Les Miserable

Die Franse Rewolusie is nou nie juis iets wat ek romanties sou noem nie. Ek bedoel, as dit nou vergelyk word met wandelings op die strand in die maanlig op ‘n somersaand… of ‘n kersligete waar harpe in die agtergrond atmosfeer skep… of ‘n piekniek in die tuine waar bome ‘n beskermheer teen die son waak… dan is die geveg waarin Napoleon betrokke was sedert 1789 nou nie juis iets waarin jy jou onvoorwaardelike liefde met ‘n soen sal wil seël nie.

Maar iets het in my losgebars toe ek as tiener die roman van Victor Hugo lees… die verhaal van Jean Valjean, die man wat in die tronk beland het oor hy ‘n brood vir sy sterwende susterskind wou steel tydens die hongersnood in Frankryk. Vol intrige en waarhede, vol romantiek en antiek-sjiek en manjifiek en ag, sommer alles met ‘n -iek aan. Ek weet en verstaan dat hierdie 1500 bladsy storie nou nie almal se smaak bevredig nie, maar vir my is elke woordskepping ‘n ontvlugting. Dit bewys hoe woorde kan vleg en krul om eksponent te bewerkstellig… en ja, ek sal nou stop met my liriese tirade oor die skepping wat my kop ‘n skuif laat maak het.

Sien, vanaand sit ek kinderlik opgewonde voor die komper en klets, want langs my lê die kaartjies: nog nat van die ink wat my drukker pas bevestig het… ek gaan die verhoogproduksie in al sy glorie kan aanskou. Op 18 November gaan ek in Dubai se operahuis in ry U sit. Op sitplek nommer 14 gaan ek myself oorgee aan hartkloppings en gaan ek myself laat leef tussen Cosette en Marius en Javert. Ek gaan huil, dit weet ek. Ek gaan saam sing (nie hard nie, maar beslis IN volle bors). Ek laat myself toe om opgewonde te wees…

Want in die alledaagse gejaag van perdry en wasgoed en skoolhou en eet en swemlesse en skottelgoed en en en en, staan ek vanaand stil. Ek glimlag oor ek nog kan opgewonde wees. Ek is dankbaar vir my romantiese hart. Ek tel die slapies af, want as ons niks het om na uit te sien nie, hoekom jaag ons dan?

Worshond

Ons het vir veertien jaar lank ‘n worshond gehad. Laat ek net heeltemal wetenskaplik korrek na ons eerste kind verwys: “basterbrakkie wat meer as 75% geneties miniatuur worshond was en die res… was immers pure hond.”

Ek het so hard en lelik gehuil die dag wat ek haar moes vat die inspuiting, dat die veearts my nie eers R12 gevra het vir die twee bokse No Name snesies wat ek natgesnuif het nie. Hy het seker gereken ek is ‘n óf baie spesiaal, baie melodramaties of baie gevaarlik, maar dis nie eintlik die punt wat ek wil maak nie.

Tinkerbell van Tonder, my opregte worsekind, het my ongelooflik baie van die wêreld geleer. Sy het my geleer dat mens aanneemkinders soos jou eie kan grootmaak, want sy was nooit geneties ‘n De Wet nie, maar haar plek in my hart het nie genetiese kode gevra nie. Sy het haar weg tot in ons bed gevind twee weke na haar geboorte. Ek het in die nag opgestaan om haar te voed en het nie skaam gekry om na haar as my bottelbaba te verwys nie. In liefde en karakter is ek tienvoudig beloon.

Die hart van ‘n worshond is groter as die kakebeen van ‘n boerbul of die kop van ‘n rotweiller. Die hart van ‘n worshond kan nie in ‘n spieël gesien of op ‘n Richterskaal gemeet word nie. Worshonde is mini-aggressie-bolle vol durf en moed wat jy beslis nie sonder ‘n handskoen aanpak nie.  Hul deursettingsvermoë ken nie perke nie en hul vegtersgees ken nie gelyke nie. Die begrip en aanvoeling van ‘n worshond laat my deur ‘n ander bril na ander mense kyk.

Die siel van ‘n worshond is allermins oppervlakkig. Na ‘n miskraam kom lê Tinkerbell teen my lyf en huil sy saam. Met ‘n verjaardag, kry sy die eerste stukkie koek. Met elke doop, verskyn sy saam op die familiefoto’s. Sy is onlosmaaklik deel van ons gesin. Sal vir altyd wees.

Vanoggend kyk ek na die protesoptogte in Suid-Afrika. Dan lees ek die Afrikaners se boodskappe van gatvolgeit en hoop en woede en vrees en nog hoop en angs en waagmoed en durf en nog hoop. Is ons die spreekwoordelik worshonde van Afrika? Die wat net eenvoudig nie gaan lê nie? Die wat nie ophou blaf in Afrikaans nie, want ons geliefdes moet ten alle koste beskerm word? Die wat nie werklik ‘n kans staan teen die basters en straatbrakke en onopgevoede wolwe wat in massas beweeg nie, maar steeds aanhou en uithou en byhou? Ek wil sò graag… ek wil soooooooooo graag glo in die toekoms: ek gryp verbete na elke grashalm van genade en koester die laaste klein vlam van hoop in my binnekamer en ek bevind myself dat ek harder en leliker huil oor my land, as oor my Tinkerbell, want immers het sy nie gely nie.

Duiwel

Ek sien vanaand kans om die duiwel oor die berg te jaag. Nou nie letterlik nie, want ek is maar effe geset en sportief is nie ‘n byvoeglike naamwoord wat my nou sou kon beskryf nie. Figuurlik gesproke staan ek slaggereed om die duiwel te laat les opsê. Hoekom? Want ek loer met geoefende oog na die mensdom en internaliseer die warboel tot waar dit sin maak in my kop.

Mense hou eintlik baie van die duiwel. Nou praat ek van die spreekwoordelike slang; die eens engel wat gereeld oond skoonmaak in die Midde-Ooste en in dobbelhuise sy briewe laat lees. Mense hou sò baie van hom, dat hulle hom oral raaksien: in die tv, op die regter se stoel, agter die sjokoladeblik, om die kersboom, onder die komberse… die duiwel is los en listig en ry die mensdom bloots. Oktobermaand is vol onheilige dinge: heksehoedjies verkoop soos akneesalf in die dermatoloog se kantoor, pampoene word gekerf, spinnerakke word uit watte gepraktiseer en kinders moet aan vreemdelinde se deure gaan klop om suikersiekte verniet te kry. Duiwelsgoed.

Halloween is maar ‘n enkele voorbeeld van hoe die duiwel in die detail skuil. Daar was ‘n tyd wat dans sonde was. Sò ook Kersvader, Coca-Cola en varkvleis. In 2016 is dit baie maklik om die duiwel kos te gee… want die internet is sy speelgrond en tegnologie sy slaaf. Ek wil ‘n oomblik die duiwel se advokaat wees en sê ek kry hom soms jammer. Hy kry die skuld vir absoluut alles wat verkeerd gaan: krieketknoeiery (dankie oom Hansie), gate in onderbroeke (dankie oom Joost), slegte punte, egskeidings, gewigstoename, kanker, sigaretverslawing, loopmaag, ongedissiplineerde klasse (waar die duiwel behoorlik los is) en selfs dominees wat steel het al vinger na die duiwel gewys. Mense lieg so erg dat tot die duiwel bloos. Dis mos maklik om iemand anders (veral as sy naam Satan of Lucifer is) die blaam te gee en jouself te verlos van alle skuld.

Wie met die duiwel uit een skottel eet, moet ‘n lang lepel hê. Agter elke bos en hoenderhok sit satan en wag vir sy volgende prooi. Liewe Heksie, Harry Potter, Barney (die pers dinosourus), Peppa Pig, Jack Parow… basies as iets beweeg sonder om ‘n Bybelvers aan te haal, word dit deesdae as “duiwels” geklassifiseer.

Ek wonder maar net of die wêreld nie ‘n beter plek sou wees as ons eerder op ‘n god, enige opperwese wat goeie goed aanbeveel, kon fokus nie. As ons vergeet van die duiwel en al sy streke en eerder op die positiewe konsentreer, sal ons meer en makliker goeie goed doen. Ons sal alles kan beproef en waarlik net die goeie kan behou. Ons sal minder saggies praat (dis immer duiwelsraad), minder oordeel, minder kerm en kla, minder fout vind, minder suurgatte as vriende hê, langer lewe en beslis meer vrede en glimlagte ervaar. Dis asof mense nie meer na ‘n god soek nie, maar eerder op die duiwel en sy dinge konsentreer. Leef en laat leef. Onthou:

As jy die duiwel soek, gaan jy hom kry.

Tipies

Die man lieg soos ‘n tandetrekker. Tipiese makelaar.

Kyk hoe slaan die dronk man sy vrou op die pawiljoen. Tipiese Blou Bul.

Die dame is besig om haar grimering in die kar aan te sit. Tipiese vroumens.

Hy loop al weer met ‘n help-my-sterk-lyk-hempie in die winkel rond. Tipiese liggaamsbouer.

Die kind slaan al weer die kamerdeur so hard toe dat die bure dink daar is ‘n aardbewing. Tipiese tiener.

Hy praat te hard, gooi tamatiesous oor alles en is oorgewig. Tipiese Amerikaner.

Die student brand die universiteit af. Tipiese ANC jeuglid.

Hy val op die vloer neer en skop sy voete. Tipiese kleuter-vloermoer.

Ek staan al vir langer as een uur in die ry. En daar is net drie mense voor my. Tipiese poskantoor.

Die 4×4 parkeer onwettig op die sypaadjie voor die skool vir die prysuitdeling. Tipiese Toyota-eienaar.

Die klas hou eenvoudig nie op praat nie, al skree die juffrou haar stem hees. Tipiese Graad 9’s.

Sy staan op die skootrekenaar en kan nie verstaan hoekom haar ‘skaal’ nie werk nie. Tipiese blond.

Hy probeer jou indoen en jy sal hom afstry, want jy betaal nie soveel vir ‘n mat nie. Tipiese Indiër.

Hy staan kop onderstebo en staar na iemand anders se voete, nes hy dink ekstroverte doen.  Tipiese aktuaris.

 

Tipies is die stereotipe, die gemene massa, die gemiddeld. Maar ek sien fout met hierdie redenasie… en ja, ek het die skewe Wiskunde gaan doen. Meer as 7 biljoen mense op aarde, versprei oor kleur en klankgrense. Babas en pensioenarisse, vegetariërs en vleisvreters, professors, profete en leke, introverte en akteurs, armblankes en Donald Trump, misdadigers en vryheidsvegters, hipnotiseurs, hiperaktiewes en homoseksueles. As ons die gemiddeld van die mensdom sou neem, sou die tipiese mens een testikel en een bors gehad het en nie oor die volledige onderstel beskik het om kinders te kon maak of te kon baar nie. Die tipiese mens sou half-blind, half-krom, half-dom en half-stom gewees het. Die tipiese mens sou een agtste van ‘n chromosoom gekort het, nie Afrikaans gepraat het nie en nooit gebid het nie. Tipies sou niemand kon bestuur nie, nie instruksies kon lees nie, nie kon dubbelkliek op ‘n muis nie, nie eers geweet het na watter muis ek nou verwys het nie en boonop sou niemand vir die regering kon werk nie (nie dat ek sê daar word tans gewerk nie).

Ek is nie tipies vrou, tipies ma, tipies onderwyser of tipies eksentries nie. Ek is ek en jy is jy en as jy veralgemeen moet jy liewer uit my pad bly. Vir diè wat voorstaanders is van tipiese sêgoed, tipiese raad en tipiese onintellektuele waansinnighede… kom ek sê dit sommer in ‘n taal wat julle sal verstaan en hopelik sal onthou: ‘tipies’ se gat.

 

Maniere

Ek kyk terug na my skooldae en ek weet: ek was nie ‘n gawe leerder nie. Ek het alles bevraagteken, slegs klas toe gegaan as ék gedink het ek sal daarby baat vind en elke reël se grens het ek as uitdaging beskou. Ek het nie altyd my huiswerk gedoen nie, nie met entoesiasme aan elke sport deelgeneem nie en beslis nie opgedaag vir elke kooroptrede, sokkie of kermis nie. MAAR…

Nie een keer in my twaalf jaar op die skoolbanke het ek ‘n onderwyser gespoeg nie. Nooit het ek my tong uitgesteek en vir ‘n onderwyser geskree dat hy geen seggenskap het nie. Ek kan nie onthou dat ‘n hoërskoolonderwyser my ooit moes waarsku teen die skerp kant van ‘n skerpmaker nie. My geheue is maar vaag oor my mede-skoliere van vervloeë  dae, maar boelies het nie onderwysers met messe gesteek, dogters in die badkamers verkrag of die biblioteek afgebrand omdat hulle nie wou skoolfonds betaal nie.

Ek onthou hoe ek my eerste ‘skelm’ trek agter die pawiljoene gevat het. Dit was sleg en die Camel het vir my niks uit te waai gehad met die kankerstokkie nie, maar daardie een trek sou my drie Vrydae se detensie gekos het. Agter die einste pawiljoene het ek en daai een mannetjie juis so lekker gevry. Nog drie dae se detensie.

Verlede week vang ‘n onderwyser drie seuns wat besig was om te ontlas tydens die sing van die volkslied. Gister vertel een matriek vir ‘n nuwe juffrou dat hy haar in die ‘verkeerde gat’ sal *rym met braai* omdat sy sy selfoon in die klas konfiskeer het. Het ek die memo gemis oor kattekwaad?

Kinders is lankal nie meer onskuldig op soek na hulself nie. Kinders is klein monsters wat nie meer met detensie gedreig kan word nie. Kinders kan nie meer druip nie, kan nie meer geskors word nie en neem geen meer verantwoordelikheid vir hul eie lewens nie. Alles word eenvoudig voor die deur van onderwysers gelê. Natuurlik is daar nog goeie skole en goeie studente… die probleem is dat hulle in die baie kleiner minderheid is. Die massas word ‘studente’ wat universiteite afbrand. Hulle word stakende werknemers. Hulle verander in statistieke van vroueslaners, dwelmverslaafdes en werkloses.

Onderwysers kan nie meer die blaam dra vir alles nie. Ouers moet so klein bietjie verantwoordelikheid vir hul bloedjies vat. Ek slaan trots my hand op die bors en belowe plegtig : “Ek sal hase uit hoede trek om kreatiewe en interessante lesse aan te bied. Ek sal streng wees en reëls hê. Ek sal deurlopend assesseer en geen witbroodjies aanneem nie. Ek sal konsekwent, regverdig en sonder vooroordeel elke kind as gelyke erken, maar differensiasie in elke les ‘n werkbare moontlikheid maak.Tot die beste van my vermoë sal ek lewens positief beïnvloed. Ek wil ‘n onderwyser wees, tot die beste wat my intellek my toelaat. Maar soms, soos vanaand, gaan ek ook na die ouers kyk en skree: “Bliksem jou ongemanierde, disrespekvolle en arrogante kind, want ek mag nie.””

 

Pyn

Ek dink al hoe meer dat ons kleintoontjies net een doel het: om ons te herinner om te kyk waar ons loop. Min dinge is so seer soos om jou kleintoontjie teen die deur / bed / bank / kombuiskas te stamp. Dalk, as ons meer opgelet het oor waar om ons voete neer te sit, sou ek nie so maklik op ‘n klein Lego-blokkie getrap (en besonders hard gevloek) het nie.

Sien, ons verwag pyn in sekere situasies: kindergeboorte, skoonma’s, heupvervangings, wortelkanaalbehandelings en om op die skaal te klim na ‘n laaaang vakansie. Maar ons vergeet dat klein dingetjies ook jou pyndrempel kan beproef. ‘n Papier wat teen die verkeerde hoek oor jou hand gly, ‘n velletjie langs jou wysvinger wat inskeur, ‘n splinter wat uitsweer, ‘n ingroeihaartjie onder jou oksel, ‘n puisie so klein soos ‘n kopspeld op jou bolip…

Ons nasie staar met pyn in ons oë na die Springbokke se telbord. My hart pyn as ek sien wat met ons kampusse gebeur. My ore pyn as ek na sinnelose kletsrym met harde doef-doef agtergrondmusiek moet luister. Vir pyn het die harlekyn gevra vir wyn… maar die hoofpyn die volgende oggend vra nie vir nog ‘n glasie nie. Tieners is natuurlik die kenners van pyn. Gebroke harte, gekraakte selfbeelde, rooi kringe op rapporte, te min klieks op sosiale media… pleisters en pynstillers sal geen verligting bring nie.

Fisiese pyn kan verdoof word. Sekere mense is sommer net ‘n pyn in my… wel, my intellek. Ek ervaar emosionele pyn as ek sien hoe sekere mense redeneer. Ek ervaar fisiese pyn as ek van die kameel se rug afkwetter. Ek ervaar angspyn oor die woord “afkwetter”.

My man verduidelik dat as jy ‘n koeël in jou knieg het, die pyn net sal verdwyn as jy die koeël verwyder. Vanaand sit daar ‘n koeël in my bors. Ek moet terugstaan, afstand doen, omdraai, wegloop, anderpad kyk, ‘n dowe oor gooi, op my tong byt… ek moet sekere mense en dinge groet om myself te pantser en my glimlag te bewaar. Vanaand is die pyn onverstaanbaar. More sal ek begryp dat dit eintlik positief van aard is. Ek doop dit: groeipyn.

 

 

As woorde ontbreek

As die Springbokke verloor, word baie woorde gehoor, gelees, geskree. Die skeidsregter en sy familie word tot in die sesde geslag vervloek. Die afrigters se talente word met die uitskeidingsisteme van seeslakke vergelyk. Sosiale netwerke gons kru- en kraswoorde wat Oumas opnuut na hul Bybels laat gryp. Brandewyn het nie brieke nie, want almal weet bier gaan jou nie laat beter voel nie, maar ook nie melk nie… so alkohol word (teoreties korrek) ‘n oplossing.

Op die vooraand van die laaste skoolkwartaal, sug onderwysers diep en laat hoor dan treurmares oor die lang-langnaweek wat die departement ‘n skoolvakansie noem. Die kinders kort medikasie, die ouers ‘n klap, die kurrikulum kort rigting en die onderwysers meer geld. Foto’s met opskrifte word teen die osoon se kamermuur opgeplak, want die humoristiese woorde, laat ons so bietjie belangriker voel.

Die buurman gil op sy kleuters. Dan gil die buurvou op die buurman. Woorde word rondgeslinger oor hoe om kinders groot te maak, hoe om dissipline toe te pas en hoe om die begroting te laat klop. Adviseurs gee raad en raadgewers advies. Dominees preek en skuldiges soek verskoning. Dokters is voorskriftelik. Rekenmeesters praat die taal van syfers en politici lieg soos… wel, politici.

Boelies se kragtigste wapen, is die woord. Die Woord van Jou God, is ook jou wet. Woorde gee orde, struktuur, logika, rede… woorde gee sin… en sin gee betekenis. Woorde gee ons hoop, verklaar ons liefde, vertel frustrasie, verduidelik verslaentheid en dra gelukwense oor.

Maar soms, soos op ‘n Sondagaand, as ek woord ontvang dat dit nie goed gaan met iemand vir wie ek omgee nie… dan vang die woord my in ‘n net vas. Want so kragtig as wat woorde is, soveel meer kan ‘n drukkie vertel. So magtig en vaardig soos ek met woorde verkeer, so kierang hulle my ook as ek nie my hand op haar skouer kan sit nie. Woorde is nie altyd genoeg nie. Inteendeel, soms is woorde oorbodig, onnodig en krukke wat nie help vir steun nie. Die eerste woorde is dalk ‘n mylpaal. Die nuus uit die kundige se mond is terminaal. Die laaste woorde verskyn op die grafsteen. Soveel wanhoop, hartseer, seerkry wat nie met pleisters en mooi woordjies reggeruk kan word nie. My woordeboek het ‘n uiltjie gaan knip. Soms moet ek net glo en vertrou dat my stilte ook iets kan sê, want die regte woorde, die woorde wat werklik my omgee en liefde vasvang, ontbreek.

 

Pyn in my appel

Ek het nog nooit ‘n wye en onvoorwaardelike liefde gehad vir Afrikaanse musiek nie. Sinnelose lirieke gee my gas. Die onaangename soort. Dwangrym gee my koors. Van angs en woede. Tussen ‘n generaal, kaptein en naweeklyfie het ek al van my varkies verloor. Later sou ek verneem die varkies het hulself in pampoene en loslappies gaan verdrink. Liefde was nie net ‘n stille rivierstroom nie, maar ‘n woord wat sekere Afrikaanse sangers ontrond, oorrond, verrond, berond en sommer ongegrond verkrag. Dit is so… ek wil kots as ek sekere musiek in my moedertaal hoor speel. Nie braak nie. Nie opbring nie. Maar lelik en kru kots. So dramaties dat dit mense sommer laat gril van morsigheid.  In my woordeskat tel ‘baby’ nie as ‘n Afrikaanse troetelnaampie nie en is “jaauw” nie ‘n woord nie. “Vergeut”en “tymel” grens aan laster. Musikaal? Nee, eerder musieklik.

Alles is egter nie verlore nie. Daar is puik woordkuns wat opduik tussen treffende melodieë. Poësie wat oor die lippe spoel van talentvolle troebadoere. Kulkunstenaars wat tussen note en nostalgie die balans van harmonie en klank vind. Dis net so jammer dat die massas nie altyd hul talent waardeer nie.

Die massas luister vir ure aaneen na ‘n liedjie van ‘n pen wat in ‘n pynappel gedruk word. Massahisterie breek los oor ‘n walglike Oosterling (in ‘n baadjie wat soos bababraaksel lyk) wat ‘n pen het… en ‘n pynappel het… en dan ‘n penpynappel het… Die enigste deel waarmee ek identifiseer is die “urgh”.

So erg banaal is hierdie nuwe treffer, dat Japan nou blykbaar ‘n amptelike persverklaring uitgereik het om te sê dat hulle asseblief nie vergelyk wil word met die man en sy pynappelpen nie. Japanese is slimmer as dit.

Ek bewonder Japan. Hulle het immers die waagmoed om die sotlikheid te erken. Om hulself te distansieer van laervlakdenke. Ek is seker as hulle ‘n paspoort kon terugtrek sou hulle. Dat hulle die vlakke van bloedskande gaan ondersoek is seker nie van die tafel af nie.

Terwyl die wêreld ure en ure spandeer om na die omgang tussen vrugte en skryfbehoeftes te luister, wonder ek wie opstaan vir die studente wat hul klasse misloop. Ek wil weet of dit moontlik is om op twee plekke gelyk te wees. Ek probeer verstaan waaroor ouerskap eintlik gaan. Ek wil onderskei tussen vrae en vra en vrag en vrug… en so eindig ek weer by die pynappel op. Ek luister na die stilte om my en nog nooit was dit vir my so mooi nie. Stilte beteken denke kan vorm vat, want tussen die geluide van dwaasheid en vervolging en verspreiding en verslaafdheid, wil ek soms my pen in ‘n paar mense se pynappels gaan druk. Maak tog soos Johannes Kerkorrel sing en ‘Sit dit af! Sit dit af!’

 

Uawrgh

In die laaste 12 uur, het ek meer gevloek as wat gesond is vir enige emosionele situasie. Ek het ‘n skeelhoofpyn van blatante woede ontwikkel. Ek het my so vervies, dat ek drie keer van geloof en vier keer van bloedgroep verander het. My wange gloei soos Satan se stoofplaat en my oë spoeg vuur, terwyl ek aan die boosdoeners dink. Die boosdoeners in hierdie geval is die menere wat hulself… ag nee, weet jy, ek moet maar ‘n brug bou en oor die volslae mislukkings van die wêreld kom. Punt en klaar.

My humeur is so kort soos James Dalton se hare in die negentigs, my geduld nie veel langer nie. Ek het dus oor die afgelope drie dekades (en ‘n bietjie) geleer om te stop, asem te haal en my geite en grille in blaasborrels te sit en weg te blaas.

Daar is sotte op aarde. Dis nou die sogenaamde ‘mense’ wat dink dit maak sin om ander se lewens te verwoes deur vals aantuigings te maak, geld te verduister of te lieg soos ‘n tandetrekker. Daar is idiote onder die osoonlaag. Sogenaamde “stryders van vryheid en gelykheid” wat biblioteke afbrand in die soeke na kennis. Daar is beterweterige eierkoppe wat disrespekvol optree en twee sinne later preek oor waardigheid en morele waardes wat gehandhaaf moet word. Daar is arrogante ape wat in magsposisies sit en bevele gil, terwyl hul honde honger in die reën op hul wag. As ek aan die bevolkingsverspreiding dink, wonder ek vanaand watter persentasie van die 7 biljoen regtig, waarlik, eerlik goeie mense is. 2%? 20%? En dan lei die vraag na introspeksie: val ek onder hierdie 2%? 20%?

Na ‘n glas wyn, twee blokke sjokolade en ‘n warm stort, voel my hart ligter. My vingers is weer los en my mond trek weer in ‘n glimlag. Ek is deel van die 2%. Moet wees, want ek sien die bobbejane raak. Ek raak nog kwaad oor onregverdigheid. Ek wil nog die wêreld ‘n beter plek maak. Ek raak woedend oor kinderagtigheid. Ek raak aggressief oor mishandeling. Ek raak vies oor disrespek. Ek raak besete oor onlogiese domastrantheid. Ek bou daagliks brûe. Ek kom nie altyd oor dit nie. Maar ek hou my oog op die horison, skink nog ‘n glas wyn en skree dan ten hemele: “UAWRGH!” More is nog ‘n dag en ek word nie gedefinieer deur net een stel van 12 ure nie.