Wind

Om ‘n wind te laat, maak nie van jou windmakerig nie, al bring jy die wind ook self op. Ek het die laaste paar dae met baie verskillende mense en wesens te doen gehad. Windgatte wat geskok sal wees as hulle uitvind die son draai nie om hulle nie. Windlawaaiers wat so baie soos windorrels praat, maar nie juis stof opskop nie. Mense wat met alle winde saamwaai en my sommer uit my bloedgroep irriteer. Mense wat baie wind maak, maar geen tolbos laat waai nie.

Ek het mense ontmoet wat soos wind, groot skade aanrig en verwoesting saai. Mense wat die wind uit ander se seile neem en niemand ‘n plekkie in die son gun nie. Suurstofdiewe wat seker maak dat ander mense die wind van voor kry.

Al het die woord “wind” meestal ‘n negatiewe betekenis, weier ek om te aanvaar dat alles wat met die wind te doen het, my ongeskik of onmenslik sal maak. Ek lag oor ‘n wind wat glip, of dit nou boontoe of ondertoe is. Ek giggel vir my eie ‘deur die wind’ denke. Ek klou vas aan die wete dat die wind ook verandering bring. Wind kan die rommel wegwaai, nuwe stof nader bring en natuurlik kan die wind ook ‘n verkoelingseffek in die hitte hê. Die wind span die seile, dwing die boot na ontdekkings, pas die reisplan aan en maak seker skepe beweeg vinniger na hul eindbestemmings. Windkrag beteken minder druk op Eskom en die nuwe burgemeesters aan bewind, vee soos nuwe besems, die ou stof weg.

Die wind het my nie omgewaai nie. Ek het nie toegelaat dat die snerpende windjies van ander my onderkry nie. Ek vind my vrede in die vars bries van vriende en kollegas, want mens kan nie van wind alleen leef nie.

Advertisements

Instink

Ons word met ‘n stink gebore. Nie in die doek nie, maar eerder ‘n innerlike voorgevoel, genaamd instink. Ons vertrou die hand wat die wieg skommel, onvoorwaardelik. Ons glo dat as jou pa jou op sy skouers dra, hy jou nie gaan laat val dat jou skedel kraak nie. Babas strek nie sommer hul armpies uit na onvanpaste oppassers nie, want iewers trek ‘n hartsnaar in die regte rigting. Hormone dryf tieners instinktief na onverantwoordelikheid en die driftige drange van die onderlyf word slegs deur die oerinstink van voortbestaan aangevuur.

Ek het instinktief geweet ek gaan nie van die smaak van brusselse spruite hou nie. Sonder om daaraan te vat, te proe of te ruik, het die groenerige, bosserige gedoente van groente my glad nie beïndruk nie. Instinktief rebelleer my gestel teen die oormatige inname van alkohol. Mediese wetenskap, tesame met genetika bewys dat ons slegs met behulp van ‘n sielkundige afwyking verlief kan raak op ‘n nabye familielid.

Jy sal begin hardloop as ‘n renoster op jou afstorm, jy sal gil as iemand jou hand vol spelde druk, jy sal hoes as jy ‘n asem vol rook intrek, want jou liggaam reageer ter oorlewing… op instink.

Eendjies stap in ‘n ry, springbokke spring, arende vlieg hoog, honde lek hul… pote en elke dierspesie oorleef suiwer as gevolg van instink.

 

Ek kyk na die nuwe mense wat hulself in my binnekring bevind en ek kan nie anders as om te wonder hoekom so min mense dit tot hier maak nie. Hoekom skryf ek so maklik sekere mense uit my storieboek uit, maar laat dan byna wildvreemdes toe om my kinders te koester? Is dit omdat hulle Afrikaans praat? Is dit omdat hulle ook onderwysers is? Is dit omdat…*sit enige goeie rede hier in*? Maar dit is nie. Die antwoord is eintlik so eenvoudig:

Instink stink nie.

Tannie Margaret

Die hemel hoor my, ek is nie perfek nie. Ek maak foute, elke dag. Ek eet verkeerd, vloek te veel en ek is dikwels ongeduldig met my kinders. Ek drink te min water, kleur nie tussen die lyne in nie en ek ken nie al die woorde van die volkslied nie. Sommige van my skoonfamilie reken ek is verkeerd om nie vir die Blou Bulle te skree nie, terwyl ander my klassifiseer as volksverraaier oor ek Suid-Afrika vir die woestyn verruil het. Ek luister nie na gospelmusiek nie, lees nie weekliks die Huisgenoot nie en ek dra soms bruin skoene saam met ‘n swart belt. Ek skei nie altyd my wasgoed volgens die regte kleure nie, skrop my nie-plak-potte met tawwe skuurders en ek het nog nie een episode van Game of Thrones gekyk nie.

Goed, so ek het nog nooit bedrog gepleeg, iemand vermoor of ‘n foto van my verbode vrug vir die hokkie-ouers gestuur nie, maar dit beteken nie ek het die reg om in ‘n glashuis staan en klippe gooi nie.

Ek weet nie wat tannie Margaret besiel het om daardie betrokke foto te neem nie. Ek verstaan nie hoekom sy besluit het om dit te stuur sonder om tien keer seker te maak na WIE sy dit stuur nie. Al wat ek weet, is dat sy vanaand ten volle bewus is van haar fout. En skielik is die hele Suid-Afrika slaggereed om haar op die wreedste moontlike maniere daaraan te herinner.

Maak dit saak hoekom sy die foto geneem het? Ek het al ‘n stoute foto of twee aan my man gestuur… dalk nie heeltemal sò grafies nie, maar tog gee dit ‘n ekstra kinkel in die huwelikskabel. Die suurgesigte, hoogheiliges, hipokrate, geskeides, verkuldes en advokate van die lewe staan vingerwysend en kritiseer, sonder om te dink aan die balke in eie oog. Om die foto te neem, was dus nie ‘n misstap nie.

Dis met die stuur van die foto waar die fout begaan is. Fout. Nie doelbewuste skending van hokkie-ouers se korneas nie. Nie opsetlike verspreiding van volslae volwasse vermaak aan die gemeenskap nie. Die versending was net dit: ‘n fout. Een wat dreig om ‘n familie te verwoes. Selfbeelde word verkrummel, kinders word verneder, ‘n huwelik word tot op breekpunt gespan, depressie neem stelling in… en dit alles as gevolg van een fout.

 

As ‘n dwelmverslaafde die eerste foutiewe snuif neem, probeer mense hom help. Kriminele word gerehabiliteer. Moordenaars ontvang terapie. Maar nou neem ons deel in die afbreek van ‘n gesin oor een Mamma ‘n fout gemaak het. Natuurlik is ek dankbaar die glips het my nie oorgekom nie. Natuurlik giggel ek oor die hele situasie. Maar in my stilste oomblik dink ek aan tannie Margaret vanaand. En ek stuur vir haar ‘n denkbeeldige bos blomme, ‘n paar engelvlerke en ‘n skild uit harde velle gevleg, want as alle grappies op ‘n stokkie is, was net EEN fout hare en die res eintlik ons s’n.

 

 

 

Beloning

Ek hou van Ikea. Dis eufemisties gestel. Ek is dol, gek, mal, hop-skop-smoorverlief op Ikea. In Abu Dhabi het Ikea my ontvlugting geword. As die wêreld druk, die trane vlak sit of ek sommer net skuinsweg bedonnerd is, is Ikea my antwoord. Ikea is ’n Sweedse meubelwinkel wat ongelukkig nog nie in Suid-Afrika oopgemaak het nie, maar wat die ongelooflikste meubels, lakens, tuinstelle, messe, handoekpapier, potplante, skilderye, hangkaste en alles wat jy nog moontlik in jou huis mag nodig kry, smous. Dis my hawe.

Ek koop slegs een uit elke ses besoeke iets. Maar om deur die winkel te loop, is vir my terapie. Dit herinner my aan alles wat nog goed en reg en mooi is in die wêreld.

So staan ons gesinnetjie Sondagaand in die ry by Ikea om ons boekrak te betaal. My liefste seunskind, Petrus (4) begin baie ywerig om die twee Arabiese mans voor ons, se waentjie uit te pak. Fluks gee hy gloeilampies en gordynknippies vir die assistent aan, terwyl die twee Arabiere laggend vir die hardwerkende mannetjie staan en kyk. Petrus staan later skoon binne hul waentjie en stuk vir stuk en baie geduldig pak hy alles, tot op die laaste kussingsloop vir hulle uit. Ek staan trots na my seun en staar. Melodramaties dink ek aan sy sorgelose houding, sy onselfsugtige gebaar en hoe my seuntjie besig is om in ‘n wonderlike jong man te ontaard. Ek klop myself op die skouer en my hart glimlag breër as my mond.

Eindelaas is alles uitgepak en betaal en is dit ons beurt om die kredietkaart te laat sug. En dit is op daardie oomblik wat een van die Arabiese manne, na Petrus draai en hom ‘n noot in die hand stop. “Want harde werk moet beloon word”. “Shukran” bedank my seun die man in Arabies. My bors swel van trots.

Nou hou ek nog meer van Ikea. Nie omdat my seun met sy hardverdiende inkomste vir ons aandete gekoop het nie, maar omdat einste Petrus my ook hier ‘n les geleer het. Die gebaar van vriendelikheid, behulpsaamheid en onbaatsugtigheid hoef nie te wag vir spesiale oomblikke of groot geleenthede nie. Ons hoef nie net aan die behoeftiges te voorsien nie. Ons hoef nie net aan liefdadigheid te skenk nie. Jy kan jou positiewe deelname aan die menslike resies elke oomblik bevestig. Jy moet net wil.

 

Kleur

Ek wil nie rooi sien nie. Of rooi onder die kraag wees nie. Of my moermetertjie in die rooi druk nie. Om propvol aggressie en woede te wees, is sinneloos, want kwaad kan nie geboorte skenk aan iets goed nie. Natuurlik word ek kwaad as ek sien hoe my pragtige Vaderland verniel word deur barbare. Ek word vies as ek nie net een blokkie sjokolade eet nie, maar sommer die hele plak. My bloed begin borrel as minibussies nie die padreëls gehoorsaam nie en onskuldige mense se lewens in gevaar stel. Ek word kwaad as iemand (soos Manlief) die melkbottel leeg terugsit in die yskas. Maar ek hou nie daarvan om hand aan hand met woede te loop nie.

Ek wil nie blou voel nie. Mens word moedeloos oor Binnelandse Sake, voel magteloos oor werke nietig verklaar word, ervaar hopeloosheid as wonderlike potte nie hul deksels vind nie. Dis nie altyd maklik om die saak blou-blou te laat staan nie, maar soms moet mens kan wegstap sonder om terug te kyk. Johannes het gesing dat al lê die berge nog so blou, is dit jou woorde wat ek altyd sal onthou… en dit maak ons weemoedig, neerslagtig en steel ons opwinding.

Ek wil nie in ’n swart gat beland nie. Maar depressie vra nie toestemming om sy huis in jou kop te laat nesskop nie.

Ek wil nie in die grougryswêreld van sinisme verdwaal nie. In Suid-Afrika blyk dit al hoe moeiliker te word om die positiwiteit raak te sien. Die wonderwerke is daar, daagliks, maar dit word verskans agter al hoe meer sleg en wanhoop.

Ek wil in geel giggel en in pienk hartjies verf. Ek wil so koel en kalm wees soos ’n groen walm. Want nes die reënboog ons kleurvolle hoop gee na die donker storm, net so is my gemoed op soek na ’n goeie invloed.

Ek lees elke aanhaling wat my aanspoor om in kleur te leef. Ek herhaal matra vir mantra om my brein positief te programmeer. Ek hou my kinders stywer vas, is dankbaar vir elke klein genadegawe en koester my vryheid met longe vol vars lug. In die reënboogland is een van die grootste uitdagings beslis kleurblindheid.

Huis

Ek het rondgeslaap. Ek het my lyf in die bed gewikkel van bekendes, berugtes, buitengewones en boesemvriende. Ek het lepel gelê op oopslaanbanke, opblaasmatrasse en ja, selfs in hotelkamers. Ek het my gebedjies opgestuur vanuit die verkreukelde lakens van ‘n vreemdeling se slaapplek.

As mens met vakansie is, daal jou standaarde dramaties. Die binnekant van ‘n tent lyk aanloklik, solank jy net nie die volgende oggend moet opstaan om te gaan werk nie. Die platgedrukte kussing met oordadige blommetjie-kussingsloop, is nie ‘n hartseer aangesig nie, solank jy nie met ‘n wekker wakker geskree word nie. ‘n Onbekende stort, met suspisieuse strepe teen die muur, is nie naastenby so grillerig nie, want ek hoef nie voor sonop more te skarrel om skooltasse te pak of ontbyt reg te sit nie. Ons drink koffie uit plastiekbekers, papierhouers, blikglase, teekoppies en pretensieuse keramiek, maar dit smaak vorentoe, want ek kan dit in my slaapklere drink sonder om deurentyd na die horlosie te loer.

Ons het vir sewe weke uit tasse geleef. Ek voel soos ‘n professionele pakker. Ek kan meet en pas sodat skoon klere, vuil wasgoed en onderklere met die blote oog onderskei kan word. Stortsakkies, grimeerhouers en medisynebakkies is maklik bereikbaar. Dit irriteer my nie, want ek rus. Ek is met vakansie.

Maar vanoggend het ek in my eie bed wakker geword. Ek het in my eie wasbak tande geborsel en uit my eie bekers koffie gedrink. Ek ‘abluseer’ in my eie badkamer en kyk televisie uit my eie stoel. Hier is dalk nie bediendes wat die beddens opmaak en skottelgoed uitsorteer nie… hier is dalk nie Oumas en Oupas wat na die kinders omsien sodat ons kan laat slaap nie… hier is dalk nie ‘n worshond wat gretig in die bed spring en mens laat glimlag nie… hier is dalk nie ‘n verwarmer in die badkamer nie, MAAR my hart is in elke foto teen die muur. My logika is in die uitleg van die kombuis. My vertroue is in die wit handoeke wat aan die reling hang. My smaak is in die kleurskema van die sitkamerbanke. My uniekheid word vasgevang op die boekrak. My vingers vind gemak oor die sleutels van my skootrekenaar.

 

Ek sug van verligting. Ek moet dalk more weer vroeg opstaan, ontbyt voorsit en gaan werk, maar die vreugde om in my eie huis te wees is groter as enige klagte. Om rond te slaap is nie naastenby so lekker, as om getrou te wees aan my eie bed nie. Ek bekommer nie oor vreemde bedsiektes of my reputasie nie. Die vakansie was heerlik, maar ek is dankbaar om tuis te wees. Dankbaar vir my pandokkie. Dankbaar om te weet: iemand anders se paleis is beslis nie beter as my eie huis nie.

Eiland

Ek sit en teug aan ’n mengeldrankie in die warm kleure van die reënboog. Die vliegtuig is nog nie oor nie, maar ek is nie bang vir die plaaslike jenewer nie. Ek is mos met vakansie, troos ek myself. Ek sal nie skuldig voel dat ek drink nog voor ek ontbyt gehad het nie, tik ek myself oor die vingers. Voor my strek die Indiese Oseaan haar vlerke wyd. Die son gaap oor die ligblou water en die spierwit strande sluimer onder die lakens van palmbome. Ek het besluit om my rekenaar se sleutelbord te verruil vir ’n outydse potlood en nostalgiese notaboek. Die grys lood gly geruisloos oor die maagdelikheid van Croxley en ek kan my net voorstel hoe die klikke-klakke-kletter van die QWERTY die vrede sou versteur.

Ek glimlag as ek die Duitse paartjie langs die swembad sien. Die grys ou oom help die kromrug tannie tot op die lê-stoel. Dan val die handoek van sy maer heupe af en ek skrik so groot dat ek die oranje van die reënboogdrankie in een slurp verniel. ’n Giggelgeel, eina-kleina-o-tog-eina broekie span hopeloos te styf onder die grys maaghare van die oompie. Jy kan sy geskiedenis en toekoms sommer so in een asem sien afspeel en ek is nie seker of ek die tannie moet jammer kry of gelukwens nie.

Langs hulle lê ’n paartjie van Israel. Ek het gisteraand uitgevind dat hierdie eiland hul wittebroodvakansie is. Hulle praat gebroke Engels, maar is tans besig om vlot in die taal van liefde met mekaar te kommunikeer. Ek sit te ver weg om die spoeg te sien spat, maar dat hul hande die weg vind oor mekaar se begeertes en bates, is nie ’n nasionale geheim nie.

In die water is die ses Hollanders besig met een of ander ritueel van water-joga of gesinchroniseerde pilates. In absolute stilte voer hulle allerhande vreemde bewegings uit, onbebuws van die wêreld buite die water.

In die vlak branders is die Zanzibari vissermanne besig om hul nette leeg te maak. ’n Dosyn swart gesiggies loer van die strand af na die skuite op die see. ’n Vrou met oranje uniform is besig om die steentjies voor die eetsaal met ’n besem te vee.

Die man agter die kroeg glimlag vriendelik as hy nog ’n reënboog voor my neersit “Hakuna Matata” rol die eiland se mantra oor sy lippe.

“Asante Sana” bedank ek hom in Swahili.

Dis dag vier op die eiland. Ek herken Adbul-Karim agter die rooster, Alana in die spa en Edson as ons kelner. Ons weet waar om te snorkel en waar die slawe-mark in die 1880’s was. Ek weet die Nike Ice Tea is te sterk en die SaroBaro gee sooibrand. Ek kies die linkerkantse bank op die dek, want die regterkantse een se poot wankel. Die onbekende is so klein bietjie meer bekend. Om avontuur te soek, is opwindend. Om nuwe plekke te ontdek, nuwe mense te ontmoet en nuwe dinge te doen is fenomenaal. Maar soos ek gewoond word, soos ek verstaan, soos ek tuis raak, so raak my siel rustig. Die reënboog proe soos gister. Die potlood in my hand herinner my aan my liefde vir dig. En ek weet dat al vlug ek na enige eiland vir rus, die bekende maar eintlik my berusting bring.