Televisie

John Logie Baird kry alle eer vir die ontwikkeling van die beeldkassie. Sedert die 1920’s het groot bokse egter plat skerms geword en is die naam herdoop na slim plasma’s en LCD monitors. Nou kyk, ons almal het al die treurmare van die televisie aangehoor… hoe dit ons vierkantige oë gaan gee, hoe dit kinders dom en vet en lui maak en hoe ouers as swak geklassifiseer kan word as hulle die tv inspan as baba-oppasser.

In Indië het die koms van die televisie vrouens bemagtig. Bemarking, sitkoms en sepies het beteken dat vrouens se selfbeeld ‘n hupstoot gekry het en dit het gelei tot minder aborsies, beter en meer onderrig en minder geweld tuis. In die Midde-Ooste word die beeldradio met groot sukses gebruik om Engelse vaardighede te kweek en in ons huis het die televisie al menige oorlogsituasie ontlont.

Dis nie die televisie wat ons vet maak nie. Dis lekker kos en min oefening wat ons kurwes gee. Die nie die televisie wat die mensdom dommer domste maak nie. Dis die gebrek aan ons leeslus, dors na kennis en verantwoordelikheidsin wat tekort skiet. Dis nie die televisie wat kinders immoreel maak nie. Dis die gebrek aan aanwesige ouers wat kinders aan hul eie lot oorlaat. Ons moet die knoppie in die spieël gaan druk.

Uit ondervinding kan ek getuig dat die televisie nie net satan se speelding is nie. Behalwe dat my kinders op besonderse warm/reënerige/donker dae binne die veilige hawe van ons sitkamer vermaak kan word, beteken ‘n animasieprent dikwels dat ek die kleedkamer sonder toeskouers kan besoek. Te danke aan slim kinderflieks, leer my kinders sing, want ek is omtrent so nootvas soos ‘n hamster op helium. Met ‘n Jagter-man leer hulle van 72 gevaarlike spinnekoppe en slange, wonderlike walvisse, die Taj Mahal en kan my kinders al meer boksoorte uitken as baie onderwysers.

Ons begroting is maar beperk, maar die televisie kan ons denkbeeldinge paspoorte stempel. Met ‘n kind op elke been, word stories gedeel, gesels oor mortaliteit, sushi, melkkoeie, hoe ‘n pen vervaardig word en goeie maniere. Ek dink die televisie is nie so skuldig soos sielkundiges hom afmaak nie. Nes potlode nie spelfoute maak nie, net so is die tv nie verantwoordelik vir die verdoeming van ‘n volk nie. Dis die ouers wat sonder toesig hul kinders vir ure voor die tv laat lê wat die kanaal van kennis kortwiek. Dis die egpare wat nie kommunikeer nie, maar kla oor die kuns van die kontrole wat die baba saam met die badwater uitgooi.

Ek erken dat ek eerder ‘n leser as ‘n loerder is, maar dit beteken nie ek sit hoogheilig en oordeel die kanaalhoppers of sportverslaafdes nie. Skakel aan. Druk die knoppie. Verstel die volume. Maar onthou dat die sukses van die storie onder jou duim gedruk word, want die afstand moet beheer word.

D(r)ink

Om te drink en te bestuur was nog nooit ‘n goeie idee nie. En nou praat ek nie van groen koeldrank of melk drink nie… maar alkohol en konsentrasievernuf agter die stuur is nou maar een maal nie pasmaats nie. Dieselfde hande wat so gemaklik die een brannas na die ander mond toe bring, bevind hulself dikwels pols-diep in die bloed. Ongevraag. Ongewens. Onnodig. Ons almal weet dit.

Om te drink en te loop is ook nie noodwendig ‘n veiliger opsie nie. Gebreekte enkels, verlore skoene en ‘n ongemaklike, onbeplande swem in die universiteit se fontein is dikwels die gevolg van mense wat loop en drink. Die ding wat egter die maklikste weggegooi word as jy drink en loop… is jou naam, want die spektakel wat homself ‘n drafstap noem, het meer ooreenkomste met ‘n steier of kruip as met ‘n waggel.

Om te drink en te sit kan ook dodelike gevolge hê. Verhoudings verbrokkel as gevolg van ‘n leë staar na die badkamerdeur waar ‘n blonde bom pas in verdwyn het. Wie het gesê van sit en staan kom niks gedaan? Bog! ‘n Dronkie met ‘n selfoon in die hand is nie net vermaaklik vir die nabye toeskouers nie, maar ook vir die lesers van sms’e, Facebook-statusse wat oor seine versprei word en oproepe wat in die middel van die nag na ou geliefdes gemaak word.

Om te drink en lê beteken dat jy dalk noodgedwonge die volgende dag die beddegoed sal moet was. Alkohol in ‘n natgeswete lyf, wat deur die horisontaal gedruk word, het dikwels die die vermoë om die maag se inhoud te openbaar. Ek braak nou nie gal nie, maar die stank van drank laat my roggel. Bo blink (gedrink) en onder stink.

Ek dink egter die gevaarlikste ding om te doen as jy drink, is om te dink. Of om te DINK jy dink. Dis onder in die whiskeyglas waar kak idees gebore word. “Kom ons spring van die dak af, tot in die swembad.” Dis in die vierde kas bier waar idiote slegte beleggings maak. “Kom ons belê almal saam ons geld in die ontwikkeling. Eiendom verloor mos nooit waarde nie.” Dis  na die sesde shooter wat vals beloftes gemaak word. “Ek wed sy wil my terughê, ek moet net haar pa oorreed.”

Ek is lief vir wyn. Ek skink graag ‘n gin en tonic. Ek teug met genot aan Amarula. En as ek sien die kuier kom in groot maat, dan maak ek seker die selfoon en karsleutels is weggebêre, die voordeur is gesluit en die kinders is in die bed. Dink vòòr jy drink, want spyt kom dikwels te laat.

Waarskuwing

Op die pakkie vol grondboontjies is die waarkuwing: “Mag dalk neute bevat”. Dieselfde waarskuwing verskyn egter ook op die Cornetto-roomys, op die pak kaaskrulle en die een waaroor ek die meeste bekommerd is: die herwinbare toiletpapier.

Daar is ‘n waarskuwing in die hysbak: “Nie meer as 750 kg toegelaat nie”. Skielik voel ek nie so sleg oor my gewig nie, want ek is nog nie naby aan daardie gevaarlike nommer op die skaal nie… tot my oë verder suid beweeg : “of maksimum van 10 mense.” Dit beteken daar kan nie tien van my soort lywe in een hysbak nie. En dít gee my selfbeeld so klein knyp.

Teen die hek is die waarskuwing: “Pasop vir die hond. Oortreders sal gebyt word.” Dit behoort as afskrikmiddel vir ongure karakters in die dag te wees. Nou moet jy net hoop die oortreders kan lees, anders gaan die hond dalk sy staal en tande moet wys.

Onder die buisie salf lees ek: “Slegs vir uitwendige gebruik.” Ek wonder watter mens met gesonde verstand gaan salf inwendig wil gebruik. Indien iemand dalk voorstelle, oplossings of idees oor hierdie betrokke persone het, wil ek dit asseblief nie weet nie. Ek vermoed my emosionele krag is onvoldoende vir die antwoord.

In elke voubiljet van elke pakkie pille of botteltjie gif in die medisynekas, is daar waarskuwings in swart gedruk: “Moenie vir langer as tien dae gebruik nie” of “Moenie deur swanger vrouens geneem word nie.”. Is daar werklik mense wat nog hierdie waarskuwings lees en hulle daaraan steur? Die newe-effekte kan maagaandoenings, hoofpyn, lomerigheid en hipertensie wees. Drink een pil. Gaan lê omdat jy hoofpyn het. Raak aan die slaap. Beskyt jouself. Hiper Tensie in die huis. Gevaarlike speletjie, né?

Swart op wit waarsku die pakkie sigarette: “Rook kan kanker veroorsaak.” Slaan my om met ‘n piesangskil. Op die pakkie kondome: “Nie 100% effektief nie” Sekere mense moet sommer net teen voortplanting in die geheel gewaarsku word. As ma waarsku ek daagliks: “Moenie op die bank spring nie. Moenie met die mes hardloop nie. Pasop vir die hoek van die kas. Hou op om mekaar te terg. As julle nie NOU rustig raak nie…”

Die waarskuwings op elke pakkie en boksie vertel my eintlik net een storie: mense het al baie simpel goed aangevang… soos om sjampoo te sluk en te dink tandepasta moet aan jou kornea gesmeer word. En nou word maatskappye genoodsaak om simpel waarskuwings, wat alle grense van logika uitdaag, op elke moontlike roompie, gereg en bottel te druk. Ek wonder hoe oorleef mense dag tot dag… veral die wat nie kan lees nie.

Dis eintlik jammer mense kan nie ook met waarskuwings kom nie.

“Pasop. Alkoholis.   Verkuller. Vroueslaner. Nie troumateriaal nie.”

“Versigtig. Flankeerder. Selfsugtig. Domastrant. Nie vir sekretariële doeleindes geskik nie.”

“Let op. Leuenaar.” “Stadig. Skurk.” “Gevaar. Makelaar.” “Urgh. Dom.”

Maar dan sal ons ook nie verras kan word nie. Ons sal die boek altyd op sy baadjie takseer en nooit die bladsye lees nie. Ons sal die voël se vermoë om te vlieg, oordeel op sy vere en vlerkspan, maar nooit hoor hoe mooi hy kan sing nie. Ek sal nooit verwonder kan wees oor hoe die beskermengele my kinders oppas nie, ondanks my waarskuwings. Ek gaan die waarskuwings in my agterkop hou, maar met hoop na die mensdom kyk en wag. Wag vir die volgende verrassing. Want in elke waarskuwing is ‘n wonderwerk wat wag om te gebeur.

 

 

Leer

Petrus leer nou skryf. Hy is vier en die pen lyk onregmatig groot tussen sy klein kindervingertjies. Ek wil eintlik hê hy moet gaan swem, sokkerballe gaan skop of sommer net gaan trampolien spring. Lehja leer al om met tien te maal en te deel. Sy is ses en sy het vanoggend besluit om haar lippies pienk te verf voor sy haar huiswerk doen. Pieter leer hoe om die wasmasjien te gebruik sonder om die klere te vlek. Hy is… ouer en nogal ywerig om die werking van die kombuistoestelle te bemeester.

Ek wil nog leer hoe om koeksisters te bak sonder om die hele kombuis met stroop te bedek.  Ek is… jonger as Pieter en vir my is die woord ‘leer’, ‘n homoniem, homofoon en beslis nie homogeen nie. Jy kan ‘n leer gebruik om tot op die dak te klim en soos daai oom Jannie af te neuk. Jy kan ‘n Wiskunde-leer gebruik om sekere sommetjies te doen. Malema het nie ‘n idee wat sò leer is nie, want hy het tot houtwerk gedruip. Jy kan ‘n les leer, uit jou eie èn uit iemand anders se foute. Vra maar net vir tannie Margaret. Ek leer my kinders maniere. Hulle pas dit nie altyd toe nie, maar my ouma het my geleer dat aanhouer wen. Ek vermoed my metabolisme het verleer hoe om teen hoë spoed te werk. Jy kan ‘n leêr gebruik om belastingstrokies in weg te steek, terwyl die soldate ‘n leër vorm. Groot verskil wat een klein leesteken of klemverskuiwing kan maak.

Van kindsbeen af, leer ons. Leer kruip, loop, hardloop. Leer lees, skryf, optel, aftrek. Leer redeneer, rusie maak, vrede bewaar. Leer om op jou tong te byt, leer om jou kop hoog te hou en leer om die wêreld op jou skouers te balanseer. Leer is net vier letters en een lettergreep lank, maar die betekenis en interpretasie is so oop en grensloos soos…dit.

Terwyl studente in Suid-Afrika graag wil leer, is daar ‘n minderheid aggressiewe barbare wat hul ontneem van die voorreg waarvoor hulle hoes en betaal. In plaas daarvan dat die idiote leer van oorsaak en gevolg, dink hulle om die owerhede ‘n les te leer is meer noodsaaklik. Die agterstevoor logika van Suid-Afrikaanse opstokers en hul leiers, laat my met nuwe oë na my kinders se leerproses kyk. Hulle maak nie net staat op die juffrou, die skool, die instansies en die toerusting nie. Hulle leer waar en wanneer die geleentheid opduik. Eendag sal hulle ook vir ‘n papier moet studeer, want papiere sluit deure oop. Ek wil hulle egter bewus maak dat papiere nie die enigste sleutels tot sukses is nie. Ek hoop dat die studente wat nou tuis moet bly, uit vrees vir hul veiligheid, sal besef dat leer nimmereindigend is. Leer uit ander se swak optrede. Leer om aan te hou, uit te hou en by te hou. Leer om alternatiewe oplossings te soek, leer dat die lewe onregverdig is en leer dat vingerwys nie die kos op die tafel gaan sit nie.

Gaan die sinneloosheid stop? Gaan iemand ingryp? Wanneer gaan genoeg genoeg wees? Tyd sal leer.

Diskriminasie

Ek kan met wetenskaplike sekerheid sê ek is nie ‘n rassis nie. Volgens die slimmes is daar 4 hoofrasse in die wêreld wat dan onderverdeel word in 30 subgroepe. As ek dus uit die 30 groepe net van een soort nie hou nie, beteken dit ek is 3% rassis, wat weer beteken ek slaag nie. Selfs in Suid-Afrika is die slaagsyfer 30%. Selfs al gooi ek alle selfbeheersing oorboord en sê dat daar een van die hoofgroepe is waarvan ek glad nie hou nie, beteken dit ek is slegs 25% rassis, wat my weereens ‘n druipeling maak.

Ek is ook nie ‘n seksis nie. Ek hou van mans en vrouens. Ek hou van fynbesnaardes, growwes, rowwes en gee werklik nie om wie watter badkamer gebruik nie. Seksuele oriëntasie is nie vir my ‘n voor- of afkeur as dit by vriendskap, ambag, onderwyser, politiek, geloof of liefde kom nie. Ek moet egter erken dat ‘n mooi man nog nooit vir my lelik was nie.

Ek is nie anti-geloof nie. Daar is ongeveer 4200 gelowe op aarde. Te danke aan Hindu’s is daar egter ongeveer 320 miljoen gode aan’t werk op dieselfde aarde. Verstaan ek dit? Nee. Glo ek alles? Nee. Kritiseer ek? Ook nie. Nie een van die 4200 gelowe beveel moord, diefstal, bedrog, begeerte of geweld aan nie. (Let wel dat ekstremiste en kultusse nie as gelowe erken word nie)

Ek is nie ‘n klassis nie. Ek het vriende uit alle sosio-ekonomiese agtergronde: die vrou wat by die vis-en-tjips plekkie werk omdat haar dogter op 17 swanger geword het en haar man ‘n pateet is; die juffrou wat elke hardverdiende sent terugploeg in die kinders wat daagliks voor haar sit; die ma wat met eksotiese handsakke in koffiewinkels uithang en die beste luisteraar ooit is. Ek gee nie om of jy jou melk by Checkers of Woolworths koop nie… al het ek my eie voorkeure.

Ek is nie ‘n skoonheidsis nie. Ja, dit is ‘n swak anglisisme en moontlik nie ‘n erkende woord nie, maar die feit is: ek is nie een van hulle nie. Ek het vriende in alle vorme, groottes en gestaltes. Dikkes en dunnes, lank en kort, modelle en muise…

 

MAAR… ek meng nie met almal nie. Jou ras, ouderdom, geslag, geloof, ekonomiese status, fisiese vermoëns, mag, vriendekring en voorkoms maak nie saak nie. Waar jy bly is nie ‘n faktor nie. Wat wel saak maak is jou persoonlikheid. Ek diskrimineer as dit by my tyd kom. Ek diskrimineer teen idiote wat diere mishandel; skurke wat op ander trap om die suksesleer te klim; sotte wat ander verkleineer om hulself op te hemel; jakkalse wat lieg en bedrieg vir eie gewin en barbare wat afbrand sonder sin of rede. My lysie is langer as wat ek verwag het, so ek stop net hier met die wete dat ek ook maar ‘n antie-iets-sis is.

Fobie

Blykbaar is die vrees vir spinnekoppe en slange, nie net die mees algemene nie, maar ook die fobie waaroor die meeste boeke en akademiese artikels geskryf is. Ek begryp dit, want ‘n spinnekop laat my ook nie juis ontspan nie. Dis egter te danke aan hierdie irrelevante en baie ewekansige feit, wat my voete op die pad van fobies beland het en ek verstom vir ure na die skerm sit en staar het.

Dit voel of ‘n wêreld van belaglike, bomenslike, barbaarse bobbejaanagtighede vir my oopgegaan het. Vrees verstaan ek. Ek is ook maar skrikkerig vir hoogtes, spinasie, skerpioene, gimnasiums, mislukking, skelpienk, Jurie Els en hakskoene. Al bewe my broek nie self as ek ‘n nar, spook, woordsom of skaduwee sien nie, kan ek simpatie toon teenoor mense wat aan ‘n logiese fobie ly.

Iemand wat aan selenofobie ly, is bang vir die maan, terwyl genufobie aandui dat jou knieë bewe as jy… wel, knieë sien. ‘n Lekker mondvol is hexakosioihexekontahexafobie (ja, net sò gespel) wat jou slapelose nagte gee oor die nommer 666. Ek wens meer mense het alliumfobie gehad, maar duidelik is meeste van my kollegas nie bang vir knoffel nie. Goed, ek erken, ek self is kens oor knoffel, maar ironies genoeg het ek simptome van halitofobie, die vrees vir stink asem.

Amptelik (ek weet nie wie of wat het dit offisieel gemaak nie) is daar 538 fobies op aarde, alhoewel wetenskaplikes reken die getal is nader aan oneindig. Vir alles wat daar op aarde bestaan, vir elke reuk en item en woord en klank, is daar ‘n vrees. Teoreties vat dit slegs een persoon om vir een ding bang te wees… en siedaar! ‘n Fobie is gebore. Vrees vir pers, balonne, linkshandiges, bruin skoene, die nommer 8, die f-klank, televisie, knoppies, wit stoele, kinders, plooie, blokkieshemde, poppe, stoom… ag, as iemand al hartkloppings gekry en sweet uitgeslaan het as gevolg van iets… dan is dit ‘n fobie… soos die fobie vir halfklaar sin… (asook die ellips en weglating van vokle).

 

Om skrikkerig te wees is nie verkeerd nie. Liewer bang Jan as dooie man, of hoe? Maar daar is ‘n nuwe fobie wat my bang laat voel: die vrees vir verandering. Ek aanvaar dat mens nie simpel moet wees en sonder valskerm of vlerk uit ‘n vliegtuig moet spring nie, maar wonderwerke gebeur nie met bewende broek nie. Wat as Aspoester die Goeie Feë weggewys het, uit pure vrees? As Fleming bang was vir muf, het ons nie vandag antibiotika geken nie. Sou Bond nie gewaag het nie, sou daai mannetjie met die goue vinger gewen het. Moenie dat die fobie teen verandering, jou wonderwerk terughou nie. Ontdek, verken, probeer, misluk, waag, eet met die ander hand, ry ‘n ander roete werk toe, eet eers nagereg en om hemelsnaam… skryf die boek, bak die koek en skuif die bank in die ander hoek. Jy het die krag om jou fobie in ‘n fenomenale verhaal van vryheid te omskep. Vat jou fobie… en verander.

Jagter

Kyk, daar is baie snaakse spesies op aarde. Ek dink byvoorbeeld die mense wat dag in en dag uit in die hokkies by tolhekke, in die middel van die snelweg, sit en ander mense se geld vat, beskik oor ‘n besonderse uithouvermoë, geduld en hoë vervelingsdrumpel. Sò ook die hoendervreters wat met olierige handjies my posstukke laat verlore raak agter die vervalste ystergordyn van die poskantoor. (Ek het nog altyd gedink die afkorting Pk. vir poskantoor is baie gepas en insiggewend.)

Vrouens wat elke haartjie op hul oogbank laat uittrek met behulp van waks en dit dan weer met ‘n potlood inteken, gaan my verstand te bowe. Mans wat sokkies saam met plakkies dra, en nie van Duitse afkoms is nie, se redenasievernuf is ook bo my vuurmaakplek. En moenie my eers laat wegtrek met ‘n relaas oor rugby nie…

Daar is egter een spesie wat my weekliks verbaas: jagters. ‘n Meer diverse klomp mense sal jy nie sommer onder een ander sambreel vind nie. Daar is die jagters wat nooit geld het nie, maar (of is dit eerder WANT?) hulle is elke naweek in die veld met ‘n wapen, op soek na biltong. Jagters wat in die week advokate, dokters, professors en sakemanne is, maar hulle pikkewynpakkies verruil vir kamoefleerdrag as hulle met plakkies, stewels of sommer kaalvoet die bos inkarring op soek na ‘n dierlike teiken. Manne wat geharde grappies maak, maar ‘n traan pik as hy sy liefde om die hand vra. Menere wat van die kennebak tot onder die knieg vloekwoorde kan spoeg, maar so sag raak as hy sy pasgebore seun vir die eerste keer vashou. Adams wat liries raak oor ‘n wapen se gevoel in jou kaal hande, maar ook ‘n streng vegetariese leefstyl volg. Jan Alleman wat ure die grein en lading kan bespreek, maar ook die verskil verstaan tussen ‘n lattè, espresso, java en mocha.

Daar is jagters wat nog nooit buite die landsgrense gereis het nie, maar kennis dra oor elke onkruid, insek, plantsoort, voël en bokdrol van sy omgewing. Mense wat nog nooit ander klere as khaki gedra het nie, maar wie se stories jou weke lank om die kampvuur kan hipnotiseer. Manne wat hul brood en botter van die veld verdien, menere wat hul rus in die groen weivelde vind, Adams wat sommer net saampraat oor hul passie vir ‘n mooi kolf en Jan Alleman wat foto’s neem om die onthou tasbaar te maak vir die volgende generasie.

Jagters is inderdaad ‘n vreemde spesie, want in die term “jagter” het ek ‘n ooglopende ironie raakgeloop. Om pynloos, doelgerig en vinnig ‘n lewe te neem, verg nie ‘n titel, handelsmerke, statige dialek of noemenswaardige herkoms nie, maar dit bring presies wat ‘n titel, handelsmerk, statige dialek of belangrike herkoms bied: respek.

 

Ander

Jy wil nie die koeksistervereniging by die kerk teleurstel nie, so jy staan pligsgetrou 4 uur elke derde Saterdagoggend op om te gaan pannekoek bak vir die ouetehuis. Al is jy siek, al staan jou wasgoed heuwels in die gang en badkamer, al kla jou man hy sien jou min…

Jy wil nie die beheerliggaam by die skool in die steek laat nie, so jy vul maar nog ‘n vormpie in, neem maar nog ‘n donasievorm, stuur maar nog seshonderd sms’e, smous maar nog revuekaartjies en gaan koop sommer Woolworths se kolwyntjies vir die koekverkoping Vrydag. Al het jy nie geld nie, al is jy moeg, al wil jou kollegas, vriende en familie nie meer hoor van jou probleme nie, al staan die mense reeds bakhand vir die volgende fondsinsameling…

Jy wil daar wees vir jou vriende. Jy gaan eet koek by die pretensieuse koffiewinkel, al is jy nie eintlik lus om R60 vir ‘n stuk koek te betaal nie. Jy ry 11 uur in die aand om ‘n band te gaan ruil. Jy maak kos vir gebroke gesinne, skenk klere vir liefdadigheid en ry ander mense se kinders rond. Al kort jou naels ‘n verf, jou hakke ‘n skuur en smeek die gangkas reeds maande lank om reggepak te word…

Jy wil jou werk so goed en volledig as moontlik doen. Nie net omdat jy ‘n salaris verdien nie, maar ook omdat jy lekkerder slaap in die nag as jy weet jy het jou beste gegee. Die baas se vrou se verjaardag moet onthou word, die e-posse moet gelees en beantwoord word, die foon hou nie op lui nie en in jou laai lê iets wat weke gelede reed begin lewe het, maar jy kry nie kans om dit weg te gooi nie. Al is jy nie lus vir moeilike kliënte nie, al het jy hoofpyn van te min slaap, al weet jy jou baas neuk rond met die meisie van finansies…

Jy wil die vrede in jou familie bewaar. So jy paai jou pa oor die poephol, wat homself jou peetkind noem, se slegte optrede by laasweek se braai. Jy bel jou ma, dan jou sus, dan weer jou ma, dan weer jou sus. Jy leen geld, jy reël die geskenk vir Oupa en Ouma se huweliksherdenking en tussendeur probeer jy keer dat jou eie kinders mekaar nie soos Kaïn en Abel behandel nie. Al wil jy nie middelman speel nie, al is jy nie ‘n politikus nie, al weet jy hulle skinder agter jou rug oor jou gewig, jou kinders, jou werk en jou man…

 

Jy doen alles wat jy dink goed en reg is. Jy draai die ander wang, kyk anderkant toe en bid harder as ooit. Jy gee en gee en gee, sonder om asem te skep, te neem of te kritiseer. Jy weet jy is nie perfek nie, jy moet iets aan jou gewig doen en dat jy minder moet stres. Jy glo in karma, Pharmaton en witwyn (met ys). Nog ‘n dag, nog ‘n maand, nog ‘n jaar. Dan, op een Vrydagmiddag, tref die realiteit jou tussen die oë: maak nie saak hoe hard jy probeer nie, jy kan eenvoudig nie almal tevrede hou nie.

Ontbyt

Daar is ‘n sagte klop aan die kamerdeur. Ek is eintlik al ‘n rukkie wakker, maar wil nie die vrede in die huis versteur deur op te staan nie. Lehja trapsuutjie die kamer binne. “Kom kyk wat het ek vir Mamma gemaak” fluister my sesjarige soos ‘n professionele sluiper.

Ek los die snorkende skoonheid om te slaap en volg Lehja tot in die sitkamer. Dis waar my ontbyt vir my wag. Neute, druiwe, dadels, aarbeie en roosterbrood, asook die hele bottel Nutella, kompleet met ‘n mes wat wag om mee gesmeer te word. Ek probeer nie eers my glimlag, vreugde en lag onderdruk nie. Ek word tot op die mat beveel. Ek moet een of ander storie oor perde kyk. Ek moet alles op die bord eet, al hou ek nie van Nutella op brood nie en al is die druiwe besonder suur. Ek smul asof dit my eerste maaltyd na sewe maer jare is. Ek oe en aa en mmmm op al die regte plekke en aanvaar selfs met grasie die servet wat na my uitgehou word. Ek drink ‘n pienk melkie en kyk met trots hoe Lehja die bord kombuis toe dra.

Ek moet erken… die skade in die kombuis is erger as wat ek verwag het. Papgedrukte druiwe op die kas. Broodkrummels op die vloer, gemeng met druppels pienk melk. Daar is Nutella teen die stoof en ‘n baie bedenklikke besigheid in die wasbak. En dis op hierdie presiese oomblik wat Lehja die kombuismatjie onder my voete kom uitruk: “Kan Mamma my asseblief wys hoe om skoon te maak?”

Sy pak die skottelgoedwasser. Met ‘n waslappie vee sy al die kaste, stoof en yskas af. Sy stofsuig die vloer. En dan: “Noudat alles skoon is, kan Mamma my assblief kom help om ‘n huisie te bou?”

Stomgeslaan met die manipulasievernuf, entrepreneurskap, strategiese beplanning en kinderlike entoesiasme van my sesjarige, sit ek dus nou binne ‘n besonderse huisie en tik. Die kombersdak en kussingvloer en lakenmure van die tenthuis op die sitkamermat is vir my soveel meer as net ‘n verbeeldingsvlug. Dis ‘n bewys dat al word my meisiekind groot, sy nog nie haar kreatiewe kindwees prysgegee het nie. Ons gaan nou naels verf, grimering aansit en nog pienk melk drink. Wat ‘n voorreg om ‘n ma te kan wees, van só groot kleinmensie.

 

** Hierdie is nie ‘n uittreksel nie, maar op dieselfde trant want die boek “SUPERMA (en ander mites)” wat deur LAPA uitgegee word in November 2016.

Ys

Om ysblokkies in jou wyn te gooi, is glo allesbehalwe stylvol. Toe ek egter gister ‘n foto van ‘n vriending ontvang, ys in die enkel glasie witwyn en die boodskap dat my plekkie aan die oorkant van die tafel leeg is, was die ys vir my beeldskoon en klassiek. Simbolies was die foto ‘n ysbreker. Een wat getuig van verlange, vriendskap en die moed om te erken dat my eie hart so klein, leë kolletjie het.

“Ys, ys, baba” vertaal my sesjarige op ‘n komiese manier die tagtigs-treffer van Vanilla Ice. Ek giggel vir haar voor-die-hand-liggende humorsin. My seuntjie skree van plesier en skok as ek die yskoue koeldrank teen sy kaal bolyf druk. Ys is sinoniem met pret.

Hoe meer ek aan die yslike invloed van ys dink, kan ek nie help om ook die yskas as die sentrale punt van ons huis te sien nie. Die inhoud van die yskas is direk eweredig aan my stresvlakke. Hoe meer goed daarbinne koel gewaai word, hoe makliker is aandete, hoe verder is my volgende kruideniersinkopies (wat ek verpes), hoe vinniger word my kinders gevoer en hoe meer mense is welkom in my huis. Elke dag se beplanning, elke ete, elke kuier… alles begin by die yskas. En natuurlik het ek diepe respek vir die rakkie wat my wyn verkoel, want daarsonder sou my senuwees al lankal ineengestort het. Yslike skok: ek hou van ys in my wyn. Noem my maar die Yskoningin.

Dis nou nie asof ek in Ysland sit en verkluim nie, inteendeel. In die woestyn is ook mense wat my hart warm laat klop, maar ek sal eerste wees om te vermoed dat sekere mense eenvoudig nie vervang kan word nie. Ys smelt blitsig hier. Roomys hou nie lank nie. Maar sekere vriende, soos die wat vir my foto’s stuur van die ys in hul wyn, sonder pretensie, sonder smuk, sommer net ‘n ek-mis-jou foto… vir hierdie vriendin wat harde ysblokkies kou wat haar tande breek… vir hierdie wese wat my koel en kalm kan hou… vir hierdie mens wie se begrip geen perke ken nie… vir haar wil ek op hierdie snikwarm dag laat weet:  “Jy is my yster.”