Haat

“Ek haat die kinders in my klas” sug die een juffrou tydens pouse, terwyl sy moeg en moedeloos op die bank neersak. Sy kry ‘n paar kopknikke.

“Ek haat dat ons land so in sy moer in gaan” lees ek iemand se woede op Facebook raak. 35 likes in 9 minute.

“Ek haat spinasie” klink my vierjarige se stem uit die eetkamer. My dogtertjie stem saam.

“Ek haat dat ek nie maklik kan ophou rook nie” kla die buurvrou met ‘n sigaret in die mond. Ek kug.

“Ek haat dat mense dink die lewe skuld hulle iets” hoor ek een van my man se vriende via Skype sê.

Haat. Dis maklik om dinge, mense, plekke te haat. Binnelandse Sake, spelfoute, die feit dat kinders hul eie snot eet en die alarm wat elke oggend om 5:10 vir my skree. Huiswerk, puisies, die baas, belasting, petrolpryse, Amerikaners, die sot wat die vrou se handsak gesteel het en die plaasmoordsyfer. Simpel Afrikaanse musieklirieke, 7de Laan, vleis wat te gaar is, disrespekvolle mense, poedels wat in die huis poef en die poedel-eienaar wat dit nie dadelik skoonmaak nie. Haat is oral. Dis maklik. En… dis nie sleg nie.

Sien, mense dink altyd dat haat die teenoorgestelde van liefde is. Dit is nie. Haat is ook ‘n sterk emosie, maar om iets te haat beteken dat jy steeds omgee. Jy dink oor goed wat jy haat. Jy word kwaad, opgewonde, aggressief… jy voel IETS as jy haat. Uit haat en woede en frustrasie word ook dinge gebore en dit is nie altyd slegte dinge nie. Solank ons haat, so lank sal ons omgee, kla, ‘n herrie opskop. Solank ons haat sal niks soos water op ‘n eend se rug wees nie. Onderwysers wat haat, beteken hulle gee genoeg om om harder te probeer om die verskil te maak. Kinders wat haat leer dat haat hanteer moet word. Die feit dat Suid-Afrikaners misdaad en korrupsie haat, beteken daar is nog pogings (hoe klein en futiel dit ook mag voel) is wat dit probeer oplos. Solank jy jou slegte gewoontes haat, so lank sal jy probeer om dit te stop. As ons haat, praat ons, skel ons, doen ons IETS. Voel ons IETS.

Dis as mense ophou haat, wat dinge gevaarlik raak. Ophou omgee. Ophou stry. Ophou vloek. Ophou sukkel, spook en spartel. Dis as mense ophou skryf en sing en dans, dat die genot sterf. ‘n Baas se grootste nagmerrie is nie werknemers wat haat nie, maar die wat ophou omgee het. ‘n Man se grootste fout is om toe te laat dat sy vrou ophou omgee. Laat haar lag, maak haar kwaad, maar moenie dat die passie verdwyn nie. Dis as ons NIKS voel nie, wat passie in wanhoop verander. As die haat verdwyn en NIKS bly oor nie, dan weet jy dat jy die teenoorgestelde van liefde bereik het. Want die teenoorgestelde van liefde is nie haat nie. Dis onverskilligheid.

Advertisements

Vlug

Veg of vlug? Die vraag wat blykbaar bepaal of jy ‘n lafaard of held is. Behalwe vir jou brein se funksie om jou liggaam aan die lewe te hou, is een van die ander primêre funksies van jou brein om instinktief te besluit of jy veg, veg, veg vir lewe en of jy vlug, vlug, vlug… ook vir lewe. Superman, Wolverine, Batman en Kaptein Amerika is vegters, nie vlugtelinge nie. Vlugtelinge kry nie ‘n superheld pakkie nie. Hulle word nie beloon met magiese kragte of modelmooi meisies wat hulle in die reën (onderstebo) soen nie.

In die breë sin van die woord, is vegters ook wenners. Vegters is die entrepreneurs, die korporatiewe reuse, die sporthelde, die joernaliste wat pryse wen en die politieke leiers wat nie skroom om op ander te trap om bo uit te kom nie. Ek sien die vegters in my klas raak. Die kinders wat vuis sal slaan om sy ma se eer te beskerm. Die meisies wat mekaar klap en krap omdat lelike woorde aan hul jonger sussies toegesnou is. Ek lees die vegters op Facebook raak. Mense wat histeries tekere gaan oor elke status en opinie. Mense wat hulself aan die massas verdedig omdat hulle in die publiek borsvoed, weier om by Woolworths te koop en eenvoudig jubel oor ‘n prof van die Vrystaat die land verlaat.

Vegters is sterk mense. Mense wat opstaan vir dit waarin hulle glo. Mense wat nie skroom om hul opinies te laat geld nie. Blou Bul ondersteuners wat ‘n Haai pimpel en pers slaan, ANC Jeuglede wat universiteite afbrand, dominees wat vloek oor die gemeente hom beskuldig van bedrog en onderwysers wat weier om op te gee in ‘n moeilike klassituasie. Vir baie jare het ek geglo dat vegters die alfa’s van die samelewing is. Die slimmes, rykes, mooies, goeies… en die wat in Suid-Afrika agterbly om te veg vir volk en vaderland. Die wat sal lewe en sterwe vir Suid-Afrika. Die wat glo dat ons voorvaders nie verniet geveg het nie. Die wat in die voortbestaan van Afrikaans bly klou… almal vegters.

 

Vegters dink ook vlugtelinge is dikwels swakkelinge. Ons wat nie meer in Suid-Afrika bly nie, mag nie ‘n opinie lewer oor die land nie, want ons het ons seggenskap opgegee die dag toe ons op die vliegtuig geklim het. Ons het ons rug gedraai op ons kultuur. So word ek meegedeel. Ek stry nie. Want sien, ek is nie ‘n vegter nie. As jy my dus wil klassifiseer as vlugteling, goed so. As dit jou laat beter slaap in die aand, wonderlik.

Ek het gekies om Suid-Afrika te verlaat. Ek het my tassies gepak en hierdie land my huis kom maak. Om sake te vererger, word ek toe in my nuwe land ook nie as vegter gemerk nie. My sin vir humor word deur talle beskou as disrespekvol en arrogant. Ek word as “teef” by die naam geroep. Ek lees hoe onsensititief en belaglik ek is. En toe vlug ek weer. Ek het gekies om nie myself te verdedig nie. Ek het die inskrywing uitgevee en vergeet van die negatiewe kritiek. Ek het weggeloop van die woordgeveg waar uitlatings gemaak is oor my integriteit en waar ek as “domastrant” bestempel is. Mense wil weet hoekom verdedig ek nie myself nie. Nie in Suid-Afrika nie en ook nie hier nie. Hoekom veg ek nie vir die behoud van my naam nie? Hoekom veg ek nie vir my eer nie?

 

Hier is my antwoord aan al die honderde mooi boodskappies en vrae en belangstellendes:

Want ek weet dat om weg te loop baie meer durf vat as om te veg. Ek glo dat stilbly meer selfbeheersing neem as om ‘n klomp vloekwoorde te spoeg. Innerlike gevegte is dikwels baie erger as die onintellektuele uitlatings op sosiale media, so ek steur my nie daaraan nie. Ek dink om negatiewe dinge te ignoreer, beteken dat ek lekkerder slaap in die aand en dit maak my sterker. Dit vat meer uithou, krag, moed, durf, deursettingsvermoë, geloof, liefde, selfaanvaarding om niks te doen nie, as om te skree en te gil en vuiste te swaai. In die klas, skree ek nie. Ek bly stil en wag. In die personeelkamer werk ek myself nie op nie. Ek bly stil ek kyk die kat uit die boom uit. Ek veg selde. Wegloop… omdraai… die rug keer… die dinge beteken nie ek gooi die handoek in nie. Ek gee nie op nie. Ek het opinies, ek kies net om  nie die wêreld daarvan te oortuig nie. Dis die geveg nie werd nie.

Dalk is ek nie kwaad genoeg nie. Dalk het ek nie krag vir kak nie. Ek raak nie betrokke nie, want wat gaan dit my baat? As ek een uur aan hierdie vegkuns spandeer, beteken dit ek verloor een uur van my lewe waar ek kon lag. Ek gaan nie ‘n sterk mens se opinie verander deur met daardie persoon te veg nie. Ek het nie ‘n superpakkie nodig om in my kragte te glo nie. Ek het nie erkenning nodig om te weet ek is menswaardig nie. Ek kies positiewe mense as my vriende. Ek glo in humor. Ek glo in sarkasme. Ek glo in uitlaatkleppe vir frustrasie. Ek glo in myself. Ek glo in aanvaarding. En ek glo ek is te kompleks om in een kategorie geplaas te word. As jy dit namens my wil doen, is jy welkom. Ek gaan nie veg nie. Ek gaan ook nie vlug nie. Inteendeel, ek gaan nêrens. Ek gaan op die kantlyn staan, die petalje mooi bekyk en net doen waarvan ek hou, waarvoor ek lus is en wat ek wil. Want elke keer as ek uit my maag uit lag, dan reis ek na ‘n plek waar ek onaantasbaar is. Daar is ek vry om te glo soos ek wil, my opinies sinvol en kalm oor te dra en met mense te meng wat my behaag. Dan is ek net ek. Dan het ek volkome onvlugting gevind.

Toets

Hoekom doen mense dit? Doen allerhande toetsies op Facebook? Hoekom gee hulle om wat hul name in Hebreeus beteken of watter tipe persoonlikheid hulle het deur ses vragies te beantwoord? Hoekom wil mense so graag in boksies gedruk word? Hoekom is die drang na stereotipiese klassifikasie so belangrik? Wil hulle so graag voel dat hulle êrens ‘behoort’, maar verkondig hulle in dieselfde sin dat hulle eintlik so uniek is? Ek verstaan nie. En ek is super, hiper, tot in die oortreffendste trap van oortreffend geïrriteerd met hierdie toetse wat nou weer ‘n herlewing op Facebook beleef.

 

Facebook toetse is snert. Dis glad nie wetenskaplik nie, het geen basis in enige vorm van sielkunde nie en is eintlik generiese rekenaarbabbeltaal wat sommer net uitgekots word op skerms regoor die wêreld. Dalk is ek verkeerd. Dalk is 3,5 biljoen van die wêreld se bevolking so generies dat alles wat deur drie vragies op Facebook opgelos kan word, ook die verklaring van hul doellose lewensbestaan is. Moenie my kom vertel dat dit interessant is nie. Dit is nie. Dit is bog wat tyd mors. Tyd wat eerder spandeer kon word om jou kinders te voer, jou geliefde te vry of dalk eerder ‘n trui te brei… enigiets wat regte, egte resultate lewer. Ek hoor gereeld hoe mense kla “ek het nie genoeg tyd nie”, “ek wens my dag het net twee ure ekstra gehad”, “ek het te min geslaap gisteraand” en natuurlik “ek is so moeg / oorwerk, ek het ‘n vakansie nodig”. Dis dieselfde mense wat religieus toetsies op Facebook doen. Jy kies ses kleure, vorms, nommers… jy kliek-kliek deur eenvoudige vragies wat my sesjarige kan doen… net sodat een of ander webtuiste met die woord “science” of “psychology” voor die .com jou kan vertel presies wie jy is, waar jy vandaan kom en watter toekomstige beroep jy moet volg. As jy geniaal is, gaan Facebook jou nie hiervan hoef te oortuig nie.

Vul die toetsie in om te sien of jy ‘n intro- of ekstrovert is. Hoekom het jy ‘n toets nodig om jou die antwoord op hierdie elementêre vraag te gee? Miskien moet ons eerder woordeboeke met basiese definies uitdeel, dan kan mense sommer tot hul eie gevolgtrekkings kom… nee wag, duidelik laat die mensdom se intellek veel te wense oor en kan hierdie “eie opinie” benadering dodelike gevolge hê.

Wat is volgende? Swangerskaptoetse deur drie vrae te beantwoord: 1. Het jy seks gehad? 2. Het jy voorbehoeding gebruik? 3. Het jy langer as drie maande geen menstruale siklus nie? Wel gedaan! My man is amptelik swanger!

Ek loods my eie studie. In 48 uur probeer ek soveel as moontlik van hierdie toetse doen. Ek doen elke toets ten minste drie keer. Ek laat my sesjarige inderdaad die vrae ook beantwoord. Ek wil weet of ek linker- of regterbrein is. Ek vind uit watter tipe denkstyl ek het, wat my naam in Chinees beteken (Al bestaan daar nie amptelik ‘n taal met die naam Chinees nie). Facebook voorspel wie saam met my ‘n bank sal beroof en wie oor tien jaar steeds my maatjie gaan wees. Ek vind uit wat is my persoonlikheidstipe, watter boomso0rt, blomsoort en soort wilde kat ek is. En na 12 uur (ek is jammer, maar ek kon nie langer uithou nie) is ek glad nie wyser, slimmer of meer selfversekerd as wat ek vantevore was nie. Maar ek weet een ding: die wêreld is vol propaganda wat deur leë blikke gemaak word. Dieselfde toets, drie keer gedoen met dieselfde data, lewer drie verskillende resultate op. Dieselfde toets, met verskillende data, lewer dieselfde resultaat. Ek is eens ‘n linkerbrein en dan ‘n regterbrein… aikôna, sê my logika, want sien jy het slegs ‘n breindominansie. Snert. Bog. Ka… jy kry die idee.

Ek vra ‘n paar mense hoekom hulle so graag hierdie toetse doen. Die antwoorde wissel. Party reken dis onskuldige pret. Ek verstaan dit glad nie, want dit was vir my seerder as geboorte skenk. Ander reken dat hulle wil sien of ‘n blikbrein hulle so goed ken soos hulself. Hoekom op dees aarde is dit iets wat jy wil weet? Waar en hoe gaan dit jou lewe verbeter? Dalk is dit die nood wat ons ervaar om aanvaar te word? Dalk hou ons maar net daarvan om dinge oor onsself te lees? Wat ookal die rede, ek kyk eerder pornografie as wat ek hierdie toetsies doen. En as die direkteure van Facebook pornografie verban, moet hull om hemelsnaam hierdie toetse ook verband. Want die STD’s (Standaard Teologie van Domgeit) wat met hierdie toetse versprei word is baie skadelik vir die samelewing.

 

Dink ek ek is beter as die mense wat hierdie toetse doen? Absoluut. Ek het nie tyd wat ek op hierdie bog wil spandeer nie. En as jy graag hierdie ‘toetsies’ doen en dan die resultate, met trots, op Facebook deel… en dit jou gelukkig en tevrede laat voel, dan is ek waarlik bly vir jou. Maar moet asseblief nie kerm en kla oor hoe moeg jy is of dat jou selfoonbattery net ses uur hou nie. En moet ook nie verbaas wees as ek jou ‘ont-vriend’ nie.  Alles is nie in ons beheer nie. Daar is soveel interessante dinge om oor te lees, te skryf, te redeneer. Plaas foto’s van jou kinders, wys my wat jy gehad het vir middagete… deel iets van jouself (deur jouself vertel en opgeneem en getik) met die wêreld en jou vriende. Laat my glimlag met ‘n snaakse gesegde of laat my huil met ‘n mooi gedig. Ek sê weer: alles is nie in ons beheer nie. Maar ons kan altyd kies waar om te kliek. Miskien is die grootste fout van die samelewing… die toets wat ons die heeltyd druip: ons prioriteite.

Versap

Aandag! Die tyd het aangebreek om die strootjies neer te lê en weer te begin om jul kos te kou… soos in die goeie ou dae.

Die era van die Versapper is nou Verby. Nooit hoef ons weer stukke vrugte en groente in ‘n elektriese menger te druk net omdat die tydskrifte en kundiges voorspel dat dit ons lewenskwaliteit gaan verhoog nie. Die modegier van die gemaalde maaltyd het die lepel in die dak gesteek!

Studies bewys nou dat die genot wat mens put om kos te kou, skei soveel goedvoel-hormone in jou brein af, dat die versapper sy hand (lemme?) oorspeel het. Kos is nie net ‘n oorlewingsmeganisme nie. Nie in Afrika nie. Ook nie in die Midde-Ooste of Amerika nie. Dalk word die voeding-vir-oorlewing-konsep net slaafs nagevolg deur ekstreme gesondheidsfundi’s en die wat aan werklike hongersnood lei.

Vir jare lank moes ek stories verduur oor diëte waar jy alles deur die versapper druk… ontbyt, middag- en aandete is alles gedrink in plaas van gekook of geniet. “Dis gesond om te detoksifiseer deur net vloeistowwe in te neem vir 14 dae”. Al wat ek hoor is die ongesonde woord “detoksifiseer”. Sies. En die gedagte om niks te kou vir veertien dae nie, laat die speeksel spontaan in my mond versamel en my maagsappe skei in liters af. Die sapperige sopstories was nog nooit regtig vir my nie. Ek kou eerder my spinasie as om dit te drink. Ek drink wyn. Nie aartappels of murgpampoen nie. Ek drink gin en tonic, nie wortels, appels, tamaties of seldery nie. En is dit net ek wat dink dat seldery soos satan se snot proe? Jig. Die enigste tyd wat kos deur ‘n strooitjie aanvaarbaar behoort te wees is as jy of so stukkend gedonner is in ‘n kroeg dat jy nie ‘n keuse het nie, of as jy een of ander operasie ondergaan het en sap die verskil tussen lewe en dood gaan beteken. En babas natuurlik. Babas mag maar papgedrukte, fyngemaalde kos eet.  Vir die gesonde mense moet kos in vaste vorm aangebied word. Klaar.

Die ligte het aangegaan en die krag wat na die versapper lei is afgeskakel, want uiteindelik het medici bevind dat om net vloeistowwe in te neem, nie goed is vir liggaam, gees of verstand nie. Is sapperige kos nie die toppunt van lui nie? Beweeg ten minste jou kake! Die wat sluk sonder kou, foeter nie net hul metabolisme op nie, maar loop ook groter gevaar vir tandbederf, ontsteking van die slukderm en kan moontlik met ‘n spastiese kolon spog na ‘n paar weke sonder vaste kossies. Kos wat versap is, maak mense nie naastenby so gelukkig en tevrede soos die wat kou en suig en eintlik ook ten volle proe nie. Slim proffies in Amerika het gevind dat depressie met tot 28% toeneem onder mense wat nie gereeld kos kou nie, maar net sluk. En glo dit of nie, maar sap maak jou dom. Mense kon nie naastenby so goed of lank konsentreer as hulle net sap inneem nie. Ons is nie motors nie, maar mense! Ons brandstof kan nie net in die vorm van papgedrukte piesangs kom nie. Ons het verskeidenheid nodig. Daar is niks so bevredigend soos ‘n kraakvars komkommer (of pak tjips), ferm tamatie (of koek) en romerige feta (of karamelpoeding) in jou slaai (of jou kosblik) nie.

Lê die strootjies tot rus. Laat jou tande doen waarvoor hul geskape is. Kou jou kos. Geniet jou kos. Proe jou kos. Die lewe is waaragtig te kort om alles wat goed en mooi is ook pap te druk. Die enigste kos wat ek moontlik nog in vloeibare vorm sal inneem is gesmelte sjokolade… gedrup oor aarbeie, kaaskoek, roomys en nog blokke sjokolade. Natuurlik.

 

 

Spek

*Vegetariërs, moenie afgeskrik wees deur die prentjie van spek nie. Hierdie verhaal is vegataries-vriendelik en geen vark is in die proses seergemaak nie. 

 

Om spek te skiet, maak dat niemand jou gaan respekteer nie. Spekrolletjies om die middel, laat die dokter se wenkbroue lig. Respek verlore. Die spekkewertjies wat in die regering sit, bewys daagliks die afwesigheid van respek. Tog staan die spekboom in die Karoo en dwing hy respek af: gehard, broodnodig en ‘n lewensaar vir die vee. Spekgom word gebruik om skoensole te plak en word deur skoenmakers en skoendraers regoor die wêreld respekteer. ‘n Spektrograaf gebruik sy spektrogram om die spektrum van kleur waar te neem. Ek moes seker maak dat daardie sinnetjie nie deurspek is van tikfoute nie, anders verloor mense dalk respek vir my taalgebruik. Dis nie net spekulasie nie: ek is ‘n voorstaander van respek. Ek respekteer mense wat goed kan doen wat ek nie verstaan nie, soos om met aandele te spekuleer. Ek respekteer medeskrywers wat woordvaardig is en wie se skryfjoernale spekvet is. Ek respekteer my ouers. Hulle was allermins perfek (ek was immers ook nie ‘n perfekte kind nie), maar hulle het my geleer dat as ek met spekvarke meng, die boer my ook gaan slag. Ek respekteer mans, want ek dink hul varkies hardloop rond en tog kry hulle dit reg om so gelukkig soos ‘n vark in ‘n Joodse land te wees. Van paleis, pandok en varkhok… ‘n dak oor jou kop beteken jy moet respek toon en dit skoonhou en oppas.

 

 

Miskien is hierdie inskrywing vir spek en boontjies. Miskien lees iemand dit raak en lag oor ek spekvet is. Miskien gaan iemand besef dat die RE van spek eintlik die belangrikste van al my spekulasie is. Respek word soos pêrels vir die varke gegooi. Ons wil die akademiese standaarde in skole lig, terwyl die standaarde van respek verlaag word. Onderwysers wil hê kinders moet respek toon, maar skree dan soos ‘n maer vark op klasse. Ek weet, sommige kinders is geen speensalf aan te smeer nie… so onderwysers, hou jou respektabele kant skoon en al word jy nie gerespekteer nie, onthou dat jy nie disrespekvolle gedrag hoef te aanvaar nie. My oplossing met kinders wat nie soos varkies op hok gehou kan word nie? Ek stuur hulle uit die klas uit en laat hulle kruisbeen voor die deur op die stoep sit. Konsekwente toepassing van hierdie straf was dalk rof in die begin, maar na so paar weke werp dit vrugte af. Varke kan ook toertjies leer.

Jy hoef nie van almal te hou nie, allermins hoef jy vir die samelewing lief te wees, maar om respek te betoon is nie vir die ander mense nie… jy doen dit vir jouself. Ongeag mense se finansiële posisie, sosiale status, taalgebruik, ras of kultuur… respek is verniet. Elke aksie het ‘n reaksie. Jy kry wat jy gee. Saai wat jy maai. Karma. Noem dit wat jy wil. ‘n Vriendelike versoek gaan beslis meer vrugte afwerp as ‘n gillende dreigement. Respek begin inderdaad by jouself.

 

Ek dink respek word saam met spek en eiers bedien. In die ouerhuis. Van ontbyt tot aandete: tuis is die beste plek waar kinders sien hoe om te respekteer. Ma wat vir Pa slaan, Pa wat nie spek skiet nie, maar sommer die hele vark gooi, ouers wat gil, vloek, borde stukkend gooi in oomblikke van woede en bier koop met die laaste sente… (asem teug)… Ma wat klere dra wat disrepekvol aan haar vasgegom is, Pa wat die televisie met sy bierbottel gooi omdat die Bulle verloor en dan die skeidsregter en sy ma so sleg sê dat die varke hom nie sal wil vreet nie, Ma wat die buurvrou oor die heining vloek, Pa wat nie dankie sê nie, Ma wat nie asseblief vra nie… my relaas kan nimmereindig wees. Varke skuur immers hul modder teen pilare af. Hierdie is nie spekskietstories nie, maar staaltjies wat in die alledaagse bestaan van soveel Suid-Afrikaanse huishoudings waargeneem kan word. Die afwesigheid van respek maak van ons land en sy mense ‘n spektakel.

Mode

Ek trippel nie in Manolo Blahnik’s rond nie. Inteendeel, as dit nie vir die reeks van Sex and the City was nie, het ek dalk nie eers geweet dat hierdie naam met hakskoene verband hou nie. Ek Mastercard nie elke naweek nie. Jip, daar is mense daarbuite wat van Mastercard ‘n werkwoord maak, bv. “Ek moes eenvoudig die handsak hê, toe Mastercard ek hom sommer!” Ek trek klere aan, want ek wil nie toegesluit word vir onsedelikheid op straat nie. Dis wonderlik dat daar mense is wat Louis Vuitonn se somerversameling beter ken as die volgorde van ewegetalle. Ek dink dis noemenswaardig as iemand tussen ‘n egte en vervalste handsak of horlosie kan onderskei, sonder om na die prysetiket te kyk. Ek sien egter ook die tragiese stereotipering van die modeslawe raak: algemene kennis is beperk tot Chanel se geskiedenis en kinders kan onderskei tussen ses skakerings van swart, maar weet nie waarvoor BTW staan nie. Die mode is egter ‘n baie gevaarlike industrie.

 

Korsette was dalk bedoel om elke vrou ‘n uurglas-lyfie te gee, maar duisende vrouens het gesterf as gevolg van hierdie mode-kontrêpsie. Korsette is gedra om vrouens die perfekte uurglasfiguur te gee, maar in die proses is hul organe papgedruk. ‘n Nier is teen die lewer vergruis, terwyl die baarmoeder en die maagwande moes spartel vir spasie. In 2016 is die korset dalk nie meer tradisioneel in gebruik nie, maar bruide en Burlesque dansers skram steeds nie weg van die gevaar nie. Wie nie waag nie…

 

Dan is daar natuurlik ook die groepie dames wat kwartaalliks hul balanstoets moet slaag voor hul hul hakskoenlisensie kan kry. Met hakke so dun soos ‘n Barbie se nek trippel hulle in maatskappye se gange rond. Natuurlik is ek jaloers op hierdie vernuf, maar ek het geen begeerte om ‘n myl in hierdie mensies se skoene te stap nie. Dis wat binne die skoen skuil wat dokters se bankrekeninge laat rys: ingroei-toonnaels, knoppe, bulte, skewe tone, liddorings en natuurlik bunions. Moet ook nie vergeet dat as jy sou val, jy nie net ‘n enkel swik of ‘n toontjie kraak nie, maar die kans is goed dat jy ook jou nek kan breek. Vrotpootjie is nie net ‘n naam wat by ‘n verkeerskonstabel pas nie en daar is heelwat navorsing wat dui dat kinders kaalvoet MOET loop, sodat hul voete reg kan ontwikkel. Ek weet egter een ding: as die skoen gemaklik pas en nie te hoog is nie,  koop een in elke kleur, ongeag die mode-voorskrifte.

 

Van toontjie na kroontjie… talle modegiere kan jou met jou lewe laat betaal. Neem nou maar haarsproei as voorbeeld. Die newe-effekte van haarsproei is onder andere blindheid, longemfiseem en ook sinusprobleme. Na slegs twee jaar van gereelde haarsproeigebruik, begin die smaakkliere op jou tong ook doodgaan. Dis nou ‘n duur prys om te betaal vir ‘n stywe kapsel en alhoewel die algemene verkope van haarsproei in die laaste vyf jaar met ongeveer 12% gedaal het, reken kenners dat die gevaar vir ons (en die osoon) nog lank nie verby is nie.

 

Die mode hou egter nie net fisiese gevare vir die mensdom in nie. En ek kies die woord mensDOM met oorleg, want as dit by mode kom, is min mense werklik slim. Hulle sal derduisende rande vir ‘n stel onderklere betaal, wat min mense in elk geval sien. En as te veel mense dit sien, is die tekens van een of ander sielkundige probleem in elk geval duidelik. Tieners lei aan depressie, sny hul polse stukkend en begin mekaar boelie op sosiale media, net omdat hulle nie die denim met die regte etiket op kan bekostig nie. Liewer dood as uit die mode is dalk meer as net ‘n uitdrukking. Ek ken ‘n vrou wat duur etikette van klere in die winkels af steel, net sodat sy dit aan haar eie klere tuis kan vaswerk. Modegekkigheid.

 

Ek dink nie elke modegeit en -gier is in swak smaak nie. Ek dink maar net modepoppe is dikwels net dit: poppe. Marionette wat saamspeel in die groter spel sonder smaak en opinie. Dalk lê die kuns van die mode in die balans om jou eie smaak met moderniste s’n te meng, sodat dit nie net jou bas nie, maar ook jou persoonlikheid pas. Die mode het te veel mense in die sak. Gatsak, broeksak, handsak. Jy moet die mode dra, nie toelaat dat die mode jou dra nie… of so iets. Ek sê eenvoudig: MODErasie, anders konsternasie.

 

 

Moordenaar

Hy het in die nag gekom. Niemand het hom verwag nie. Hy het ingekom by die kombuisvenster… die een wat niemand ooit mooi toemaak nie, want die knip is effens los. Die bure het niks vermoed nie. Die honde het nie geblaf nie. Die papegaai het nie met ‘n vloekwoord die koms van ‘n onwelkome besoeker aangekondig nie.

Hy het nie eerste na die kinders se kamers gegaan nie, maar besluit om die grootmense eerste te ontwapen.  Met yskoue hande het hy die pa versmoor en toe die ma bewusteloos geskop. Die kinders het wakker geword van die geraas en so het hulle ook in die slag gebly. Die moordtonele is nie vir sensitiewe kykers bedoel nie.

Hy het geen besitting gesteel nie. Geen gordyn is geskeur of mat is beskadig nie. Maar hy het die mense in die woning, leweloos gelaat. Die bure het kom kyk. Maar die moordenaar was slim, want hy het geweet dat nuuskierige agies eintlik maklike teikens is en hy het agter die kamerdeur vir hulle staan en wag. Hy moor, want dit is lekker. Hy moor, want dan kan hy trotse stories oor sy brutale krag aan sy vriende vertel. Hy kan die held wees wat die land gaan transformeer.

Ons moet onsself beskerm. Sekuriteitsmaatskappye en alarms is nie meer goed genoeg nie. Ons moet boeke begin lees oor innerlike krag en waagmoed. Om ‘n groot waghond buite, of ‘n klein keffertjie in die huis aan te hou, gaan jou nie red nie. Ons moet eerder leer om saam te staan. Die 9mm onder jou kopkussing moet dalk eerder met die Bybel, of die Koran, of daai boek oor positiewe denke vervang word. Want met elke moord, sterf ons drome, ons doelwitte en ons hoop. Met elke moord sterf ‘n glimlag, ‘n geloof en ‘n gesin. Hy moor ‘n selfbeeld en selfvertroue en selfwaarde en hy eis die toekoms op.

 

Die moordenaar se gesig is dalk nie bekend nie, maar ons almal ken hom. Hy bly op die tong van ouers, onderwysers, vriende en familie. Jy kan hom ook in die kreukel van jou oor vind… en sy naam is Twyfel.