Beenhare

Vandag is diè dag. Ek kan dit nie langer uitstel nie: ek mòèt my beenhare skeer.

Ek is geseënd dat ek nie so baie beenhare soos ‘n poedel het nie. Hulle is ook nie swart, dik, grof of krullerig soos ‘n sebra of kameel nie. Maar die sewentig fyn haartjies om my enkels kan sekerlik nou al gevleg word. Daar sit so twee dosyn wulpse fynbos om my knieë, wat soos diamante skitter in direkte sonlig. Omdat ek nie ‘n vampier is nie, is dit nie romanties nie. Met ‘n klein bietjie verbeelding moet ek ‘n snoeiskêr nadertrek om die vier hare op my groottoon te tem. En alhoewel my kuite relatief haarloos is, sal dit beslis nie die kosmos skade berokken as ek tog maar ‘n skeermes se lem daaroor gly nie.

Terwyl my man, nes baie van die ander Adams op aarde, harig en trots rondloop, moet ons skeer, knip, waks, verroom… enigiets om tog net satyngladde maermerries te kan hê. En ja, soms vat ons kortpaaie. As jy ‘n driekwartbroek beplan vir more, skeer jy net tot daar waar die broek eindig. As jy dus ‘n meisie in die middel van die somer met ‘n langbroek sien loop, kan jy maar weet: sy is lui.

As ek die Ierse meisies met hul spierwit velle en stokkiesbene aanskou, is ek dankbaar vir my blas vel. As ek die Britse meisies met hul kierietjiebene, knopknieë en ingroei-kuite sien, neem ek myself voor om nie weer te kla oor my Boere-bobene nie. Al lyk dit asof ek ‘n Boeing aan die brand kan skop, is ek bly dat ek kuite het. Die Skotse meisies is growwer en groter, maar nie minder bleek nie. Met hul byna manlike bene, wat nie altyd ferm is nie, en hul enkels wat in toonnaels eindig, laat hul bene my dalk gril, maar tog ook dankbaar afkyk na my gesonde bloedsomloop. Ons Indiese buurvrou het afwesige enkels, die Deense vrou by die bakkery se bene is liniaalvormig, terwyl dit lyk asof die Duitse apteker in potplante geplant is… soos ‘n piramiede verrys sy uit haar voete.

 

Ek motiveer myself al heeldag. Moet ek eers in die bad lê en week? Moet ek sommer die skeermes in die stort aandurf? Ek visualiseer my gladde binnebeen. Ek probeer om die “mmm” te hoor wat my man uiter as hy oor my blink kuit streel. In my geestesoog sien ek hoe ek uit ‘n hele hoop hare opstyg: die seepgladde godin.

Ek sal bid vir geen ingroeihaartjies nie. Ek sal deeglik werk sodat ek nie ‘n vloekwoord hoef te uiter as ek die een gemiste haar langs my patella sien nie. Ek sal versigtig die lem hanteer, sodat geen bloedbad ontaard in die stort nie. En ek sal my kortste slaapbroek aantrek sodat Manlief my harde werk kan waardeer (en hopelik komplimenteer).

Die tyd het aangebreek. Ek haal ‘n spliknuwe lemmetjie uit die pakkie uit. Met behulp van skeerroom sal ek die taak aanpak. Ek sal my bene die behandeling gee wat hulle verdien. Dan hoef ek nie more skaam-skaam in my rompie te loop nie. Die wêreld moet sien dat ek mooi na my bene kyk, want dit is hulle wat my dra. En ek dra nie gister se bagasie saam nie. Ek skeer sommer die simboliese beenhare ook af. Ek raak ontslae van alle gemors wat aan my klou en my gorilla-agtig laat lyk. Ek spoel die fyn bewysstukke van groeisels in die drein af, sodat hulle my nie more in die skadu’s hou nie. Ek wil in die sonlig lewe. Lig, glad en vry van alle moontlike knope en koeke.

Advertisements

2 thoughts on “Beenhare

  1. As die skeermes nie in sy houerjie met 50% ontmettingsmiddel staan nie, as die nat skeerwas in die kas staan as die skeerseep vol haar-reste is. Dan het vroulief haar beenhare geskeer!

    2016-06-25 16:53 GMT+02:00 Slaai Sonder Blare :

    > Chantelle posted: “Terwyl my man, nes baie van die ander Adams op aarde, > harig en trots rondloop, moet ons skeer, waks, verroom… enigiets om tog > net satyngladde kuite te kan hê.Vandag is diè dag. Ek kan dit nie langer > uitstel nie: ek mòèt my beenhare skeer. Ek is geseënd” >

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s