Komplekse wesens

Ek maak vanoggend huis skoon. Was vloere, skrop wasbakke en vee die spieëls blink. Ek gooi koeldrankblikkies, naartjieskille, dadelpitte en twee wynbottels weg. Dis toe ek die leë toiletrolletjie in die asblik gooi dat die skuldgevoel so in my palm kom lê. Op Pinterest het ek gesien hoe mense hierdie leë toiletrolle omskep in parkeerhuisies vir seuntjies se karretjies. Hulle word geverf om allerhande oulike en kreatiewe dinge in en om die huis meë te doen. Ek laat staan die huis vir ‘n oomblik en wend my na oom Google. Byna alles wat ek vanoggend weggooi kan eintlik herwin, hergebruik of hersien word. Ek was altyd onder die indruk dat ek ‘n kreatiewe mens is. Nou twyfel ek.

Mense skei glas, plastiek en papier… want dit beteken ons red die aarde een glasbotteltjie op ‘n slag. Jy moet blykbaar nie batterye of spuitblikkies in die gewone vullis dompel nie, want dit is soos marteling vir Moeder Aarde. Ek loer na die swart(plastiek)sak vol vullis en wonder of ek nie maar my skouers moet regruk en my deel moet doen nie. Ek het altyd gedink ek gee nogal om vir ons wêreld. Nou is ek nie so seker nie.

Ek sit egter my voet neer. Superma is beslis meer as net die boek wat ek geskryf het. (Advertensiebreuk vir sinvolle bemarking:  te koop by Lapa se aanlynwinkel en meeste boekwinkels). Dis ‘n mite. Die lewe is, nes ons mense, kompleks. Geen twee dae is dieselfde nie. Nes mense ook verskil.

Net omdat ek nie elke leë toiletrolletjie omskep in ‘n kunswerk nie, beteken nie dat ek onkreatief is nie. Net omdat ek so dan en wan my plastiekhouertjie in die gewone drom gooi, beteken nie ek haat die aarde nie.  En ek gaan nie skuldig voel oor ek nie elke dag hierdie perfekte Pinterest persoon is nie. Soos die vullissak is ek divers, deurmekaar en laat gaan ek maklik van gemors. En immers het ek nou ‘n skoon huis.

 

 

 

Advertisements

Floekvout

Ek vloek. Ek gaan nie my kop in skaamte laat sak oor ek van kragwoorde hou nie. Ek skree nie onder-die-belt-kruwoorde oor berge en dale nie, gebruik nie die naam van enige god ydelik nie en ek tel my klinkers soos die situasie homself voordoen, maar engelkind met vlerketong is ek beslis nie.

Ek raak nie net moeg nie, ek raak ook gatvol. Ek word nie kwaad nie, maar ook de bliksem in, moerig en bedonnerd. En ek weet, hierdie is nie ‘n koppie tee waaraan almal ewe gemaklik sluk nie. Dis oukei. Ek is oukei om nie jou oukei te wees nie.

Studies bewys dat ouers wat vloek, nie skade aan hul bloedjies se psige berokken nie, maar oor die algemeen eerliker is met hul kinders en gemakliker verhoudings met hulle het. Eggenote wat vloek se huwelike hou langer as die rein mondjies, want sielkundiges reken dat vloek ook maar emosionele gesprekke is. Vrouens wat vloek lewe langer, want hulle gee minder om oor sosiale druk en wat die koeksistervereniging klets, dus is hulle gelukkiger en stres hulle minder.

Nou kyk, ek sê nou nie jy moet die P-bom in die middel van die Kersdiens by die plaaslike kerk laat val nie. Ek reken dit is onvanpas om vir jou baas te verduidelik hoe %!@#$%* moeg jy is. Soos alles in die lewe is daar ‘n tyd en plek vir ‘n kragwoord of tien. Ek vloek as ek kwaad is… en voel dan beter. Ek gebruik die krag van ‘n woord om ongekende vreugde uit te druk. Ek is kru om humoristiese skoktegnieke aan te wend om dragtige oomblikke te laat geboorte skenk aan vryheid.

Waar, wanneer en saam wie ons vloek, is net so belangrik soos watter vloekwoorde ons nuttig. Ek tel my woorde saam Ouma Groot, dink oor vokale as ek my omgewing aanskou en ná ‘n glasie wyn, word konsonante heroorweeg voor uitdrukking. Maar helaas, ek vloek graag. Seep help nie, peper is nou ‘n voorliefde en ongeloof as reaksie laat my innerlik krul van vreugde. Dis maar hoe ek geneties opgefo…eter is.

Ek hou van wie ek is, leer daagliks lesse en ek is baie gemaklik in my gerekte vel, met die woordeskat van ‘n matroos, my hart soos ‘n omgee-taxi en die oorgawe waarmee ek graag ‘n nuwe dag aanpak. Ewekansig. Onverpoos. Flambojant. Fantasties. Nie uit ‘n oude doos. Die lewe moenie te ernstig opgeneem word nie, ons almal sterf tog eindelik… jy moet net kies of dit met ‘n frons… of met ‘n moerse glimlag gaan wees.

 

Loop

Ons het mekaar gegroet by die skool. Die einde van die akademiese termyn het aangebreek en ons loop in verskeie rigtings. Party vlieg huis toe, ander ry met Jan Tuisbly se motortjie en ander gaan sommer net avontuur soek deur te ontdek en rond te loop.

My beker loop oor, want ek loop nie ‘n alleenpad nie. My boetie, sussie en peetkind is op die vliegtuig… op pad om die Kerstyd hier by ons deur te bring en ek sal jok as ek sê ek is nie kinderlik opgewonde nie. Die tyd tot hulle aankoms moet nou net uitloop. Die oploop na hierdie vakansie was propvol afwagting en ek verwag dat ná afloop van die vakansie gaan ek weer herlaai wees. En só loop ek vandag die pad:

Ek waggel nie en al is my bene vol selluliet, blou kolle en spatare, huppel ek meer as wat ek voete sleep. Ek het sekerlik die mees onpaar, onvroulike mielietrappers met skewe tone en knoppe wat vreemdelinge laat gril, maar hierdie voetjies het my oor kontinente gedra. Ek loop nie soos ‘n hoender wat wintersvoete het nie, al dans ek soos ‘n donkie op dagga.

My man raak liries oor die loop van sekere gewere en skroom nie om te laat loop as die omstandighede goed is vir ‘n kopskoot nie. Hoe langer die loop is, hoe langer word die projektiel blootgestel aan die druk van die ontploffing in die kamer en hoe vinniger gaan die koeël die loop verlaat. Die lewe werk ook so: hoe langer jy in die onder druk geplaas word, hoe vinniger kan jy loop.

Ek loop nie te koop met hierdie insig, allemintige algemene kennis of wonderlike wysheid nie, maar ek weet dat dit nie die moeite werd is om op eiers te loop nie. Ek laat loop met gereelde komplimente, goeie rooiwyn, beter geselskap en die beste uit-die-maag-lag-humorsin wat ek kan optower. Ek jaag so min as moontlik mense op loop en bly liefs uit die loopgrawe van die lewe. My gedagtes loop gemaklike draaie en mense kom loop lê maklik in my hart. Ek weet om weg te loop vat dikwels meer moed as om stil te staan en te veg. Ek verstaan ek moet lig loop vir sekere mense, maar selfs vir hulle is my wens vandag dieselfde. Ek groet kollegas en vriende tot die nuwe jaar, met die eenvoudige, eerbare woorde wat my mond verlaat, want dit waarvan die hart vol is, loop mos uit by die mond. In hierdie eenvoudige woorde, lê wense van veiligheid en vrede en liefde en guns en vergifnis en vryheid opgesluit, so lees gerus tussen die lyne:

Tot ons paaie weer kruis, mooi loop.

Erkentenis

Sekere dinge is nie maklik om te erken nie: soos dat ek te veel vloek, te veel roomys skelm uit die bak uit eet, te veel huis toe verlang en dat ek vir die Cheetahs skree. Ek ken ten minste twee van Liani May se liedjies, al hou ek nie van haar stem nie en ek weet nie altyd wat is die regte ding om te sê nie. Ek erken dat ek vergeetagtig is, dat die wag voor my mond te veel met verlof is en dat my voorliefde vir soetgoed nie altyd met selfdissipline beheer kan word nie.

Ander dinge is baie makliker om te erken: ek het nie ‘n natuurlike aanleg vir sport nie, ek hou nie van geel nie, haat die smaak van whiskey, ek speel skaak, X-box en ek bou skelm my kinders se legkaarte. Ek erken dat ek nooit ‘n vegetariër sal kan wees nie, dat ek hou van rooiwyn drink en dat Afrikaans maar my geliefde taal is, al kom ons uit die kombuis en is ons nie in die universiteite welkom nie.

Ek bewonder die vrou wat sterk staan vanaand en haar hartseer, weemoed en verlange erken. Ek kyk met heldeverering na hoe sy haar hart op haar mou dra en ten spyte van haar beeld en reputasie, nie vra vir bejammering nie, maar smeek om begrip. Ek staar sonder skroom hoe sy haarself oplig, opkyk en voortbeur, terwyl die trane oor haar wange rol.

Ek lees die boodskap van wroeging. Die letters begin swem op my selfoonskerm en ek kan nie help om te wonder hoeveel moed dit geneem het om die erkentenis te maak nie. Help my. Ek het ‘n eina in my binneste wat niemand kan heelmaak nie. Geen pleister of salfie sal deug nie. Daar is nie woorde vir hierdie gebroke siel nie en ek kan ook nie met oortuiging sê dat tyd alle wonde sal genees nie. Maar hy gaan slaap met die hoop dat more nuwe moed, nuwe krag, nuwe oplossings sal bring, al is hy lank verby omkeer.

Sy erken sy is swanger… en dis nie haar man se DNA wat in haar baarmoeder setel nie. Hy erken hy is verlief… op ‘n ander man. Sy erken sy haat haar man oor hy selfmoord gepleeg het, al mis sy hom steeds. Hy erken hy voel magteloos oor hy nie sy ma kan vashou in hierdie uur van hartseer nie. Sy erken haar knieë swik. Hy erken sy skouers is nie sterk genoeg nie.

Ons erken te min. Ons is bang oor wat die mense gaan sê. Ons moet mos kranig wees, bewonder word vir innerlike krag en geestelike groei. Se moer. Te hel met hierdie storie dat ons moet sterk wees en moet voorgee asof ons oukei is. Soms is ons nie oukei nie… en dis ook oukei.

Basuin dit uit. Vra vir hulp. Sê as ek jou alleen moet los. Erken jou kwaal. Erken jou nood. Want in jou eerlike erkenning, lê die eerste treë na genesing.

 

 

Fyn

Ek is nie klein en fyn gebou nie. Inteendeel, soos my onderlyf is my vel ook maar swaar besnaard. Ek lees nie graag tussen die lyne nie, fynkam nie elke insinuasie  en stylfiguur wat moontlik kan aanstoot gee nie en kyk nie fyn uit vir elke moontlike letter van die liggaamstaal om te besluit hoe fyn my nerf eintlik moet wees nie. Dalk is ek nie fyn genoeg opgevoed om om te gee oor elke stukkie kritiek of venyn wat my kant toe swaai nie. Dalk ontbreek daar iets in my karakterlike dna om te beskik oor die vermoë om fyn te trap rondom elke gesprek en kompliment met ‘n moontlike kraak.

Op sosiale media word die voorsetsel “homo-” gebruik en elke aktivis wat in die laaste dertig jaar ‘n reënboogvlaggie laat wapper her, spring op ‘n perdjie. Ná ure se verduidelik, verstaan die helfte van hierdie mensdom steeds nie dat ‘n homofoon absoluut niks met seksualiteit te doen het nie.

In die koerant word die opskrif uitgeblaker: “Dis wit teen swart”. Elke jeugleier, politieke analis, vryheidsvegter, terroris en burgemeester, ruk hul nekkies in ‘n krul en stof onmiddelik hul wapens af. Dis eers met nabetraging wat besef word, die joernalis het berig oor die plaaslike skaakkampioenskappe.

Massa-histerie breek los oor “waardeur” wat “alweur” verkeerd gespel word. Elke kriesel kritiek wat deur ‘n idioot of geniale sosioloog of wyse raadgewer verkondig word, word aangetrek tot in mense se binnekamers en dan verpersoonlik tot dit net op hulle van toepassing is.

Die waarheid is dat niemand van ons regtig so fyn dopgehou word nie. Ons is verniet fyn van draad, want ons is klein en fyn en nietig in die groter kosmos. Dit voel dalk asof iemand sy woorde fyn korrel om ‘n perfekte skootplasing in jou wapenrusting te maak, maar meeste woorde en sinsnedes is eenvoudig argeloos. Ons luister dalk tè fyn en vergeet dat die fyne van die saak, dikwels deur misverstande gekniehalter word.

Ek is ‘n fynproewer van die woord. Van my taal. Maar net myne. As jy iets vir my wil sê, kom spreek die boekdele in my aangesig, want die inlassinne en bywoordelike bepalings gaan op my dowe oor val. Vir my is daar ‘n fyn lyn tussen fyngevoelige kinderagtigheid en ‘n hart wat opreg breek oor selfsug en waansin. My vel is dik, nes my bobene, maar ‘n  vriendskap kan ook aan skerwe spat: fyn en flenters.

Rugby

So durf ons toe gister die Dubai Rugby 7’s aan…

Nou liewe leser, hier moet my agterstand in agtergrond asseblief in ag geneem word. Ek is nie die produk van sportliefhebbers, rugbykykers of skrumtoeskouers nie. My ouerhuis was grotendeels televisie- , sport- en balvry. Ons is lesers, praters, skaakspelers, bordspeletjie-aanhangers en eintlik maar vervelige bleeksiele. Toe ek dus ongevraagd, onverwags en onomwonde verlief raak op ‘n geesdriftige van die rugbybal, is my Venn-diagram van veiligheid  omver gewerp. Ek is blootgestel aan die lewe op die pawiljoen, eiervormige bal wat deur dertig hygende mans nagejaag word en die gedokterde naartjie-kultuur wat so graag omhels is. Met groot en verboureerde oë is ek op Saterdae geskrum tot Simba-tjips in bakke, biltong uit bruin papiersakke en Salticrax met mossels, suur komkommers en kaas wat in een enkele hap in jou mond gedruk behoort te word.

Dis nou sestien jaar later en alhoewel ek meeste van die rugbywestryde kyk met ‘n leesboek op my skoot, sal ek tog nou en dan opkyk en verstaan waaroor ‘n hoogvat, vorentoe aangee en onkant beslissing gaan. Maar gister het die wêreld van rugby vir my verander…

Met verwondering het ek toegekyk hoe sewe vrouens mekaar die stryd aansê op ‘n rugbyveld. Oopmond het ek gestaar na Eva’s met bobene so dik en gespierd soos Adriaan Strauss s’n. Ek was vasgevang in Franse vlegsels wat met vlugtige voete mekaar takel: vreesloos en met ‘n aggressie wat my in my eie vroulike veggees laat twyfel. Ons Suid-Afrikaanse vrouespan is wit met boksterte, swart met geweefde vlegseltjies, bruin met twee spierwit voortande… en alhoewel die Aussies vinniger en sterker was as hulle, kon ek nie help om te wonder hoekom hulle nie maar teen Italië kon speel nie, al was die Italianers mans.

Vir die eerste uur of twee het ek net gekyk. Waargeneem. Gewonder hoekom enige vrou met gesonde verstand aan hierdie belaglikheid sou wou deelneem. Sou hulle graag wou wys hoe gelyk ons regtig staan met die man? Wou hulle sommer net ewekansige waaghalse wees omdat hulle onseker oor hul vermoëns op ander gebiede? En hoe op dees aarde kom jy agter dat jy ‘n talent het vir rugby speel? Dis tog nie iets wat in Graad 1 of 8 aanbeveel of aangemoedig word nie? Ooitjie-rugby het ek beslis nog nie van gehoor nie.

Ek is onseker oor my stand van ‘n dame in ‘n rugbybroek. Beyonce moenie ‘n Bul wees nie. Lindie nie ‘n Leeu nie. Dis verkeerd. Die lelik. Dis onaantreklik. Of is dit? Onder van die spiere en tattoeërmerke en rugbypette en mondskerms, skuil mooi meisies. Meisies met potblou oë waarin ‘n man sal kan verdrink. Meisies met vol, rooi lippe wat ‘n padda in ‘n prins kan verander. Meisies met satyngladde velle en gemanikuurde naels en geskeerde beenhare. Ek is nie seker of ek ‘n harige Hettie, bloeddorstige Belinda, wrede Willemien, manlike Martie of butch Bettie verwag het nie, maar ek het soveel meer as net hulle gekry. Ek het ook ‘n heel nuwe persepsie ontvang. Een waar sagte vrouens, harte van staal het.

Hoe later, hoe kwater… en na ‘n botteltjie water, ‘n bak springmielies en twee Fanta Slush-Puppies het ek ywerig deelgeneem aan die aanmoediging van ‘n drie… wat vyf punte tel… maar dis ‘n saak vir ‘n volgende skrywe. Ek het gegil soos geen hoofstuk in ‘n boek nog kon regkry nie. Ek het hande geklap, gejou, die skeidsregter sleggesê en as ek kon sou ek sekerlik gefluit het ook. Dit was ‘n bomenslike, grensverskuiwende ervaring.

Vandag is my stem hees, maar my oë oop. Ek kyk na rugby, nie meer met ‘n frons en afsku nie, maar met begrip. Ek sal sekerlik nooit myself as geesdriftige aanhanger klassifiseer nie. Ek sal nie my boeke ruil vir balle nie. Maar ek verstaan hoekom mense van die wêreld se lelik wil ontsnap deur na rugby te kyk. Dit laat mens vergeet van misdaad en finansiële kwellinge en swak punte. Dit breek spanning, baan die weg vir interessante gesprekke en redevoering, verskuif die kleurgrense deur samehorigheid, skep illusies van sportmangees en dit laat mense ontsnap. Vir lank na die eindfluitije geblaas het.