Pyn in my appel

Ek het nog nooit ‘n wye en onvoorwaardelike liefde gehad vir Afrikaanse musiek nie. Sinnelose lirieke gee my gas. Die onaangename soort. Dwangrym gee my koors. Van angs en woede. Tussen ‘n generaal, kaptein en naweeklyfie het ek al van my varkies verloor. Later sou ek verneem die varkies het hulself in pampoene en loslappies gaan verdrink. Liefde was nie net ‘n stille rivierstroom nie, maar ‘n woord wat sekere Afrikaanse sangers ontrond, oorrond, verrond, berond en sommer ongegrond verkrag. Dit is so… ek wil kots as ek sekere musiek in my moedertaal hoor speel. Nie braak nie. Nie opbring nie. Maar lelik en kru kots. So dramaties dat dit mense sommer laat gril van morsigheid.  In my woordeskat tel ‘baby’ nie as ‘n Afrikaanse troetelnaampie nie en is “jaauw” nie ‘n woord nie. “Vergeut”en “tymel” grens aan laster. Musikaal? Nee, eerder musieklik.

Alles is egter nie verlore nie. Daar is puik woordkuns wat opduik tussen treffende melodieë. Poësie wat oor die lippe spoel van talentvolle troebadoere. Kulkunstenaars wat tussen note en nostalgie die balans van harmonie en klank vind. Dis net so jammer dat die massas nie altyd hul talent waardeer nie.

Die massas luister vir ure aaneen na ‘n liedjie van ‘n pen wat in ‘n pynappel gedruk word. Massahisterie breek los oor ‘n walglike Oosterling (in ‘n baadjie wat soos bababraaksel lyk) wat ‘n pen het… en ‘n pynappel het… en dan ‘n penpynappel het… Die enigste deel waarmee ek identifiseer is die “urgh”.

So erg banaal is hierdie nuwe treffer, dat Japan nou blykbaar ‘n amptelike persverklaring uitgereik het om te sê dat hulle asseblief nie vergelyk wil word met die man en sy pynappelpen nie. Japanese is slimmer as dit.

Ek bewonder Japan. Hulle het immers die waagmoed om die sotlikheid te erken. Om hulself te distansieer van laervlakdenke. Ek is seker as hulle ‘n paspoort kon terugtrek sou hulle. Dat hulle die vlakke van bloedskande gaan ondersoek is seker nie van die tafel af nie.

Terwyl die wêreld ure en ure spandeer om na die omgang tussen vrugte en skryfbehoeftes te luister, wonder ek wie opstaan vir die studente wat hul klasse misloop. Ek wil weet of dit moontlik is om op twee plekke gelyk te wees. Ek probeer verstaan waaroor ouerskap eintlik gaan. Ek wil onderskei tussen vrae en vra en vrag en vrug… en so eindig ek weer by die pynappel op. Ek luister na die stilte om my en nog nooit was dit vir my so mooi nie. Stilte beteken denke kan vorm vat, want tussen die geluide van dwaasheid en vervolging en verspreiding en verslaafdheid, wil ek soms my pen in ‘n paar mense se pynappels gaan druk. Maak tog soos Johannes Kerkorrel sing en ‘Sit dit af! Sit dit af!’

 

Advertisements

Uawrgh

In die laaste 12 uur, het ek meer gevloek as wat gesond is vir enige emosionele situasie. Ek het ‘n skeelhoofpyn van blatante woede ontwikkel. Ek het my so vervies, dat ek drie keer van geloof en vier keer van bloedgroep verander het. My wange gloei soos Satan se stoofplaat en my oë spoeg vuur, terwyl ek aan die boosdoeners dink. Die boosdoeners in hierdie geval is die menere wat hulself… ag nee, weet jy, ek moet maar ‘n brug bou en oor die volslae mislukkings van die wêreld kom. Punt en klaar.

My humeur is so kort soos James Dalton se hare in die negentigs, my geduld nie veel langer nie. Ek het dus oor die afgelope drie dekades (en ‘n bietjie) geleer om te stop, asem te haal en my geite en grille in blaasborrels te sit en weg te blaas.

Daar is sotte op aarde. Dis nou die sogenaamde ‘mense’ wat dink dit maak sin om ander se lewens te verwoes deur vals aantuigings te maak, geld te verduister of te lieg soos ‘n tandetrekker. Daar is idiote onder die osoonlaag. Sogenaamde “stryders van vryheid en gelykheid” wat biblioteke afbrand in die soeke na kennis. Daar is beterweterige eierkoppe wat disrespekvol optree en twee sinne later preek oor waardigheid en morele waardes wat gehandhaaf moet word. Daar is arrogante ape wat in magsposisies sit en bevele gil, terwyl hul honde honger in die reën op hul wag. As ek aan die bevolkingsverspreiding dink, wonder ek vanaand watter persentasie van die 7 biljoen regtig, waarlik, eerlik goeie mense is. 2%? 20%? En dan lei die vraag na introspeksie: val ek onder hierdie 2%? 20%?

Na ‘n glas wyn, twee blokke sjokolade en ‘n warm stort, voel my hart ligter. My vingers is weer los en my mond trek weer in ‘n glimlag. Ek is deel van die 2%. Moet wees, want ek sien die bobbejane raak. Ek raak nog kwaad oor onregverdigheid. Ek wil nog die wêreld ‘n beter plek maak. Ek raak woedend oor kinderagtigheid. Ek raak aggressief oor mishandeling. Ek raak vies oor disrespek. Ek raak besete oor onlogiese domastrantheid. Ek bou daagliks brûe. Ek kom nie altyd oor dit nie. Maar ek hou my oog op die horison, skink nog ‘n glas wyn en skree dan ten hemele: “UAWRGH!” More is nog ‘n dag en ek word nie gedefinieer deur net een stel van 12 ure nie.