Kopluise

Om jou kind se huiswerkboek oop te maak en die ‘kopluise-briefie’ te lees, gee my nie meer hartkloppings nie. Ek trek skaars my skouers op. Ek hardloop nie histeries apteek toe en spandeer helfte van my salaris op spuite en roompies en sjampoe nie. Inteendeel.

Lehja was vier jaar oud toe ons die eerste keer kennis gemaak het met kopluise. Die duurste sjampoe, room, kammetjies en spuitmiddel is aangeskaf en ek het geduldig in die son gaan sit om my meisiekind se kop skoon te kam. Ek het gegril toe ek die krioelende kalante van naderby beskou. So gewapen met ‘n Bybelversie van geduld (en ‘n glasie wyn), het ek die taak die volgende dag weer aangepak. Die instruksies sê mens moet dit ten minste drie keer doen. Stukkie vir stukkie (en slukkie vir slukkie) is sy dus teen dag vier terug skool toe… met ‘n seer kopvel, maar luisloos.

Skaars drie weke later bel die juffrou weer: die goggas is terug en vir baba is hulle nie bang nie. Ons herhaal die proses. Maar hierdie keer gebruik ons ook Coca-Cola, Listerine, nog wyn (vir my, nie vir die kopluise nie), koeksoda, asyn en ek los sommer die spuit oornag in haar hare. Boererate teen kopluise.

Gooi brandewyn op haar kop, laat weet iemand. Dan ‘n koppie sand. Die luise word dronk en gooi mekaar dan met klippe dood. Snaaks hoe ek nie vir die simpel grap kon lag nie. Kopluise is nie snaaks nie. Wel, toè was dit nog nie.

En so het die oorlog tussen ons en die luise eintlik nooit opgehou nie. Wapenstilstand is altyd tydelik geroep, maar seker ook net om my meisiekind se rou kopvel te laat genees voor die volgende plaag van pestilensies oorneem.

Die probleem lê hier: ALLE mammas in die klas moet doen wat ek gedoen het… en nie almal het nie. Dit vat waarlik net een kleuterkopluis om die luisepidemie van voor af te ontsteek. In ‘n klas van 25 kleuters, hoef net EEN mamma lui/moeg/nie lus/oorwerk te wees, om te verseker dat kopluise nie uitgeroei word nie. Ek oordeel nie, ek sê maar net.

 

Toe trek ons weg van die kopluise af. 6500 km ver weg. En raai wat? Hier is OOK kopluise. En sò sit ek met TWEE kinderkoppies vol kopluise. Petrus weier dat ons naby sy hare kom. “Dis my luise! Los my luise!” Lehja raak tranerig, want sy onthou die brandende kopvel van ‘n jaar gelede. Dis toe dat ek die wondermiddel ontdek…

My eie kop kriewel nie meer nie. Die beddegoed ruik weer skoon en vars (en effens na ontsmettingsmiddel). My kinders is luisvry. Vir nou.

Tot ons weer ontmoet, staan my wapen slaggereed in die kombuis: ‘n vol bottel kameelsjampoe.

 

Advertisements

6 thoughts on “Kopluise

  1. Nou … is dit nou sjampoe wat vir kamele gebruik word om vel-irritasies teë te werk, sjampoe wat van kameelmelk gemaak word of sjampoe wat van kameel-urine gemaak word? Ek lees dat laasgenoemde baie goed is vir skilfers, vandaar my belangstelling. Soos jy kan agterkom, was ek op google, want ek moet ruiterlik erken dat ek nie geweet het daar is iets soos kameel-sjampoe nie.

    • Die soort wat vir kamele se velirritasies gebruik word. Ek het dit by die Camel Souq (Kameelmark) in Abu Dhabi gekoop. Dit ruik nie lekker nie, maar dit werk! Ek vermoed perdeshampoe sal dieselfde effek hê. Ek het eerlikwaar nie die kameelpiepie-soort gesien nie. Ek weet kameelmelk word graag gebruik, veral in seep.

  2. O ja ek ken daai “battle”. Dan wil ek die ander mammas sommer klap want ek doen dan iets daaraan maar nie hulle nie. Gelukkig hou daai goed op as hulle hoerskool toe gaan. Om een of ander rede los luise die tieners uit – ek dink hulle versmoor die arme goed met gel en haarsprei. Maar vir nou sit ek nog so vier maal per jaar met die Laatlam. Gelukkig het sy fyn hare.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s