Fyn

Ek is nie klein en fyn gebou nie. Inteendeel, soos my onderlyf is my vel ook maar swaar besnaard. Ek lees nie graag tussen die lyne nie, fynkam nie elke insinuasie  en stylfiguur wat moontlik kan aanstoot gee nie en kyk nie fyn uit vir elke moontlike letter van die liggaamstaal om te besluit hoe fyn my nerf eintlik moet wees nie. Dalk is ek nie fyn genoeg opgevoed om om te gee oor elke stukkie kritiek of venyn wat my kant toe swaai nie. Dalk ontbreek daar iets in my karakterlike dna om te beskik oor die vermoë om fyn te trap rondom elke gesprek en kompliment met ‘n moontlike kraak.

Op sosiale media word die voorsetsel “homo-” gebruik en elke aktivis wat in die laaste dertig jaar ‘n reënboogvlaggie laat wapper her, spring op ‘n perdjie. Ná ure se verduidelik, verstaan die helfte van hierdie mensdom steeds nie dat ‘n homofoon absoluut niks met seksualiteit te doen het nie.

In die koerant word die opskrif uitgeblaker: “Dis wit teen swart”. Elke jeugleier, politieke analis, vryheidsvegter, terroris en burgemeester, ruk hul nekkies in ‘n krul en stof onmiddelik hul wapens af. Dis eers met nabetraging wat besef word, die joernalis het berig oor die plaaslike skaakkampioenskappe.

Massa-histerie breek los oor “waardeur” wat “alweur” verkeerd gespel word. Elke kriesel kritiek wat deur ‘n idioot of geniale sosioloog of wyse raadgewer verkondig word, word aangetrek tot in mense se binnekamers en dan verpersoonlik tot dit net op hulle van toepassing is.

Die waarheid is dat niemand van ons regtig so fyn dopgehou word nie. Ons is verniet fyn van draad, want ons is klein en fyn en nietig in die groter kosmos. Dit voel dalk asof iemand sy woorde fyn korrel om ‘n perfekte skootplasing in jou wapenrusting te maak, maar meeste woorde en sinsnedes is eenvoudig argeloos. Ons luister dalk tè fyn en vergeet dat die fyne van die saak, dikwels deur misverstande gekniehalter word.

Ek is ‘n fynproewer van die woord. Van my taal. Maar net myne. As jy iets vir my wil sê, kom spreek die boekdele in my aangesig, want die inlassinne en bywoordelike bepalings gaan op my dowe oor val. Vir my is daar ‘n fyn lyn tussen fyngevoelige kinderagtigheid en ‘n hart wat opreg breek oor selfsug en waansin. My vel is dik, nes my bobene, maar ‘n  vriendskap kan ook aan skerwe spat: fyn en flenters.

Advertisements

2 thoughts on “Fyn

  1. Ek is ook moeg en siek vir die wyse wat ‘n mens deesdae elke woord moet opweeg, heroorweeg, spoeg aanvryf en blinkpoets voordat jy dit durf waag uitspreek en dan wag vir iemand om in jou keel af te spring.

  2. Ek vermoed ek is dikvellig. Met drie dierbare, baie oulike maar reguit skoonseuns in my lewe, kan dit nie anders nie. Ek moes inval, en swem. Het anderkant uitgekom, en nou is dit makliker. Van nature fyngevoelig, is ek geskaaf, en nou blink ek. Dink ek. So, soos jy, is my vel redelik dik.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s