Sein

Ek was seinloos. Dit was hemels. Geen pieng wat my herinner aan die alledaagse warboel wat afspeel nie. Geen sms van die bank wat my vertel hoeveel ons eet en drink nie. Geen foto wat verduidelik wie wat doen nie. Geen intekening, status-opdatering of meme wat veronderstel is om my wyser te maak nie. Niks behalwe stilte en die stomheid van tegnologie nie. Nou is ek terug in die wêreld waar wifi en datagebruik ons sosiale geluk dikteer.

My terugkeer was nie glad, sonder kinkel of maklik nie. Familiedrama, siekte, oorlog, haat en woede het hulself weer in my gemaksone ingewurm. Die een krisis na die ander gee my hartkloppings en skielik voel dit asof ek weer ’n seinlose vakansie nodig het.

Ek sit sonder kind of kraai by die see. Nie uit keuse nie, maar uit gedwonge nood. In die laaste 48 uur is my normaliteit vervorm tot ’n ongekende emosie: vrees. Ek kan nie, mag nie (en wil nie) nou die oorsake aan die wêreld verkondig nie, maar in hierdie ure van vrees het ek baie dinge ook herontdek. Ek het onthou wat innerlike krag is. Ek het harder gebid as in vele jare. Ek het myself naak neergewerp voor die genade van ’n god, vriende, familie en ook die spieël. Ondersteuning, onderskraging en bystand het weer vir my nuwe betekenis gekry. Skielik waardeer ek die wonder van seine. Liefde en onvoorwaardelike aanvaarding sy weg gevind het tot in my binnekamer en is moontlik gemaak deur 3G. Ek staar verwonderd na die see. Ek neem my rekenaar en vind sielkundige hulp in die sleutelbord van ’n rekenaar. Ek neem my selfoon en vind gemoedsrus in die kontak met die wêreld. Die wapenstilstand is nog nie geroep nie. Die vet antie het nog lank nie gesing nie. Maar ek het my eie battery herlaai… en met elke pieng en oproep word my trane deur ’n glimlag vervang.

Ons is nou maar eenmaal nie gebore om seinloos deur die lewe te gaan nie.

Advertisements

Gaaf

Die Ou Apostoliese tannie met die styfgeklitse hare en bloedrooi lippies, vloek in sewe tale, al is sy net twee magtig. Een of ander suurstofdief met ‘n barbaarse agtergrond het wraggies haar selfoon uit haar handsak gesteel.

As gevolg van ‘n slaggat so groot soos Nkandla se vuurpoel, bars die wynrooi, 1997 Mazda 3 se band soos ‘n ballon. Die tannie skrik so groot dat sy sommer spontaan begin Psalm 23 resiteer.

Hy tel die munte in sy hand. “Ek moet ‘n manier kry om my vingernaels skoon te maak” dink hy soos hy die pryse van Checkers se bakkery bestudeer. Hy hoop maar die mense voor hom ruik nie die sweet wat aan sy klere klou nie.

Ek rol rond in die nag. Ek is doodbenoud oor my seun se paspoort wat van Abu Dhabi tot in Suid-Afrika moet kom, voor Woensdag, maar geen maatskappy kan my so vinnig help nie. Ek begin al dink aan redes hoekom die reisversekering ons vliegtuigkaartjies nie gaan terugbetaal nie.

 

Maar daar is nog goed en mooi in die wêreld.

Terwyl idiote die strate van Pretoria afbrand, verskoon ‘n man homself uit ‘n vergadering, sodat hy na sy ma se huis kan ry en vir haar ‘n nuwe selfoon kan gee. Hy is bekommerd oor haar veiligheid, want sedert sy pa is se afsterwe is sy maar alleen in die groot huis.

Terwyl Bangladesh geterroriseer word, stop die familie langs die pad om die tannie te help om haar wiel te ruil. Die kinders deel hul Smarties met haar, terwyl Pappa se hande swart word soos hy die spaarwiel vasdraai.

Terwyl ‘n sot met ‘n geweer in ‘n nagklub instorm en mense afmaai, betaal die meisie die man voor haar se halwe brood en blikkie sardiens. Al is sy self net ‘n student en moet die sente omgedraai word, kan sy nie die boemelaar laat honger slaap nie. So sy koop sommer ‘n Coke ook.

Terwyl Engeland hul tassies pak en die ekonomie verniel, is daar ‘n gawe Suid-Afrikaner wat aanbied om kosteloos my kind se paspoort saam met hom terug te bring Afrika toe. Hy ontsien geen moeite nie en lewer die paspoort by my huis af.

 

Daar is baie sleg en lelik in die wêreld, maar daar is nog gawe mense. Daar is nog klein wonderwerkies, klein tekens van genade en klein aanduidings van menslikheid. Ek kies om van vandag af op hierdie klein dingetjies te fokus. Dìt gee my hoop vir die mensdom en motiveer my om daagliks soos ‘n gawe mens te leef. Want die klein dingetjies, maak ‘n groot saak.

 

 

Afrikaans

O Moedertaal, my soetste taal.

Ons stap deur die winkels. Ek verwonder my aan die Afrikaans wat oral gehoor kan word.

“In my geskeeeeerde jeeeeeens” ontrond Karlien van Jaarsveld in Dischem.

“Ies dis on speshial?” vra die Afrikaanse vrou aan die winkelassistent in Woolworths.

“Ja-nee, help nie om te kla nie, niemand luister in elk geval nie” sug die ou oom in die Wimpy.

“Nee Jirre Mevrou, die slippers is somme dieder assie slaap se klere” kla die kleurlingvrou in Ackermans.

 

My hart klop al hoe warmer. By die huis hoor ek ook die tongval van my voorvaders.

“Eina! Stamp jy my op die tietie!” skree my tannie tydens die familiebraai toe haar kleinkind onverwags op haar spring.

“Ek sit nou so lekker, ek staan sommer op en sit weer” kom die tevredenheid in my oor lê, terwyl ek aan ‘n Kaapse rooiwyn proe.

“Mamma, is hierdie koeldrank kindervriendelik?” vra my dogtertjie, terwyl sy na die koeldrank in my glas wys.

“Dis nou ‘n moerse lekker hoendertjie wat jy hier gebraai het” word die kompliment aan my man oorgedra.

 

My hart klop al hoe warmer. In die kar luister ek hoe Afrikaans oor luggolwe versprei word.

“Vandag gesels ons oor die bestaansreg van Afrikaans in Universiteite” word die onderwerp aangekondig.

“Dagsê liewe meisie” groet die tannie wat inbel.

“Geen pretensie, geen beheer” sing Karen en Francois.

 

My hart klop al hoe warmer. In ons binnekamer word die mooiste Afrikaans ooit gepraat.

“Ek het jou lief, Spanmaat.”

“Ons het julle gemis, My Kind.”

“Wat ‘n voorreg, My Suster.”

“Goed om te sien julle is gelukkig en gesond, Vriendin”

 

My hart klop al hoe warmer. Al is dit winter in Suid-Afrika.

 

 

 

 

 

 

Aankoms

H.I.A.

Dinge werk anders hier. Ek sal nie sê ek het dit vergeet nie, maar dat die slegte smaak mettertyd uit ons monde verdwyn het, is die waarheid. My voete het nog nie eers behoorlik op Suid-Afrikaanse grond getrap nie, toe val ons al in die sloot. Eers word ons twee ure vertraag op O.R. Thambo, want… wel, ek weet nie regtig hoekom nie. Ek vermoed die vlieënier wou ons in Bronkhorstspruit gaan aflaai, maar niemand is regtig seker nie. H.I.A.

Deur die hekke, verby die roltrappe wat nie werk nie, oor die stukkende matte en bordjies met spelfoute op… ek let net met een oog op, want my mense wag aan die ander kant. Paspoortbeheer. Misstap 1. Iemand het, sedert ons 11 ure vantevore in Abu Dhabi uitgeteken het, Petrus se paspoort gekanselleer. Hoekom? Ek weet nie. H.I.A. Dit staan duidelik daar: die vervaldatum is eers 17 Oktober 2017. Maar nee, paspoortbeheer se stempeldrukker weier om ons vierjarige in sy geboorteland toe te laat. Nà mooipraat, dreig, smeek, kwaad word en trane is ons eindelik oppad om ons tasse op te laai. Misstap 2. Iemand het die verkeerde knoppie gedruk en ons tasse is nie hier nie. Ons gaan soek antwoorde by “Baggage Enquiries”. Misstap 3. Niemand weet niks en die ou langsaan nog minder. Eindelik word ons tasse opgespoor, in Tokyo. Vorms word ingevul. Vorms word ingehandig. Vorms word ons hoop. Ons mag moontlik miskien more ons tasse kry. H.I.A.

 

Maar al hierdie dinge maak nie vir my saak nie. Want ek peusel aan droëwors, terwyl die braaivleisvure aangesteek word. Ek teug aan ‘n Savanna Light, terwyl Ouma mielietert bak, my sus op die mat met die kinders speel en Manlief rugby kyk. Nou-nou gaan ek saam my ‘ghurlzzz’ kuier. Die lewe is ‘n lied.

H.I.A.

Hierdie is Afrika.

MY Afrika.