die skoot trek.

Ek is dalk nie self ’n skootklapper nie, maar ek het wel al my ure in die bos ingesit. Ek het al in die bakkie gery, ure in die skuiling sit en wild kyk, kilometers ver deur die bosse gestap en ook lekker laat geslaap in een van daai vyfsterlodges. Die een ding wat ek onomwonde weet: dit gaan nie oor die die plek vanwaar die sneller getrek word nie. Dit gaan oor die een patroon, een doodskoot, een kans wat die jagter het. Dit gaan oor die respek vir lewe, die benutting van elke stukkie vleis en die hart van die skut wat aanhou klop as die koedoe bokveld toe is.

As jy jou vinger op ’n sneller sit en jy besef die verantwoordelikheid wat op jou skouers rus, dan maak die bakkie, skuiling, plakkies en jas nie saak nie. Want dan… dan is jy waarlik ’n man.

Amen

Stel iemand belang in die gemiddelde hoeveelheid orgasmes wat ek in een week ervaar? Gee iemand om hoeveel keer per dag ek skelm poep? Of dalk sommer net in my neus grou as niemand kyk nie? Is daar iemand wat notuleer wanneer ek stort, hare was of beenhare skeer? Eet ek gereeld All Bran om my sisteem gereeld te laat funksioneer? Voor ek heeltemal gruwelik en grillerig raak, laat ek my punt maak: sekere dinge is privaat. En dankie tog daarvoor.

Vir my val die kwessie van geloof ook in hierdie sektor. Ek praat nie graag oor my geloofslewe nie. Nie omdat ek skaam is nie, maar omdat ek twee dinge glo:

  1. Dit het absoluut niks met enigeen uit te waai nie. Die kontrak is geteken tussen my en… dit maak nie saak nie, want dit is nie jou saak nie en staan jou ook nie aan nie. Hou jou neus in die lug en uit my sake.
  2. Jy kan nie die geloofsgesprek met almal hê nie. Ek is mal daaroor om ‘geloof’ te praat, maar nie almal verstaan my taal nie. So in plaas van veg, bly ek meeste van die tyd eerder stil. Dis mos ook ‘n antwoord.

 

Ek het geen probleem met iemand wat dank betoon aan hul Persoonlike Skepper op Facebook nie. Soms kliek ek “like” en ander kere hou en verby. Ek het nie ‘n probleem met mense wat aan- of inteken by die kerk, foto’s en prentjies deel van bemoedigende woorde of getuig van ‘n persoonlike oorwinning nie.  Soms kliek ek “like” en ander kere hou en verby. Ek het ook nie ‘n probleem met mense wat tattoo’s laat doen, gate in hul wenkbroue laat skiet, vloek, kwaad word, 300 foto’s van hul geboorte deel of selfs prentjies deel van politieke propoganda nie. Soms kliek ek “like” en ander kere hou en verby.

Maar ek kom al hoe meer agter dat selfaangestelde dissipels dink dat hulle die wêreld kan bekeer deur sotlikke onsinnighede van een dwaas na ‘n volgende te versprei. Ons almal sien daagliks die prentjie van die kankerlyertjie: “Like if you believe I can kick cancer’s butt. Type Amen if you will pray for me. If you don’t want cancer, share this post.” Dan wonder ek maar net of al die kankerselle in ons liggame wag vir ons reaksie. Sotlik.

Die foto van ‘n bebloede Jesus hang aan ‘n kruis. “Like if you love me. Type Amen if you know I have died for your sins. If you want to go to hell, don’t share this post.” Jip, want al die gode sit me hul I-Pads en hou boek van wie kliek, skryf “amen” en deel snert. Vergeet van oorlog, hongersnood, siekte, eensaamheid en depressie, want vir Jesus, Jehova, Alla en al die ander gode, is Facebook die maatstaf. Wanneer is die houtkruis vervang met een wat deur rekenaaringeneurs en binêre nommers geskep is? As dit werklik die geval is, dan beleef ons hel reeds met elke kliek, amen en deel.

 

Ek dink ek moet begin foto’s neem van my ontlasting en snot. Ek moet begin video’s neem van my orgasmes en poepe. Ek kan dit as dreigmiddel gebruik. As ek nog EEN foto sien van ‘n duiwel en ‘n god wat skaak speel… as ek nog EEN kankerpasiënt sien wat dreig om my met kanker te verwens… as ek nog EEN walglike, persoonlike geloof… Stop. Haal asem. Ek gaan niemand met kru en kras foto’s dreig oor iets wat simpel en sinneloos is nie. My intellek en logika kan nie beboet word vir die aksies van  idiote nie.

In die naam van alles wat goed, mooi, rein en skoon is: asseblief stop die werwing van siele met ‘n kliek. Resiteer die Onse Vader voor jy AMEN tik. Lees Psalm 23 voor jy die prentjie deel. Slaan jou oë op na die berge, vou jou hande saam, buig jou kop in eerbiedige aanbidding. Moenie dat Facebook jou bybel word nie, want ek kan jou waarborg: dis nie enige god se register nie.

 

As jy saamstem, “like” die bladsy. As jy wil stry, los kommentaar. As jy nie hel toe wil gaan nie, nie deel van my voodoo-poppie versameling wil wees nie of nie ‘n aambei oor die volgende drie dae wil ontwikkel nie, deel hierdie skrywe. Amen.

 

Haat

“Ek haat die kinders in my klas” sug die een juffrou tydens pouse, terwyl sy moeg en moedeloos op die bank neersak. Sy kry ‘n paar kopknikke.

“Ek haat dat ons land so in sy moer in gaan” lees ek iemand se woede op Facebook raak. 35 likes in 9 minute.

“Ek haat spinasie” klink my vierjarige se stem uit die eetkamer. My dogtertjie stem saam.

“Ek haat dat ek nie maklik kan ophou rook nie” kla die buurvrou met ‘n sigaret in die mond. Ek kug.

“Ek haat dat mense dink die lewe skuld hulle iets” hoor ek een van my man se vriende via Skype sê.

Haat. Dis maklik om dinge, mense, plekke te haat. Binnelandse Sake, spelfoute, die feit dat kinders hul eie snot eet en die alarm wat elke oggend om 5:10 vir my skree. Huiswerk, puisies, die baas, belasting, petrolpryse, Amerikaners, die sot wat die vrou se handsak gesteel het en die plaasmoordsyfer. Simpel Afrikaanse musieklirieke, 7de Laan, vleis wat te gaar is, disrespekvolle mense, poedels wat in die huis poef en die poedel-eienaar wat dit nie dadelik skoonmaak nie. Haat is oral. Dis maklik. En… dis nie sleg nie.

Sien, mense dink altyd dat haat die teenoorgestelde van liefde is. Dit is nie. Haat is ook ‘n sterk emosie, maar om iets te haat beteken dat jy steeds omgee. Jy dink oor goed wat jy haat. Jy word kwaad, opgewonde, aggressief… jy voel IETS as jy haat. Uit haat en woede en frustrasie word ook dinge gebore en dit is nie altyd slegte dinge nie. Solank ons haat, so lank sal ons omgee, kla, ‘n herrie opskop. Solank ons haat sal niks soos water op ‘n eend se rug wees nie. Onderwysers wat haat, beteken hulle gee genoeg om om harder te probeer om die verskil te maak. Kinders wat haat leer dat haat hanteer moet word. Die feit dat Suid-Afrikaners misdaad en korrupsie haat, beteken daar is nog pogings (hoe klein en futiel dit ook mag voel) is wat dit probeer oplos. Solank jy jou slegte gewoontes haat, so lank sal jy probeer om dit te stop. As ons haat, praat ons, skel ons, doen ons IETS. Voel ons IETS.

Dis as mense ophou haat, wat dinge gevaarlik raak. Ophou omgee. Ophou stry. Ophou vloek. Ophou sukkel, spook en spartel. Dis as mense ophou skryf en sing en dans, dat die genot sterf. ‘n Baas se grootste nagmerrie is nie werknemers wat haat nie, maar die wat ophou omgee het. ‘n Man se grootste fout is om toe te laat dat sy vrou ophou omgee. Laat haar lag, maak haar kwaad, maar moenie dat die passie verdwyn nie. Dis as ons NIKS voel nie, wat passie in wanhoop verander. As die haat verdwyn en NIKS bly oor nie, dan weet jy dat jy die teenoorgestelde van liefde bereik het. Want die teenoorgestelde van liefde is nie haat nie. Dis onverskilligheid.

Vlug

Veg of vlug? Die vraag wat blykbaar bepaal of jy ‘n lafaard of held is. Behalwe vir jou brein se funksie om jou liggaam aan die lewe te hou, is een van die ander primêre funksies van jou brein om instinktief te besluit of jy veg, veg, veg vir lewe en of jy vlug, vlug, vlug… ook vir lewe. Superman, Wolverine, Batman en Kaptein Amerika is vegters, nie vlugtelinge nie. Vlugtelinge kry nie ‘n superheld pakkie nie. Hulle word nie beloon met magiese kragte of modelmooi meisies wat hulle in die reën (onderstebo) soen nie.

In die breë sin van die woord, is vegters ook wenners. Vegters is die entrepreneurs, die korporatiewe reuse, die sporthelde, die joernaliste wat pryse wen en die politieke leiers wat nie skroom om op ander te trap om bo uit te kom nie. Ek sien die vegters in my klas raak. Die kinders wat vuis sal slaan om sy ma se eer te beskerm. Die meisies wat mekaar klap en krap omdat lelike woorde aan hul jonger sussies toegesnou is. Ek lees die vegters op Facebook raak. Mense wat histeries tekere gaan oor elke status en opinie. Mense wat hulself aan die massas verdedig omdat hulle in die publiek borsvoed, weier om by Woolworths te koop en eenvoudig jubel oor ‘n prof van die Vrystaat die land verlaat.

Vegters is sterk mense. Mense wat opstaan vir dit waarin hulle glo. Mense wat nie skroom om hul opinies te laat geld nie. Blou Bul ondersteuners wat ‘n Haai pimpel en pers slaan, ANC Jeuglede wat universiteite afbrand, dominees wat vloek oor die gemeente hom beskuldig van bedrog en onderwysers wat weier om op te gee in ‘n moeilike klassituasie. Vir baie jare het ek geglo dat vegters die alfa’s van die samelewing is. Die slimmes, rykes, mooies, goeies… en die wat in Suid-Afrika agterbly om te veg vir volk en vaderland. Die wat sal lewe en sterwe vir Suid-Afrika. Die wat glo dat ons voorvaders nie verniet geveg het nie. Die wat in die voortbestaan van Afrikaans bly klou… almal vegters.

 

Vegters dink ook vlugtelinge is dikwels swakkelinge. Ons wat nie meer in Suid-Afrika bly nie, mag nie ‘n opinie lewer oor die land nie, want ons het ons seggenskap opgegee die dag toe ons op die vliegtuig geklim het. Ons het ons rug gedraai op ons kultuur. So word ek meegedeel. Ek stry nie. Want sien, ek is nie ‘n vegter nie. As jy my dus wil klassifiseer as vlugteling, goed so. As dit jou laat beter slaap in die aand, wonderlik.

Ek het gekies om Suid-Afrika te verlaat. Ek het my tassies gepak en hierdie land my huis kom maak. Om sake te vererger, word ek toe in my nuwe land ook nie as vegter gemerk nie. My sin vir humor word deur talle beskou as disrespekvol en arrogant. Ek word as “teef” by die naam geroep. Ek lees hoe onsensititief en belaglik ek is. En toe vlug ek weer. Ek het gekies om nie myself te verdedig nie. Ek het die inskrywing uitgevee en vergeet van die negatiewe kritiek. Ek het weggeloop van die woordgeveg waar uitlatings gemaak is oor my integriteit en waar ek as “domastrant” bestempel is. Mense wil weet hoekom verdedig ek nie myself nie. Nie in Suid-Afrika nie en ook nie hier nie. Hoekom veg ek nie vir die behoud van my naam nie? Hoekom veg ek nie vir my eer nie?

 

Hier is my antwoord aan al die honderde mooi boodskappies en vrae en belangstellendes:

Want ek weet dat om weg te loop baie meer durf vat as om te veg. Ek glo dat stilbly meer selfbeheersing neem as om ‘n klomp vloekwoorde te spoeg. Innerlike gevegte is dikwels baie erger as die onintellektuele uitlatings op sosiale media, so ek steur my nie daaraan nie. Ek dink om negatiewe dinge te ignoreer, beteken dat ek lekkerder slaap in die aand en dit maak my sterker. Dit vat meer uithou, krag, moed, durf, deursettingsvermoë, geloof, liefde, selfaanvaarding om niks te doen nie, as om te skree en te gil en vuiste te swaai. In die klas, skree ek nie. Ek bly stil en wag. In die personeelkamer werk ek myself nie op nie. Ek bly stil ek kyk die kat uit die boom uit. Ek veg selde. Wegloop… omdraai… die rug keer… die dinge beteken nie ek gooi die handoek in nie. Ek gee nie op nie. Ek het opinies, ek kies net om  nie die wêreld daarvan te oortuig nie. Dis die geveg nie werd nie.

Dalk is ek nie kwaad genoeg nie. Dalk het ek nie krag vir kak nie. Ek raak nie betrokke nie, want wat gaan dit my baat? As ek een uur aan hierdie vegkuns spandeer, beteken dit ek verloor een uur van my lewe waar ek kon lag. Ek gaan nie ‘n sterk mens se opinie verander deur met daardie persoon te veg nie. Ek het nie ‘n superpakkie nodig om in my kragte te glo nie. Ek het nie erkenning nodig om te weet ek is menswaardig nie. Ek kies positiewe mense as my vriende. Ek glo in humor. Ek glo in sarkasme. Ek glo in uitlaatkleppe vir frustrasie. Ek glo in myself. Ek glo in aanvaarding. En ek glo ek is te kompleks om in een kategorie geplaas te word. As jy dit namens my wil doen, is jy welkom. Ek gaan nie veg nie. Ek gaan ook nie vlug nie. Inteendeel, ek gaan nêrens. Ek gaan op die kantlyn staan, die petalje mooi bekyk en net doen waarvan ek hou, waarvoor ek lus is en wat ek wil. Want elke keer as ek uit my maag uit lag, dan reis ek na ‘n plek waar ek onaantasbaar is. Daar is ek vry om te glo soos ek wil, my opinies sinvol en kalm oor te dra en met mense te meng wat my behaag. Dan is ek net ek. Dan het ek volkome onvlugting gevind.

Toets

Hoekom doen mense dit? Doen allerhande toetsies op Facebook? Hoekom gee hulle om wat hul name in Hebreeus beteken of watter tipe persoonlikheid hulle het deur ses vragies te beantwoord? Hoekom wil mense so graag in boksies gedruk word? Hoekom is die drang na stereotipiese klassifikasie so belangrik? Wil hulle so graag voel dat hulle êrens ‘behoort’, maar verkondig hulle in dieselfde sin dat hulle eintlik so uniek is? Ek verstaan nie. En ek is super, hiper, tot in die oortreffendste trap van oortreffend geïrriteerd met hierdie toetse wat nou weer ‘n herlewing op Facebook beleef.

 

Facebook toetse is snert. Dis glad nie wetenskaplik nie, het geen basis in enige vorm van sielkunde nie en is eintlik generiese rekenaarbabbeltaal wat sommer net uitgekots word op skerms regoor die wêreld. Dalk is ek verkeerd. Dalk is 3,5 biljoen van die wêreld se bevolking so generies dat alles wat deur drie vragies op Facebook opgelos kan word, ook die verklaring van hul doellose lewensbestaan is. Moenie my kom vertel dat dit interessant is nie. Dit is nie. Dit is bog wat tyd mors. Tyd wat eerder spandeer kon word om jou kinders te voer, jou geliefde te vry of dalk eerder ‘n trui te brei… enigiets wat regte, egte resultate lewer. Ek hoor gereeld hoe mense kla “ek het nie genoeg tyd nie”, “ek wens my dag het net twee ure ekstra gehad”, “ek het te min geslaap gisteraand” en natuurlik “ek is so moeg / oorwerk, ek het ‘n vakansie nodig”. Dis dieselfde mense wat religieus toetsies op Facebook doen. Jy kies ses kleure, vorms, nommers… jy kliek-kliek deur eenvoudige vragies wat my sesjarige kan doen… net sodat een of ander webtuiste met die woord “science” of “psychology” voor die .com jou kan vertel presies wie jy is, waar jy vandaan kom en watter toekomstige beroep jy moet volg. As jy geniaal is, gaan Facebook jou nie hiervan hoef te oortuig nie.

Vul die toetsie in om te sien of jy ‘n intro- of ekstrovert is. Hoekom het jy ‘n toets nodig om jou die antwoord op hierdie elementêre vraag te gee? Miskien moet ons eerder woordeboeke met basiese definies uitdeel, dan kan mense sommer tot hul eie gevolgtrekkings kom… nee wag, duidelik laat die mensdom se intellek veel te wense oor en kan hierdie “eie opinie” benadering dodelike gevolge hê.

Wat is volgende? Swangerskaptoetse deur drie vrae te beantwoord: 1. Het jy seks gehad? 2. Het jy voorbehoeding gebruik? 3. Het jy langer as drie maande geen menstruale siklus nie? Wel gedaan! My man is amptelik swanger!

Ek loods my eie studie. In 48 uur probeer ek soveel as moontlik van hierdie toetse doen. Ek doen elke toets ten minste drie keer. Ek laat my sesjarige inderdaad die vrae ook beantwoord. Ek wil weet of ek linker- of regterbrein is. Ek vind uit watter tipe denkstyl ek het, wat my naam in Chinees beteken (Al bestaan daar nie amptelik ‘n taal met die naam Chinees nie). Facebook voorspel wie saam met my ‘n bank sal beroof en wie oor tien jaar steeds my maatjie gaan wees. Ek vind uit wat is my persoonlikheidstipe, watter boomso0rt, blomsoort en soort wilde kat ek is. En na 12 uur (ek is jammer, maar ek kon nie langer uithou nie) is ek glad nie wyser, slimmer of meer selfversekerd as wat ek vantevore was nie. Maar ek weet een ding: die wêreld is vol propaganda wat deur leë blikke gemaak word. Dieselfde toets, drie keer gedoen met dieselfde data, lewer drie verskillende resultate op. Dieselfde toets, met verskillende data, lewer dieselfde resultaat. Ek is eens ‘n linkerbrein en dan ‘n regterbrein… aikôna, sê my logika, want sien jy het slegs ‘n breindominansie. Snert. Bog. Ka… jy kry die idee.

Ek vra ‘n paar mense hoekom hulle so graag hierdie toetse doen. Die antwoorde wissel. Party reken dis onskuldige pret. Ek verstaan dit glad nie, want dit was vir my seerder as geboorte skenk. Ander reken dat hulle wil sien of ‘n blikbrein hulle so goed ken soos hulself. Hoekom op dees aarde is dit iets wat jy wil weet? Waar en hoe gaan dit jou lewe verbeter? Dalk is dit die nood wat ons ervaar om aanvaar te word? Dalk hou ons maar net daarvan om dinge oor onsself te lees? Wat ookal die rede, ek kyk eerder pornografie as wat ek hierdie toetsies doen. En as die direkteure van Facebook pornografie verban, moet hull om hemelsnaam hierdie toetse ook verband. Want die STD’s (Standaard Teologie van Domgeit) wat met hierdie toetse versprei word is baie skadelik vir die samelewing.

 

Dink ek ek is beter as die mense wat hierdie toetse doen? Absoluut. Ek het nie tyd wat ek op hierdie bog wil spandeer nie. En as jy graag hierdie ‘toetsies’ doen en dan die resultate, met trots, op Facebook deel… en dit jou gelukkig en tevrede laat voel, dan is ek waarlik bly vir jou. Maar moet asseblief nie kerm en kla oor hoe moeg jy is of dat jou selfoonbattery net ses uur hou nie. En moet ook nie verbaas wees as ek jou ‘ont-vriend’ nie.  Alles is nie in ons beheer nie. Daar is soveel interessante dinge om oor te lees, te skryf, te redeneer. Plaas foto’s van jou kinders, wys my wat jy gehad het vir middagete… deel iets van jouself (deur jouself vertel en opgeneem en getik) met die wêreld en jou vriende. Laat my glimlag met ‘n snaakse gesegde of laat my huil met ‘n mooi gedig. Ek sê weer: alles is nie in ons beheer nie. Maar ons kan altyd kies waar om te kliek. Miskien is die grootste fout van die samelewing… die toets wat ons die heeltyd druip: ons prioriteite.