Vals

Die negende gebod lui dat ons nie vals getuienis mag lewer nie. Jy mag dus nie jok soos ‘n bok of lieg soos ‘n vlieg nie. Verskoon maar die sinnelose rym, ek het ‘n sesjarige in die huis wat my rympatrone beïnvloed.

As onderwyser ken ek van valse getuienis. Darem nie die lewer daarvan nie, maar beslis die aanhoor van sinne so vals soos my Ouma se tande. Die leuens en stories wat kinders opdis, gee my dikwels sooibrand. “Juffrou het nooit vir my die werkkaart gegee nie”; “Juffrou het nie gesê dat dit huiswerk is nie”; “Ons het nie hierdie werk in die klas behandel nie.”

As ma ken ek ook valsheid. Nie net is ek vals as ek in die stort sing nie, maar vals trane van melodramatiese kinders, word meeste van die tyd suksesvol aangewend om aandag te kry.  Ek hoor die vals “mmmm” wat my man maak as hy die hap spinasie of blomkool voor die kinders vat.

As vriendin ervaar ek ook valsheid. Almal het mos deesdae vals naels met blinkertjies en patroontjies op. Dit voel of ek die enigste een is wat nie tyd het om elke drie weke vir twee uur in die salon te gaan sit nie (al wil ek hoe graag). Ek hou nie van vals cocktails (oftewel mocktails) nie… dit voel soos tydmors. Ek hou van die vals  ivoorinlegsels in die kabinet, maar verpes vals parfuum. Ek glimlag as ek die vervalste kunswerk in die sitkamer sien, maar frons oor die buurvrou se vals bates. Nie omdat hulle vals is nie, maar omdat hulle altyd uitpeul, oorloop en dril as sy loop.

As vrou sien ek die vals beeld in die spieël. Ek sien plooie, maar voel hulle nie. Ek sien rekmerke, maar ervaar nie die begeerte om dit reg te ‘room’ nie. So vals soos sekere sterre se hare, so vals is sekere vrouens se lag, trane en omgee. Facebook is ‘n vals beeld van die mensdom, want ons sit tog nie die volle waarheid op ons muur nie. Ons kies en ken en sien net gedeeltelik. Ons sien selde egte foto’s en bevriend min ware vriende. Ons glo vals politici, volg die bewoording op vals pillehouers en vertrou selfs die valse voorblaaie van die poniekoerante.

Om eg te wees, is om nie vals te wees nie. Ons tree ook in die eg as ons trou. Is almal wat enkellopend is, by implikasie dan vals? Buite-egtelike kinders is tog waarlik kinders en word nie vals grootmense nie, of hoe? Dra ‘n egte handsak belangriker items as ‘n vals een? Laat die ware tekkies jou vinniger hardloop as die vals paar? My ‘vals’ kontaklense laat my tog beter sien as my regte oë en die vals diamant om my nek, het vir my meer waarde as die regte een in die winkelvenster.

Ons ervaar vals vryheid. Want as ons regtig vry was, sou daar geen reëls bestaan het nie. Ons sou kon moor en steel sonder enige gevolge. Ons ervaar valse vrede, want elkeen baklei in sy eie oorlog. Ons ervaar valse voorwendsels met elke advertensie en winskoop. Ons drink vals koffie, eet vals suiker en tog is dit alles regtig, egtig kos. Vervalste paspoorte is erger as die vervalste handtekening op ‘n kind se eksamenvraestel… of is dit? Ek dink die skeidslyn tussen vals en eg is een groot grys area. Niemand is 100% eg nie. Nes ek glo dat niemand 100% vals is nie. Die kuns van die lewe is om die persentasie reg te balanseer… want al sing jy vals, moet jou slaap immers eg wees.

 

 

Advertisements

3 thoughts on “Vals

  1. Dan is daar die noodsaaklike valshede waartoe jy gedwonge voel, soos om byvoorbeeld voor te gee dat jy van jou skoonfamilie hou. Dis miskien soms maar beter dat ‘n mens jou ware gedagtes vir jouself hou, maar ja, dis ook vals. Aan die ander kant dink ek ook nie dis nodig dat die hele wêreld my binnegoed moet sien nie. Dit is ‘n dilemma. Facebook – wel, dis makliker om op facebook te lieg, want dan hoef jy niemand in die oë te kyk nie. 😀

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s