Les Miserable

Die Franse Rewolusie is nou nie juis iets wat ek romanties sou noem nie. Ek bedoel, as dit nou vergelyk word met wandelings op die strand in die maanlig op ‘n somersaand… of ‘n kersligete waar harpe in die agtergrond atmosfeer skep… of ‘n piekniek in die tuine waar bome ‘n beskermheer teen die son waak… dan is die geveg waarin Napoleon betrokke was sedert 1789 nou nie juis iets waarin jy jou onvoorwaardelike liefde met ‘n soen sal wil seël nie.

Maar iets het in my losgebars toe ek as tiener die roman van Victor Hugo lees… die verhaal van Jean Valjean, die man wat in die tronk beland het oor hy ‘n brood vir sy sterwende susterskind wou steel tydens die hongersnood in Frankryk. Vol intrige en waarhede, vol romantiek en antiek-sjiek en manjifiek en ag, sommer alles met ‘n -iek aan. Ek weet en verstaan dat hierdie 1500 bladsy storie nou nie almal se smaak bevredig nie, maar vir my is elke woordskepping ‘n ontvlugting. Dit bewys hoe woorde kan vleg en krul om eksponent te bewerkstellig… en ja, ek sal nou stop met my liriese tirade oor die skepping wat my kop ‘n skuif laat maak het.

Sien, vanaand sit ek kinderlik opgewonde voor die komper en klets, want langs my lê die kaartjies: nog nat van die ink wat my drukker pas bevestig het… ek gaan die verhoogproduksie in al sy glorie kan aanskou. Op 18 November gaan ek in Dubai se operahuis in ry U sit. Op sitplek nommer 14 gaan ek myself oorgee aan hartkloppings en gaan ek myself laat leef tussen Cosette en Marius en Javert. Ek gaan huil, dit weet ek. Ek gaan saam sing (nie hard nie, maar beslis IN volle bors). Ek laat myself toe om opgewonde te wees…

Want in die alledaagse gejaag van perdry en wasgoed en skoolhou en eet en swemlesse en skottelgoed en en en en, staan ek vanaand stil. Ek glimlag oor ek nog kan opgewonde wees. Ek is dankbaar vir my romantiese hart. Ek tel die slapies af, want as ons niks het om na uit te sien nie, hoekom jaag ons dan?

3 thoughts on “Les Miserable

Lewer kommentaar op Toortsie Kanselleer antwoord