Tamatiesous

My kinders sal nie tamatiesous eet nie.  Ek het nog altyd met afgryse in my oë gekyk as kinders, kleuters en kabouters hul kos laat swem in die walglikheid wat homself as tamaties vermom. Voor ek kinders gehad het, het ek besluit dat my kinders weerhou sal word van hierdie sonde teenoor die mensdom. My oplossing was eenvoudig: nie ek of my man eet die rooi sous nie, so my kinders gaan eenvoudig nooit blootgestel word daaraan nie. As hulle nie van dit weet nie, hoe sal hulle dan daarna kan verlang… sluk ek my woorde vandag met liters vol tamatiesous amper so rooi soos my wange.

Want êrens in ‘n kind se DNA word die voorliefde vir gepulpe tamaties met tonne suiker in, ontwikkel. Ek koop tamatiesous net vir my kinders. En hulle eet dit oor alles. Van ontbytpap tot brood tot noedels tot vis. Alles swem in tamatiesous. Ek gril daagliks.

Ek het al honderde male sonder tal vergeefs probeer om hierdie slegte gewoonte in die kiem te smoor. Dit lei egter net tot woede-uitbarstings (Seker as gevolg van suiker onttrekking) en kos wat in die asblik beland. Ek kies dus my gevegte… ek baklei oor tande wat geborsel moet word en woorde soos “dankie” en “asseblief” is nie onderhandelbaar nie.

Toe ek egter vanoggend in die koffiewinkel sit en skryf, sit ’n ma en haar seuntjie op die bankie buite die winkel. Na aanleiding van die ma se gelaat en kleredrag, lei ek af hulle kom van Pakistan af en dat hulle maar elke sent moet omdraai. Sou die kind ook graag tamatiesous oor sy tjippies wou eet? Ek kyk na die bakkie met sout, peper en tamatiesous wat op die tafel staan. Ek sien raak hoe die bedorwe brokkie by die tafel langs myne die tamatiesous in strepe oor die tafel trek. Skielik is ek dankbaar dat ek in my kinders se tamatiesous-behoeftes kan voorsien en dat hulle dit immers nie mors nie. Soos alles in die lewe, gaan tamatiesous oor dit: balans.

 

 

SUPERMA (en ander mites) word deur Lapa uitgegee en is nou op voorbestelling beskikbaar by boekwinkels.

Advertisements

3 thoughts on “Tamatiesous

  1. Net All Gold tamatiesous vir my, en soos jou oulikste kinders, eet ek dit ook amper op alles. Ek stem met jou saam, ordentlik tandeborsel en om goeie maniere te hê, is baie belangriker.

  2. Ek self is ‘n tamatiesous lekkerbek. Daar is net drie soorte wat ek eet.
    Tuisgemaakte sous (bredie) veral by boerewors ,spek ek eiers

    All Gold
    Meeste tamaties en minste preserveermiddels. Heerlik daam met aartappelskyfies of makaronie en kaas gereg.

    Heinz
    Besonderse bygeursels en oor redelik baie tamaties in. Goed vir die maak van burgers, omelette en roereiers

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s