Waar die skoot klap

Om van ’n bakkie af te skiet, maak jou nie ’n moegoe nie. Om uit ’n skuiling uit te skiet, maak jou nie ’n lafaard nie. Om met plastiekplakkies in die veld te loop en soek vir jou aandete, maak jou nie kommin nie. Om die duurste jas van Sniper te dra as jy uit die vyfster lodge stap, maak nie van jou ’n swak stadsjagter nie.

Ek dink ’n Hilux in die stad, met daai blou ‘goete’ wat agteraan hang, maak van jou ’n baie groter moegoe as die jagter wat die eland van die Cruiser af skiet. Die Isuzu wat tussen spoedhobbels jaag en die kinders van die laerskool vir hul lewe laat vrees, is ’n baie groter moegoe as die jagter wat die dak van ’n Ranger gebruik om die koedoe ’n kopskoot te gee. Wiele is net dit: wiele. Dit dien ’n doel. Bakkies bestuur nie hulself nie en gewere skiet nie diere nie.

Ek dink om agter jou vrou te skuil, maak van jou ’n groter lafaard as om ’n gemsbok uit ’n skuiling te skiet. Die man wat agter die bottel Klipdrift skuil in plaas daarvan om te gaan werk, is ’n groter lafaard as die ou wat vir ure in die skuiling sit en foto’s neem voor hy eindelik die vlakvark dreun. ’n Skuiling is net dit: ’n plek waar jy vrede vind. ’n Klomp bakstene is nie noodwendig ’n huis nie en die bosveld gee jou nie net biltong nie.

Ek dink mans wat in die kar rook, met hul kinders wat op die agtersitplek sit, is baie meer kommin as die jagter wat met ‘flip flops’ gaan skiet vir die pot. Die aandpak van ’n bekende ontwerper laat jou dalk soos ’n heer lyk, maar as jy jou vrou slaan in daardie selfde aandpak, is jy baie meer kommin as die jagter wat sonder duur uitrustings sy eerlike bestaan op die plaas maak. Klere is net dit: iets om jou lyf te bedek en die rooibok gee nie om of jy Reeboks dra nie.

Ek dink jagters wat drank en ’n 30-06 meng, is swak. Ek dink jagters wat skiet sonder oefening, sonder voorbereiding en sonder denke, is swak. Maak nie saak hoeveel geld jy vir die jagtog betaal nie, maak nie saak in watter voertuig jy daar opdaag of watter klere jy aanhet nie… as jou hart op die regte plek sit, is jy ’n jagter, ongeag hoeveel keer per jaar jy die skoot trek.

Ek is dalk nie self ’n skootklapper nie, maar ek het wel al my ure in die bos ingesit. Ek het al in die bakkie gery, ure in die skuiling sit en wild kyk, kilometers ver deur die bosse gestap en ook lekker laat geslaap in een van daai vyfsterlodges. Die een ding wat ek onomwonde weet: dit gaan nie oor die die plek vanwaar die sneller getrek word nie. Dit gaan oor die een patroon, een doodskoot, een kans wat die jagter het. Dit gaan oor die respek vir lewe, die benutting van elke stukkie vleis en die hart van die skut wat aanhou klop as die koedoe bokveld toe is.

As jy jou vinger op ’n sneller sit en jy besef die verantwoordelikheid wat op jou skouers rus, dan maak die bakkie, skuiling, plakkies en jas nie saak nie. Want dan… dan is jy waarlik ’n man.

Advertisements

3 thoughts on “Waar die skoot klap

  1. Met logika,commensens,insig,taalvermoe en n goeie verstand is jy besig om n kode,leefwyse,tipe van denke te skep wat norme bepaal en leefwyse kan verander.Ek hoop dat daar genoeg ingeligtes ,intelligentes is om jou talent te waardeer en jou waardes hul eie te maak.

  2. Goed geskryf met heelwat insig en wysheid vir dié wat nie weet wat die essensie van jag is nie. Ek geniet jou skrywes, doet so voort!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s