Floekvout

Ek vloek. Ek gaan nie my kop in skaamte laat sak oor ek van kragwoorde hou nie. Ek skree nie onder-die-belt-kruwoorde oor berge en dale nie, gebruik nie die naam van enige god ydelik nie en ek tel my klinkers soos die situasie homself voordoen, maar engelkind met vlerketong is ek beslis nie.

Ek raak nie net moeg nie, ek raak ook gatvol. Ek word nie kwaad nie, maar ook de bliksem in, moerig en bedonnerd. En ek weet, hierdie is nie ‘n koppie tee waaraan almal ewe gemaklik sluk nie. Dis oukei. Ek is oukei om nie jou oukei te wees nie.

Studies bewys dat ouers wat vloek, nie skade aan hul bloedjies se psige berokken nie, maar oor die algemeen eerliker is met hul kinders en gemakliker verhoudings met hulle het. Eggenote wat vloek se huwelike hou langer as die rein mondjies, want sielkundiges reken dat vloek ook maar emosionele gesprekke is. Vrouens wat vloek lewe langer, want hulle gee minder om oor sosiale druk en wat die koeksistervereniging klets, dus is hulle gelukkiger en stres hulle minder.

Nou kyk, ek sê nou nie jy moet die P-bom in die middel van die Kersdiens by die plaaslike kerk laat val nie. Ek reken dit is onvanpas om vir jou baas te verduidelik hoe %!@#$%* moeg jy is. Soos alles in die lewe is daar ‘n tyd en plek vir ‘n kragwoord of tien. Ek vloek as ek kwaad is… en voel dan beter. Ek gebruik die krag van ‘n woord om ongekende vreugde uit te druk. Ek is kru om humoristiese skoktegnieke aan te wend om dragtige oomblikke te laat geboorte skenk aan vryheid.

Waar, wanneer en saam wie ons vloek, is net so belangrik soos watter vloekwoorde ons nuttig. Ek tel my woorde saam Ouma Groot, dink oor vokale as ek my omgewing aanskou en ná ‘n glasie wyn, word konsonante heroorweeg voor uitdrukking. Maar helaas, ek vloek graag. Seep help nie, peper is nou ‘n voorliefde en ongeloof as reaksie laat my innerlik krul van vreugde. Dis maar hoe ek geneties opgefo…eter is.

Ek hou van wie ek is, leer daagliks lesse en ek is baie gemaklik in my gerekte vel, met die woordeskat van ‘n matroos, my hart soos ‘n omgee-taxi en die oorgawe waarmee ek graag ‘n nuwe dag aanpak. Ewekansig. Onverpoos. Flambojant. Fantasties. Nie uit ‘n oude doos. Die lewe moenie te ernstig opgeneem word nie, ons almal sterf tog eindelik… jy moet net kies of dit met ‘n frons… of met ‘n moerse glimlag gaan wees.

 

Advertisements

4 thoughts on “Floekvout

  1. Hemelbesem het onlangs genoem dat “vloek mooi is as dit reg gebruik word”. Daar is grammatika, sinskonstruksie ens. in vloek. Ek neig om saam te stem. Mens gebruik tòg ‘n bepaalde kragwoord vir ‘n spesifieke situasie. My pinkster-ma het eenkeer gesê sy is “heilig bedonnerd”! My ouma het ‘n vloekwoord gebruik wat ek nog net by haar gehoor het… Ek verduidelik vir lle. in klas uit die woordeboek oor krag/vloekwoorde. (grammatika les – intensiewe vorme) Jip, Hemelbesem en Chanette…vloekwoorde dra beslis krag!

  2. Ek moet bieg ek behoort aan die professionele kring van die vloekkomando.
    Of soos my mak Englesman vriend sou sê “I do not mind calling a spade a fucking shovel”
    Dit is nou een van die vier talente wat ek by die SAGD aangekweek het tydends “diensplig” nl Suip, lieg, steel en vloek.

  3. Ek vloek soos ‘n matroos in die kar waar ek soms dink niemand hoor my nie – maar my kinders kén al daai woorde want hulle moes jare gedwonge met my saamrits! Maar ek gooi ook woeste gebare vir padvarke en flits ligte en is gek na my ‘hooter’! En as ek myself nie inhou nie…glik f…woord ook soms in die openbaar uit. Daaroor is ek nogals skaam maar my vriendinne ken reeds daai glips en vat my seker maar soos ek is…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s