Ander

Jy wil nie die koeksistervereniging by die kerk teleurstel nie, so jy staan pligsgetrou 4 uur elke derde Saterdagoggend op om te gaan pannekoek bak vir die ouetehuis. Al is jy siek, al staan jou wasgoed heuwels in die gang en badkamer, al kla jou man hy sien jou min…

Jy wil nie die beheerliggaam by die skool in die steek laat nie, so jy vul maar nog ‘n vormpie in, neem maar nog ‘n donasievorm, stuur maar nog seshonderd sms’e, smous maar nog revuekaartjies en gaan koop sommer Woolworths se kolwyntjies vir die koekverkoping Vrydag. Al het jy nie geld nie, al is jy moeg, al wil jou kollegas, vriende en familie nie meer hoor van jou probleme nie, al staan die mense reeds bakhand vir die volgende fondsinsameling…

Jy wil daar wees vir jou vriende. Jy gaan eet koek by die pretensieuse koffiewinkel, al is jy nie eintlik lus om R60 vir ‘n stuk koek te betaal nie. Jy ry 11 uur in die aand om ‘n band te gaan ruil. Jy maak kos vir gebroke gesinne, skenk klere vir liefdadigheid en ry ander mense se kinders rond. Al kort jou naels ‘n verf, jou hakke ‘n skuur en smeek die gangkas reeds maande lank om reggepak te word…

Jy wil jou werk so goed en volledig as moontlik doen. Nie net omdat jy ‘n salaris verdien nie, maar ook omdat jy lekkerder slaap in die nag as jy weet jy het jou beste gegee. Die baas se vrou se verjaardag moet onthou word, die e-posse moet gelees en beantwoord word, die foon hou nie op lui nie en in jou laai lê iets wat weke gelede reed begin lewe het, maar jy kry nie kans om dit weg te gooi nie. Al is jy nie lus vir moeilike kliënte nie, al het jy hoofpyn van te min slaap, al weet jy jou baas neuk rond met die meisie van finansies…

Jy wil die vrede in jou familie bewaar. So jy paai jou pa oor die poephol, wat homself jou peetkind noem, se slegte optrede by laasweek se braai. Jy bel jou ma, dan jou sus, dan weer jou ma, dan weer jou sus. Jy leen geld, jy reël die geskenk vir Oupa en Ouma se huweliksherdenking en tussendeur probeer jy keer dat jou eie kinders mekaar nie soos Kaïn en Abel behandel nie. Al wil jy nie middelman speel nie, al is jy nie ‘n politikus nie, al weet jy hulle skinder agter jou rug oor jou gewig, jou kinders, jou werk en jou man…

 

Jy doen alles wat jy dink goed en reg is. Jy draai die ander wang, kyk anderkant toe en bid harder as ooit. Jy gee en gee en gee, sonder om asem te skep, te neem of te kritiseer. Jy weet jy is nie perfek nie, jy moet iets aan jou gewig doen en dat jy minder moet stres. Jy glo in karma, Pharmaton en witwyn (met ys). Nog ‘n dag, nog ‘n maand, nog ‘n jaar. Dan, op een Vrydagmiddag, tref die realiteit jou tussen die oë: maak nie saak hoe hard jy probeer nie, jy kan eenvoudig nie almal tevrede hou nie.

Advertisements

Ontbyt

Daar is ‘n sagte klop aan die kamerdeur. Ek is eintlik al ‘n rukkie wakker, maar wil nie die vrede in die huis versteur deur op te staan nie. Lehja trapsuutjie die kamer binne. “Kom kyk wat het ek vir Mamma gemaak” fluister my sesjarige soos ‘n professionele sluiper.

Ek los die snorkende skoonheid om te slaap en volg Lehja tot in die sitkamer. Dis waar my ontbyt vir my wag. Neute, druiwe, dadels, aarbeie en roosterbrood, asook die hele bottel Nutella, kompleet met ‘n mes wat wag om mee gesmeer te word. Ek probeer nie eers my glimlag, vreugde en lag onderdruk nie. Ek word tot op die mat beveel. Ek moet een of ander storie oor perde kyk. Ek moet alles op die bord eet, al hou ek nie van Nutella op brood nie en al is die druiwe besonder suur. Ek smul asof dit my eerste maaltyd na sewe maer jare is. Ek oe en aa en mmmm op al die regte plekke en aanvaar selfs met grasie die servet wat na my uitgehou word. Ek drink ‘n pienk melkie en kyk met trots hoe Lehja die bord kombuis toe dra.

Ek moet erken… die skade in die kombuis is erger as wat ek verwag het. Papgedrukte druiwe op die kas. Broodkrummels op die vloer, gemeng met druppels pienk melk. Daar is Nutella teen die stoof en ‘n baie bedenklikke besigheid in die wasbak. En dis op hierdie presiese oomblik wat Lehja die kombuismatjie onder my voete kom uitruk: “Kan Mamma my asseblief wys hoe om skoon te maak?”

Sy pak die skottelgoedwasser. Met ‘n waslappie vee sy al die kaste, stoof en yskas af. Sy stofsuig die vloer. En dan: “Noudat alles skoon is, kan Mamma my assblief kom help om ‘n huisie te bou?”

Stomgeslaan met die manipulasievernuf, entrepreneurskap, strategiese beplanning en kinderlike entoesiasme van my sesjarige, sit ek dus nou binne ‘n besonderse huisie en tik. Die kombersdak en kussingvloer en lakenmure van die tenthuis op die sitkamermat is vir my soveel meer as net ‘n verbeeldingsvlug. Dis ‘n bewys dat al word my meisiekind groot, sy nog nie haar kreatiewe kindwees prysgegee het nie. Ons gaan nou naels verf, grimering aansit en nog pienk melk drink. Wat ‘n voorreg om ‘n ma te kan wees, van só groot kleinmensie.

 

** Hierdie is nie ‘n uittreksel nie, maar op dieselfde trant want die boek “SUPERMA (en ander mites)” wat deur LAPA uitgegee word in November 2016.

Ys

Om ysblokkies in jou wyn te gooi, is glo allesbehalwe stylvol. Toe ek egter gister ‘n foto van ‘n vriending ontvang, ys in die enkel glasie witwyn en die boodskap dat my plekkie aan die oorkant van die tafel leeg is, was die ys vir my beeldskoon en klassiek. Simbolies was die foto ‘n ysbreker. Een wat getuig van verlange, vriendskap en die moed om te erken dat my eie hart so klein, leë kolletjie het.

“Ys, ys, baba” vertaal my sesjarige op ‘n komiese manier die tagtigs-treffer van Vanilla Ice. Ek giggel vir haar voor-die-hand-liggende humorsin. My seuntjie skree van plesier en skok as ek die yskoue koeldrank teen sy kaal bolyf druk. Ys is sinoniem met pret.

Hoe meer ek aan die yslike invloed van ys dink, kan ek nie help om ook die yskas as die sentrale punt van ons huis te sien nie. Die inhoud van die yskas is direk eweredig aan my stresvlakke. Hoe meer goed daarbinne koel gewaai word, hoe makliker is aandete, hoe verder is my volgende kruideniersinkopies (wat ek verpes), hoe vinniger word my kinders gevoer en hoe meer mense is welkom in my huis. Elke dag se beplanning, elke ete, elke kuier… alles begin by die yskas. En natuurlik het ek diepe respek vir die rakkie wat my wyn verkoel, want daarsonder sou my senuwees al lankal ineengestort het. Yslike skok: ek hou van ys in my wyn. Noem my maar die Yskoningin.

Dis nou nie asof ek in Ysland sit en verkluim nie, inteendeel. In die woestyn is ook mense wat my hart warm laat klop, maar ek sal eerste wees om te vermoed dat sekere mense eenvoudig nie vervang kan word nie. Ys smelt blitsig hier. Roomys hou nie lank nie. Maar sekere vriende, soos die wat vir my foto’s stuur van die ys in hul wyn, sonder pretensie, sonder smuk, sommer net ‘n ek-mis-jou foto… vir hierdie vriendin wat harde ysblokkies kou wat haar tande breek… vir hierdie wese wat my koel en kalm kan hou… vir hierdie mens wie se begrip geen perke ken nie… vir haar wil ek op hierdie snikwarm dag laat weet:  “Jy is my yster.”

 

 

Afstand

Volgens oom Google is dit 11 189 km om van Pretoria na Abu Dhabi te reis, padlangs. Dit sal jou ongeveer 214 uur neem om die tog te voltooi, as jy met ‘n toegeruste 4×4 reis, genoegsaam brandstof kry en geen teëspoed tegemoet kom nie. Ek hoor hoe die manne gesels… met ‘n Land Rover sal dit jou seker 350 uur neem, want Land Rovers is mos nie regtig vir die growwe, langpad gemaak nie. Nissan sal jou niere losskud en met ‘n Isuzu sal jy ten minste twee ekstra brandstoftenks moet aanskaf, want daai masjien is besonder dors. Die algemene konsensus is dat Toyota die antwoord is. Nie Ford nie, want niemand slaan hulle vrouens nie. Ek giggel in my stil hoekie oor hulle bespiegelinge, idees en opinies. Ek lewer liefs geen kommentaar nie, want vir die eerste ses maande het ek geweet ons voertuig is grys… nou weet ek dit is ‘n Prado. Met ‘n O op die einde… en met geen verbintenis of bloedlyn aan my Prada handsak nie.

Die afstand klink allemintig groot. My brein verstaan nie werklik 11 189 km nie. Ons Skype dan met ons vriende en familie en dit voel of hulle in die kamer langsaan is. Met die druk van ‘n paar knoppies, hoor ek hulle stemme en te danke aan Facebook is dit asof ek daagliks deel is van hul bestaan. Ek sien hul doen en late, gee raad, word kwaad, lag uit my maag uit en pik ‘n traan… sonder om aan een kilometer te dink.

Die swembad is 48 meter bo ons koppe op die dak. Die winkel wat biltong en Mrs Balls verkoop is 328 meter van ons voordeur af. As ek dus na ‘n braaibroodjie, skaaptjoppie of selfs aartappelslaai verlang, is die oplossing nie ‘n helse afstand weg nie. Die naaste hospitaal is 3,2 km van ons af. Dubai lê 131 km oos van ons. Perth is 9009 km ver. Daar is  11 189 km tussen ons en ons mense in ons geboorteland. Die maan is van die aarde geskei deur 384 000 km se afstand.

Ek kyk egter na my kinders wat 2 meter van my af sit en televisie kyk. My polsslag versnel as hulle lag, my mond trek spontaan in ‘n krul van lekkerkry en al is hulle so naby aan my, voel dit soos hulle groter word, hulle meer onafhanklik word, hulle eintlik die afstand tussen my en hulle vergroot. Dis irrasioneel, onlogies, onbeskryflik: die liefde. Die wetenskap verduidelik aan ons dat afstand gelyk is aan spoed vermenigvuldig met tyd. Hulle word tè vinnig groot. Versnel teen die spoed wat geen Toyota of Land Rover ken nie. Dis erg om te besef dat die grootste afstand eintlik tussen die hart en die brein lê.

Koffie

Sheik Omar het bekendheid verwerf vir sy vermoë om siek mense gesond te bid. In die vyftiende eeu is hy egter uit Mocha, in Yemen, verban na die woestyn, Ousab. Hier het arme Omar honger geword en in sy desperate oomblikke begin knibbel aan die boontjies van ‘n vreemde boom. Die smaak was bitter. Hy het die boontjie fyngedruk en in water gegooi om die smaak te verbeter. Groot was sy verbasing toe die drankie nie net vorentoe gesmaak het nie, maar hom ook versadig laat voel het en energie gegee het. Stories van hierdie wondermiddel het Mocha bereik, Omar is teruggegroep en ‘n hoë amp in die senaat aangebied.  Vandaar het koffie oor die hele Afrika en Europa versprei. En dank Vader daarvoor…

Ek is nie ‘n koffiekenner of koffiepuris of koffiemaniak nie. Ek hou van my koffie soos ek van my mans hou: groot, wit en nie tè soet nie. Die beker waarin my koffie bedien word, het nie ‘n handelsmerk nodig nie, die metodiek is bysaak en die styl mag maar wisselend wees. Van my vriende is baie gestel op die metode van koffie maak: eers die melk, dan die water… ander voel weer die water versterk die koffie en dus moet die melk laaste bygevoeg word… wyl ander reken melk versuur koffie onnodig. Koffie het soos politiek geword en in baie kringe ontstaan hewige argumente oor die tekstuur, smaak, swaartekrag, digtheid en wie weet wat nog alles oor iets wat veronderstel is om net aangenaam te wees.

Kitskoffie is vir talle ‘n vloekwoord en die kapsules wat nou so in die mode is, het ook ‘n statussimbool geword, want behalwe die kapsules wat peperduur is, kos die masjien byna net soveel as ‘n klein karretjie. Hoe duurder die masjien, hoe lekkerder die koffie… of sò lui die oortuiging van die mense wat sulke masjiene (mis)gebruik.

Koffie is goed vir jou hart, sleg vir jou lewer; goed vir jou metabolisme, sleg vir jou brein; goed vir jou energievlakke, sleg vir jou libido… en wat jy vandag drink, gaan jou tien teen een more doodmaak. Die dokters en navorsers is mos draadsitters wat net artikels uitryg soos hulle geborg word…

Ek? Ek weet nie. Gee ook nie vreeslik om nie. Ek hou van koffie. In alle vorme en geure. Ek hou van die reuk, die kafeïen, die smaak en die roetine van elke koppie koffie. Ek drink koffie uit weggooihouers, klein flessies en glasbekers. Ek drink koffie in die oggend, middag en aand. Ek drink koffie saam met vriende, familie, kerkmense en skoolkinders. Koffie vra nie geslag, tyd of sosiale status nie. Vir die statusbewustes, puriste, kenners en fynproewers is ek dankbaar en bly, maar los my asseblief uit om my koffie te geniet, sonder tierlantjies en tirades.

Die beker wat nou langs my staan, is met liefde, uit liefde en vol liefde vir my daar neergesit. Vergifnis, begrip, ondersteuning, bemoediging, motivering, dankbaarheid… sinvol is elke slukkie van my koffie.

Haastig

Haastige hond, verbrand sy mond. Sò waarsku Afrikaanse juffrouens regoor Suid-Afrika hul studente. Skryf stadig aan die opstel. Dink oor elke Wiskundige stap. Moenie op die stoepe hardloop nie. Moenie jou vraestelle aframmel nie.

Vroeg ryp, vroeg vrot. Sò waarsku ouers in elke provinsie hul tieners oor die drange van die onderlyf. Moenie toelaat dat groepsdruk jou in ‘n maagdelike blik druk en eindelik in die kraamsaal laat beland nie.

Haastig trou, bring gou berou. Sò waarsku dominees in menige gemeente die jongelinge teen die ewigheid van die ring. Skei is nie so maklik soos kredietkaartskuld nie en die effek kan soveel groter wees as net ‘n rooi rekening.

Maar al hoor ons, luister ons nie. Ons ore is mos blompotte en net vir versierings. Want ons word groot en ons jaag. Ons jaag agter ‘n graad, ‘n werk, ‘n familie aan. Ons leef van naweek tot naweek, vakansie tot vakansie, salaris tot salaris. Ons was haastig die wasgoed, die skottelgoed, die vloere en ons lywe.

Iets het egter in die bos in my kop gebeur. Ek het die haastige hond laat lê, sommer langs die ou koeie in die sloot. Dalene Matthee het die kringe in die bos, ringe in my hart laat trek, twee keer. Deon Meyer se Ikarus het naby my son gevlieg. Sophia Kapp se bedonnerde diva het my laat giggel. Sò eindig ek op in die veld. Daar waar die manne skiet en jag en gewere gesels. ‘n Maand gelede sou ek dalk geïrriteerd geraak het met hulle uiterste geduld. Ek sou tien teen een my humeur verloor het oor hulle dieselfde skoot honderd maal oor en oor en oor (en oor en oor enoor enoor enoorenoor) bespreek en ontleed het. Ons sit in die skuiling en kyk diere. Ure aanmekaar. Ons loop in die veld. Kilometers aaneen. Geduldig en gedwee.

Sò gaan jag Manlief ‘n eland. Hulle bly weg van sonop tot sononder. Daar is egter geen haas nie. Toe hulle laggend die plaashuis instap, word Manlief gespot oor sy traagheid in die veld. Sy vermoë om so totaal en al te ontspan, dat tyd gaan stilstaan. Die sekondewyser stop. Ek kyk met nuutgevonde wysheid na hom. Haastige spoed is mos selde goed.  Sò is dit dan… hy lê lank aan, maar hy skiet immers raak.

Saggies

Ek is nie ‘n sagte mens nie. Ek praat hard, lag hard en het nie die vermoë om ‘n kasdeur saggies toe te druk nie. My man reken dat ek met ‘n reuse gegil die wêreld ingekom het en toe nooit geleer het om stil te wees nie. Selfs as ek soos ‘n trapsuutjies loop, klink ek soos ‘n renoster. Ek het wel sagte vetjies om my middel, maar my vel is eintlik soos Zuma se kop: dik en hard.

Ek gooi een proppie ekstra spoelmiddel saam met die wasgoed in… daar is immers spesiale  genot daarin om jouself in ‘n sagte handoek toe te draai na ‘n warm stort. Sagte beddegoed slaap ook lekkerder as klipharde lakens. Komberse moet so sag wees soos ‘n maltese poedel se krulle as hy pas van die salon af terugkeer.

Harde musiek, wat jou binnegoed laat bewe en jou brein laat bibber, skep nie atmosfeer nie, maar gee hoofpyn. In teenstelling met die doef-doef wat jou oordromme se limiete toets, kan musiek teen ‘n aanvaarbare volume, jou siel streel.

Sagte botter verniel nie vars brood nie, nes ‘n sagte antwoord grimmigheid kan afkeer. Ons soek sagte toiletpapier, want die lewe is mos hard genoeg. Die Bybel maan ons om sagmoedig te wees en nie hardkoppig nie. Kinders speel sagtebal en digter Van Heerden verduidelik dat mens so sagsinnig kan wees “soos ‘n kalf, ‘n digter en ‘n dromer.” Sagte lippe kus lekkerder as harde, gebarstes vol koorsblare en ‘n sagte reënbui laat mens vinniger glimlag as ‘n donderstorm.

My ouma se hande is dalk vandag sag, maar elke plooi en rimpel getuig van harde werk. Haar sagte oë gee haar omgee weg en die sagte glimlag om haar mond, vertel jarelange gelukstories. Sy is wrintiewaar van sagte staal geskape. As onderwyseres weet ek dat ‘n sagte woord baie verder strek as ‘n harde gil en as ‘n ma verstaan ek dat taai handjies eintlik sagte hartjies huisves. Dis ook my kinders wat my tong, ore en gees sag maak.  In die harde werklikheid van die wêreld, soek ons konstant na die sagte verligting van ‘n oomblik… ons soek die sagte ontvlugting onder ‘n warm stort, met ‘n eilandvakansie of tussen die sagte bladsye van ‘n leesboek… ons soek sagte mense om die die lewe se lelik te kraak.

Tog dink ek ons vergeet te maklik: Saggies praat is duiwelsraad.