Tydmors

Ek hou nie van rilflieks nie. Ek hou nie van blare in my slaai nie. Ek hou nie van vloermoere, slegte wyn of spelfoute nie. Ek hou nie van Kersvader, ysskaats, ontronding of Arabiese koffie nie. En ek het altyd gedink ek hou nie van tydmors nie. Tot vandag…

Vandag het ek 24 uur ‘gemors’. Ek het laat geslaap, twee hoofpynpille gedrink, saam met die kinders stories gelees, blokkies gebou, my eie boek gelees, pizza bestel, NIE die kombuis skoongemaak nie, ‘n paar episodes Black List gekyk, doelloos deur die huis geloop en.. wel, nou is dit al amper aand en ek het werklik nie iets noemenswaardig gedoen nie. Ek kan met trots verklaar dat ek eintlik vandag ‘n suurstofdief was. Ek het nie enigsens ‘n positiewe bydrae tot die samelewing gemaak nie. En dit was lekkerrrrrrr!

Ek lees allerhande skuldeisers raak:

Leef elke dag voluit! Ek het voluit niks gedoen nie.

Carpe Diem! Ek het niks ‘ge-carpe’ nie.

Benut elke geleentheid! Al wat benut is vandag, is die bank toe ek daarop gedut het.

Tyd is kosbaar! Mmmm. Alhoewel dit sekerlik waar is, was vandag nie vir my minder belangrik net omdat ek nie ‘n lysie van doendinge afgehandel het nie. Vandag was vir my kosbaar. Want daar is stilte in my gemoed en ek het vrede met myself.

Ek gaan nou ‘n glasie (goeie) rooiwyn skink en die wêreld se probleme saam met my sielsgenoot oplos. Ek gaan nie my sweetpakbroek verruil vir ‘n snyerspakkie nie en die knip wat my hare tem gaan ek nie inruil vir twee ure voor die spieël nie. Aan die einde van my tydmors-dag, sien ek ook die lig. Tyd mag maar (SOMS) gemors word.

 

 

Advertisements

Vloermoer

Daar was geen sprake van rus in groen weivelde nie.
Ons was nie by waters waar daar vrede is nie.
Ek kort nuwe krag.

Ek het al baie van die ‘terrible two’s’ gehoor. Ek weet selfs van ouers wat met hul driejariges se vloermoere sukkel. Maar my seun is vier. VIER! En vandag het hy, vir die derde keer vanjaar, ‘n vloermoer gegooi wat my laat oorweeg het om hom kop onderstebo in die toilet te druk en dan die ‘sneller’ te trek.

(Voor enigeen die maatskaplike werker bel, laat ek net eers noem dat hy nou rustig lê en slaap in sy kamer… sonder enige bloed wat gevloei of fisiese skade wat berokken is.)

Hy het sy voete gestamp asof hy ‘n wildebees is. Hy het gegil soos ‘n straatvrou wie se geld gesteel is. Hy het sy vuiste geslaan teen tafels, stoele omgestamp, blokkies gegooi dat dit lyk soos ‘n Lego-slagting… en dit omdat ek die nare heks is wat weier dat hy 11 uur in die oggend vyf stafies sjokolade kan eet.

Vanoggend was geen genade aan my kant nie. Sy vloermoer het vir ‘n volle 56 minute geduur. In die skoolgebou. Ten aanskoue van kinders, kollegas, skoonmakers en my studente. Ek het gebid vir ‘n aardbewing. Ek het gehoop ‘n vulkaan ontplof en slurp my op. Ek het myself geknyp om seker te maak dit is nie net ‘n nagmerrie nie.

Ek het diep asemteue geneem en gedink aan al die Baba en Kleuter artikels wat ek al gelees het. Boeke oor dissipline en vloermoere en hoe om jou kleuter te hanteer. Ek het probeer om sag en rustig met hom te praat. Ek het probeer om hom op te tel en na ‘n meer privaat area te neem. Ek het probeer raas. Probeer ferm tog liefdevol wees. Probeer om hom te ignoreer. Ek het probeer om my nie te steur aan die ander mense wat staar nie. Ek het probeer om nie soos ‘n volslae mislukking te voel nie. Ek het probeer dat my bloed nie kook, terwyl ek glimlaggend na die mense kyk nie. Ek het probeer…

Sy rooi gesig, hees stem en vlak asemhaling hy my hart laat spasma. Van seerkry. Vir sy part.

Hoekom? Was die sjokolade regtig die oorsaak? Is dit nie dalk aanpassingsprobleme nie? Miskien moet ek ‘n arbeidsterapeut, speelterapeut of sielkundige nader? Miskien verlang hy ook na sy Ouma en Oupa? Miskien is hy moeg? Ek weet net een ding… en dit is dat ek nie weet nie. Ek dink ook nie ek wil nie. Sy tirade van 56 minute het my emosioneel uitgeput. Ek het my verstrykdatum bereik. Die melk is suur, die kaas gemuf en die eiers vrot.

Ek weet ek is nie alleen in die ouerskapstryd gewikkel nie. Ek weet daar is ander mammas wat ook al soos ek gevoel het… en dit is in hierdie gedagte waar ek my aanvaarding en vrede vind. Die feit dat dit nie die eerste, enigste, laaste vloermoer was nie, is my waters van rus.

My liewe seun, ek is jammer jou emosies is nog onverstaanbaar. Ek het dertig jaar meer ervaring as jy en ek verstaan alles steeds nie, so ek vergewe jou. Ek hoop dat jy my eendag sal vergewe oor ek nie vyf sjokolades vir jou wou gee nie. Al wat ek eintlik vir jou kan skryf is dit:

Selfs al gaan jy deur donker dieptes,
hoef jy nie bang te wees nie,
want ek is hier vir jou
in my hart is jy veilig. 
Ek sal jou altyd aan my tafel laat aansit,
terwyl ons teëstanders toekyk.
Ek sal jou ontvang soos ‘n eregas,
en jou oorlaai met hartlikheid.
My goedheid en liefde sal jou lewe lank by jou bly
en jy sal by my welkom wees
tot in lengte van dae.

#BrandSuidAfrika

As ek met afgryse staar na die foto’s wat hul weg tot in my oog vind vandag, ontbreek my eie woorde, dus wend ek my na die kenners. Hulle weet dalk van beter.

Psalm 121 deur die Griekwa: “Ek slat my twee oge op; my kyk vang die verste kop. Wavandaan sal ons hulp kom?”

Carike Keuzenkamp is uitgedien: “Dis ‘n land van kleure en klank. Dis ‘n land van oorvloed en dank.”

DF Malan, 1948: “Die Nasionale Party glo in apartheid en rassevrede.”

Kurt Darren se tyd is verby: “Dis hemel op Tafelberg. Daar’s ‘n engel wat langs my lê.”

Thabo Mbeki is filosofies: “Ek is my bestaan verskuldig aan die heuwels en die valleie.”

Ingrid Jonker slaan die spyker op die kop: “Die kind lig sy vuiste teen sy moeder wat Afrika skree.”

Breyten Breytenbach praat oor meer as net taal: “Ons bring vir julle die grammatika van geweld en die sinsbou van verwoesting – uit die tradisie van ons vuurwapens sal julle die werkwoorde van vergelding hoor stotter.”

Eugene Marais vra tereg: “Gewis is alles net ‘n grap?”

Bok van Blerk raak nostalgies: “In die land van melk en heuning.”

Enoch Sontonga bid: “Seën ons in Afrika. Kinders van Afrika.”

Jochem van Bruggen bid harder uit 1927: “Meester, ons boere raak klaar. Die regering moet ons help.”

JD Kestell roep uit 1930: “‘n Volk red homself.”

CM van den Heever dig in 1941: “die kommando van die sukkelaars”

Donald Molteno veg teen apartheid in 1946: “Ons hele swart bevolking is ontwortel. Hulle bitterheid voorspel niks goeds vir die toekoms nie.”

Steve Hofmeyr dra by: “Dis ‘n vrot pampoen en ‘n stukkende skoen.”

Arnoldus Pannevis is trots: “‘n Ieder Nasie het syn land; ons woon op Afrikaanse strand; vir ons is daar g’n beter grond op al die wye wêreld rond”

Koos Kombuis weet die beste: “En is jy wit of swart… kak almal in die symste taal”

PW Botha gooi ‘n blinde oog: “Die meeste swartes is gelukkig, behalwe daardie by wie ander idees in hul ore ingeprop is.”

CJ Langenhoven spreek sy Stem: “Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra”

Jacob Zuma… : “Ek het gaan stort na ons seks gehad het omdat ek nie vigs wil opdoen nie. Jy was tog jou hande nadat jy met uie gewerk het?”

NP Van Wyk-Louw voorspel Raka: “Maar in die rooi nag by die wilde fees; met bier en bloed en dans en trom; het elkeen soos vuur aan sy voete voel kom: die nuwe jag”

Julius Malema sweep die skare op: “Ons sal alles afbrand, tot die wittes niks oor het nie.”

Wilma Stockenström vra die nasie: “Is u verwonderd of bedonderd?”

Anton Rupert is wys: “Hy wat alles begeer, sal alles verloor.”

Nelson Mandela is ironies: “Die geskiedenis straf diegene wat hul tot geweld en bedrog wend om die aansprake en wettige aspirasies van die meerderheid van ‘n land se burgers te onderdruk”

Antjie Krog: “By watter naam word drome aangeroep anders as die uitgediende naam ‘God’? U wat gelyk onderdruk en bevry.”

Chantelle de Wet: “My hart is stukkend oor die Vaderland wat besig is om selfmoord een slagaar op ‘n slag te pleeg. My hart huil oor die mooi wat verwoes word met elke trek van ‘n vuurhoutjie en elke kreet van valse vryheid.”

Vandag was Fokofpolisiekar reg: “Brand Suid-Afrika.”

 

Geloof

Ek glo in uitgerekte slaapklere en koffie in die oggend. Ek glo in Sunlight liquid, Mac se onderlaag en Vicks Vaporub. Ek glo in slaai sonder blare, gemaklike skoene en wet wipes. Ek glo in wonderwerke, wetenskap en wolkekrabbers. Ek glo in die skrif teen die muur, die taal van my hart en die woorde waarmee ek woeker. Ek glo in diverse leesstof, wit badlakens en ‘n goeie kussing. Ek glo in onderrig by die skool en opvoeding by die huis. Ek glo in karma, positiewe denke en my ma. En omdat ek glo, is ek ‘n gelowige.

Ons is geleer om nooit oor hierdie dinge te praat nie: politiek, geld en geloof. Dit sorg altyd vir onnodige drama en rusie. Dit verstaan ek. Miljoene mense lees daagliks uit dieselfde Bybel, tog is daar meer opinies, interpretasies en persepsies oor een enkele versie as wat daar is oor die wedstryd tussen die Bokke en die Iere. Priesters, dominees, dekane en almal wat ‘n Bybel in hul bedkassies bêre, voel deesdae die hunkering om op ‘n seepboks te klim en die wêreld te kritiseer, te oordeel en op hul foute te wys.

Gandhi het eens gesê dat alhoewel hy baie van Christus hou, hy nie ‘n groot aanhanger van Christene is nie. En soms wonder ek of hy nie ‘n punt beetgehad het nie. In die Moslemland waar ek myself bevind, sien ek tydens hierdie maand van Ramadan*, ‘n tipe deursettingsvermoë, lojaliteit en toewyding wat ek nog nooit in Suid-Afrika bespeur het nie. Yskaste geskenk deur weldoeners (van alle gelowe en rasse), volgepak deur gesinne (van alle gelowe en rasse) pryk oral op straat, sodat die werkers tydens Iftar* hulself kan help aan water, koeldrank, vars vrugte en verpakte bredies en kerries. Niemand steel kos nie. Niemand vergryp hulself nie. Hier is respek. Verdraagsaamheid. Eerbied.

Ek het nog nie een slegte ding teenoor enige ander geloof in hierdie land gehoor nie, tog sien ons daagliks op televisie hoe ander lande die Moslems as terroriste uitkryt. Dan gesels ek met die Arabiese vrouens in hul abaya’s by ons skool en ek sukkel om die kloutjie by die oor te bring.

* Ramadan is die tydperk waar alle Moslems vir 30 dae geen spys of drank geniet na sonsopkoms of voor sonsondergang nie. Die eerste ete na sonsondergang word Iftar genoem en is nogal ‘n besondere belewenis.

 

Ek is nie ‘n prediker nie. Ek is nie ‘n vingerwyser, beoordelaar of regter nie. Ek is nie hier om te sê wie reg is, waar die hemel is of wanneer oordeelsdag is nie. Ek ken nie ten volle nie. Ek is bloot ‘n mens wat aan ander doen soos ek aan myself gedoen wil wil word. Ek maak droog, foeter op, sit my voet in my mond, het soms die kat aan die stert beet en lees nie net oor een tema nie. Ek sê jammer. Ek bedoel dit. Ek beweeg aan.

Ons kry baie kritiek oor ons ons kinders in ‘n Islamland grootmaak. Ek het nooit besef dat my menswees direk afhanklik is van die kontinent waar ek myself bevind nie. Kan ek werklik net goed wees vir my gesin solank ek myself in ‘n Christenland vestig? Is God nie veronderstel om oral te wees nie? Of het Hy ook ‘n paspoort nodig?  Ek vra maar net.

 

 

 

Spinnekop

Ek is nie ‘n groot aanhanger van agtpotiges nie. Spinnekoppe laat my gril, gil en meer vloek as wat Christelik nodig is. Ek dink spinnekoppe is slegs mooi as jy hulle binnegoed kan sien… of as hulle besig is om in ‘n plas gif te verdrink.  Daar is absoluut niks romanties aan agt oë, harige lywe of skarrelende skaduwees nie.

Ek verstaan dat daar mense is wat met hulle teel en hulle selfs in hul kamers laat slaap. Mense! Tarantulas is NIE troeteldiere nie. Jy kan nie met hulle op die gras speel nie. Hulle hou jou nie in die winter warm nie. Jy kan nie langs hulle opkrul as jou hart gebreek is nie. Jy kan hulle nie vat vir ‘n stappie nie. En ek wil nou nie die verkeerde knoppie / knopie platdruk nie, maar spinnekoppe is nie gemaak om in glashokkies aangehou en gevoer te word nie. Ek verstaan dit dus nie. Dis net my opinie, natuurlik… en as jy jou bobbejaanspinnekop sit en streel, terwyl jy hier lees, is ek bly vir jou, maar ek dink nie ons sal kan vriende wees nie.

Ek is baie dankbaar dat ek in die laaste agt maande nog nie een spinnekop in ons huis gevind of gewaar het nie. Ek vermoed dis omdat spinnekoppe nie hou van trappe klim nie. In Suid-Afrika het ek al afskuwelike, afgryslike Arachnidas gedood, getrap, vermorsel en gespuit.

Ek is nie harteloos nie. Ek het een keer probeer om ‘n spinnekop in ‘n asblik vas te keer en toe buite vry te laat. Maar toe daai gogga so skarrel-skarrel oor die sypaadjie, het ek gewonder of hy my kamer sal onthou… toe trap ek hom in elk geval plat, net vir ingeval hy wraak sou wou pleeg.

 

My pa was die eerste held wat my van ‘n spinnekop gered het. Intussen het my skoonpa ook al gif aangedra, my man het ook al sy plakkie uitgetrek en selfs my boetie het al die besem betrek. Hulle is die manne wat ons gille wil beperk, ons grille kan hanteer en ons geite aanvaar. Hulle is die manne wat ons beskerm teen goggas en gedrogte, maar ook geskenke aandra en komplimente gee. Pappas wat die wêreld ‘n beter plek maak vir hul kinders: een spinnekop op ‘n slag.

Selfsug

Ek haat wasgoed. Dis ‘n nimmereindigende proses van inlaai, aansit, ophang en wegpak. Net om aan te trek, uit te trek, in die mandjie te gooi sodat ek weer kan inlaai, aansit, ophang en wegpak. Ek het al baie gewonder of skoon klere regtig so belangrik is, maar dan skop die logika weer in en besef ek dat ek nie my kinders aan maatskaplike werkers wil afstaan nie, so ek laai in, sit aan, hang op en pak weg… net sodat almal kan aantrek, uitrek en ingooi. Ons het nie die luukse van ‘n bediende nie, so die las van wasgoed word oplaas ons eie.

Ek is ook nie mal daaroor om die badkamer te skrop nie. My seun het nog nie die kuns van ‘mik’ vervolmaak nie, dus moet die vloer ten minste elke tweede dag gemop word. Krane vol tandepasta, teëls in die stort wat watermerke versamel, bruin ringe in die bad en spatsels van onaardse dinge teen die spieël. Ek het maande terug reeds ophou vrae vra, die moontlike antwoorde gee my spontaan sooibrand.

Kosmaak is nou nie juis my gunsteling tydverdryf nie. Ek is die koningin van ‘moer-by-disse’. Noedels en ‘n pot vol maalvleis. Rys en ‘n pot vol hoender. Kapokaartappels en ‘n pot vol… darem nie winter nie, maar basies alles wat in die vrieskas oorgebly het. Dit voel asof die huismense konstant honger is. Nes die kombuis weer blink en al die toonbanke krummel-vry is, dan begin ek gaarmaak aan die volgende ete. Dis uitputtend.

Tussendeur moet ek lesbeplannings uitwerk, klaswerkopdragte merk, seker maak my eie kinders se huiswerk word gedoen, hare vleg, Lego bou, handoeke optel, stories lees, inkopies doen, hare sny, afstof, die wasmasjien se knoppie vasplak, die ou van die verkoeling bel, die potlode skerpmaak…

My lewe is vol lysies. Ek is skatryk oor ek daagliks die lysies kan klaarmaak. My huismense lag. Daarom lag ek ook. MAAR…

Ek kan eenvoudig nie ‘n goeie juffrou vir die kinders in my klas, ‘n goeie vrou vir my man, ‘n goeie vriendin vir my maters, ‘n goeie ma vir my eie bloedjies wees as ek nie heel eerste ‘n goeie mens vir myself is nie. So as ek tyd vat om langer in die bad te lê, slaai sonder blare maak al is ek al een wat nie van blare hou nie en die wêreld elke dag vir vyftien minute ignoreer om iets te skryf… As ek een aan per week nie help om die kinders in die bed te kry nie, ‘n middag af vat en net deur die winkels gaan loop, sonder kind of kraai… dan is ek selfsugtig. Ek koester elke sekonde daarvan, want my selfsug hou my staande. My selfsug verseker dat ek die res van die tyd sonder verwyt, die res kan help. So ja, skryf maar dat ek selfsugtige, afskeep-ma is. Spoel maar jou mond uit oor ek alleen gaan fliek het. Gooi die klippe oor ek Manlief alleen by die kinders los om te gaan inkopies doen. Kritiseer my duur Starbucks-koffie omdat ek die geld beter kon aanwend. Ek omhels my selfsug. Gereeld. En basta met die res.

MANipulasie

Dis nou week drie wat ek my man aanmoedig om room aan sy gesig te smeer. Nie gewone Nivea (for men) lyfroom nie, maar spesiale room (vir mans) om te help met ingroeihaartjies. Die fynskrif sê ook dit help met plooie en die UV verlig die sonskade. Dis inligting wat ek liefs weerhou, want ‘n ware man “gebruik mos nie roompies en salfies nie.”

Vir jare lank al het mans dit besonder maklik as ons badkamerroetines tussen Adam en Eva moet vergelyk. Ek het tientalle botteltjies, bakkies en buisies om my van kroontjie tot toontjie te versorg. In die stort staan die bewyse ook duidelik: 11 bottels, waarvan Manlief net een gebruik. Hy was agter sy ore, sy hare, tussen sy tone en voor op sy pens met dieselfde spons en dieselfde seep. En ja, ek is jaloers… want as ek sou waag om dieselfde houding in te neem en net een botteltjie seep te gebruik vir alles, sal ek beslis lyk soos ‘n kruising tussen die Yeti, ‘n akkedis en Robert Mugabe. Droë hare wat die meisie van The Ring na ‘n Pantene advertensie laat lyk. Meer puisies sal op my ken verskyn as wat my selfbeeld sal kan hanteer. Dan praat ek nie eers van die haartjies wat onder my oksels sal ingroei, my hakke wat soos gedroogde biltong gaan lyk en my beenhare wat spoedig gevleg sal kan word nie. Nee kyk, ek spandeer dalk twaalf minute in die stort, maar ek doen dit nie net vir myself nie… o nee, ek doen dit ook vir die direkte samelewing.

 

Mans het dit beslis makliker. ‘n Bierpensie wat dreig, ontlok nie naastenby soveel sosiale kommentaar soos ‘n vrou se bo-arms wat soos vetkoekdeeg begin dril nie. Mans hoef nie bekommerd te wees oor grillerige toiletsitplekke in publieke badkamers nie. Hulle hoef nie ure voor ‘n vol kas te staan en te wonder wat hul vleeslikheid gaan bedek, net om eindelik uit te roep: “Ek het niks om aan te trek!”  nie. Mans kan maklik wees. Hulle kan die haan onder die henne wees, die hings tussen die merries, die reun tussen die tewe… en dan ook die prins op die wit perd.

Maar ek is bly ek is ‘n vrou. Want sien, ek kan soveel roompies en botteltjies aankoop soos ek wil. Ek kan huil as ek wil, wanneer ek wil en waaroor ek wil. Ek kan broeke en rompies dra. Ek kan ‘n kas vol klere, rakke vol skoene, laaie vol handsakke hê, sonder om ‘n wenkbrou te lig. Ek kan lang ure in die bad lê, is ewe tuis voor die rekenaar, stoof en televisie en die beste van alles? Ek is nie in kompetisie met enige man nie. Ek oorreed my man om room aan sy gesig te smeer, sodat hy vir die volgende sestig jaar ook vir my mooi kan lyk. Ek oortuig hom dat sjampoe beter is vir hare as seep. Hy is nie my baas of my slaaf nie. Hy loop soms in my skaduwee en ander kere maak hy die pad gelyk vir my. Sy geslag maak hom nie superieus nie. Maar solank hy glo dat ek nie kan asemhaal sonder hom nie, solank sal hy die beskermheer van ons gesin wees. ‘n Man moet drake kan oorwin, krete kan skree, gesag kan afdwing en respek kan handhaaf. ‘n Man moet voorsien. Al wat ‘n vrou hoef te doen is om die kuns te verstaan: MANipulasie.