Geheim

Die baba bevat nie haar man se DNA nie, maar eerder haar man se beste vriend s’n. Die vrou wat pas gebel het, is nie sy sekretaresse nie, maar sy houvrou. Die rekening wat die bank gestuur het, is nie ‘n invorderingsfout nie, maar die bewys van die finansiële krisis waarin hy homself bevind.

Ek is nie goed met geheime hou nie. Ek beskou myself ook nie juis as die skinderbek van die kontrei nie, maar my grense van geheime is maar baie vaag. My vingers sal nie na Facebook wend om die nuus oop te vlek vir die wêreld om vinger te wys nie, maar om op te krop het ook nog niemand se lewe gered nie.

Ek het nie geheime van my man nie. Ek dink ek is net te deurmekaar om te onthou hoe en waar ek gelieg het oor iets. Hy is my klankbord. Hy is die stem wat my wispelturige humeur en temperament in toom hou. Hy is my rasionaal en diagonaal en logika as myne vir ‘n oomblik van lyn af gaan, op soek na nog ‘n verlore albaster of stukkie verlepte blaarslaai. As ek iets met hom bespreek, vertrou ek onvoorwaardelik dat die gesprek tussen ons sal bly… ‘n soort ongeskrewe term en voorwaarde wat elke dekade tussen ons gespan word.

Eintlik verstaan ek nie die sin en rede van geheime nie. Goed, ek weet hoekom ek nie my skaallesing op Facebook uitblaker nie… ek verstaan hoekom ek my pinkode moet bewaar… ek begryp hoekom eksamenvraestelle in die kluis toegesluit moet word… MAAR in my skamele ervaring op hierdie aardbol, het ek nog niks goeds sien kom van geheime nie. Geheime lei tot gevegte, egskeidings, prokureurs, steelfoto’s en drama, drama, drama. En op my eie is ek melodramaties genoeg, baie dankie.

Moet ook nie vir een oomblik ‘n geheim en ‘n verrassing verwar nie. Verrassings is wonderlik en positief vir alle partye. Verrassing word geskep met die mees opregte bedoeling en beste van intensies. ‘n Aap word egter uit ‘n mou gelaat oor die kat wat in die donker geknyp is, gou word ou koeie uit die sloot gegrawe en as jy jou oë uitvee, spat die stront. Slapende honde word almal eindelik wakker… so om hulle te laat slaap is ook nie die beste raad nie.

Ek soek nog na die geheim van ewige jeug, absolute geluk en die balans tussen selfsug en onbaatsugtigheid… en as ek dit kry, sal ek dit uitblaker, want sekere geheime moet eenvoudig gedeel word.

 

Advertisements

Skrik

Ek het myself in ‘n ander bloedgroep in geskrik. In sekondes ‘n paar jare ouer geword. In minder as ‘n half minuut het ek tien keer van geloof verander, wyn opgegee in ruil vir die beantwoording van ‘n gebed en my lompe liggaam oor drie banke en ‘n bedding vol varings laat spring.

My sesjarige Lehja Lyfie het van ‘n perd afgeval. Behalwe vir blou kolle op haar arm en heup en ‘n knop teen die kop, het sy ongedeerd van die traumatiese ervaring weggestap. Let wel, dit was traumaties vir my, nie vir haar nie. Die adrenalien het nog nie gaan lê nie, toe is sy weer op die perd se rug en besig om oor paaltjies te spring. Kinders is wonderwerke wat ek in lewende lywe aanskou.

Kyk, ek weet ouers is lief vir hul kinders. Ek het altyd geweet ek hou van myne. Ek verstaan dat ek lief is vir hulle. Maar in daardie oomblik wat ek haar sien val het, het my hart gaan staan. Die are het opgehou om deur my are te vloei. My brein het nie gedink nie. My vingers het nie gevoel nie. Ek kon net aan een ding dink: ek moet NOU my kind in my arms hê… en DIT is hoe liefde sekerlik moet voel.

Hoe meer ek lees oor wat met ‘n mens se liggaam gebeur in sò oomblik van skrik, hoe meer respek kry ek vir hierdie reaksie. Jou reptielbrein gaan in supersoniese spoed aan’t werk. Jou byniere skei stowwe af wat jou bomenslike talente gee. Instink neem oor en jy soek natuurlik die beste pad na oorlewing. Dit was dalk nie koue pampoen nie, my gat sit nog waar hy moet en my vel voel weer warm, maar ek is weer in volle bewussyn oor my liefde vir my kinders en die beskermsdrang wat my ego oordonder. Nou hoop ek net dat almal so eureka-oomblik mag beleef. Jou lewe kan in ‘n oomblik verander. Beelde kan skuif, die berge kan molshope word en die geveg tussen nefies kan bedaar. Jou wêreld kry weer perspektief… as jy jouself wakker skrik.

Grysheid

Ek sit met my hande in my hare… op die vloer… voor die spieël. Ek het ‘n melodramatiese oomblik van waansinnige euforie. Vergeet van die berggans en sy veer, want van my kop het ‘n grys haar geval! Die tragedie! Die komedie! Die kalender het my gekierang, want wanneer… wAnNeEr… WANNEER het ek oud geword????

Manlief reken ek is tè grys vir woorde as ek onder die soeklig, gewapen met klein knyptangetjies my hare uit my kop trek. Letterlik. Ek het altyd gedink ek het nie ‘n bang haar op my kop nie. Ek was altyd onder die indruk dat ouderdom net ‘n nommer is. Vas oortuig dat jy net so oud is soos jy voel. Boeta, Sussa en almal wat vanaand na Job se klaagliedere wil luister… ek het nuus vir die jeug van die land: ‘n grys haar beteken jy moet begin dink aan pensioen en aftree-oorde en … goed, goed, ek oordryf.

Dis net dat ek nie regtig ouer voel nie. Ek voel dikwels nie eers volwasse nie. Ek wil ook teen die slaap stry, nes my vierjarige. Ek wil blokkies bou en stories vertel en sommer op die gras op my rug lê en prentjies soek in die wolke, nes my sesjarige. Ek probeer Smarties op my brood eet en doop my tjips in my melkskommel en trek my gesig skeef vir kool. Maar die grys haar het my vandag herinner aan my werklike ouderdom. Het ek al genoeg gedoen? Genoeg bereik? Het ek al groot genoeg gedroom? ‘n Groot verskil gemaak? Of begin mens werklik eers leef na veertig en is ek maar net besig om die wa voor die osse in te span? Ek wil nie oud word nie, haastige hond verbrand sy mond. Ek wil nie kla oor oud word nie, wil nie die baba saam die badwater uitgooi of net die donker wolk raaksien nie. As ek hier opstaan, gaan ek carpe diem leef. Ek gaan lelik sit, harder lag, pepermunte kliphard kou en Crocs winkel toe dra. Ek is besig om grys te word. Daar is nie meer vrees of histerie nie. Net die wonderlike vermoede dat grysheid volkome wysheid sal bring.

Myne

 

My mense was hier. Om my arm hang Sus se omgee-armbandjie. In die asblik lê die laaste bierblikkie wat my boetie gedrink het. Teen die kamermuur is my tweejarige nefie se voetspoortjie gedruk. Ek besluit om dit nie af te was nie, want as ek oor ‘n paar dae dink dit was alles net ‘n droom, gaan hierdie as bewysstuk van die teendeel dien. Ek hang die houthartjies van Afrika, woestyn toe gevlieg deur my dierbare skoonma teen die muur en draai die klein engeltjies sodat hulle vorentoe kyk. Ek maak huis skoon: was die vloere, gooi die lakens in die masjien, stof die rakke af en pak alle oorblyfsels van Kersfees weg. My huis is weer skoon. Stil. Myne.

My spognuwe horlosie, via my man, deur Kersvader afgelewer herinner my aan my afwesige nuwejaarsvoorneme. Ek gooi Desember se kalender, met ‘n sug weg. Dit getuig van ‘n bedrywige tyd vol besienswaardighede, uitstappies, opwinding en etes in allerlei plekkies. My tyd is weer beskikbaar. Oop. Myne.

My handsak word omgedop. Strokies en ingangskaartjies en bankslippies en bewyse van betalings laat my grootoog wonder hoe die banksake staan. Wat ‘n wonderlike voorreg om my kinders te kon bederf, restaurantrekeninge te betaal en seker te maak dat die wisselkoers nie my mense verarm nie. Welgeluksalig is ek in die wete dat plastiek geduldig is en my kredietkaart nie rente vra nie. My salaris is inbetaal. Genadiglik. Myne.

 

Die sitkamer is skoon en stil. My dagboek is oop en hoopvol. My bankrekening huil nie meer nie. My huis, tyd en geld is weer myne. In hierdie selfsugtige oomblik van helderheid, weet ek dat ek daarvan hou om te deel. Die die vol, deurmekaar en soms vuil huis, waar gelag, gesels en gespeel is… dis die besige tyd van min slaap, rondwys, sakke pak en baie kilometers ry… dis my leë bankrekening, krankige koskaste en die wete dat die belt so bietjie stywer getrek moet word… dis die selfoon propvol foto’s en videos… dis die vuil voetstrepies teen die muur en die glimlag in my hart en mond… DIT is die dinge wat ek trots is om te sê: dis MYNE.