Sonde

“Daar is nie klein en groot sonde nie.”

Dit was die eerste keer wat ‘n sinnetjie my ongemaklik laat voel het. Ek was in die Sondagskool en die tannie was eintlik baie gaaf. Alhoewel ek gedink het daar was te veel groen en goud op haar ooglede geverf en dat haar kuif nie wou beweeg nie as gevolg van ‘n oordadige hoeveelheid hairspray. Toegegee, dit was die vroeë tagtigs en haar pienk bloes met skouerkussings was hoogmode, al herinner dit my in 2017  aan Game of Thrones in neon. Ek vermoed uit keuse, het sy dit laat paar met ‘n geblomde romp wat so halfmas tussen knie en enkel gewapper het. Ek is nou nog onseker of sy té lank was vir ‘n lang romp of te kort vir ‘n knielengte skepping. Al wat ek onthou is dat die vuilpienk kant wat sy onderaan die romp vasgehekel het, begin torring het en dat ek gewonder het oor die wit hofskoene se wettige aspekte. Maar so is die kalf in die put… en is menige jongmens, wat se brein soos ‘n droë spons in die binne-oor lê en wag, onderwerp aan die wreedheid van ‘n Sondagskooljuffrou.

“Daar is nie klein en groot sonde nie.”

Ek het daardie Sondagaand al die groente op my bord geëet, al het die groen goed soos voete geproe en wou die rys nie met een happie op my vurk bly nie. Ek het grootoog in die donker lê en bid… toe opgespring en langs my bed gekniel en bid… want ek was nie seker of dit sonde was om te lê en bid nie. Hoe lank sou die lysie vol kruisies agter my naam wees? Is Liewe Jesus dan kwaad vir my oor ek gister ongehoorsaam was? En ek het ‘n ekstra koekie uit die blik gevat toe Ouma nie gekyk het nie. Is dit hoekom ek nie verlede Kersfees daardie gimnastiek-Barbie gekry het nie? Het Liewe Jesus my naam by Kersvader as “sondige kind” opgegee?

“Daar is nie klein en groot sonde nie.”

My maatjie se ma en pa is geskei. Blykbaar het haar pa so baie gedrink en toe een aand haar ma geslaan dat sy hospitaal toe moes gaan. Ek het al baie by hulle gaan kuier. Smeer sonde af aan ‘n mens? En die oom wat oorkant die pad bly sny elke Saterdag hulle grasperk met ‘n kaal bolyf. My ma sê dis sonde om kaal rond te loop… maar wat van half-kaal? As daar nie klein en groot sonde is nie, is daar tog seker nie heel en halwe sondes nie?

“Sonde is sonde.”

As grootmens sien ek natuurlik die woorde in ‘n groter konteks raak, maar die skade is berokken. Nie onherstelbaar nie, maar genoeg dat ek nie meer wakker lê oor sonde nie. Ek verstaan die kritiek wat my kant toe kom oor hoe ek my kinders grootmaak: ek weier om hulle te leer van sonde. Ons glo nie in die hel nie. Ons soek nie die duiwel nie. Sien, ek is oortuig dat ek ons soveel fokus op sonde… dat ons soveel klem lê op alles wat sleg en verkeerd is…. dat ons so graag wil onderskei tussen reg en verkeerd… dat ons te maklik vergeet van die vergifnis.

Vergifnis is groter as enige sonde, klein of groot. Vergifnis is meer kragtig as enige dreigement van ‘n kruisie agter jou naam. Vergifnis maak jou vry van alle aardse boeie.

Sonde is net sonde, as jy nie kan vergewe nie.

Advertisements

3 thoughts on “Sonde

  1. Uitstekend geskryf. Ek besef sonde is sonde en dat daar nie grotes en kleintjies is nie al kou ek moeilik daaraan.
    Maarrr ek hou van jou baie meer klem op vergifnis. Ondat Jesus ons liefhet. En omdat ons probeer om Sy wil te doen omdat ons Hom ook liefhet.

  2. Uitstekende artikel. Ek weier ook om my te bekommer oor my “sondes” wat niemand skade berokken nie – ek is self deur die sondemeul as kind en dit het my lank gevat om perspektief te kry oor die saak.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s