Skoonma

Skoonma is vir duisende vrouens (en mans) ‘n groter vloekwoord as lastertaal. Uit ‘n vroulike perspektief moet ek natuurlik weet dat ‘n skoonma my nooit gaan goedkeur nie, want ek sal eenvoudig nooit goed genoeg wees vir haar seuntjie nie. Ek sal altyd agter sy beursie, status of goedhartigheid wil skuil… of só sal ‘n skoonmammie redeneer.

Skoonma stap jou huis binne, trek haar vinger oor die vensterraam, koffietafel en boekrak, op soek na mikroskopiese bewyse van stof, sodat sy jou kan klassifiseer as lui en/of vuil. Skoonma weet beter en vinniger as die skaal of jy gewig opgetel het tydens jou laaste vakansie en sal nie skroom om haar eerlike mening te lug oor jou gesondheid nie.

Met die verlowingspartytjie moet ‘n skoonma harder huil as jy en jou ma saam en sy moet aandring daarop dat haar seun die beste keuse gemaak het… as dit by die ring kom, natuurlik. Sy sal inmeng op elke moontlike vlak van die troue en raad oor hoe en waar julle moet bly, waarmee julle moet ry en hoe julle tussen die lakens moet gly sal deel word van haar diensplig. Behoede jou as jy jou kinders kry en in ‘n 100 km radius van jou skoonma bly, want wees gereed: sy gaan inmeng. Sy het immers die beste seun op aarde grootgemaak, so haar resep is onfeilbaar. Alles van koors tot die keuse van doeke sal deur haar veroordeel, beoordeel, geoordeel word.

Vir die volgende paar jaar gaan jy, jou man en jou skoonma ‘n span maak. Alles van finansies, geloof, skoolfonds en hoeveel kinders julle moet hê sal deur haar afgeteken word.

Ek is nie veronderstel om van my skoonma te hou nie. Maar ek het van haar gehou lank voor sy my skoonma was. En sy is glad nie tipies nie. Sy is eerlik, want sy weet van haar kinders se tekortkominge. Sy is opreg, want sy baklei net so hard met my soos met haar bloedkinders. Sy is vol omgee en vrede wat bewaar moet word en onvoorwaardelike liefde. Vanaand wens ons al vier ons kon die kilometers sentimeters maak. Ons wens ons kon Ma sestig drukkies gee. Ons wens ons kon Ma sestig keer sestig maal gelukwens. Ons wens ons kon hierdie groot verjaardag saam met Ma vier. Nie omdat dit my plig as skoondogter is nie, maar omdat Ma eintlik nog nooit my skoonma was nie… sommer net Ma. Dis maklik om vir Ma lief te wees. Dis maklik om Ma te mis. Dis nie so maklik om dit te sê nie, want sê nou net Ma VOEL dit nie ook nie? Maar hier gaan ek, namens ons:

“Ons weet Ma dra swaar aan die verlange, maar tog maak Ma dit vir ons makliker. Ons verstaan Ma mis die kleinkinders, tog voel ons daagliks Ma se omgee. Ons wense hier uit die woestyn is dat die vreugde die hartseer sal oorskadu. Mag die wysheid in oorvloed spoel, Ma se beker van vreugde oorloop en Ma die seëninge as grensloos ervaar. Baie geluk met Ma se verjaardag… en dankie dat Ma nog nie een dag ‘n skoonma was nie”

 

Advertisements

Makliker

Dis makliker om ‘n man te wees as om jouself Eva se afstammeling te noem.

Tussen 1300 en 1900 word meer as een miljoen vrouens verbrand omdat hulle as hekse gedoop is. Die dood van ‘n man in oorlogstye, gee hom etiket van “held”, terwyl die vrou wat in die konsentrasiekamp van hongersnood sterf, as “slagoffer” onthou sal word.

In Kameroen word vrouens se borste plat gestryk om nie die manne uit te lok nie, terwyl Chinese meisies se voete gebind word sodat hulle op klein voetjies kan rondtrippel. In sekere dele van die Midde-Ooste word meisies se maagdelikheid as geskenk aan hul ooms gegee na Rooikappie vir die eerste keer kom kuier het.

In 1872 kon slegs 19% van alle vrouens lees en skryf. In 2013 het die getal gestyg tot 58%. In al hierdie tye het Adam nie een keer nodig gehad om sy onderbroek te brand of te dans vir sy reg tot opvoeding nie. In 2016 verdien die gemiddelde man 33% meer as ‘n vrou met dieselfde kwalifikasie, ervaring en posbeskrywing. Die geveg na gelykberegtiging duur voort, want die enigste plek waar vrouens koningin kraai, is met prostitusie… nie juis iets wat ons op ons CV wil sit nie.

Oorgewig vrouens kry ses keer makliker kritiek as mans en daar word baie meer druk uitgeoefen op vroulike voorkoms as manlikheid. Emansipasie is ‘n groot woord wat rondgegooi word, maar dikwels nie regtig waarde dra nie. Teorie en praktyk is dalk getroud, maar duidelik praat hulle nie altyd met mekaar nie.

Mans kan staan en piepie, hulle kan sonder hemde rondloop as dit warm is en hulle kan poep en winde opbring sonder dat hul bestaansreg betwyfel word. Wel, tegnies gesproke kan ek ook seker staan en piepie, sonder my hemp rondloop en myself windlawaai noem, maar dit sal grens aan laster en ongrondwetlike optrede.

Vrouwees is nie aldag maklik nie. Inteendeel, ek dink man-wees is baie makliker. Selfs in 2016. Makliker. Nie noodwendig beter nie.

Breek

Om ‘n eier op die vloer te sien breek, is omtrent so aangenaam soos tandpyn in die vroeë oggendure. ‘n Glasbekertjie wat op die stoep val en in skerwe spat, beteken ek moet die stofsuier opsaal en elke hoekie glasvry probeer maak, voor ‘n kindervoetjie daaroor trippel. Twee jaar gelede gly ek op die onderste trappie en ek breek my voet: pynlik, ongemaklik en beslis nie iets wat mens vrywilliglik doen nie.

Branders breek op die strand. Motorfietsryers se nekke is die maklikste om gebreek te word. Verliefde tieners se harte word aan flarde geruk, gloeilampe bars, selfone hou op werk, porseleinborde kraak en so breek dinge daagliks. Ek het my duur sonbril stukkend gesit. Die uitskopstoel verloor ‘n skroefie en is nou net ‘n stoel wat eens op ‘n tyd kon uitskop. Elke huis het die kruis van gebreekte speelgoed, motors, tegnologie, eetgerei of sommer net moed. ‘n Vrou se water wat breek kondig die koms aan van ‘n wese wat jou vir die volgende 18 jaar lekker op jou tone gaan hou… en dan op jou knieë vir die volgende sestig.

Om iets te breek, beteken dit is stukkend. Onbruikbaar. Gedaan. En nie alle breekware kom uit met ‘n waarborg nie. Jou hart kan nie omgeruil word nie, jou siel nie verruil word vir ‘n geskenkbewys nie en jou moed se geld kan nie terugbetaal word nie. Maar toe ervaar ek spanning wat breek. Skielik is die woord “breek” ‘n ligpunt. ‘n Wonderwêreld van alledaagse roetine skitter opnuut van hoop. ‘n Lag uit die maag, ‘n spontane drukkie, ‘n middagslapie voor die televisie en ‘n nag in die middel van die woestyn… ontsnapping. Vreugde om gemaklik asem te haal. Spanning is ‘n blinde tronk waarvan die tralies jou in die nag vasdruk en dwing om grootoog na die plafon te staar. Maar as die tralies oopbuig en die sterre sigbaar word deur die donker wolke, dan is jy vry. Spanning en stres is onaangenaam en onvermydelik, maar dit is ook breekbaar.