Grysheid

Ek sit met my hande in my hare… op die vloer… voor die spieël. Ek het ‘n melodramatiese oomblik van waansinnige euforie. Vergeet van die berggans en sy veer, want van my kop het ‘n grys haar geval! Die tragedie! Die komedie! Die kalender het my gekierang, want wanneer… wAnNeEr… WANNEER het ek oud geword????

Manlief reken ek is tè grys vir woorde as ek onder die soeklig, gewapen met klein knyptangetjies my hare uit my kop trek. Letterlik. Ek het altyd gedink ek het nie ‘n bang haar op my kop nie. Ek was altyd onder die indruk dat ouderdom net ‘n nommer is. Vas oortuig dat jy net so oud is soos jy voel. Boeta, Sussa en almal wat vanaand na Job se klaagliedere wil luister… ek het nuus vir die jeug van die land: ‘n grys haar beteken jy moet begin dink aan pensioen en aftree-oorde en … goed, goed, ek oordryf.

Dis net dat ek nie regtig ouer voel nie. Ek voel dikwels nie eers volwasse nie. Ek wil ook teen die slaap stry, nes my vierjarige. Ek wil blokkies bou en stories vertel en sommer op die gras op my rug lê en prentjies soek in die wolke, nes my sesjarige. Ek probeer Smarties op my brood eet en doop my tjips in my melkskommel en trek my gesig skeef vir kool. Maar die grys haar het my vandag herinner aan my werklike ouderdom. Het ek al genoeg gedoen? Genoeg bereik? Het ek al groot genoeg gedroom? ‘n Groot verskil gemaak? Of begin mens werklik eers leef na veertig en is ek maar net besig om die wa voor die osse in te span? Ek wil nie oud word nie, haastige hond verbrand sy mond. Ek wil nie kla oor oud word nie, wil nie die baba saam die badwater uitgooi of net die donker wolk raaksien nie. As ek hier opstaan, gaan ek carpe diem leef. Ek gaan lelik sit, harder lag, pepermunte kliphard kou en Crocs winkel toe dra. Ek is besig om grys te word. Daar is nie meer vrees of histerie nie. Net die wonderlike vermoede dat grysheid volkome wysheid sal bring.

Advertisements

5 thoughts on “Grysheid

  1. Die eerste grys haar lei ñ opwindende tyd in. Jy mag maar bietjie meer kla, en jy mag bietjie meer eet. Jy mag makliker ‘nee’ sê, en jy mag meer “demanding” wees. Ja, jy kan maar harder lag, en selfs meer spelfoute maak. As jy nie lus is nie, mag jy ‘uitstel voorste’l. Niemand is geskok as jy weet wat ñ “vibrater” is nie, jou vriendinne dink eerder jy is regtig “cool”. So ja, dit is ñ amazing tyd wat voorlê. Moenie uitruk nie, gaan kleur net liewer.xx

  2. Moenie worrie nie! Moenie dat ‘n ou grys haartjie jou ontstel nie. Dis net ‘n grys haar, nie die dood nie. 🙂 Jy kan steeds al daardie dinge doen wat jy gister gedoen het, niks het verander nie. Maar ek stem met jou saam, gryp daai dag! Vat hom voluit! Elke dag, vir die res van jou lewe. Vir al wat jy weet word jy nog 110! Sê iemand wat al baie vroeg in my lewe grys geword het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s