Warm

Die laaste skooldag van ons akademiese jaar het aangebreek. En dis warm. Die kar verduidelik vir my, om 7:12 a.m. dat dit reeds 41 grade celsius is. Dit klink nie so rof nie, maar voeg hierby humiditeit van 75% en die prentjie lyk aansienlik anders. My sonbril wasem op as ek uit die kar klim. My swart langbroek is byna dadelik klam.

Kyk, in Suid-Afrika is Upington en Messina warm plekke. Maar hier is daar net ‘n geskeurde sifdeur tussen ons en die hel. Jy sweet nie, jy smelt. Jy kry nie kans om sweetkolle uit te slaan nie, want die sweet verdamp vinnig en plak dan aan elke kurwe, kreukel en krans op jou lyf vas. Om te loop om gou brood te gaan koop, is ‘n lewensgevaarlike missie. Jy sal papsopnat en gedehidreer op die teer neersak, in die teer insmelt en deel word van hierdie land soos jy nie beplan het nie. En dit na net 30 meter se stap in die son.

Die nag bring nie verligting nie. Die skaduwee is skynheilig. Die wind waai net die hitte dieper in jou wese in. Ek verstaan skielik die verwondering van verkoelers. Die Amerikaner, Willis Carrier, wat die moderne lugverkoeler ontwerp en gekommersialiseer het, word in my gebede gegroet en bedank. As gevolg van supersisteme op slim steroïedes, ervaar ons selde die hitte. Ek sit in ‘n langbroek en trui hier en tik, want die klaskamer is ‘n lieflike 21 grade. Ons kar is so slim, ek druk een knoppie op my sleutel en die kar skakel solank aan… as ek dus oor vyftien minute in my kar klim, is hy ysig koel en kan ek in kalmte huis toe ry, want teen twee uur vanmiddag sal die temperature gestyg het tot in die vyftigs. Ons moet egter die deurhandvatsel met ‘n vadoek oopmaak, want hy sal jou hand blase brand. Ons huis is konstant 22 grade. Ons slaap onder komberse. Die winkels is oases waar jy maklik ‘n serp kan dra. Maar buite gaan jy les opsê.

‘n Kollega het per ongeluk ‘n blikkie koeldrank in haar kar gelos. Hy het ontplof soos ‘n eier in ‘n mikrogolfoond. Die gemors en skade is nie vir kinderoë bedoel nie. Springmielies spring as jy hulle in jou motor los. Vetkryt en kerse vervorm tot nuttelose massa. Dis warm in die woestyn. Baie friekin warm. (En ja, ek kan aan baie meer beskrywende vloekwoorde dink, maar my ma gaan ook hier lees en ek wil nie hê sy moet haarself vir my skaam nie.)

Ek verstaan nie hoekom die plaaslike gemeenskap dan nog boonop lief is vir warm kos nie. Kerrie wat jou ingewande verpoeier en jou laat stof poep vir ‘n week is ‘n algemene dis. Speserye wat in maalvleis en brood gemeng word, om seker te maak jou tong se reseptore sal nooit weer dieselfde wees na een happie nie, word in massas verkoop. Jou kleintongetjie gee later moed op. Jou dikwerm trek spasma net met die reuk van ontbyt. Alles brand. Vra jy vir “geen brandsous” in ‘n restaurant, word jy met knoffel en heilige water besprinkel, want dit is erger as laster. Alles word met ekstra pepers, rissies en jalapeno’s bedien: eier, pizza, burgers, samoesas… selfs die kerrie (wat ‘n gat in ‘n plastiekbord sal brand) kry so ekstra skeppie brandgoed bo-op. Ek oordryf, ek weet. Daar is baie plekke waar jy kos sonder skop kan kry. Ek kla nie, ek noem dit maar net.

Die somer duur vyf maande. Julie en Augustus is die warmste. Dis hoekom ons nie hier is vir hierdie vakansie nie. Ons vlug. Ons gaan soek koelte in Afrika. Die internet is dalk nie so vinnig daar nie. Dis dalk nie so veilig nie. Maar dis winter. En al gaan ek weer hoendervleis ervaar en koue voete kry, weet ek my hart gaan vuurwarm klop: want oor minder as 12 ure klim ek op ‘n vliegtuig met verkoeling… en gaan ek na my mense toe.

Advertisements

Doel

Asemhaal. Kruip. Loop. Doekloos lewe. Self eet. Taal verstaan. Leer skryf. Hoërskool oorleef. Puisies druk. Leer wyn drink. Lees. Graad vang. Trou. Seks. Tuiste skep. Kinders baar. Geld maak. Kos kou. Reis. Beroep bou. Gee. Kla. Neem. Vet word. Gewig verloor. Vetter word. Kerm. Wonder. Bid. Dans. Mompel. Aggressie toon. Kou. Herkou. Lees. Grys ontdek. Oud word. Spyt wees. Doodgaan. Nie noodwendig in hierdie volgorde nie.

 

Wat is ons doel op aarde? Voor jy na die Bybel gryp, ‘n aanhaling op Google gaan soek of filosofiese redevoering wil aanwakker, vergun my tog die geleentheid om self te wonder. Sien, ons lewe in ‘n tyd waar almal altyd ‘n antwoord het vir elke vraag. Ons kry nie meer kans om net te wonder nie.

Wat werk vir kopluise / vloermoere / aangepakte stortkoppe / rooiwynvlekke / sinus / homoseksualiteit ? Jy hoef nie eers ‘n vraagteken te gebruik om honderde antwoorde uit te lok nie. Oulike idees vir resepte / partytjies / geskenke / wegbreeknaweke / karre / selfoonkeuses word skaars gesoek voor hulle gevind word. Want almal is deesdae kenners. Beterweterige raadgewers. En alhoewel ek geen probleem het met raad, opinies of antwoorde nie, het ek wel ‘n probleem met die feit dat OOP antwoorde nie meer ‘n opsie is nie. Is die ellips in ons bevraagtekening dood? Is alle vrae dan nou eindelik beantwoord? Ken ons werklik ten volle? Want as dit dit geval is, is ons gedoem.

 

‘n Ongelooflike wese het gister die vraag aan my gestel: Hoekom is ons hier? Ek het oorweeg om te antwoord soos die ma van ‘n kleuter: sommer. Dalk moes ek die dominee se roete volg: ons is deel van ‘n groter plan. Die onderwyser in my sou sê: hoekom dink JY is ons hier? As romantikus wou ek verklaar : om lief te hê. Daar is honderde moontlike opsies. Puik sinsnedes. Prag-aanhalings. Versies vir elke wonder. Maar die waarheid in my skree: ek weet nie.

Eintlik weet niemand. Is ons hier om te lag, te kla, te gee, ‘n verskil te maak? En dan, hoè en tot watter mate moet hierdie invloed/e strek? Het die persoon wat dan nie getroud is nie, kinderloos in die ouetehuis sit, maar die wêreld vol gereis het, dan nie sy doel bereik nie? En die vrou wat twaalf kinders stadig van die honger laat sterf omdat sy nie kos of voorbehoeding kan beskostig nie? Wat van die moordenaar? Wat van die slagoffer? Moet ek op ‘n seepboks klim om ‘n regering te oortuig dat my opinie belangriker is as die staat s’n? Moet ek gaan veg vir vryheid? En wie is waarlik vry? Hoe word ons invloed gemeet en aangepas om in hierdie wêreld se reëls, vereistes en lysies te voldoen? Is ons werklik deel van ‘n groter plan? Hoe? Hoekom? En die grootste vraag: is dit werklik die einde van jou bestaansreg om te sê: ek weet nie?

 

Dis die drie moeilikste woorde om te uiter. In die klas (of jy nou die kind of die onderwyser is), in ‘n rusie (of jy man of vrou is), in die kerk, in die winkel, op sosiale media… mense wil nie die erkenning maak nie, dus word allerhande wrede antwoorde op skerms gebraak. Soms is daar waarhede, soms ooglopende leuens, maar meeste van die tyd is dit net ‘n masker vir ‘ek weet nie’.

 

Wat is die doel van die lewe? Ek weet nie. Maar ek soek. Elke dag. Ek lees boeke, verslind idees, vorm opinies, verander hulle. Ek lag, huil, word kwaad. Ek het lief, ek haat, ek gee op, begin van voor af. Ek wonder, ek vra, ek kyk, ek luister, ek skryf. Dalk is ons doel nie op ‘n moerse bydrae tot die wêreld te maak nie. Dalk is ons doel bloot om te soek wat ons gelukkig maak en dan daarby te hou. Doen goed, doen sleg, leer uit jou foute, vergewe, vergeet, onthou… die een is nie reg en die ander verkeerd nie. Die lewe is ‘n soos ‘n vrou se handsak wat volgemaak en volgeprop word met idees, herhinneringe, gedagtes… en jy dra hom saam. Soms gooi jy uit, maar meeste van die tyd gaar jy op. Alles is nie ons keuse nie. Alles is nie in ons beheer nie. Die lewe is nie regverdig nie. Maar ek wil nie die antwoorde op my duisende vrae klaend en kermend soek nie. Ek wil sukkel en suksesvol wees. Ek wil ervaar, proe, voel, sien, hoor… Tot ek so dood is, dat ek nie meer kan nie.

Want wat is ons doel anders as om te soek? Ek weet nie…

Handsak

Ek maak een van die grootste foute van my lewe en dop my handsak op die eetkamertafel om. Die resultate van my impulsiewe aksie, skok my sò dat ek na die naaste boks sjokolade gryp. Dis sesuur op ‘n weeksoggend, selfs èk verstaan die gevaar van wyn op hierdie oomblik, so die seratonien in die sjokolade sal maar my senuwees moet streel.

Behalwe vir my beursie, parfuum, sonbril, maskara, lipstiffie, snesies, haarborsel, handeroom, hoofpynpille, sleutels en dagboek, het ek ook die volgende in my handsak weggesteek:

Dora the Explorer se hoed; ‘n leë toiletrolletjie (?); ses penne; twee potlode; ‘n uitveër, ‘n halwe pakkie grondboontjies; HDMI kabel; Spiderman se linkerbeen; die CAPS knoppie van ‘n rekenaar se sleutelbord; ‘n blikkie vol waspoeier (??); twee verskillende oorbelle; die ketel se waarborg; ‘n kwart oorblyfsel van ‘n ontbytstafie wat in Maart verval het; twee notaboekies vol idees; die bestelvorm vir die skoolfoto’s (moes reeds einde April ingehandig word – oeps); ‘n skoenveter (???); ‘n miniatuur plastiekpoedel; die kredietkaart wat ons gedink het weg is (gekanselleer en vervang); babapoeier; Strepsils; ‘n helse pak strokies; ses en ‘n halwe toffies; waterlose handwasmiddel (opgebruik); Barbie se pienk hakskoen; die nommer van die man wat die verkoeler moet kom skoonmaak; my gesonde verstand.

My oë gly van die eetkamertafel na my leë handsak, wat nou pap en nutteloos lê en sug van tevredenheid. Ek wil net weet hoe op dees aarde AL die goeters IN die sak gepas het? My handsak is nie enorm nie. Ek het wel begin swaar dra (al aan die een kant), maar nou wonder ek HOE? Hoe gebeur die versameling van soveel gemors? En wanneer? Wanneer het alles in een sak beland? Wat sal die mense sê as ek iets moet oorkom en iemand moet my handsak se inhoud sien? Wie gaan verantwoordelikheid neem van die chaos?

 

Ek begin sorteer. Gooi weg. Pak in hopies. Ek loer na die strokies. Wyn by die Sheraton. Wyn by die Southern Sun. Wyn by Rotana. Wyn by Fairway. Eisj. Ek drink baie wyn. Daar is darem ook bewyse dat ek groente en vrugte gekoop het. Ek gooi dadelik die bewys weg oor hoeveel ek vir my skoene betaal het. Speelgoed vir die kinders. Nog kos. Nog skoene. Nog wyn. Orde word geskep. Asem word gehaal. Moed word gelig.

My handsak is nie meer ‘n modestelling nie, maar ‘n noodhulptassie. In geval van enige kinder-, manlike-, vroulike-, skoolhou- of sommer net menslike noodgeval, is die kanse goed dat die oplossing in my handsak gevind sal kan word. Alles van ‘n nat lappie vir taai handjies, tot Vicks vir ‘n toe neus, tot ‘n pleister vir ‘n stukkende knieg… my handsak is my eerste linie van verdediging teen die aanslae van die lewe. En enige man wat slimmer is as ‘n malvalekker, sal weet: ‘n vrou se handsak is gevaarliker as ‘n visgereg wat ‘n week in die son staan en bak het: vat aan hom en jy gaan skyt!

Jy druk nie jou hand sommer net in ‘n handsak nie. Jy grou nie onskuldig in ‘n handsak nie. Jy loop draaie om daai ding. Selfs al lui ‘n selfoon uit die dieptes van daardie see, maak jy nie die bek van die draak oop nie. Want sien, net die eienaar van die handsak weet wat daarbinne aangaan. My kinders word gewaarsku teen vreemdelinge, te veel suiker, verkeerde televisieprogramme… en my handsak.

 

My handsak is so verlengstukkie van my gedagtes. Dis deurmekaar. Dis ‘n mengelmoes van sentiment en noodsaaklikheid. ‘n Vermenging van mooi en prakties. En elke vrou sal weet, die inhoud van jou handsak spreek  boekdele. Die hoofstukke van jou lewe, word in jou handsak saamgedra. En wat ‘n storie vertel hy nie!

 

Kopluise

Om jou kind se huiswerkboek oop te maak en die ‘kopluise-briefie’ te lees, gee my nie meer hartkloppings nie. Ek trek skaars my skouers op. Ek hardloop nie histeries apteek toe en spandeer helfte van my salaris op spuite en roompies en sjampoe nie. Inteendeel.

Lehja was vier jaar oud toe ons die eerste keer kennis gemaak het met kopluise. Die duurste sjampoe, room, kammetjies en spuitmiddel is aangeskaf en ek het geduldig in die son gaan sit om my meisiekind se kop skoon te kam. Ek het gegril toe ek die krioelende kalante van naderby beskou. So gewapen met ‘n Bybelversie van geduld (en ‘n glasie wyn), het ek die taak die volgende dag weer aangepak. Die instruksies sê mens moet dit ten minste drie keer doen. Stukkie vir stukkie (en slukkie vir slukkie) is sy dus teen dag vier terug skool toe… met ‘n seer kopvel, maar luisloos.

Skaars drie weke later bel die juffrou weer: die goggas is terug en vir baba is hulle nie bang nie. Ons herhaal die proses. Maar hierdie keer gebruik ons ook Coca-Cola, Listerine, nog wyn (vir my, nie vir die kopluise nie), koeksoda, asyn en ek los sommer die spuit oornag in haar hare. Boererate teen kopluise.

Gooi brandewyn op haar kop, laat weet iemand. Dan ‘n koppie sand. Die luise word dronk en gooi mekaar dan met klippe dood. Snaaks hoe ek nie vir die simpel grap kon lag nie. Kopluise is nie snaaks nie. Wel, toè was dit nog nie.

En so het die oorlog tussen ons en die luise eintlik nooit opgehou nie. Wapenstilstand is altyd tydelik geroep, maar seker ook net om my meisiekind se rou kopvel te laat genees voor die volgende plaag van pestilensies oorneem.

Die probleem lê hier: ALLE mammas in die klas moet doen wat ek gedoen het… en nie almal het nie. Dit vat waarlik net een kleuterkopluis om die luisepidemie van voor af te ontsteek. In ‘n klas van 25 kleuters, hoef net EEN mamma lui/moeg/nie lus/oorwerk te wees, om te verseker dat kopluise nie uitgeroei word nie. Ek oordeel nie, ek sê maar net.

 

Toe trek ons weg van die kopluise af. 6500 km ver weg. En raai wat? Hier is OOK kopluise. En sò sit ek met TWEE kinderkoppies vol kopluise. Petrus weier dat ons naby sy hare kom. “Dis my luise! Los my luise!” Lehja raak tranerig, want sy onthou die brandende kopvel van ‘n jaar gelede. Dis toe dat ek die wondermiddel ontdek…

My eie kop kriewel nie meer nie. Die beddegoed ruik weer skoon en vars (en effens na ontsmettingsmiddel). My kinders is luisvry. Vir nou.

Tot ons weer ontmoet, staan my wapen slaggereed in die kombuis: ‘n vol bottel kameelsjampoe.

 

Ammunisie

Sonder ammunisie is ‘n jagter net ‘n man. Sonder ammunisie is ‘n geweer net dekor. Sonder ammunisie is ‘n pistool net dooie gewig aan jou heup. Sonder ammunisie is soldate net seuns in lelike klere. Kortom: ammunisie maak die oorlog, die doodskoot, die beskerming, die reëls.

Feite voorkom foute. Enige jagter wat sy sout werd is, sal jou mooi kan verduidelik hoekom ‘n 70 grein patroon nie voldoende is om ‘n leeu te dood nie. ‘n Geweer is nie ‘n minibussie in Afrika nie. Jy kan nie  300 grein in ‘n .22 forseer nie. En as jy nie sleg tweede wil kom as jy armdruk teen ‘n olifant nie, moet jy liefs nie kleiner as 450 grein in jou loop aanhou as jy die outjie in die oë staar nie.

Norma, Winchester, PMP… maak die naam van die ammunisie saak? Wel, dit hang af wie jy vra. Vra jy die Mevrou in Waterkloof of Woolworths beter is as Checkers en die antwoord gaan beslis aansienlik verskil as jy dieselfde vraag vir die antie by die Daspoort-tonnel vra. Persepsie kan ‘n gevaarlike ding wees as mens oor ammunisie begin gesels.

Ballistiese beredenering klink dikwels vir my net na brabbel, maar as Shakespeare iets aan die jagter sou kon vra, vermoed ek dat hy sou uiter: “Om self te herlaai, of nie self te herlaai nie… dit is die vraag”. Dit raak ‘n tegniese spel van meet, pas, skiet, herlaai, weer weeg, meet, skiet, herlaai… En die praatjies wat manne om die braaivleisvure het oor hierdie onderwerp, het my al meermale na wyn en versugting gedryf.

As my man na ons dogtertjie verwys as ‘n ‘regte ou patroontjie’, wonder ek dikwels of sy werklik oulik vir hom is en of hy sommer net lus raak om iets te skiet. My redenasies oor jag bereik dikwels ‘n dooie punt (woordspel opsetlik), want Manlief se praatjies het dikwels nie groot lading nie. Daar steek ook geen greintjie in die waarheid dat jag ‘n maklike of goedkoop sport is nie. Dit vat deursettingsvermoë en spaarsamigheid. Maar sonder die jagter is ons wêreld nes ‘n geweer sonder ammunisie: sinneloos. Die jagter bewaar die wild. Die jagter beskerm die natuur. Die jagter voorsien.

Jagters is Suid-Afrika se ammunisie teen ‘n dooie ekonomie. Jagters is ons geheime wapen teen ‘n sterwende toerisme-bedryf. Met geweer in die hand, voetval in die sand, oog op die rand… is jagters ons behoud in Suiderland.

Beenhare

Vandag is diè dag. Ek kan dit nie langer uitstel nie: ek mòèt my beenhare skeer.

Ek is geseënd dat ek nie so baie beenhare soos ‘n poedel het nie. Hulle is ook nie swart, dik, grof of krullerig soos ‘n sebra of kameel nie. Maar die sewentig fyn haartjies om my enkels kan sekerlik nou al gevleg word. Daar sit so twee dosyn wulpse fynbos om my knieë, wat soos diamante skitter in direkte sonlig. Omdat ek nie ‘n vampier is nie, is dit nie romanties nie. Met ‘n klein bietjie verbeelding moet ek ‘n snoeiskêr nadertrek om die vier hare op my groottoon te tem. En alhoewel my kuite relatief haarloos is, sal dit beslis nie die kosmos skade berokken as ek tog maar ‘n skeermes se lem daaroor gly nie.

Terwyl my man, nes baie van die ander Adams op aarde, harig en trots rondloop, moet ons skeer, knip, waks, verroom… enigiets om tog net satyngladde maermerries te kan hê. En ja, soms vat ons kortpaaie. As jy ‘n driekwartbroek beplan vir more, skeer jy net tot daar waar die broek eindig. As jy dus ‘n meisie in die middel van die somer met ‘n langbroek sien loop, kan jy maar weet: sy is lui.

As ek die Ierse meisies met hul spierwit velle en stokkiesbene aanskou, is ek dankbaar vir my blas vel. As ek die Britse meisies met hul kierietjiebene, knopknieë en ingroei-kuite sien, neem ek myself voor om nie weer te kla oor my Boere-bobene nie. Al lyk dit asof ek ‘n Boeing aan die brand kan skop, is ek bly dat ek kuite het. Die Skotse meisies is growwer en groter, maar nie minder bleek nie. Met hul byna manlike bene, wat nie altyd ferm is nie, en hul enkels wat in toonnaels eindig, laat hul bene my dalk gril, maar tog ook dankbaar afkyk na my gesonde bloedsomloop. Ons Indiese buurvrou het afwesige enkels, die Deense vrou by die bakkery se bene is liniaalvormig, terwyl dit lyk asof die Duitse apteker in potplante geplant is… soos ‘n piramiede verrys sy uit haar voete.

 

Ek motiveer myself al heeldag. Moet ek eers in die bad lê en week? Moet ek sommer die skeermes in die stort aandurf? Ek visualiseer my gladde binnebeen. Ek probeer om die “mmm” te hoor wat my man uiter as hy oor my blink kuit streel. In my geestesoog sien ek hoe ek uit ‘n hele hoop hare opstyg: die seepgladde godin.

Ek sal bid vir geen ingroeihaartjies nie. Ek sal deeglik werk sodat ek nie ‘n vloekwoord hoef te uiter as ek die een gemiste haar langs my patella sien nie. Ek sal versigtig die lem hanteer, sodat geen bloedbad ontaard in die stort nie. En ek sal my kortste slaapbroek aantrek sodat Manlief my harde werk kan waardeer (en hopelik komplimenteer).

Die tyd het aangebreek. Ek haal ‘n spliknuwe lemmetjie uit die pakkie uit. Met behulp van skeerroom sal ek die taak aanpak. Ek sal my bene die behandeling gee wat hulle verdien. Dan hoef ek nie more skaam-skaam in my rompie te loop nie. Die wêreld moet sien dat ek mooi na my bene kyk, want dit is hulle wat my dra. En ek dra nie gister se bagasie saam nie. Ek skeer sommer die simboliese beenhare ook af. Ek raak ontslae van alle gemors wat aan my klou en my gorilla-agtig laat lyk. Ek spoel die fyn bewysstukke van groeisels in die drein af, sodat hulle my nie more in die skadu’s hou nie. Ek wil in die sonlig lewe. Lig, glad en vry van alle moontlike knope en koeke.

Sewe

Sewe is nogal ‘n belangrike getal. ‘n Priemgetal.

‘n Week het sewe dae. Ons moet mekaar sewentig maal sewe keer vergewe. Sneeuwitjie het sewe dwergies gehad. Daar is sewe wonders in die wêreld. Die 7-reeks is een van BMW se topverkopers. Alle Boeings se name eindig op die nommer 7. 7de Laan is waar dinge in Johannesburg gebeur. As jy werklik gelukkig is, bevind jy jouself in die sewende hemel. Daar is sewe kleure in die reënboog, sewe oseane om sewe kontinente. Ons drink 7-Up wat ons by 7-Eleven gekoop het.

Se7en is 1995 fliek met Brad Pitt. Later sou dieselfde akteur ook sewe jaar in Tibet spandeer.  James Bond is Agent 007. In 1954 het die musikale film met sewe bruide vir sewe broers verskyn. Marilyn Monroe het bekendheid verwerf in die film ‘The Seven year Itch’. Willem Wikkelspies het ‘n teorie oor die 7 fases van manwees beskryf. JK Rowling het in die Harry Potter boeke verklaar dat sewe die meeste towerkrag inhou en Quidditch-spanne bevat sewe lede elk. Enid Blyton se boekreeks is ook die Secret Seven.

Rugby Sevens is nie net ‘n plek in Dubai nie, maar nou ook ‘n Olimpiese sport.  ‘n Landloopspan bestaan uit sewe lede. Twee broodjies is in die Bybel vermeerder tot sewe mandjies vol surplus. In die hele Bybel word daar sewe keer van selfmoord gepraat. In Openbaring word daar ook na die sewe seëls verwys. Hindu’s leer ons van sewe Chakra’s. Volgens Islam is daar sewe lae in die kors van die aarde. Jode vier ‘n bruilof oor sewe dae, rou oor die afsterwe van ‘n geliefde vir sewe nagte en hulle brand altyd sewe kersies. Buddha het sewe treë met sy geboorte gegee.

Meeste soogdiere het sewe servikale vertebrae en sonbesies het sewe kolletjies. 7 is neutraal op die skaal tussen alkali en sure. Die SI sisteem het sewe basiese eenhede en daar is sewe horisontale rye in die periodieke tabel. Daar is sewe basiese musieknote. Daar is sewe letters in die Romeinse getallestelsel. Stikstof se atomiese nommer is sewe. Die teenoorgestelde kante op ‘n dobbelsteen, is altyd gelyk aan sewe. Sewe is die gelukkigste getal in die wêreld. Roy Sullivan is sewe keer deur weerlig getref en het al sewe keer oorleef.

Hoekom het ek ‘n relaas oor SEWE? Want oor sewe dae kan ek:

  1. my ma’s omhels
  2. my peetkind soen
  3. saam met my broer ‘n bier drink
  4. saam my sus slaai maak
  5. Cream Soda drink
  6. woorde soos ‘lekker’; ‘braai’; ‘ja-nee’ en ‘eisj’ gebruik
  7. sien hoe my kinders hul vaderland aanskou

Oor sewe dae gaan ons vir sewe weke in Suid-Afrika kuier. Die verlange is groot, die opwinding groter en die berusting die grootste:  nog net sewe dae…