En toe…

Ek is gatvol. Nie moeg nie. Nie uitgeput nie. Nie gedreineer nie. Gatvol.

Vir swak verskonings. “Ons het nie opgedaag nie, want… uhm… want die klein hondjie het siek geword.” Siestog. Ek hoop hy het oor jou foon siek geword en dit is hoekom jy nie kon bel of sms om te sê dat ek nie die skaapboud in die oond moet sit, die wyn moet oopmaak, die vloere moet skrop, die kaste moet afstof of die wasgoed moet wegpak nie. Ek verstaan dat ek in elk geval moes skoonmaak en die kinders moes voer, maar dit sou nietemin gaaf gewees het.

Vir patetiese bestuur. “Ongeag die feit dat jy elke dag, vir die laaste twee jaar, 45 minute vroeg vir werk opdaag, word jou versoek om more tien minute vroeg te loop afgekeur. Jy sal dus nie jou kind se eerste perdry kompetisie kan bywoon nie.”

Vir wasgoed. “Ek, die luukse wasgoedmandjie in die badkamer, was gistermiddag leeg, fris, vars en ek het slegs die illusie geskep dat die taak voltooi is. Vandag sal ek jou herinner dat wasgoed nimmereindigend is, anders as jou geduld.”

Vir  ongemanierde, disrespekvolle kinders. “Al staan jy elke dag vol passie en opwinding voor ons, gretig om kennis in ons koppe te prop, sal ek seksueel onvanpaste gebare agter jou rug maak en jou in ‘n vreemde taal slegsê en dreig, want… want ek kan.”

Vir grootmense wat hulle soos kinders gedra. “Ek sal nie uit hierdie klas padgee nie, want dit is my klas. Al is jou tyd geskeduleer en goedgekeur om hierdie vertrek op hierdie tyd te gebruik, sal ek my arms vou en eenvoudig weier om die stoel te verlaat. Ek verkies om vir 50 minute dikbek te sit en luister hoe jy ekstra Wiskunde-klas aanbied vir 10 dogters.”

Vir vroeg opstaan. “As die hooggeplaasde en alomteenwoordige Son van die hemel, verstaan ek dat jy nie elke oggend my koms wil vier met koffie en slaap in die oog nie, maar as jy jou kinders wil voer en ‘n dak oor jou kop wil hou, sal ek nie eers vir jou jammer voel nie. Moenie eers daaraan dink om die komberse oor jou kop te trek nie… in die sweet van jou aangesig, terwyl die res van die wêreld nog slaap, sal jy jou brood en botter gaan verdien.”

En toe gebeur die wonderlikste ding. Ek daag op by die skool en die nuus tref my: die kinders gaan op ‘n uitstappie vandag. Ek sweef op spookasemwolke van vreugde. Daar waar my voete val, vlieg vlinders op en rose blom spontaan. As ek my ore spits, kan ek die engelkoor hoor sing… halleluja…

Af periodes. Tyd om my beplanning net weer op datum te kry en selfs voor te berei vir die volgende week of twee. Geen toesig. Administrasie word uitgesorteer. Afrolwerk word betyds ingehandig. Ek kan warm tee drink. Ek kan die kleedkamer besoek as die nood druk. Die horlosie is vir die eerste keer in weke aan my kant.

Dis eintlik ongelooflik om te dink dat een klein e-pos… een klein boodskap… een dag se vryheid so groot invloed op my gemoed kan hê. Dit gee my hoop. Moed. Want nou, waar ek hier sit en skryf,  voel ek net so klein bietjie minder gatvol.

Advertisements

Die silwer randjie

Jy wen R500. Jy is ekstaties. Tot jy by Woolworths se betaalpunt kom en dan R40 moet bylas om vir jou drie karige sakkies te betaal. Die vreugde is van korte duur.

Jy verloor R500. Nie op die perde nie. Jy misplaas eenvoudig die koevertjie. Jy is woedend. Vir jouself, vir die onregverdigheid van die lewe en vir hierdie nare negatiwiteit wat oor jou pad gestrompel het. Vir maande lank kan jy nie daardie koevertjie vergeet nie… dis asof R500 by jou spook.

Navorsing het deur die dekades heen, telkemale bewys dat slegte herinneringe nie net langer onthou word nie, maar dat mens dit in groter detail kan beskryf en meer spesifiek kan onthou. Dit het blykbaar te doen met ons brein se oorlewingstegnieke. Ons moet ons foute onthou, sodat ons hulle nie weer sal maak nie… en dus langer sal kan leef.

Ons ou aarde word bewandel deur ‘n klomp smartvrate. Vra bietjie ‘n kollega of vriend wat die hoogtepunt van hul dag gister was. Statistiek bewys dat soveel as 81% eerder ‘n laagtepunt sal aanhaal as ‘n hoogtepunt. Mense sukkel om te begryp dat elke dag ook hoogtepunte het. Jy het wakker geword (duisende mense sterf elke aand in hul slaap), toe kon jy tande borsel onder lopende kraanwater, iets waartoe slegs 38% van mense toegang het. Daar was heel waarskynlik ontbyt, ‘n veilige rit per motor (daar is elke sekonde drie noodlottige motorongelukke) en ‘n beroep ter sprake in jou oggend. Ongeag finansiële stres, politieke onrus en geestelike nood, is die feit dat ons op sosiale media kan swerf, nie ‘n reg nie, maar ‘n voorreg. Suid-Soedan, Somalië en Sirië ervaar, soos ek hier tik, ernstige hongersnood en die Verenigde Nasies voorspel dat ongeveer 1.4 kinders onder 7 jaar oud, in 2017, die stryd teen honger gaan verloor. Slegs 7% van die wêreld se bevolking besit hul eie voertuig. Byna 210 miljoen mense sukkel om werk te kry, terwyl meer as 53% van alle Suid-Afrikaners met minder as R4 per dag moet oorleef.

Maar die kak dag wat jy gister beleef het, toe die gastekamer se badkamerpyp gebars het… en toe het jou Land Rover boonop ‘n oliekol op die motorhuis se geteëlde vloer gelos het… en toe jou IPhone se skerm soos die buurvrou se reputasie gekraak het… en toe jou bloedjie se Wiskundejuffrou al weer nie die toetse kon merk nie… en toe jou baas jou ingeroep het oor die spelfout op jou voorlegging… en toe? Toe niks.

 

So jaar gelede het ek ‘n pienk notaboek in ‘n “Liewe Dagboek” Dankbaarheidsjoernaal omskep. Iewers in die laaste paar maande het ek van hom vergeet, maar vandag het ek hom herontdek. Wat ‘n getuienis van silwer randjies. Daar was dae waar ek bloot vreugde ervaar het oor ek biltong geëet het. Die dag toe ons in Dubai drie bottels Crosse en Blackwell mayonaisse opgespoor het. Die oggend toe ons die babaduifie uit die pad kon red. Die middag toe Lehja haar eerste tand verloor het. Toe ek na drie dae se behandel, eindelik die rooiwynvlek van my wit tafeldoek uitgewas het.  Toe ek nog rooiwyn kon gaan koop…

Ek is nie verantwoordelik vir die wêreld se probleme nie. Ek kan nie aanspreeklik gehou word vir armoede of misdaad nie, maar ek kan na my eie gemoed omsien. Ek kan dankbaarheid kies… bò kerm en kla. Ek kan nederigheid belangriker ag as aansien. Ek kan die ander wang draai, wegloop van ‘n sinnelose geveg, my gesin as my eerste prioriteit stel, spaarsamig lewe, ontslae raak van die negatiewe en fokus op my hier en nou. Natuurlik is daar donker wolke. Maar as jy regtig mooi kyk… staar… soek… glo… SAL jy die silwer randjie sien… tot hy jou verblind. As ek dus stil raak en net kyk… weet dat ek nie R500 soek nie, maar probeer om tot agter die donker wolk te kan sien.

Leeg

Ek het die laaste bietjie Amarula gedrink. Opgeslurp en myself in elke slukkie verloor. Met geslote oë is ek met elke teugie teruggevoer Afrika toe. Sien, die maroela is vir my soos die vrug van die boom in die middel van die tuin van Eden. Nie omdat dit verbode is of tot sonde lei nie, maar soos ‘n tipiese Eva kan ek eenvoudig nie die versoeking weerstaan nie. Nou is my glasie, nes die bottel, leeg.

Ons is in die proses van huise verwissel. Die boekrak loer met leë rakke na my. Weggepak in trommels en bokse en kratte, is my sielskos in woordvorm… wagtend op die trekwa. My hangkas huisves slegs vyf stelle klere. Dis al wat die komende paar dae van my gaan verwag: bedek jou skaamte in die daglig, sodat jy die transformasie van verblyf suksesvol kan voltooi. My laaie, is nes my Amarula-glas, leeg.

Vliegkaartjies vir ons somervakansie is bespreek en betaal. Verblyfbesprekings is deur middel van e-pos bevestig. Kunstefeesvertonings word met entoesiasme afgewag. Die see van die Suidkus, die watervalle tussen Zim en Zambia, Tafelberg  en die kalmte van Namibië fluister hul verwelkoming in my slaap. Helaas, my bankrekening, is nes my boekrak, leeg.

Vanaand het ek my rekenaar se geheue verfris. Derduisende kiekies en opnames is ekstern gestoor. Uitgediende data is uitgevee. Musiek is hersien. Applikasies en toepassings is vervang met skoon leêrs en alles is nou op ‘n wolkie gebêre. My sleutelbord staar weer na ‘n oop bladsy. My rekenaar is nes my bankrekening, leeg.

Ek het geflos, so my mond is ook leeggemaak van ou kos. Ek het die bad gewas en die porseleintroon is ook leeg van alle grillerige bakterieë en aanpaksel. Ons dink te maklik dat die woord “leeg” negatiewe emosies opsluit. Leeg is armoedig. Leeg is moedeloos. Leeg is oordrewe hulpeloos. Tog nie.

Want al is my glas en my boekrak en my bankrekening en my rekenaar leeg… weet ek waar die bottelstoor is… trek ons binnekort na ‘n pragwoonstel toe… word my salaris weer oor ‘n week of wat inbetaal… skryf ek fluks aan my volgende projek. Leegheid gee my hoop vir nuwe inhoud, nuwe dinge, nuwe moontlikhede… en selfs al bly my glas en my boekrak en my bankrekening en my rekenaar leeg, vanaand loop my hart immers van vreugde oor.

 

 

Brandwond

Op 11 Februarie 1963 het Sylvia Plath haar kop in ‘n oond gedruk. Ek het besluit dit is té dramaties en druk toe sommer net my arm in die oond. Die verskil is dit: my oond was aan, terwyl tannie Sylvia se oond net gas gelek het. Ek vergelyk nie die selfmoord van ‘n literêre ikoon met die brandwond op my voorarm nie, maar…

Op 8 April 1994 skiet die hoofsanger van Nirvana, Kurt Cobain, homself  die hiernamaals binne. ‘n Sekere jagter staan in die ope velde en loer deur die visier na die eland voor hy die sneller trek. Die verskil is dit: die kamer waar meneer Cobain gevind is, moes deur bottels Dettol gesteriliseer word, terwyl die veld die bloed van die bok opgeslurp het. Ek vergelyk nie die dood van ‘n musikale legende met ‘n eland nie, maar…

Op 11 Augustus 2014 hang Robin Williams homself op en onderdruk hy die laaste stukkie suurstof van sy bestaan. Iewers, êrens op die platteland, in ‘n bedompige skoolsaal is ‘n kunstefees aan die gang en hyg ‘n laerskooldogtertjie na asem as sy “sweef soos ‘n arend” vir ‘n gehoor van vier en ‘n beoordelaar sing. Ek vergelyk nie die suurstof van bekroonde komediant met die van ‘n mamma-se-toekomstige-popster nie, maar…

Op 11 September 2001 vlieg Marwan Al-Shehhi per vliegtuig teen die Twee Torings in New York vas en offer sy eie liggaam op vir 21 maagde in ‘n ironiese hemel. Op televisie staan die prediker in sy miljoen dollar kerkgebou en hou sy hande oor die gemeente uit vir dit waarin hulle so naarstigtelik wil glo. Ek vergelyk nie ‘n tereuraanval met ‘n kerkdiens nie, maar…

 

My brandwond het iets in my binneste kom loskrap. Elkeen se pyngrens lê op ‘n ander drumpel. Vir sommiges is die durf en waagmoed te groot om die sneller te kan trek. Ons almal se kapasiteit vir suurstof beslaan ‘n ander volume. Geloof word deur ieder en almal as uniek beleef.

Miskien is stadige internet jou grootste probleem, terwyl die buurman met ‘n lyf vol kanker sug. Miskien is die verkragte tienermeisie se verdoemende swangerskap nietig in die oë van die man wat sy lewe weggedrink het. Wie weet hoe die egskeiding vergelyk met die afsterwe van ‘n eggenoot?  Ons wil konstant pyn en hartseer en verlies vergelyk. Is die wenner dan nie eintlik die verloorder nie?

Hoe durf ek jou brandwond kritiseer of troetel of oordeel of afskiet of ignoreer of vermy… as ek nog nooit eers my kop in jou oond gedruk het nie?

 

Joost

Ek weet nie veel van rugby af nie. Daar is ‘n bal en ‘n klomp hygende mans wat agter die ding aanhol, op soek na ‘n drie wat vyf punte tel. Daar is ‘n stel-, straf en doelskop, maar wat die verskil is, weet ek nie. Dalk het dit te doen met watter kant toe die man moet skop.  Ek verstaan dat ‘n laatlam soos ‘n oorstootdrie in beseringstyd is. Ek begryp dat rugby die nasie meer op hol jaag as SONA2017 en dat die Springbokafrigter selde gewild is. Ek weet wel van Joost… die nommer 9 skrumskakel van die 1995-gedoente wat met MND gediagnoseer is in 2011 en wat vyf dae gelede sy spel in die hemel afgeskop het.

6 Februarie 2017.

Tussen eergister en vandag het ek egter besef hoe vinnig mense aanbeweeg. Drie dae gelede was dit net Joost, Joost, Joost. Die troon. Die eer en erkenning. Die tranedal en ontvlugting. Elkeen vertel sy storie. Kunstenaars probeer ‘n rand of twee verdien uit sy dood deur liedjies aan hom op te dra, gesiggies op A3 papier te skets en die Huisgenoot te probeer oortuig hoe “close” hulle eintlik was.  Toe is dit Riaan, Riaan. Die simpel Riaan Lucas, wat Spiderman se alter-ego misbruik het om sy eie, kranksinnige, rassistiese emosie uit te beeld. Woede, aggressie… al die “hoe kan hy?” en “ons sal hom kry” en “die lafaard” laat my oë drie keer in my kop omrol. En vanoggend was sosiale media weer vol van selfsugtige statusse. “My engel se laaste Valentynsbal”, gevolg met 3000+ foto’s van ‘n rok wat lyk soos ‘n Venus vlieëvanger wat ‘n koedoebul aan die stert beetgekry het. “Wa kan ek my naals laat doen wat ni i arim en beun gan kos ni?” Berge val op my. Vat die geld en gaan vir ‘n spelkursus. “Wasmasjien te koop. Maak my offers.” Goed, toe “offer” ek ‘n aanbod van R10.23. Mense deel weer resepte, breipatrone, idees vir jou agterstoep en toe die sirkus wat homself as Suid-Afrika se staatsrede voordoen.

Ons staan nie stil nie. Treur nie. Rou nie. Ons pik ‘n traan, kyk om ons rond om seker te maak iemand het die traan gesien en dan gaan verf ons ons naels, verkoop ons ‘n wasmasjien en vier ons die laaste Valentynsbal. Verby is die sewe dae shiva, vandag is dit dertig sekondes van stilte. Dis nie net met hartseer die geval nie. Euforie se denouement is ook gekompakteer. Opwinding hou so lank soos Starbucks se karamel frappuccino.

Stop. Haal asem. Kyk. Neem in. Prosesseer. Leef. Nie net om dit op Facebook te plaas nie, maar om dit te onthou. Om die gevoel te koester en die glimlag vir jare te kan beskerm. Maak elke oomblik jou lewenslange eie.

Joost, ek het jou nie geken nie. Maar vir die volgende sewe dae dra ek elke dag swart om oor jou te rou. En om my te herinner, dat alles nie in rekordtyd afgehandel behoort te word nie. Doekvoet. Stadig oor die klippe. Want haastige hond, verbrand sy mond.  En nie eers blitsige skrumskakels lewe vir altyd op spoed nie.

Vakansie…

My dag het wild begin. Die son het nog nie kom groet nie, toe bid ek al dat die koffie moet inskop, anders gaan my moermeterjie dit nie tot 7:30 maak nie. Die water was nie warm genoeg nie en nadat ek my opknapper met yskaswater moes uitspoel, lyk dit of die posduiwe kom nesskop het agter my ore. Ek het ontbyt gemis, twintig sekondes voor ons moes ry besef dat ek nog nie tande geborsel het nie en toe ek eindelik by die skool kom, besef ek dat ek by kosblik by die huis vergeet het.

Dit was toetsdag en elke periode moes ek soos ‘n viswyf met ‘n draakgesig staan en blaas tot al die kinders eindelik stil aan die skryf gegaan het. Die eerste periode het my geleer dat dom vrae bestaan. Tydens periode twee het ek bewus geword van die blaasgrootte van kinders wat elke drie minute wil “toileteer”. Teen 10:15 breek die spanning, toe van die meisies my meedeel dat ek aan hulle verkeerde liniale gegee het, want ek vra vir ‘n lyn van 60mm en hulle liniale kan net in cm meet. Ek het eers gedog dit was ‘n grap, maar ek lag nou nog lelik as ek aan die ernstige gesiggies dink. Mense dink onderwysers maak hierdie stories op, maar die hemel hoor my… die goed wat ek al gesien en gehoor het, behoort in ‘n boek opgeteken te word. Pouse sluip ek na die plaaslike kafee oorkant die pad om ‘n broodjie te koop en die laaste drie periodes van die dag draai verby soos net ‘n toesig-dag kan.

Dis egter nà 4 wat die wonderwerk gebeur het. Die engel het haar hande in my hare gedruk en oor my kopvel gestreel sodat die hoendervleis tot op ongemaklike plekke uitgeslaan het. In vervoering is ek weggedra na ‘n plek waar ek alkohol uit halwe kokosneute kon drink. In ‘n rooi bikini het ek in poeierblou branders geplas en salig op die strand, in die son aan die slaap geraak. Ek het oor lowergroen landskappe uitgestaar vanaf die bergpieke en ek het my tone eers in yskoue sneeu op die Alpe en toe in louwarm koeimis op die plaas gedruk. In minder as twee uur het ek weggeglip om my batterye te gaan herlaai.

Ek het dit al baie gehoor, maar noudat ek my wysheid en grysheid letterlik gaan wegsteek het, weet ek dit is so: ‘n haarsny, kan net so goed wees soos ‘n vakansie.

Kan nie

Ek wil nie minder sjokolade eet of Amarula weier nie. Ek wil nie die bed elke oggend opmaak of potte skrop voor ek gaan slaap nie. Ek wil nie opstaan as dit nog donker is buite nie.

Ek het geen begeerte om te begin draf nie. Ek steur my ook nie veel aan sport (in enige vorm) of modegiere nie. Ek is maar ewekansig verspot oor musiek en ek wil regtig nie begin joga doen of hekel nie.

Soms moet ons egter goed doen… of ons nou wil of nie. Ek moet die bed opmaak en potte skrop en vroeg opstaan. Ek hoef egter nie na musiek te luister wat my duiselig of naar maak nie. Ek moet die kinders voer en die wasgoed was. Ek hoef nie elke dag agter elke boek af te stof nie.

Maar daar is sekere dinge op aarde wat ek eenvoudig nie kan doen nie… soos spring byvoorbeeld. Die Liewe Vader het my en gravitasie besonder lief gemaak vir mekaar en dus het ek eenvoudig nie die vermoë om te kan spring nie, nes ‘n opregte olifantjie. Ek sit nie aan nie. Ek is nie besig om te vis vir komplimente of motivering nie. Ek kan eenvoudig nie spring nie. My selfbeeld het dit al oorleef, ek het vrede gemaak daarmee. Nes ek nie ‘n noot kan hou nie. Ek kan sing… ek kan net nie noot hou nie. Groot verskil.

Ek sukkel ook die laaste tyd om die wag voor my mond te hou. Ek swoeg om te aanvaar dat mense soos idiote redeneer en ek slaan in angssweet uit as ek dink aan onregverdige optrede. Ek kan nie tyd terugdraai en my foute voorkom nie. Ek kan wel daaruit leer. Ek het myself skaars gehou. Sosiale media het ligtelik verbygeglip. In my kokon het ek herlaai. Die drade opgetel wat verlore gevoel het. My varkies is weer op hok. My skroewe is vasgedraai. Ek is reg vir Februarie. Ek is reg vir die res van 2017. Ek is reg om die verskil te verstaan tussen wat ek WIL en wat ek KAN… wat ek nie WIL nie en wat ek nie KAN nie. Of ander reg is hiervoor, weet ek nie, maar daaraan kan ek niks doen nie.