Mondspoel

Agter bakhande word gefluister oor die breedte van my agterstewe. Asof my broeke nie sommer elke oggend vir my preek nie. Met koggeloë word my kleredrag ooglopend onder die vergrootglas geplaas. Asof ek nie ‘n spieël besit nie. Met Christelike tonge word my woordeskat beoordeel en vind ek status as seerower sonder takt. Asof ek nie bewus is van my taalvermoë nie. Ek staan eenkant en beloer die skinderspul en ek lag in my mou. My reuse, kleurvolle, moerse cool mou waarvan ek jare gelede reeds eienaarskap geneem het.

‘n Koeksistervereniging kritiseer my harde stem asof ek persoonlik die vrugteboom in Genesis geplant het. ‘n Dames Dinamiekklub oordeel my haarstyl (wat ek ook besef al twee weke terug gesny moes word) asof my droë punte die deurslaggewende faktor gaan wees in my hemelse toelatingseksamen. ‘n Tertkommissie ontleed my ouerskapstyl tot ‘n ironiese vlak van onkunde, aangesien nie een van hulle al ‘n 3,5 kg wonderwerk deur hulle hoe-ha’s die wêreld ingebring het nie.

Jaloesie. Dis wat my ma reken. Venyn. So dink my pa. Swak swelfbeelde. Sê manlief. Humor. Skryf ek. Ek is nog nie grys nie, so as wys sal ek myself nie uitlaat nie. Maar ek is ook klaar met die spreekwoordelike dinge van ‘n kind en as ek noem dat ek my nie steur aan praatjies van die bose nie, sê ek dit nie sodat mense nie oor my bekommerd moet wees nie. Daar is ‘n innerlike vrede in my binnekamer wat min mense kan steur.

Niemand is verantwoordelik vir my geluk, behalwe ek nie. So ek eet omdat ek daarvan hou. Ek trek kleurvol aan, want dis vir my mooi. Ek vloek, want… wel, dit kom net so natuurlik. Ek weet ek is nie almal se koppie tee nie. Dis ok. Ek hou ook nie van almal wat ek ontmoet nie. Ek kuier saam met die mense wat my laat lag. Ek sit in die kringe waar ek myself kan wees. Ek spandeer my geld op dinge wat my siel voed en as dit nie ontwerpersklere of duur strepies in my hare is nie, wat op dees aarde is die verskil in jou lewe?

Ek gee dus hiermee my toestemming dat jy en sy en julle maar kan skinder. Oor my. Oor my gewig en klere en taalgebruik en harde stem en ag, alles wat julle dink is snaaks en verkeerd en duiwels. Ek trek my skouers op en lees verder. Ek rol my oë en bak nog pannekoek. Ek sit nog ‘n bondel wasgoed in, druk die kinders stywer op my skoot vas en eet nog ‘n stuk melktert. Ek weet dis nie wat jy wil hoor nie, liewe skinderbek, maar ek is werklik, eerlik en opreg gelukkig. Jammer om jou teleur te stel.

Advertisements

5 thoughts on “Mondspoel

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s