Blink

Ek hou maar van ’n ou blink dingetjie. Of hy nou aan my vinger pryk of deur gaatjies in my ore gedruk word, as hy skitter, klop my hart vinniger. Ek dink ons vroumense was dalk in ons vorige lewens kraaie, want ons word geneties aangetrek na blinkers.

’n Dierbare vriending van my is so lief vir versiersels van die vleeslike, dat sy ’n hangkas moes aanskaf om haar kosbaarhede te bewaar. Een van my ma se vriendinne is weer so bang vir die misdaad in Suid-Afrika, dat alles in die kluis weggesteek word. Ek ken slegs enkele dames wat hulself nie vreeslik steur aan versierings nie.

Ek huisves beslis nie ’n juwelierswinkel op my spieëlkas nie, maar ek het so miniatuur arsenaal van emosionele stabiliteit wat my laat glimlag. Elke ring is nie opreg gebore nie, elke steentjie het nie ’n sertifikaat van oorsprong nie en elke armband kom nie in ’n ontwerperskissie nie, maar elke versiersel kom wel met ’n storie. Dit verskaf my werklik innerlike genot om die ring te dra wat Manlief gekoop het, een week nà hy my verjaardag onthou/vergeet het. Ek glimlag as ek Ouma se hangertjie met die kruisie dra. Daar is Skoonma se gesette silwer munt, Oupa se trouring en oorle’ ta’ Liesbet se kristalle.

My skatte is nie almal waardevol nie, maar elkeen vertel ’n storie. Verjaarsdae, geboortes, die doop van ’n kind, gradeplegtighede, oorwinnings, mislukkings, reise… ek versier myself eintlik daagliks met herinneringe. Ek kan dit nie wegbêre nie. Dit gaan nie oor boekwaarde nie. Ek dra elke erfstukkie, verhaal, storie en nostalgie om my nek, aan my arms, in my ore en deur my are. Ek skiet nie gate deur my oogbank, naeltjie of buuste nie, maar verwonder my aan ringe en spiese deur nekke, lippe, tonge en neuse. Soms gril ek, ander kere staar ek stomverbaas na die waagmoed en pyndrumpel van die jeug.

Ek verwonder my aan die kassier in Pick ’n Pay se ring. Ek staar na die vrou in die apteek se kolossale ketting. Ek kwyl oor die geel diamant in die vertoonvenster. Ek klou verbete aan my gelukbringer tydens stresvolle tye.

Vandag word ek verblind. Nie deur ’n diamant of robyn nie, maar deur die oë van my mense. Pieter se blesbok hang na ’n suksesvolle jag. Lehja en Petrus is vol stof besig om buite te baljaar. Ek sal al my skatte op aarde opgee, my ringe ruil, my armbande smous, my hangertjies pand… solank die oë van my mense, net kan blink.

Advertisements

Spyskaart

Kyk, Franse croissants is nie sleg nie. Stroopwafels uit België val mooi op die tong. Hummus uit die Midde-Ooste is romerig op brood. Duitse bier maak jou versadig. Indiese kerrie is goed vir die sisteem. Japanese sushi, met moeite berei, is ’n lekkerte vir die oog en die smaakkliere. Maar daar is niks op aarde wat so lekker in die kies kom kielie, soos boerekos nie. En boerekos is ’n omvattende term.

In Windhoek proe on aan springbok, sebra, gemsbok, krokkodil, koedoe en eland. In Rundu peusel ons aan vlakvark, lam, eend, hoenders en nog skaap. In Grootfontein laat loop die boere met braaibroodjies, kerrie, wors en wilde sampioene. En so eet ons onsself dik deur Namibië. Ons magies word vol, ons harte warm en ons bekers loop spreekwoordelik oor.

Terug in die Republiek, vind bobotie en geelrys (met rosyne in) sy weg tot op ons tafel. Ek peusel aan ‘n bunny chow aan die Natalse Suidkus en skrik nie vir Suid-Afrikaans samoesas nie. Maar dit was gisteraand se ete wat in eenvoud my laat onthou hoe die Afrikanerbloed maar in ons are vloei. Hoender, boerewors, sosaties, skaaptjoppies en ‘n sappige stukkie fillet… gaargemaak oor die kole, met die samesyn van vriende, wyn en baie lag.

 

Ek weet daar is ‘n hele trop mense wat reken voedsel is net ons liggame se brandstof. Ons moet gesond en nie in oorvloed eet nie. Maar ek is nie deel van daardie skare nie. Ek eet nie net om my magie vol te maak nie. Elke happie is soos ‘n reis. Slakke en knoffel skud nostalgies aan my geheue. Aartappel in sy baadjie, versmoor met sampioene en kaas laat my dink aan ons Duitsland-eisbein-ondervinding. Eiervrug, artisjokke, aspersies, sardiens… elke vreemde vurkvol vertel ‘n verhaal. Staaltjies is opgesluit in my smaakkliere. My heupe verduidelik dat ek nie skrik vir lekker eet nie. My broekgrootte waarsku dat ek soms moet briek aandraai by die etenstafel. Maar ai, my passie vir proe ken nie perke nie.

 

My mond water as ek ontbyt voorberei, reeds aan middagete dink en die vleis vir aandete uithaal. Ons Afrikaners is nie bang vir kos nie. Ons spyskaart is ‘n versameling van resepte  uit vreemde kontinente, bloedlyne wat jou laat hoendervleis kry en geheime wat soos goud bewaar word. Ons lyk so lekker, ons kuier so lekker, ons is so lekker, want ons eet so lekker. En dankie tog daarvoor.

Oom Piet

Hy is ’n boer in sy vel en in sy bloed. Gebore met grond in sy are. Tussen Twyfelspoort en Toevlug vorm sy hande die voedsel vir ’n volk. Oom Piet is nie ’n afgeronde wese nie. Maar soos ’n diamant tussen die vuil steenkool gepers word, so is oom Piet se hart ook maar van suiwer goud gemaak. Al moet mens fyn luister en mooi kyk om die blink kant te ervaar, is oom Piet die spreekwoordelike sout van die aarde.

Ons ontmoet hom waar hy ’n enorme hond in die hande van ’n boesman druk, met die opdrag om die hond te bliksem oor hy die duiwe eet: “tot lat hy hyl, verstaat jy?” Grootoog en benoud het ons die wrede oom aangestaar. Later sou ons hoor die hond het in oom Piet se spogduiwehok ingevaar en gesmul soos ’n… wel, soos ’n hond in ’n duiwehok. Oom Piet se rowwe taalgebruik en taktlose opmerkings het my lekker laat giggel, want gou kom mens agter dat agter elke harde woord, skuil ’n baie goeie siel. Toe Andarra, die boesman wat op die plaas grootgeword het, sy hand in die vleismeultjie gedruk het, het oom Piet die boesman self ingery hospitaal toe. En die vleis wat saam met vier van Andarra se vingers gemeng was, moes begrawe word, want nie eers honde eet boesman-vleis op oom Piet se plaas nie. Hy betaal vir hulle inspuitings, laat ekstra groente vir die volk aanplant en hy gee om soos stadsmense nooit sal verstaan nie.

Andarra ry oral saam met ons op die plaas. Nou kyk, oom Piet bestuur soos ’n dronk demoon. Sy Rattle Cruiser het net twee spoedverstellings: noodstop en ffffffffinnig. Jy durf ook nie die Land Cruiser afskakel nie, want “jy gaan my starter opfok”. Daai Cruiser idle 12 uur per dag. As die Cruiser nie idle nie, kan jy maar weet, oom Piet is siek.

Gedurende die opwindende rit, besef jy sonder twyfel dat oom Piet se vrae eintlik almal retories is. Hy praat so vinnig en so baie, jy kry skaars kans om ’n gedagte te vorm voor hy die volgende onderwerp aanraak.

Die elandjag verloop vlot. Een kopskoot en niks vleis word gemors nie. Oom Piet kla nie, maar hy smeer ook nie heuning om enige mond nie. Die verskuilde kompliment word gehoor: “Dank Vader jy het nie opgefoeter nie. Ek was nou nie in die bui om iemand te donner vandag nie.”

Terug by die huis, mag ons nie loop voor ons nie geëet het nie. Boerewors op broodjies. Oom Piet maak sy eie botter, want die goed wat jy by die winkel koop, “is een stappie te naby aan plastiek”. Vir nagereg kry ons Herfs in ’n bottel. Dis nou vrugte wat in brandewyn ingelê is. My keel brand, maar ek glimlag van oor tot oor. Want die grootste geboue is dalk in Dubai en die grootste pampoene kom dalk van die Vrystaat af, maar die grootste harte kan beslis in Namibië gevind word.

Soek die lig

Ek wag by die groot, swaar ysterhek. Honderde swart oë kyk na die wit vrou wat wag. Die sosiale werker kom my haal. My handsak word in ’n kluis toegesluit. Ek word bevoel deur twee growwe, swart hande. Die vloere is hard, koud en ek verbeel my ek hoor die woede en aggressie uit die sement opslaan met elke voetval. Slotte kraak, traliedeure swaai oop en weer toe. Met elke klap en draai van die sleutel, word vryheid agtergelaat. Dis ’n eensame plek die. Al is hy vol mense.

Ek wag in ’n leë vertrek.

Ek word by die naam geroep.

Soos ek om die hoek stap, sien ek hom sit. Hy kyk op.

Sy gesig vertrek. Ek is nie seker of dit blydskap, vrees, twyfel, liefde, haat of skok is nie. My hart breek oop en ek kan nie keer dat my bene begin hardloop nie. In sy arms in. Die trane kom net. Dit vloei sonder snik of ruk oor my wange. Sy arms bewe, ek voel sy hartklop teen my bors. Ek druk hom stywer vas soos ons in die gang staan en huil. Hy is my pa.

En hy is in die tronk.

Ek het myself gister die hele dag geestelik probeer voorberei vir die ontmoeting. Ek het die ergste verwag. Ek moet onthou dat ek nie vandag ’n kis gaan uitsoek om my Pa in te begrawe nie, maar ’n oplossing gaan moet vind om hom hier uit te kry. Ek moet die lig soek. Aan die positiewe bly vasklou. Sterk wees vir hom. Hom wys dat liefde groter is as alles. Ek moet, moet, moet…

Ek vat aan sy gesig. Sy baard. Sy hande. Ek sien sy wasige oë. Ek is dankbaar hy is in sy eie klere, sy eie skoene en dat hy nie daai geel of oranje oorpakke aanhet nie. Hy lyk verwese. Armblank. My hart ruk. My kop skree ek moet sterk wees. Ek sluk die trane en kyk hom in die oë. Ek fokus op liefde. Innerlike krag. Ek vertel hom hoe lief ons hom het, hoe die familie saamtrek om hom te ondersteun. Ek sê oor en oor dat ons weet hy is onskuldig. Ons glo in sy naïewe aandeel in die gemors. Hy moes nie daai dokument geteken het nie. Ek dra boodskappe van geloof en hoop oor. Ek voel swak en nietig en magteloos, moedeloos, hulpeloos… my woorde is nie genoeg nie. My pa het vryheid nodig.

“Ek wil nie oor die wetlike aspekte van die saak praat nie. Die prokureur sien Pa later. Vertel my net van Pa. Is Pa ok? Fokken stupid vraag. Natuurlik is Pa nie ok nie. Het hulle Pa fisies seergemaak? Geslaan? Aangerand? Moenie met enigiemand praat nie, onthou, almal hier is skelm. Fok Pa, jammer, ek weet Pa is ook hier en Pa is nie skelm nie. Pa weet wat ek bedoel. Ons het ’n Whatsapp groepie gestig vir Pa. Die kinders is by Ma. Ma is hartseer en emosioneel, maar ok. Die hond slaap saam die kinders op die bed.” Ek het verbale spuitpoep. Ek haal een keer diep asem. Nog ’n keer. Ons het net twintig minute. Laat elke sekonde tel.

Hy wys my die bed waar hy slaap. In die tronk se kliniek. Gelukkig het Pa ’n hartkondisie, so hulle word wetlik verplig om hom in die kliniek te hou. Daar is 8 beddens in die saal. Dalk twaalf. Die adrenalien bruis te hard deur my are om regtig te kan tel. Weermagmatrasse wat op staalpype lê. Koud en hard. Maar skoon. Ek herhaal my mantra: “Soek die lig”. Ek moet positief bly. Aan elke krummel van hoop moet ek kleef. Sodat ek die familie kan gerusstel as my twintig minute verby is.

Pa het die eerste dag in die koue selle saam massas ander kriminele deurgebring. Yskoud en honger het hy vir byna 12 uur op die vloer gesit en bid. Toe spandeer hy die nag in ’n bussie wat hom aanry Durban toe. Nog ’n dag in die selle. Geen kos, kombers of woord van sy familie nie. Ons het nie geweet waar hy was nie. Ons het begin dink hy is dood.

Hy het gekla oor sy hart… gevra vir bloeddrukpille… en dit is toe wat ’n engel hom uit die selle lig na die koue weermagmatras in die kliniek. Daar is ’n tralie voor die deur, die meubels is oud, die plek ruik soos Dettol. Ek haat die reuk van ontsmettingsmiddel, maar dis beslis beter as ontlasting, braak en uriene wat in die selle aan jou klou.

“Soek die lig” herinner ek myself.

Die sosiale werker stap nader. Nee, ons tyd kan nie verby wees nie. “Stap saam” beveel sy. Ek kyk na Pa. “Jy ook”, wys sy vinger na hom. My lyf bewe. Ons stap deur die gange, verby rye en rye mans in geel oorpakke waarop staan “Correctional Services: Prisoner”. Ek is dankbaar Pa het sy eie klere aan. Sy eie skoene. Ons word gevra om op ’n bankie te wag. Ek voel hoe die minute verby tik… ek bid dat die vrou haar tyd sal vat. Ons praat. Ek vat aan sy hande. Ek weet nie wie bewe meer nie: ek of hy. Die wag by die hek druk ’n kerkblad in my hand: ek moet vanaand sewe uur vir my pa gaan bid by sy kerk. Hy preek maar vir al die tronkvoëls. “Nee, nee, nee” skree elke vesel in my lyf, “my pa is nie ’n tronkvoël nie!”

“Dankie” is al wat ek kan sê toe die hekwag klaar vir ons gebid het. Ons gesels droog op. Ek hoor Pa se maag grom. Soek die lig. “Pappa, ons sal saam deur hierdie aakligheid kom”

Pa se oë raak vol trane. Soek die lig. “Pa leef nog. Pa haal asem. Ons is lief vir Pappa.”

Pa se lyf bewe. Soek die lig. “Gelukkig het Pappa Pa se eie klere aan. Pa se eie skoene”

Die sosiale werker neem ons na haar kantoor toe. Ons moet op stukkende stoele sit. Ons tyd is verby. Ek mag vir my Pa gaan kos koop. “Mag ek haar vir ’n laaste keer vashou?” bewe my Pa se stem. Soek die lig. Ek druk kom styf vas. Voel sy hartklop. Hy haal nog asem. Ek voel sy trane teen my nek afloop. Ek hou my eie trane terug. Ek is sterk. Ek soek die lig.

Ek stap na my kar. Ek bewe toe ek die sleutels in my handsak soek. Ry na die naaste winkelsentrum, hardloop verby duur horlosiewinkels en winskopie-borde. By Woolworths gooi ek Coke-bottels, witbrode, vrugte, heel gebraaide hoenders, seep en ’n waslap in my mandjie. “Waar is die KFC?” vra ek vir Sithembe wat oplui. Hardloop met swaar pakkies. Bestel hoenderstukke. Hardloop terug na my kar. Jaag terug na my pa toe.

Ek moet in ’n ry staan. Vorms invul, mooi praat, vrae beantwoord. Hierdie keer sien ek hom deur dubbelglas en saam met oranje en geel oorpakke in hokke. Skelm haal ek my selfoon uit my sak. Ek druk my selfoon teen die interkom en druk record as hy ’n boodskap vir my ma stuur. “Vir nou is ek ok. Ek lief jou my darling.” Sy stem huil en ek bid dit word nie vasgevang nie. Ons het net vyftien minute. Die mans aan die ander kant begin hom dadelik uitvra wat ek vir hom gebring het. Hulle verloor belangstelling toe hy verduidelik dat hy nie rook nie. Die interkom gaan dood. Ons tyd is op. Deur hekke, tralies, nog vrae.

Ek sien hoe twee pare hande die hoender oopbreek, sy brood plat druk, die Coke bottel toets. sy kos word bevoel, betas, aangerand. Soek die lig. Hy kry kos vir die eerste keer in 4 dae. Ek sien hoe hy om die hoek verdwyn en ’n stuk verkragte hoender in sy mond sit. Soek die lig. Sy maag gaan nie meer grom nie.

Ek stap na my kar. Haal diep asem. Ontmoet die prokureur. Bel my ma. Stuur boodskappe dat hy ok is aan die familie. Ek kyk in my truspieël as die tronkhek agter my toegly en skielik is die pad vorentoe nie meer vir my een van vryheid nie. Die oopte druk my vas. Ek trek van die pad af. Braak langs my motor se linkervoorwiel. Ek weet nie wat ek opbring nie, want ek het nog niks geëet of gedrink nie. Gal. Spanning. Woede. Ek dink ek braak tot trane. Maar ek huil nie.

Dit is Dinsdagmiddag en al wat ek kan doen is om die lig te soek, want ons bevind onsself in ‘n baie donker tonnel.

 

*Teen Vrydagmiddag is my Pa vrygelaat. Hy was ‘n totaal van 10 dae in aanhouding. Die korrupsie en onmenslikheid agter tralies, asook die vrees, spanning en onsekerheid is die ergste wat ons nog beleef het. My pa wil jongmense bewus maak van die skrikbewind wat agter die hekke gevoer word, sodat hulle versigter trap op die pad van die lewe. Ons familie staan verstom oor die omgee en liefde van vriende. Dankie klink klein en nietig, maar ons dankbaarheid is opreg.

Spanning

Spanning is ’n snaakse ding. Behalwe as my broek so span om my maag, dan is dit nie snaaks nie. Spanning kry maklik die skuld as mense te veel eet. Terwyl bolle rook by die man se neus uitborrel, word spanning blameer vir die kankerstokkie in sy hand. Ons drink wyn, speel gholf, gaan met vakansie en betaal hopeloos te veel geld vir ’n nekmassering… alles in die naam van ONT-spanning. Spanning in die huis, lei tot kinders wat nie lekker slaap nie, egskeidings en die melk wat suur word omdat niemand dit teruggesit het in die yskas nie. Daar heers spanning in die land oor belasting, Binnelanders, plaasmoorde, die prys van selfoondata en natuurlik politiek. Drade word om plase gespan om die skape binne en die boewe buite te hou. Die Bokspan veroorsaak maagsere vir ondersteuners en spanwerk beteken dat een ou die werk gaan doen en die res ook die eer gaan kry.

Ek is eerlik as ek sê ek weet nie wat die verskil is tussen stres en spanning nie. Veroorsaak stres spanning of spanning stres? Is dit nie maar in praktyk basies dieselfde ding nie? Slapelose nagte oor spelfoute. Maagsere oor kredietkaartstate. Nekspasmas oor die buurman se mooi boude. Middagslapies en migraines… wyn en wonderbra’s… suiker en satanisme… petrolpryse en poepholle… ekse en eksamens… Fica en Facebook… die stres en spanning vind sy weg tot in ons voorhuise en slaapkamers en neem oor.

Almal se stresvlakke verskil. Almal hanteer spanning anders. Terwyl party siele oor stront stres, is daar ernstige probleme in ’n ander se verwysingsraamwerk. Ek het altyd gedink ek werk op my beste onder druk… en ek praat nou nie van die broek wat my maag vol rooi strepe druk nie. Ek het vas geglo dat ek onder spanning suksesvol kan funksioneer. Ek kan fokus. Stres hanteer. Duidelik het ek net nog nooit genoeg daarvan op een slag ervaar nie. Ek het in die laaste week ook geleer dat mens kan braak van spanning. Mens kan doodmoeg wees en tog van slaap weghardloop as die spanning jou jaag. Jou ingewande kan so hard bewe dat jou oë traan, jou neus bloei en jou bene eenvoudig weier om te beweeg. Spanning laat jou asem sleg ruik, veroorsaak dat jou immunstelsel sommer tou opgooi en kan ook jou sekslus laat kwyn. Bloeddruk styg, jou hart klop vinniger en jou emosies ry so vinnig op die wipplank dat jy sommer seesiek, karsiek en lugsiek raak. Spanning is nie eintlik snaaks nie. Dit kan dodelik wees.

So wat is die oplossing? ’n Marlboro Menthol, glas wyn en groot pak Lays? ’n Middagslapie, meditasie of Bybelversie? ’n Stappie langs die see, Spur-ribbetjies of die Rooi Rose? ’n Warm stort, kalmeerpilletjie en ’n bottel wyn? Ek weet nie. Ek het byna alles probeer en hier sit ek steeds so styf gespan soos ’n bra-strap oor die bultende rug van ’n enorme walvis. Ek is so gespanne ek maak sommer doelbewus ‘n spelvout. Ek soek die oplossing in Google se argiewe: niks. Ek soek antwoorde in boeke: niks. Ek soek antwoorde onder in die wynglas: niks. Dan dink ek aan die slotreëls van die dramateks “Jakkalsvere” en ek kan nie help om saam te stem nie:

Baby     : “Al wat ons kan doen is bid, Gertie”

Gertie  : “Amen, Baby, Amen.”

Kamp

Vir dekades lank het kamp ’n slegte naam gehad. Kamp was vir die laer-middelklas bedoel. Die komminers. Ek praat nou nie van die hoër-middelklas-kampers wat met duur Sprite karavane in die terrein kom nesskop het nie, maar van die geharde kampeerders wat met seiltente, opblaasmatrasse en plasteik eetgerei die vakansie aanpak. Mans wat kaalvoet met ’n brannas in die hand loop en moeilikheid soek, ’n ma wat met ’n skril stem op haar kinders skree, terwyl sy aan ’n Courtleigh teug en tieners wat skelm agter die wasbakke ’n kappie gaan maak.

Ek was self nooit deel van ’n kamp-familie nie. My pa het maar in baksteenmuur-vakansies geglo. Kamp was moeite en vir hom niks lekker nie. Van ons familie het egter elke Januarie reeds begin beplan aan Desember se kampvakansie.

Aan die einde van November is die tente in die ‘jaart’ opgeslaan en deur die tuinjong gewas. Die matrasse is getoets vir lekkasies en die kratte vol kos, eetgerei en linne is gepak. Sakke vol hout, ’n opslaantafel, plastiekbakke vir skottelgoed, ’n blikketel, liggies wat met batterye werk en die Uno-kaarte is agter op die bakkie gepak.

’n Kampvakansie was nooit net tien dae lank nie. Daar is vir drie weke lank uitgespan in ’n stowwerige terrein waar kinders maar om die beurt moes help skottelgoed was en wasgoed teen R5 ’n bondel in die wassery gewas is. Kamp was bekostigbaar, veilig vir die kinders en daar het ’n samehorigheid in die kamp geheers wat nog nooit in ’n hotelgang of woonstelblok gevind kon word nie.

Ons het die afgelope vakansie langs die Cubango rivier op die grens tussen Namibië en Angola gekamp. Net so links van die Caprivi, regs van Rundu en eintlik tussen niks. Naby die Okavango, maar ook nie eintlik presies nie. Dit was my kinders se eerste ervaring in ’n seiltent. Dit was hul eerste kennismaking met ablusieblokke, kampvure, kopliggies, blikbekers en slaapsakke. Nie net was dit ’n opwindende ervaring nie, maar dit was beslis ’n vakansie waar die foto’s vir jare lank gekoester gaan word. Hulle kon visvang, op ’n boot ry, diere dophou, krokodille in die rivier sien swem, stowwerig in die slaapsak klim en hulself besig hou deur stokkies op te tel, klippe te soek en prentjies in die sand te trek. Boonop is hulle beloon met ’n plaastroue so uit die boonste rakke van ’n plaaskombuis.

Ek dink die lekkerste van hierdie kampervaring was die feit dat tegnologie vergete was. Nie een keer het hulle aan ’n tablet, selfoon of rekenaar gevat nie. En alhoewel tegnologie ’n plek het, het dit my laat besef dat ons dit soms moet afsit, wegbêre en moet stilmaak. Soos ou getroudes het ek en my man ’n wyntjie om die kampvuur geniet en gesels. Dit het begin met reël-bespreking, maar na ’n paar uur het ons filosofeer, lewensdrome bespreek, tjol gepraat, gelag vir simpel grappies en ontspan soos ons baie lanklaas het. Verstaan my nie verkeerd nie: ek is baie dankbaar vir die matras waarop ek vanaand kan slaap. Ek verkies my eie badkamer, ’n kombuis met ’n skottelgoedwasser, ’n stort sonder spinnekoppe en ’n kamer waar ek regop kan staan en aantrek. Tog het ek die waarde van kamp herontdek. Dit maak dat jy minimalisties lewe, sonder al die onnodige snert wat ons opgaar. Dit herinner dat ons moet kontak maak in persoon, maak jou dankbaar vir die luukshede tuis en laat jou kinders weer kind word. Kamp is dalk kommin, maar genade, dit doen die siel goed.

Bevoorreg

Daar is baie hartseer in die wêreld. Jy hoef net die briewe in die Huisgenoot te lees om te verstaan dat hartseer in baie verskillende vorme voorkom. Oscar, 7de Laan, die Bokke, weduwees wat eensaamheid verstaan, enkellopers wat kerm, getroudes wat kul, mans wat wit kouse by swart langbroeke dra en Hannon se wenkbroue… alles hartseer. Loftus as die Bulle verloor, is grootskaalse hartseer. Spelfoute op openbare kennisgewingborde maak dat ek ’n traan moet wegpik. Vegetariërs laat my na ’n Kleenex strek. Die brandstofprys laat mense huil. ’n Rooi sokkie wat tussen die wit wasgoed beland het, laat my van moedeloosheid inmekaarsak. ’n Leë toiletrolletjie as jy klaar jou ding op die troon gedoen het en jy nie ’n nuwe rol in die badkamer bespeur nie, maak mens hartseer.

Hartseer kom in verskillende pakkies: siekte, oorlog, hongersnood, armoede, die reuk van gebrande rys en stadige internet. Jou hartseer word bepaal deur jou voorspoed. Ons is vry… wat as dit weggeneem word? Ons is gesond… wat as jou hart ingee? Ons lewe… wat as ons iemand moet begrawe? Ons dink nooit aan die hartseer nie, behalwe as dit ons aan die keel ruk en byna versmoor. Ek het die laaste paar dae gesnak na asem. Maar vanaand onthou ek:

Ons lewe ’n bevoorregte lewe.

My twee kinders se paspoorte word stukkend gestempel. Hulle het al geslaap in koningsgrootte beddens in ’n vyfsterhotel. Op 6 Julie, eet Lehja prawns groter as haar hand. Petrus slurp melkskommel op wat deur ’n wêreldbekende sjef spesiaal vir hom gemaak is, want eintlik is daar nie skommels op die spyskaart van die fênsie plek nie.  Ek glimlag as ek sien hoe hulle geleenthede kry wat baie nie beskore is nie. Ek voel dankbaar as ek dink aan die blootstelling wat my kinders ervaar. Dan dink ek terug aan die bedelkinders in die strate van Windhoek. Met stukkende tekkies en gate in hul kortbroeke trotseer hulle die koue om bakhand te staan en vra vir ’n halwe brood. In dieselfde sig sit my kinders getooi in Adidas-sweetpakke, droëwors in die mond en nuwe Lego in die hand. Hulle word omring met liefde, drukkies dui nie op iets sinister nie en hulle kry onverdeelde aandag op ‘n daaglikse basis. Hulle sit op Oupas se skote, lag saam met Ouma oor die honde in die swembad spring en ek berus in die wete dat hulle onvoorwaardelik beskerm word teen die wreedheid wat om hul afspeel. Hulle is gesond, gelukkig, geseënd.

En skielik weet ek: die grootste guns wat ek hulle kan bewys is om hulle die verskil te leer tussen reg en voorreg, dat verwaandheid net tot vals illusies lei, want die hartseer waarvan ek hulle moet beskerm, is ‘vanselfsprekendheid’.