Moeder

[moe-dir] – selfstandige naamwoord

1. Vroulike persoon wat 24 uur per dag werk. Gratis.

2. Iemand wat ’n kind kan hoor nies, drie slaapkamers ver, terwyl haar man langs haar lê en snork.

3. ’n Persoon wat alledaagse takies met een hand kan afhandel.

4. Die vrou wat nie soos ’n baba wil slaap nie, maar soos haar man.

5. Iemand wat nie gil nie, maar motiveringspraatjies gee vir kinders wat selektiewe gehoor het.

6. Iemand wat die wonder van ouerskap ervaar as die kinders almal slaap.

7. Haar voete word gebruik om Lego-blokkies in die nag op te spoor.

8. Iemand wat wens haar kinders maak miljoene rande, sodat sy eendag by hulle kan intrek.

9. Die persoon wat halfgekoude kos met smaak eet.

10. Iemand wat altyd lief is vir haar kinders, maar nie altyd ewe veel van hulle hou nie.

{sien ook: ‘masochis’, ‘mal’, ‘oormoeg’, ‘onderbetaal’, ‘verpleegster’, ‘onderwyseres’, ‘taxi-bestuurder’, ‘wyn-fynproewer’, ‘doekruiler’, ‘dissiplineerder’, ‘kok’, ‘laerskool-kostuumontwerper’, ‘geduldig’, ‘engel’}

 

 

***SUPERMA word in November deur Lapa Uitgewers uitgegee.

Advertisements

Uniek

Blykbaar skryf duisende bruide elke jaar in vir die Bruid van die Jaar kompetisie. Nes duisende mammas elke jaar hul kinders inskryf vir die Baba van die Jaar stryd. Ons word op Facebook gesmeek om te stem vir die Voorbladgesig, Baba, Bruid en Botterbroodresep… want elkeen dink hy is uniek. Anders. Ons glo ons is witdoodshaaie in die klein goudvisbakkie op die stoep van die ouetehuis in … (plaas hier die voorstad se naam in).

Ons word gesmeek om ’n knoppie te druk, want een bruid dink haar huweliksbevestiging was besonder flambojant. Ek het nog nie een nuwe mamma ontmoet wat dink haar kind is leliker as Donald Trump nie. Op die uitgewerstafel lê manuskripte van mense wat almal dink hul skrywe is towerwoorde. Elkeen wat ’n noot op ’n kitaar kan druk, wil musiek maak op die verhoog van ’n kunstefees-terrein. Elke tiener met ’n lawwe idee, droom van rykdom as entrepreneur.

Dit voel asof ek die eerste Vrou is wat haar gesin opgepak en 7000km ver weggetrek het. Ek is die eerste Kind wat haar ouers uit die verknorsing moes help. Ek is die eerste Suster wat moes vergewe en vergeet. Ek is die eerste Ma wat nie alles perfek doen nie. Ek is die eerste Eggenoot wat liberaal dink. Ek is nie ’n walvis in die goudvisbak nie. Ek is ’n goudvis in die see.

’n Vriendin sterf aan kanker. Sy is nie die eerste kankerpasiënt in ons vriendekring nie. Ook nie in die hospitaal waar sy behandel word nie. Ook nie in Suid-Afrika nie. En beslis nie in die wêreld nie.

’n Vrou ervaar die hartseer van ’n miskraam, ’n stilgeboorte of moet ’n baba na slegs vier dae groet. Ons harte is stukkend. Maar iewers onder die osoonlaag daarbuite, is nòg vrouens wat dieselfde soort trane stort.

’n Weduwee besoek haar man se graf… nes haar buurvrou ook maar op Valentynsdag doen. Nie die eerste vrou wat haar man aan oorlog afstaan nie. Ook nie die laaste nie.

’n Maatskappy word bankkrot verklaar en die papiere word afgeteken deur dieselfde prokureur wat reeds die deure van 283 besighede gesluit het sedert Januarie vanjaar.

Alhoewel dit na ’n morbiede gedagte klink, is dit allermins nie. Sien, ons hoef nie uit te staan om gelukkig te wees nie. Ons hoef onsself nie te onderskei as bomenslike wese om erkenning te kry vir goeie dade nie. Ons hoef nie vlerke te groei om as engel geklassifiseer te word nie. In tye van voorspoed moet ons ons dankbaarheid tussen ons alledaagse mense vind. En in tye van nood kan ons maar weet: ons is nie alleen nie.

Die blesbok in die bak

So durf ons toe verlede Donderdag, die pad Zeerust toe aan met ’n baie plat, silwer Mercedes. Spoggerig en hopeloos buite die grense van ons persoonlike begroting, maar met genade van my skoonpa se goedhartigheid. Die kilometers word in styl opgeslurp soos ons klets en kuier in die weelde van leer-, hout- en chroomafwerkings.

Ons giggel oor die ironie van jag in ’n sportmotor. Ons is dankbaar vir die krag onder die kap as ons trokke moet verbyseil op die hoofweg. Ons kruip deur die slaggate, vermy die onverskillige minibussies en parkeer aan die buitewyke van Spar se parkeerarea, sodat niemand tog die kar moet krap nie.

Vir die nag word Skoonpa se aftree-luukse onder die afdak, weg van alle gevaar bewaar, terwyl ons sorgeloos lag en kuier en wyn drink voor die braaivleisvuur. Vroeg die volgende oggend, val ’n blesbok in die veld. My Jagter glimlag breed as die karkas eindelik hang. En dis net hier waar die pret begin.

Die kattebak van die Mercedes word voorberei: plastieksakke word uitgelê, handoeke word versprei en die binnekant word behoorlik, deeglik, geduldig uitgevoer met beskerming teen moontlike bloedvergieting. Eindelik word die karkas van die blesbok (sorgvuldig toegedraai in swartsakke) in die kattebak ter aarde bestel. Nog nooit in die geskiedenis het ’n blesbok hierdie tipe lykswa gehad nie. Hy het nie ’n polis of begrafnisboekie gehad nie, maar dat die bok beslis die vyfsterpakket ontvang, is ’n waarheid.

Ons vat die pad. Swartruggens. Koster. En sò stop ons in Derby om die blesbok af te laai vir verwerking. Die plattelandse mense is gaaf, vriendelik en baie behulpsaam. Ons koop droëwors en koeksisters en stap oor die grondpad na die “BottelStoor”. Ek soek rooiwyn, maar sien net papsakke teen die muur hang, sonder etiket en erns. “Hou julle dalk ’n bottel rooiwyn aan?” vra ek versigtig aan die jong man agter die toonbank. “Ja Antie. Hierie is nogals ’n goeie enetjie. Nederburg Klaaaaa-ret.” Ek onderdruk ’n spontane giggel. Ek is beslis nie ’n dekade ouer as die man nie, maar aanvaar die teken van respek as ’n opregte gebaar. “Gee my dan maar altwee Boetie” sug ek  soos ’n pensioenaris.

Ons kuier en slaap en lag verder by dierbare vriende in Koster. Ons lag oor die “Klaaaaa-ret” en die blesbok in die bak. Saterdag gaan laai ons die bokkie op. Hierdie keer is hy verpak in 500 gram pakkies vol maalvleis, wors en kookvleis. Op pad terug Pretoria toe is daar stilte in die plat kar. Gewyde stilte. Dankbare stilte. Mense het ons harte vol gemaak met vreugde en samesyn en ‘n oordaad van hartlikheid. Die blesbokkie gaan vorentoe smaak, want hy is met liefde gegee, met eerbied verwerk en met dankbare hart ontvang.

Die blesbok se begrafniskar het niks met sy nagedagtenis te doen nie. Ek wens nou net almal kan dit besef.