Mode

Ek trippel nie in Manolo Blahnik’s rond nie. Inteendeel, as dit nie vir die reeks van Sex and the City was nie, het ek dalk nie eers geweet dat hierdie naam met hakskoene verband hou nie. Ek Mastercard nie elke naweek nie. Jip, daar is mense daarbuite wat van Mastercard ‘n werkwoord maak, bv. “Ek moes eenvoudig die handsak hê, toe Mastercard ek hom sommer!” Ek trek klere aan, want ek wil nie toegesluit word vir onsedelikheid op straat nie. Dis wonderlik dat daar mense is wat Louis Vuitonn se somerversameling beter ken as die volgorde van ewegetalle. Ek dink dis noemenswaardig as iemand tussen ‘n egte en vervalste handsak of horlosie kan onderskei, sonder om na die prysetiket te kyk. Ek sien egter ook die tragiese stereotipering van die modeslawe raak: algemene kennis is beperk tot Chanel se geskiedenis en kinders kan onderskei tussen ses skakerings van swart, maar weet nie waarvoor BTW staan nie. Die mode is egter ‘n baie gevaarlike industrie.

 

Korsette was dalk bedoel om elke vrou ‘n uurglas-lyfie te gee, maar duisende vrouens het gesterf as gevolg van hierdie mode-kontrêpsie. Korsette is gedra om vrouens die perfekte uurglasfiguur te gee, maar in die proses is hul organe papgedruk. ‘n Nier is teen die lewer vergruis, terwyl die baarmoeder en die maagwande moes spartel vir spasie. In 2016 is die korset dalk nie meer tradisioneel in gebruik nie, maar bruide en Burlesque dansers skram steeds nie weg van die gevaar nie. Wie nie waag nie…

 

Dan is daar natuurlik ook die groepie dames wat kwartaalliks hul balanstoets moet slaag voor hul hul hakskoenlisensie kan kry. Met hakke so dun soos ‘n Barbie se nek trippel hulle in maatskappye se gange rond. Natuurlik is ek jaloers op hierdie vernuf, maar ek het geen begeerte om ‘n myl in hierdie mensies se skoene te stap nie. Dis wat binne die skoen skuil wat dokters se bankrekeninge laat rys: ingroei-toonnaels, knoppe, bulte, skewe tone, liddorings en natuurlik bunions. Moet ook nie vergeet dat as jy sou val, jy nie net ‘n enkel swik of ‘n toontjie kraak nie, maar die kans is goed dat jy ook jou nek kan breek. Vrotpootjie is nie net ‘n naam wat by ‘n verkeerskonstabel pas nie en daar is heelwat navorsing wat dui dat kinders kaalvoet MOET loop, sodat hul voete reg kan ontwikkel. Ek weet egter een ding: as die skoen gemaklik pas en nie te hoog is nie,  koop een in elke kleur, ongeag die mode-voorskrifte.

 

Van toontjie na kroontjie… talle modegiere kan jou met jou lewe laat betaal. Neem nou maar haarsproei as voorbeeld. Die newe-effekte van haarsproei is onder andere blindheid, longemfiseem en ook sinusprobleme. Na slegs twee jaar van gereelde haarsproeigebruik, begin die smaakkliere op jou tong ook doodgaan. Dis nou ‘n duur prys om te betaal vir ‘n stywe kapsel en alhoewel die algemene verkope van haarsproei in die laaste vyf jaar met ongeveer 12% gedaal het, reken kenners dat die gevaar vir ons (en die osoon) nog lank nie verby is nie.

 

Die mode hou egter nie net fisiese gevare vir die mensdom in nie. En ek kies die woord mensDOM met oorleg, want as dit by mode kom, is min mense werklik slim. Hulle sal derduisende rande vir ‘n stel onderklere betaal, wat min mense in elk geval sien. En as te veel mense dit sien, is die tekens van een of ander sielkundige probleem in elk geval duidelik. Tieners lei aan depressie, sny hul polse stukkend en begin mekaar boelie op sosiale media, net omdat hulle nie die denim met die regte etiket op kan bekostig nie. Liewer dood as uit die mode is dalk meer as net ‘n uitdrukking. Ek ken ‘n vrou wat duur etikette van klere in die winkels af steel, net sodat sy dit aan haar eie klere tuis kan vaswerk. Modegekkigheid.

 

Ek dink nie elke modegeit en -gier is in swak smaak nie. Ek dink maar net modepoppe is dikwels net dit: poppe. Marionette wat saamspeel in die groter spel sonder smaak en opinie. Dalk lê die kuns van die mode in die balans om jou eie smaak met moderniste s’n te meng, sodat dit nie net jou bas nie, maar ook jou persoonlikheid pas. Die mode het te veel mense in die sak. Gatsak, broeksak, handsak. Jy moet die mode dra, nie toelaat dat die mode jou dra nie… of so iets. Ek sê eenvoudig: MODErasie, anders konsternasie.

 

 

Advertisements

One thought on “Mode

  1. “Ek dink nie elke modegeit en -gier is in swak smaak nie. Ek dink maar net modepoppe is dikwels net dit: poppe.” – Amen op dit!

    En wat die hakke betref – ek waag dit nie, ek dink ek sal my bekken breek. of iets dergliks. Daar is vir my ook niks mooier as ‘n paar hemelhoë hakke nie, maar dan moet die vrou in dit kan LOOP. Ons het so paar hier by die werk wat dit dra, en net omtrent 5% kan loop op hul hakke. Die res lyk soos pasgebore kalfies wat in iets rondgly. Dra eerder plat skoene en LOOP ten minste ordentlik.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s