Reënboog

Dis wit teen swart. Swart teen wit. In die begin het wit domineer, maar nou is dit swart wat die oorhand kry en wit laat sweet.

Nee, hierdie is nie ‘n politiese vergelyking nie. Ek verwys bloot na die skaakspel van Magnus Carlsen, waarmee hy in 2014 vir die sestiende agtereenvolgende jaar die wêreldskaakkampioen geword het. Maar in Suid-Afrika hoor ons net die woord “swart”  en ons spring op ons wit perdjies. En vice versa.

Nes ‘n boerboel nie noodwendig kan boer nie, net so behoort die woord “swart” nie vir ons ‘n aanduiding van enige vermoëns te wees nie. Tog is dit so. ‘n Vriendin is moedeloos met haar Blackberry wat kort-kort vanself afskakel. Sy reken as dit ‘n Whiteberry was, het hy dalk langer ure aanmekaar gewerk. As swartmiertjies wit was, sou hulle seker aangedra en nie weggedra het nie, hoor ek iemand anders sug. In my klas vertel ‘n Graad 4 kind reeds in 2004 dat sy pa sebras skiet, maar net biltong van die wit strepe maak, want die swart vleis sal hom skytkoors gee. Ek sidder om te dink dat dit die voorbeeld is wat tuis gestel word. Iemand lag oor witleuentjies, want hulle is skadeloos. Dis die swartleuens wat jou in die tronk sal laat beland. Ek skud my kop. Deur onskuldige assosiasie word kleur nou by die ras-debat betrek en ek wil soos ‘n stout kind die deur toeslaan en weier om uit te kom tot iemand weer ordentlik kan redeneer.

Wit is rein. Skoon. Onskuldig. Dis hoekom bruide in wit trou en engeltjies wit vlerke het en wolke wit is. ‘n Kunstenaar begin met ‘n wit doek, hotelle se lakens en hospitale se vloere is wit. Daarteenoor is stout tieners met swart oogomlyner ‘n irritasie. Swart vingernaels laat my Ouma gril en swart drag is net vir begrafnisse bedoel. Swart simboliseer dood, onheil en wantroue. En vir baie jare was hierdie metafore net dit: simboliek. Maar in 2016 wil ek nie hê my kinders moet swart “Jelly Babies” eet nie, netnou dink die bediende ons is rasisties as my seun die swartetjie se kop afbyt. Ek wou nie meer na die klein knoppie langs my neus as ‘n swartkoppie verwys nie, want nou-nou dink die dermatoloog ek is regs van die regering. Niemand is meer ‘n swartskaap in die familie nie, maar heet nou sommer net die voorheen benadeelde skapie. Ons eet nie meer witbrood nie, ook nie bruinbrood nie, maar verwys eerder na die brood in die blou/rooi plastieksakkie. Mense wat in die rooi is, se name verskyn op die swartlys en ‘n renosterhoring word op die swartmark verkoop. Ek weet van ‘n paartjie van Orania, wat einde 2015 deur Suid-Afrika gereis het om mense in te lig van die “nag van die swart messe”. Hierdie toer was gedoop: “die Wittebrood”. Ek dink hulle soek sommer witvoetjie met mooi taalgebruik, maar helaas, my witbroodjie is nie noodwendig blank van vel nie. Ons is so sensitief en versigtig as ons die kleurgrens betree, dat ons tot die reënboog se naam swart smeer. En ons bly ook nie in ‘n reënboogland, as al ons brille uit een swart en een wit lens bestaan nie.

 

Ek dink nie dit was altyd so nie. Daar was ‘n tyd toe die berge nog blou gelê het. Toe die Afrika son die aarde nog met sy oranje tong wakker gelek het. Daar was ‘n tyd wat mense nie skielik begin frons het as jy van Swartwater, Witrivier, die Swartberge of Witbank gepraat het nie. Vandag is ons egter so vinnig op ons agtervoete as daar oor swart en wit gesels word, dat ons dikwels die punt van ‘n gesprek mis. Ek wil weet of witblits wettig is. Die antwoorde is almal skertsend: “Ja, dis nog wit” en “Net tot die swartmense dit ontdek”. Ek raak vies vir groepe wat op sosiale media die “armblanke” as visuele afpersing wil gebruik sodat ek moet geld en klere skenk. En ja, ek word kwaad as ek die volgende besef:

“Ek is trots ek is swart”, sê die swart man.

“Ek is trots ek is bruin”, sê die bruin man.

“Ek is trots ek is wit”, sê die rassis.

 

Ek wil nie in die geveg tussen wit en swart betrokke raak nie. Ek wil nie begin redeneer oor wie reg is en watter velkleur verhewe is bo die ander nie. Ek ken goeie mense: wit, swart en bruin. Ek ken ook slegte mense: wit, swart en bruin. Sleg of goed, korrup of eerlik, mooi of lelik… ek dink nie regtig hierdie eienskappe word deur jou velkleur bepaal nie. Ek kuier by mense omdat ek van hulle hou. Ek braai saam met vriende omdat ons lekker gesels en ons mekaar verstaan. Ek hou nie van baantjies vir boeties nie. Ek hou nie van dom, oningeligte uitlatings nie. En as iemand wat Wiskunde verstaan, begryp ek ook dat mens nie na nommers moet kyk nie, maar na persentasies. In Suid-Afrika kry ALMAL swaar. ‘n Vrou wat verkrag word, breek binne stukkend. ‘n Ma wat haar kind aan die dood moet afstaan, verloor ‘n stuk van haar hart. ‘n Man wat nie sy gesin kan versorg nie, huil homself soms aan die slaap. ‘n Kind wat geboelie word, se selfbeeld sal sukkel. ‘n Pa wat sy kind molesteer, moet ontman word. Iemand wat moor, moet uit die samelewing verwyder word. Mens is maar net mens. Maak nie saak wat sy velkleur is nie: almal se bloed is rooi.

Ek sien hoe reg nie geskied nie. Ek sukkel om die onregverdigheid te aanvaar. Ek hou nie van hoe groepe onderdruk word nie. Maar ek weier om petisies te onderteken wat enige groep mense op grond van hul velkleur afbreek. Ek sal nie geld gee, net omdat hulle aan ‘n sekere ras behoort nie. As ons aanhou om ons ruiters, lopers en kastele so te misbruik… as ons aanhoudend die groter prentjie miskyk en net op die swart/wit blokkies fokus, gaan die reënboogkoning kantel: skaakmat.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s