Handsak

Ek maak een van die grootste foute van my lewe en dop my handsak op die eetkamertafel om. Die resultate van my impulsiewe aksie, skok my sò dat ek na die naaste boks sjokolade gryp. Dis sesuur op ‘n weeksoggend, selfs èk verstaan die gevaar van wyn op hierdie oomblik, so die seratonien in die sjokolade sal maar my senuwees moet streel.

Behalwe vir my beursie, parfuum, sonbril, maskara, lipstiffie, snesies, haarborsel, handeroom, hoofpynpille, sleutels en dagboek, het ek ook die volgende in my handsak weggesteek:

Dora the Explorer se hoed; ‘n leë toiletrolletjie (?); ses penne; twee potlode; ‘n uitveër, ‘n halwe pakkie grondboontjies; HDMI kabel; Spiderman se linkerbeen; die CAPS knoppie van ‘n rekenaar se sleutelbord; ‘n blikkie vol waspoeier (??); twee verskillende oorbelle; die ketel se waarborg; ‘n kwart oorblyfsel van ‘n ontbytstafie wat in Maart verval het; twee notaboekies vol idees; die bestelvorm vir die skoolfoto’s (moes reeds einde April ingehandig word – oeps); ‘n skoenveter (???); ‘n miniatuur plastiekpoedel; die kredietkaart wat ons gedink het weg is (gekanselleer en vervang); babapoeier; Strepsils; ‘n helse pak strokies; ses en ‘n halwe toffies; waterlose handwasmiddel (opgebruik); Barbie se pienk hakskoen; die nommer van die man wat die verkoeler moet kom skoonmaak; my gesonde verstand.

My oë gly van die eetkamertafel na my leë handsak, wat nou pap en nutteloos lê en sug van tevredenheid. Ek wil net weet hoe op dees aarde AL die goeters IN die sak gepas het? My handsak is nie enorm nie. Ek het wel begin swaar dra (al aan die een kant), maar nou wonder ek HOE? Hoe gebeur die versameling van soveel gemors? En wanneer? Wanneer het alles in een sak beland? Wat sal die mense sê as ek iets moet oorkom en iemand moet my handsak se inhoud sien? Wie gaan verantwoordelikheid neem van die chaos?

 

Ek begin sorteer. Gooi weg. Pak in hopies. Ek loer na die strokies. Wyn by die Sheraton. Wyn by die Southern Sun. Wyn by Rotana. Wyn by Fairway. Eisj. Ek drink baie wyn. Daar is darem ook bewyse dat ek groente en vrugte gekoop het. Ek gooi dadelik die bewys weg oor hoeveel ek vir my skoene betaal het. Speelgoed vir die kinders. Nog kos. Nog skoene. Nog wyn. Orde word geskep. Asem word gehaal. Moed word gelig.

My handsak is nie meer ‘n modestelling nie, maar ‘n noodhulptassie. In geval van enige kinder-, manlike-, vroulike-, skoolhou- of sommer net menslike noodgeval, is die kanse goed dat die oplossing in my handsak gevind sal kan word. Alles van ‘n nat lappie vir taai handjies, tot Vicks vir ‘n toe neus, tot ‘n pleister vir ‘n stukkende knieg… my handsak is my eerste linie van verdediging teen die aanslae van die lewe. En enige man wat slimmer is as ‘n malvalekker, sal weet: ‘n vrou se handsak is gevaarliker as ‘n visgereg wat ‘n week in die son staan en bak het: vat aan hom en jy gaan skyt!

Jy druk nie jou hand sommer net in ‘n handsak nie. Jy grou nie onskuldig in ‘n handsak nie. Jy loop draaie om daai ding. Selfs al lui ‘n selfoon uit die dieptes van daardie see, maak jy nie die bek van die draak oop nie. Want sien, net die eienaar van die handsak weet wat daarbinne aangaan. My kinders word gewaarsku teen vreemdelinge, te veel suiker, verkeerde televisieprogramme… en my handsak.

 

My handsak is so verlengstukkie van my gedagtes. Dis deurmekaar. Dis ‘n mengelmoes van sentiment en noodsaaklikheid. ‘n Vermenging van mooi en prakties. En elke vrou sal weet, die inhoud van jou handsak spreek  boekdele. Die hoofstukke van jou lewe, word in jou handsak saamgedra. En wat ‘n storie vertel hy nie!

 

Advertisements

5 thoughts on “Handsak

  1. Haha, ek dog dis net ek wat elke dag met dieselfde handsak rondloop, te lui om uit te pak en oor te pak. As my handsak opraak, koop ek ‘n nuwe een en dan begin die groot oorpak. In my geval is my dogter se besittings ook in my handsak, want ons gaan altyd saam uit en sy sien nie die nodigheid om ‘n tweede sak of beursie “saam te sleep” nie.

  2. Aaaahaha! Ek ken die pyn! Ek verstaan nie die mense wat so lief is vir handsakke nie. Dan moet jy elke keer alles uit die ou handsak haal en in die nuwe ene sit. Ek dra hom moer-toe en AS ek ‘n nuwe ene koop en ek alles moet oorpak dan sak ek my kop net in skaamte!

  3. ‘n Vrou se handsak is die mees alledaagse bewys dat die vierde dimensie wel bestaan. Buitemate 20*15*5 cm, Mate van inhoud uitgepak 30*20*10!

    Die mees onverklaarbare een is die vergeelde kaartjie gedateer 1981 wat aan die ruiker vir haar verjaarsdag vas was???

    As een van die dames vir my die beginsel kan verduidelik kan ek baie geld maak met die stoor van atoomkrag afval!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s