Steel

Ek slaan vanaand my hand op my bors en erken: ek steel. Ek is nie honger sodat ek moet brood steel nie. Ek is nie dors sodat ek moet wyn steel nie. Ek is nie geldgierig sodat ek moet geld steel nie. Maar ek steel tog.

Ek steel met my oog… ek kyk na my dogtertjie wat sonder enige skaamte en voorbehoud in haar droomwêreld met perde speel. Ek kyk hoe my seun oor die banke hardloop en drake oorwin deur hulle met ‘n sponskussing te vang. Ek sien hoe hulle onaangeraak is deur sosiale takt en etiket en net wegsink in blye verwondering… en ek steel idees om my eie glimlag breër te maak. Ek wil ook soveel lewenslus hê… soveel energie… so ek steel so bietjie van hul kennis wat oop en bloot op die sitkamermat uitgesprei word.

Ek steel met my oor… ek hoor waaroor mense skinder, ek luister as iemand praat, ek probeer om nie ‘n woord van die verhaal te mis nie. Want woordkennis sal ek seker nooit genoeg van hê nie. Dis ‘n dors wat eenvoudig nie geles kan word nie, ‘n vuur wat weier om geblus te word. So ek spits my ore en steel staaltjies, uitdrukkings en idiome.

Ek steel met my hand… ek tik tog nie elke woord uniek nie. Iemand het al vantevore die woord “diefstal” en “geleende uitdrukking” gebruik. Ek steel die letters van my sleutelbord af, probeer om die een nie meer te misbruik as die ander nie.

Ons almal steel. Woorde, kennis, vernuf, idees… maar die verskil is dat ons nie steel omdat ons ander skade wil berokken nie. Ons steel om ons lewens sin en betekenis te gee. Ons steel omdat ons die wêreld ‘n beter plek wil maak. Ek wens ek kon dialise, epilepsie, kanker en depressie wegsteel. Ek sou dit begrawe om nie weer onmin te saai nie. En ek sou beslis die vet om my middel steel. Ek sou alles wat sleg en lelik is steel. Wegvat. Maar soos ons almal weet is diefstal nie regtig ‘n oplossing nie. Nie vir goeie mense nie, in elk geval.

Advertisements

Stil wees

As daar een ding is wat die onderwys my geleer het, is dit om stilte te waardeer.

Daar is vir my min klanke so mooi soos krieke in die nag, die branders wat op die strand breek, die roep van ‘n visarend, die wind wat om die hoeke van die huis huil en die sonbesies wat die temperatuur van die bosveld verkondig.

Ironies genoeg is ek ‘n luide mens. Ek praat met ‘n stem wat die kranse laat antwoord gee, ek lag dawerend uit my maag uit en sonder aarseling sal Manlief verduidelik hoe ek die onvermoë het om ‘n deur saggies toe te maak. Kombuiskaste klap spontaan kliphard toe in my teenwoordigheid en my voetval klink soos ‘n spul studente wat die eetsaal bestorm… en dit is as ek saggies probeer loop. Ek glo ook dat dit die rede is hoekom ek nie kan spring nie. Ek sal ‘n klankgolf veroorsaak. As ek fluister, antwoord die buurman. My maag grom en die buurvrou dra kos aan. Selfs al sit ek tjoepstil voor die televisie, kraak my enkels en knieë dat die ambulans sommer net opdaag.

Goed, ek oordryf dalk so effens, maar meeste mense sal kan getuig oor die volume waarmee ek leef. In die klas kom my bulderende stem dikwels tot my redding. Ek kan sonder te veel inspanning, aankondigings in die saal maak, sonder die hulp van ‘n mega- of mikrofoon. En ek hoef nie te gil of te skree nie. Ek verhef my stem net so effens. So ás ek die dag skree, soos vandag, dan begin graad 9 seuns sommer huil, graad 10 seuns vra vir ekstra huiswerk en graad 11 seuns bewe in my teenwoordigheid. Ek hou van hierdie superkrag in my stembande.

Die lewe het my egter ook ‘n les oor stilte geleer. Dat stilbly ook ‘n antwoord kan wees. Dat ‘n toe mond, ‘n heel mond bly. Dat die tong ‘n vlymskerp wapen kan wees. Dat stilte onheil kan voorspel, dat daar stilte voor ‘n storm kan wees en dat ‘n stil gebed net so effektief kan wees soos ‘n lofsang op ‘n podium. En al is my stem hoe hard, dat ek nie altyd hoef te praat nie.

So vriendin, bring jou las, jou sorge, jou verlange, jou vrese, jou gebede, jou trane, jou verlies en jou moedeloosheid. Jy hoef nie daaroor te praat nie. Ons kan net sit. Want ek praat ook stilte vlot.

 

R100

Ek was ‘n buitestaander. ‘n Ooggetuie. ‘n Onpartydige, objektiewe toeskouer. En hierdie is my eerlike, opregte, waarneming:

Sy het die borgvorm geneem en ‘n R100 noot gegee. Sonder om te aarsel het sy haar beursie uitgehaal, vriendelik vir die persoon geglimlag en sommer so vinnig haar naam op die papier geskribbel. Die persoon wat die borgvorm vasgehou het, het neus opgetrek en diep gesug. Wat is R100 deesdae? Jy kan nie eers een sakkie by Woolworths koop met R100 nie. Jy kan nie jou hare laat sny, gaan fliek én springmielies eet of na die Springbokke gaan kyk as hulle op Ellispark speel nie. R100 kan nie vir jou ‘n selfoon, rondte gholf of ‘n doktersbesoek koop nie.

Hy het die borgvorm geneem en ‘n R10 000 bydrae gelewer. Die persoon wat die borgvorm vasgehou het, het oopmond en met heldeverering gestaan en staar na die onbaatsugtige gebaar van die held. Met R10 000 kan die vliegtuigkaartjie om saam met die sportspan te gaan toer, betaal word. R10 000 kan sonder skroom aangewend word vir ‘n reistas, nuwe skoene én sakgeld, want die wisselkoers tussen die rand en die pond gee ouers sooibrand en slapelose nagte.

Daar word feesgevier oor R10 000 en vergeet van die R100.

Dis maklik om die kwantitatiewe te meet. Dis maklik om vriendskap en wonderwerke en goedhartigheid en vrygewigheid te meet aan rand en sent, die grootte van ‘n geskenk en die uitspattigheid van ‘n partytjie. Groter is mos beter, dan nie?

Maar hier lê die geheim, my waarneming, gevolgtrekking en objektiewe lewensles: SY het R100 gegee en HY het R10000 geskenk. Die verskil is dat HY ‘n R1 miljoen het en SY het net R100… gehad.

Tande

Kyk, die kinders het my al baie op my tande laat kners. My ma het altyd gesê mens moet hare op jou tande hê as jy hulle reg wil grootmaak. Behandelde, gekleurde, spesiale hare. As ouer het ek myself ook al meer male betrap waar ek soos ‘n tandetrekker gejok het. En toe, gisteraand, is my voete op die pad van tande geplaas… sonder keuse. My sesjarige se voortand het amptelik die tydelike tandkas, met die ewige kassie (onder in my laai), verruil.

Sy het ‘n volle veertig minute sit en teken aan haar briefie vir die Tandefeëtjie, voor sy eindelik met ‘n miniatuursketsie tevrede was. Net haar beste sou goed genoeg wees.

In Afrikaans praat ons van die Tandmuis, maar om verwarring met Engelse maats en Britse onderwysers te voorkom, het ons besluit om maar die Tandefeë oor te nooi na ons pragtaal. Die ontstaan van hierdie gebruik is nie heeltemal duidelik nie, alhoewel meeste aantekeninge verwys na die noorde van Europa, waar ‘n tande “fooi” betaal is in Noorse tradisies. Dis moontlik dat hierdie “fee” aangesien is as “fairy” en sò is ‘n magiese karakter geskep wat ouers net geld kos.

In Amerika is bevind dat die gemiddelde kind ongeveer $3.85 ontvang vir elke wisseling. In Suid-Afrika is dit R26.75. Ek weet nie hoe en waar hierdie studies gedoen is nie, maar as dit op die internet is, moet dit seker waar wees.

Ek hou baie van die Spanjaarde se manier. In plaas van geld, word ‘n geskenkie gelos. Gewoonlik ‘n kissie of kussing. En ook nie elke keer nie, maar net met elke sesde tand. Dit het te doen met voorspoed, geluk en die bestryding van alle donker magte.

 

In ons huis het die Tandefeë wraggies haar verskyning gemaak. Ek was maar skepties, want ek weet hoe moeg en afgemat ek voel na ‘n lang dag. Maar vanoggend was die bewys daar: ‘n briefie waarin Lehja nie net bedank is nie, maar ook ‘n vriendelike vermaning om aan te hou tande borsel en oplaas ‘n sertifikaat om die voortand se nagedagtenis te bewaar. Waar die Tandefeë al haar tyd en energie kry weet ek nie. Ek weet net dat ek maar opnuut op my tande moet kners vir hierdie fase. Haasbekkies (en daai los lisp op die lippe) was nog nooit vir my aansienlik nie. Helaas, as ek eendag my eie emalje vir ‘n vals gebit moet ruil, sal ek maar hoop die Tandefeë vergeet nie van my nie. En ek bid dat ek ook die wonder sal kan ervaar om vir veertig minute vir haar ‘n briefie te kan teken.

Dwelm

Ek het dwelms gebruik. Dit was nie my eerste keer nie. Vir drie uur lank het ek myself heeltemal oorgegee aan die euforie wat kunsmatige stimulante bring.

 

Die stemme in my kop het lewendig geword en gesprekke begin voer, waaraan ek entoesiasties deelgeneem het. Met akkurate artikulasie en innoverende intonasie het die stemme note geword en die note het nes kom skop in my oordrom.

Tonele van stormwaterdreine, oorlog en liefdesdriehoeke het hulself voor my afgespeel. In vervoering het ek weggeraak in die vorteks van verwondering wat homself voor my opgetower het.

Ek het vergeet van die opgeblaasde maag wat ek onder ‘n los rok wou wegsteek en het met sterre in my oë na die donker kolle voor my gestaar. Ek het my nie gesteur aan die vrou wat langs my sit en kug-kug-kug het nie, want die viole en blokfluite en klawers vanuit die geheime gat in die gehoor het my sintuie oorgeneem. Die feit dat my linkergroottoon se naellak besig is om af te kom, het nie een keer in my gedagtes opgeduik nie, want die ligte het allerhande fantasieë in my wakker gemaak.

Ek verstaan hoe Alice moes voel toe sy in daardie haas se holte ingeglip het. Dehidrasie, hartpalpitasies en hallusinasies. Trane wat vrylik vloei, rymwoorde wat uit my buik vloei en ‘n mymering wat my immergroen boei. Ek is verslaaf.

Ek snuif die reuk van ‘n vol gehoor, spuit myself in met die ontroering wat ‘n teatersaal bied en trek die rook van ‘n deinserige verhoog diep in my longe in. Akteurs wat verdwyn agter die maskers van hul karakters en dan oplos in die dialoog. Ek is verslaaf aan die ontvlugting wat die dramatiese kuns vir my bring. Ek sal my laaste sente pand vir ‘n vertoning wat nie vervolg nie. Ek weet ek gaan oor drie dae ‘n depressie van dinamiese proporsies tref. Ek verstaan ek gaan ontrekkingsimptome ontwikkel en nagmerries kry en in angsweet uitslaan. Maar dit was die moeite werd. Vir vanaand gaan ek net sit en teug aan die smaak wat Les Miserable in my mond los. My byvoeglike naamwoorde los my alleen… die dwelm is eenvoudig te sterk. Victor Hugo, ek salueer jou en jou repertoire van resonansie in hierdie woestynland.

Ek het dwelms gebruik en dit was nie my laaste keer nie.

 

Wonderwerk

Meeste mense gaan werk, begroot, spaar ‘n rand of twee en wag geduldig vir hul skip om in te kom. Hulle kla oor misdaad, braai oor naweke, kyk met afgryse in hul oë hoe die Rose die Bokke se horings kraak en is elke aand dankbaar vir die bord kos op hul tafels en dak oor hul kop. In die bed wonder hulle of al die vensters gesluit is, die alarm gaan werk as die krag afgaan en of die kinders gaan deurslaap vanaand.

Meeste mense steur hulle nie veel aan die feit dat Donald Trump nou toegang het tot atomiese bomme nie. Hulle gee nie om of Beyonce nog ‘n nommer een op die BillBoards het nie. Brexit het hulle nie direk beïnvloed nie, inteendeel, meeste mense weet nie eers presies wat Brexit is nie. Meeste mense weet dat hulle agt glase water per dag moet drink, hul selfone deur die nag moet herlaai en hul motors elke 15000 km moet stuur vir ‘n diens.

Meeste mense is verantwoordelike burgers wat belasting betaal, seker maak hul kinders doen hul huiswerk, deel is van die buurtwag en darem so dan en wan die Bybel oopmaak. Meeste mense wil nie betrokke raak by die bure se sage, die wit plakkerskampe of politiek nie. Hul salarisstrokies word saam met pinkodes, die geërfde Krugermunt en alles wat nie vir kinderoë bedoel is nie, agter in hul hangkaste weggesteek, onder die onderklere of in ‘n skoenboks onder die wintersjasse.

Meeste mense glo nie regtig in die bonatuurlike nie. Spoke en geeste is bangmaakstories wat slegs by kampvure bespreek word. Ruimtewesens, VVV’s en groen mannetjies wat eksperimente om ons wil doen is lagwekkend. Wonderwerke is net vir Huisgenoot se doeleindes bedoel en heuning en gemmer kan dalk help vir verkoue, maar drastiese medikasie is nodig vir kanker en kinkhoes.

 

Intussen staan die juffrou daagliks voor die klas, met ‘n gebreekte hart en ‘n leë bankrekening, maar sy inspireer en motiveer. Die verpleegster steek haar blou oog onder nog ‘n lagie grimering weg, hy het mos belowe dit was die laaste keer en met ‘n vriendelike glimlag ruil sy die ou oom se bedpan en die kind se verbande. Die motorwerktuigkundige dink onophoudelike aan die kind wat sy eksvrou van hom weghou, maar hy maak seker die wiele is styf genoeg vas en die lek is dig geseël, want hy soek net olie, en nie bloed nie, op sy hande. In die DBV se adminkantoor, sluk die assistent aan trane oor die baba wat nie wil nesskop in haar nie, maar sy vryf die katjies ekstra lank en gee die honde so bietjie meer kos as gewoonlik. Die eerlike prokureur (ja, hy bestaan) kan nie aan die slaap raak in sy peperduur nuwe bed nie, want hy dink aan die kind wat deur haar Oupa gemolesteer is en vanaand in die kinderhuis moet slaap. Die tronkbewaarder bid vir die verkragters. Die minister deel sy salaris met die plaaslike skool se boekefonds.

‘n Wonderwerk hoef nie ‘n skouspelagtige gebeurtenis te wees nie. Dit hoef nie die aarde te skud, vigs genees, hongersnood verlig of selfs ‘n groot maan sigbaar te maak nie. Wonderwerke word nie net onder in grotte gevind nie. Mens hoef nie ‘n ark te bou, die see te skei of met ‘n brandende bos te praat om ‘n wonderwerk te ervaar nie. ‘n Wonderwerk kan bloot ‘n klein stukkie opregte omgee wees. Wonderwerke gebeur daagliks. Dit gebeur oral en gereeld. Meeste van ons kan dit sien en ervaar, maar meeste van ons wag eerder op ons skip se koms.

Tamatiesous

My kinders sal nie tamatiesous eet nie.  Ek het nog altyd met afgryse in my oë gekyk as kinders, kleuters en kabouters hul kos laat swem in die walglikheid wat homself as tamaties vermom. Voor ek kinders gehad het, het ek besluit dat my kinders weerhou sal word van hierdie sonde teenoor die mensdom. My oplossing was eenvoudig: nie ek of my man eet die rooi sous nie, so my kinders gaan eenvoudig nooit blootgestel word daaraan nie. As hulle nie van dit weet nie, hoe sal hulle dan daarna kan verlang… sluk ek my woorde vandag met liters vol tamatiesous amper so rooi soos my wange.

Want êrens in ‘n kind se DNA word die voorliefde vir gepulpe tamaties met tonne suiker in, ontwikkel. Ek koop tamatiesous net vir my kinders. En hulle eet dit oor alles. Van ontbytpap tot brood tot noedels tot vis. Alles swem in tamatiesous. Ek gril daagliks.

Ek het al honderde male sonder tal vergeefs probeer om hierdie slegte gewoonte in die kiem te smoor. Dit lei egter net tot woede-uitbarstings (Seker as gevolg van suiker onttrekking) en kos wat in die asblik beland. Ek kies dus my gevegte… ek baklei oor tande wat geborsel moet word en woorde soos “dankie” en “asseblief” is nie onderhandelbaar nie.

Toe ek egter vanoggend in die koffiewinkel sit en skryf, sit ’n ma en haar seuntjie op die bankie buite die winkel. Na aanleiding van die ma se gelaat en kleredrag, lei ek af hulle kom van Pakistan af en dat hulle maar elke sent moet omdraai. Sou die kind ook graag tamatiesous oor sy tjippies wou eet? Ek kyk na die bakkie met sout, peper en tamatiesous wat op die tafel staan. Ek sien raak hoe die bedorwe brokkie by die tafel langs myne die tamatiesous in strepe oor die tafel trek. Skielik is ek dankbaar dat ek in my kinders se tamatiesous-behoeftes kan voorsien en dat hulle dit immers nie mors nie. Soos alles in die lewe, gaan tamatiesous oor dit: balans.

 

 

SUPERMA (en ander mites) word deur Lapa uitgegee en is nou op voorbestelling beskikbaar by boekwinkels.