Dom

Die woordjie “dom” het ‘n slegte reputasie. Dit word té dikwels gebruik om kinders se selfbeeld af te kraak, neerhalend na verstandelik gestremdes te verwys of sommer net om mede-skoliere verbaal te boelie. Dom is lankal nie meer net die teenoorgestelde van slim nie. As slim sy baas vang, was die aksie dus nie dom nie, maar net… en dis hier waar die moeilikheid vir my ontstaan. Sien, daar is ‘n leemte in my taalvernuf as ek ‘n sosiaal aanvaarbare sinoniem soek vir “dom”. En kom ons laat nou maar die slim apie uit die mou: soms is mense net eenvoudig… dom.

 

Daar is ‘n seun in my Graad 9 Wiskundeklas, wat volgens my, in ‘n spesiale skool hoort. Sy ouers glo egter die donkie is ‘n resiesperd (verskoon die woordspel) en weier volstrek om te aanvaar dat die stomme kind se verstandelike vermoëns so ontwikkel is soos gebalanseerde maaltye in Etiopië. Ek verduidelik priemgetalle en hy druk ‘n skêr in sy oor, want hy weet nie eers wat is ‘n heelgetal nie. Daar word werkkaarte oor gemene delers en breuke voltooi, terwyl hy probeer om sy tande te vyl met ‘n lemmetjie in ‘n skerpmaker, want hy begryp nie dat een appel in twee helftes verdeel kan word nie. Hy is net eenvoudig… dom. En voor ek gekruisig word, laat ek tog net noem dat ek ‘n baie sagte plekkie vir die kind koester. Ek kry hom jammer omdat ek glo hy kry nie die regte stimulasie vir sy eie ontwikkeling nie. Hy is nie sleg, ongemanierd, ongeskik of ‘n jakkals nie, hy is net nie in die regte skool nie. Ek wens ek kon die ouers en skoolbestuur laat verstaan dat hulle hom ‘n onguns aandoen deur hom in ‘n normale skool te forseer, maar helaas, die woord “dom” kan my die beskuldigde in ‘n hofsaak maak.

 

Daar is ‘n land waarvoor ek besonder lief is, met ‘n president wat besonder… onbegaafd is. Niemand verwag van hom om meervoudige kwadratiese vergelykings op te los nie, maar hy sukkel om ‘n getal uit te spreek. Niemand verwag van hom om wêreldvrede te bewerkstellig nie, maar hy kan nie eers sy eie gesin dissiplineer nie. Nes sy trawante, gee hy nie ‘n duit om oor die vooruitgang van ‘n pragtige land nie, maar ry hulle in gepantserde voortuie en sit in verkoelde kantore en eet gebraaide hoender, sonder om te besef dat dit nie vir altyd gaan hou nie. Maar ek mag hom nie dom noem nie, uit blote vrees dat ek as rassis gebrandmerk sal word.

 

Daar is ‘n meisie wat haarself diep in my hart bevind. ‘n Vriendin wat telkemale deur ‘n kêrel gepaai word. Hy rus nie net agter haar rug nie, maar soek ook lêplek by ander dames, met vele sukses. Tog glo my vriendin dat hy gaan verander, al verduidelik ek dat ‘n tier se strepe nie kolle kan word as hy met ‘n huiskat teel nie. Die pleidooi vir logika val op dowe ore, al is sy gekwalifiseerd met ‘n meestersgraad in letterkunde. So nou sug ek en sluk die woord “dom”, want ek wil ‘n vriendskap behou.

 

Daar is ‘n vrou wat in hakskoene, ses duim bo die grond, wankel en haar bes probeer om nie ‘n enkel (of haar nek) te breek nie, terwyl haar voete kreun van pyn, alles in die naam van mode. Dom.

Daar is ‘n man wat elke oggend vyfuur opstaan, honderd gholfballe gaan slaan, dan tien sopies brandewyn wegslaan, terwyl hy kla oor sy swak finansiële posisie en dat sy vrou hom gelos het. Dom.

Daar is die miljoenêr wat graag die giftige vissie in Japan wil eet, want hy kan dit bekostig en hy het mos die geld om die beste medici te kan bekostig en hy wil sy kompeteerders wys dat hy nie vir koue vis skrik nie. Dom.

Daar is ‘n Britse dame wat haar man probeer vermoor het, deur hom met ‘n eekhoring te probeer versmoor het. Dom.

Die bewyse van dom kan by verkeersligte gesien word as ouers in die kar rook, terwyl die kinders op die agtersitplek sit en smag na suurstof. Dom kan op Facebook raakgelees word. Dom kan in skoolklaskamers, poskantore, Binnelandse Sake, raadsale, snelweë en in parkies gesien word. Dom vra nie ras, kultuur, moedertaal, bankstate, paspoort of geloof nie (al glo ek dom het voorkeure). Dom bestaan. Ongelukkig is dommes ook gewoonlik besonder vrugbaar, met ‘n voorliefde vir sinnelose dinge en het hulle harde stemme, waarmee hulle graag hul opinies skree. Dit terwyl die slimmes, stil-stil oor die oplossings glimlag.

In my moedertaal is daar woorde soos naïef, goedgelowig, optimisties, kansvatter, intellektueel benadeel en selfs oordeelsfout wat alles die skuld kan kry vir dom optrede. Dit is so. Ons almal maak maar ‘n dom fout of ses. Dis hoe ons groei en grootword. Ek voel egter dat ons moet ophou om op eiers te loop as dit by die woord “dom” kom. ‘n Siekte kan nie genees word as hy nie eers gediagnoseer is nie. Dom foute kan nie reggestel word as dit nie eers herken (en erken) word as ‘n dom fout nie. Niemand word slim gebore nie… en wat is dan die teenoorgestelde van slim, as ons nie by dom kan begin nie?

Advertisements

Om jou stem te verhef

Ek hou nie van gil nie. Ek is nie gaande oor skreeuende kinders, oumense of mense wat hulself uitlaat as intellektuele stoffasie nie. Ek lig graag ‘n wenkbrou as ek hoor hoe ‘n vrou soos ‘n viswyf tekere gaan oor die verkeerde kos/ rekening/ broekgrootte/ woordkeuse of sommer menopousale druk. Ek rol my oë as ‘n Adam krete oor die kranse stuur as daar ‘n klippie in sy skoen of ‘n geit in sy gat is. My nekkie trek so styf soos ‘n haarrekkie in ‘n Graad 1-mamma se hande as ek hoor hoe onderwysers uit klaskamers langs myne lostrek met ‘n stem wat bulder… of die juffies wat so skril skree dat die dolfyne vrees ervaar.

Nou kyk, ek is helaas nie perfek nie. Ek kan ook gil. As gevolg van jare in die drama-industrie, ‘n jeug spandeer op die verhoog en ‘n kindertyd waar ek geleer is van diafragma-gebruik en stemdraende kwaliteite, is my artikulasie en volume nie ‘n katjie wat jy sonder handskoene moet aanpak nie.

Toe ek dus my humeur vir die soveelste maal vandag vir die hormonale graad 9 seuns verloor, breek die kameel se rug… val die laaste druppel geduld en selfbeheersing in die emmer… moer die kalf in die put en sing die koeël deur die kerk. En toe skree ek op hulle. Ek het nie net my stem verhef nie. Ek het behoorlik my intonasie in die buik gaan loop haal. Na ‘n relaas van ongeveer 25 sekondes, wat vir hulle sekerlik so lank soos ‘n Angus Buchan preek gevoel het, sit hulle tjoepstil en loer my met groot oë aan. Ek kon my eie hart hoor klop, ‘n speld hoor val en hoor hoe die aarde om sy as draai. Grafstil is eenvoudig nie beskrywend genoeg nie. Op daardie oomblik kry ek lag vir myself, maar ek hou my gesig kwaai en bid in die stilte dat die einde van die les tog net moet aanbreek, sodat ek kan lag.

Ek het gegil. Geskree. Geskrou. Gebulder. En met diè het ek ‘n gesonde vrees en respek gewen. Dit was lekker, al wil ek dit nie eintlik erken nie. Dit was nodig, al hou ek nie van die tegniek nie. Ek is ook nie spyt nie, want sien, ek het weer ‘n lekker lewensles geleer: soms, net soms, is dit broodnodig om jou stem te verhef… anders gaan jy nooit stilte ervaar nie.

 

Geldjie asseblief?

Die Rooikruis doen dit. Solidariteit doen dit. Jakaranda doen dit. Skole doen dit. Die buurman, die dominee, die bejaardes, die kinderhuise en die familie doen dit. Almal vra vir geld. Hulle vra nie noodwendig vir my nie, want ek het nie veel nie, maar dit wil voorkom asof almal bakhand staan en bedel.

Daar word nie noodwendig ‘n diens gelewer, ‘n produk verkoop of ‘n vermaak verskaf nie, maar daar word sonder versuim gevra vir donasies, bydraes, borge en bedraggies. Op Facebook word tragiese foto’s van kinders in hospitale gedeel, bankbesonderhede en al. In e-posse word gepleit vir behoeftiges regoor die aarde heen.

Ek verstaan hoekom, want geld wat geel is, maak rond wat skeel is. Almal weet mens is arm as jy net oor geld kan praat, maar die waarheid is dat ons eenvoudig nie kan bestaan sonder geld nie. Ons almal sal dalk kan doen met ‘n miljoen, maar eintlik hoef geld net in ons basiese behoeftes te voorsien vir ons om te kan oorleef. Omdat dit so broodnodig is, word geld gesien as die wortel van alle kwaad, maar helaas… geld is ‘n sleutel wat in alle slotte pas.

Scientology, die geloof waarin Tom Cruise en John Travolta behoort, kos meer as net gebed. Jy moet ook maandeliks paaiemente betaal om in die geloofskringe op te beweeg, al hoe nader aan hulle nirvana. Rande kan dalk nie perfekte gesondheid koop nie, maar dit kan wel sorg vir spoedige diens, die beste medikasie, persoonlike verpleegsorg en privaatkamers in hospitale. Opleiding en onderrig is nie verniet nie. Veiligheid is nie pasella nie. En alhoewel daar al beweer is dat mens nie ‘n salige nagrus kan koop nie, is daar ongeveer seshonderd verskillende slaappille op die mark wat (teen ‘n prys natuurlik) die teendeel bewys. Geld laat eenvoudig die wêreld draai. Vra maar vir Gupta, Douw Steyn, Bill Gates, enige Oppenheimer of sommer daai maagdelike Branson. Ons werk vir net een rede: geld. En as iemand iets anders sê, jok hy heel moontlik… of sy het ryk getrou. Poep en betaal, dis elke land se taal.

Geld maak mense krom, geld maak slimmes dom, geld maak eerlikes stom en ons almal klou aan geld soos gom… genade, geld laat my daal tot op die vlak van onintellektuele dwangrym. Helaas, kom ek tot my eie slotsom: geld is soos ‘n kateter. Dit is nie mooi nie, dit is nie aangenaam of gemaklik nie, maar dit verhinder ‘n potensiële gemors en dit is nodig. Nou moet ek nog net oefen om die balans te handhaaf tussen leef en oorleef, spaar en spandeer, uitdeel en vashou, belê en belas word… en dan bid ek maar dat ek die bakhand-staan gespaar bly, want dit blyk maar net genade te wees.

 

 

Gradeplegtigheid

Vandag was my kleine Petrus se gradeplegtigheid. Met trane in my oë het ek links voor in die skoolsaal gesit en toekyk hoe my energieke seuntjie in Arabies sing en dans. Met ‘n knop in my keel het ek geglimlag toe hy tydens die “hokey pokey” vir my waai en met ‘n duim in die lug beduie alles is goed en wel daar op die verhoog. Hy het sy voorskoolse onderrig suksesvol voltooi en sal dus in September graad een toe kan gaan. (Die skoolkwartale is aangepas om voorsiening te maak vir die baie lang, baie warm somer en die akademiese jaar strek dus van September tot Julie. Dit is ook so vir Amerika en meeste van Europa.)

Daar was genoeg kamera’s om Kim Kardashian jaloers te maak. Daar was botteltjies water met kappies op, bekers waarop hul jaargroep en die skool se wapen gedruk is, ballonne met sertifikate aan wat uit die dak hang, silwer sterre teen die muur en so begin ek toe wonder of ons mense nie maar dinge oordryf nie? Vat ons dit nie te ver nie? Maak ons nie ‘n reuse bohaai van iets wat eintlik klein en nietig behoort te wees nie?

Ek bedoel, troues is lankal nie meer net ‘n huweliksbevestiging nie. Dis ‘n okkasie wat menige mense diep in die skuld dompel. Kinderpartytjies gaan nie meer oor die kinders nie, maar oor die ouers wat moet wys waartoe hul kreatiwiteit en beursies in staat is. Verjaardae wat besonderse ouderdomme merk (21, 30, 40…) is nie net ‘n Spur-dag nie, maar ‘n saal moet gehuur word, kos moet bedien word en ‘n tema is deesdae ook verpligtend. Alles van aftredes tot kleuterskoolkonserte word in die fynste besonderheid beplan en met etiket deurgevoer. Is dit tydmors? Geldmors? ‘n Verkwisting van energie?

My kop knik ja, maar my hart skree NEEEEE! As ons niks vier nie, as ons nie oorboord gaan met spesiale geleenthede nie, as ons nie elke oomblik gryp en koester nie, as ons net voorstu deur elke dag, sonder opwinding of oordrewe gebare, gaan ons van verveling omkom. Daar is aaklige goed in die wêreld: oorlog, misdaad, kinderslawerny, hongersnood, suikersiekte, hebsug, magmisbruik… Dis so maklik vir die goeie goed om in die skadu van die donker aarde te verdwyn. So ek sal van nou af vier. Nie net verjaardae en gradeplegtihede nie, maar sommer ook die klein oorwinnings. Verstaan my nie verkeerd nie, ek gaan nou nie koek bak vir elke speltoets of leë toiletrol nie, maar vanaand drink ons water uit wynglase by die tafel, want Petrus het ‘n diploma gekry… en die glimlag op ‘n 5-jarige gesiggie, is beslis iets om te vier.

 

 

 

Geagte me. Wiid

Geagte Me. Wiid

Dit is met ‘n swaar hart wat ek hierdie skrywe aan u rig vandag. Ek ken u nie. Ek is eerlik as ek skryf dat ek nog nooit enige van u boeke gekoop, enige van u damesoggende bygewoon het of enige van u kursusse voltooi het nie. U moet weet dat ek dus nie enige vooropgestelde idee oor u in my kop het nie.

Dit is ook belangrik om te weet dat ek nie juis ‘n kampvegter is nie. Nog nooit het ek vir dae lank in ‘n boom gaan nesskop om te keer dat ontwikkelaars hom plattrek nie. In die voorste rye van optogte vir vryheid het ek nog nie gedans nie.  Ek is nie gay, voorheen benadeel, snobisties, ryk of alomwetend nie. Ek skenk so elke nou en dan bloed, beskou myself as ‘n goeie lid van die samelewing en ek glo onwrikbaar in die “leef-en-laat-leef” filosofie.

Toe ek dus in stille luiheid deur Faceboek skuifel en ek in aanraking kom met u wreedheid wat in die naam van ‘n god versprei word, was ek stomgeskok van vrees. Ek noem dit wreedheid, want dit is emosionele mishandeling wat in my kop geboks moet word saam met verkragters. Ek verwys na ‘n god in die breë sin van ‘n opperste figuur, want die God wat ek ken, sal beslis nie in die naam van Sy liefde, sulke veroordelende woorde goedkeur nie. Ek ervaar vrees in stilte, want wat gaan aan in ‘n volwasse vrou se kop om sulke snert aan tieners te smous?

Me. Wiid, ek weet nie hoe u CV lyk nie. Ek weet nie wat u voorkennis is, waar u belange lê of hoe diep u ervaring strek nie, maar om aannames te maak oor hoe seksuele oriëntasie gevorm word… hoe kinders wat gemolesteer is gaan manifesteer… hoe bybelversies by u krom wêreld moet aanpas… dit is dinge wat dekades lank al deur duisende kundiges, wêreldwyd, ondersoek worden nog nooit kon ‘n klinklare oplossing of bewys gevind word nie. Dit bly bloot teorieë.

Ek is ‘n onderwyseres wat gesien het hoe homoseksuele kinders stry teen die natuur en wat hulle vertel word reg is. Ek is familie van mense wat self nie verstaan hoekom hulle anders dink en voel en ervaar nie. Ek is ‘n vriendin van vele wat wens vir die eenvoudige, “normale” uitweg. Die stryd om selfaanvaarding is vir ALMAL moeilik. Soveel te meer as jy buite die norm gedruk word deur hormone en dit in ‘n land waar konserwatiewe denke nog lank nie bevry is nie.

My brief is nie om u te oortuig wat enige god se idee en opinie is nie. Ek is nie ‘n god nie en sal dus nie weet nie. Wat ek wel weet is dat die menslike psige sagkuns hanteer behoort te word. Elke asem op aarde het die reg om met liefde, respek, geduld en eerbied  behandel te word. U hoef nie almal te aanvaar nie. U hoef nie die “moffies” te nooi vir ete nie. Maar u het ook nie nodig om hulle te verdoem tot ‘n hellevuur op u terme en voorwaardes nie. U hoef nie gays se seksgewoontes goed te keur nie. Maar u het ook nie nodig om die oorsaak van hul “toestand” te ondersoek nie. U hoef nie ‘n huweliksbevestiging waar te neem tussen twee vrouens wat mekaar onvoorwaardelik lief het nie. Maar u het ook nie nodig om tieners wat met hierdie kwessie stry, verder deurmekaar te praat nie. Die lewe is wreed genoeg. U het nie nodig om by te dra deur oordeel uit te spreek en minagtend te praat van iemand anders se kinders nie.

Miskien moet u, behalwe ‘n goeie redigeerder, ook ‘n bietjie balans gaan soek. Miskien, me. Wiid, moet u vanaand in die spieël gaan loer en seker maak wie vir u terugloer. Is u hart nie ook swaar nie? En dan wonder ek maar net, op watter rein kussing, in watter glashuis, u vanaand u perfekte koppie gaan neerlê? En ek wonder of u sag en rustig gaan slaap, met die wete dat daar vanaand so klein bietjie meer haat in die wêreld is, as gevolg van u woorde?

Me. Wiid, my beste wense vergesel u op die pad wat u nou moet stap. Mag u bevry word van die oordeelsjas. Mag die Groot Regter ook versagtende omstandighede in u saak toepas. En mag daar iemand wees wat vir u opkom: “vergewe haar, want sy weet nie wat sy doen nie.”

Die uwe.

 

Skietgoed

Dit is nou maar stereotipies so dat hengelaars (of is dit nou visvangers?) spek kan skiet. Die vis word met elke oorvertelling (of is dit nou brandewyn?) so effens groter en die stryd met die monster van die water word ‘n sweterige, swetsende affêre. Dit is blykbaar ook die waarheid dat daar ‘n verskil tussen hengel en visvang is. Ek gaan nie uitlatings of aannames maak nie, want ek weet nie. Ons is baie lief vir skubaduik en my liefde vir die onderwaterlewe is dus aansienlik anders as die “vang-en-vreet” of “vis-vir-vermaak” tendense wat ‘n hoek, lyn, sinker en suur pap behels. Dis egter ‘n ernstige visserman wat my geleer het dat mislukkings ook normaal is: “dis aldag skietdag, maar nie aldag raakdag nie.”

Net so word die etiket van jagters in die veld, dikwels afgeskiet deur onkundiges. Moord, dieremishandeling, wreedaards, sielsiekes, drolle… ag, die onoorspronklike naamgewing van die anti-jaggemeenskap is genoeg rede om my oë te rol. Hulle kennis skiet te kort. Ek kan nie vertel van bokkoors of adrenalien of die plesier van ‘n sneller onder my vinger nie, want ek het nog nooit letterlik die vleis vir die tafel geskiet nie, maar ek het wel al ‘n groot boer sien huil oor hy ‘n eland gekwes het. Ek het al gesien hoe ses manne eer betoon aan ‘n koedoe wat met ‘n hartskoot platgetrek is. Dis ‘n groot wildjagter wat my geleer het om die nie-jagters met ‘n knippie sout op te neem: “gee hulle maar so bietjie skiet.”

As ouer, onderwyser, skrywer, student… ervaar ek ook die boksies waarin mense jou so graag wil druk. Ek moet my kinders soos ‘n tierwyf beskerm. Ek moenie vloek nie. Ek moet gesonde kosblikke pak. Ek moet omgee oor onopgemaakte beddens. Ek moenie spelfoute maak nie. Maar helaas, die koeël is deur die kerk geskiet en so het ek “amen” gespreek oor al die wat vanuit glashuise klippe slinger. Solank ons gesond en gelukkig is, steur ek my min aan die klassifiseringstelsel van die mensdom. Ek herinner myself daagliks: “moenie met koeëls na vinke skiet nie”.

Jagters skiet nie blind nie, maar tog skiet ‘n ster die mooiste in die donker. Ons word omring deur wandelende teenstellings op ‘n aarde waar hokke aanmekaargehou word met denkbeeldige spookasem. Die dokter is ook ‘n oupa. Die onderwyser is ook ‘n fisikus. Die eiendomsagent is ook ‘n kankeroorwinnaar. Die polisieman is ook homoseksueel. Geen mens op aarde is eendimensioneel nie, tog kan ons nie help om mense te begrens met etikette nie. Miskien, net miskien, as ons ophou om skietgoed te soek, sal minder mense gekwes word… en sal ons meer verras word.

 

 

 

Juffrou

Suiwersoet die slaap
wat plak in die ooghoeke
van die onderwyser
wat nagterlike nasienwerk
skribbel en dan wonderwoorde
opwoeker en towermaak
omdat sy so moeg is soos
ou
ou
roosterbrood
en dan roggel sy om reguit te kan dink
sin te maak in die kopseltjie koffie
wat haar rooi pen soos
ou
ou
oumensbene laat voortstu
oor inkvlekke en mompelgedagtes
van tieners wat nie eers eintlik lus is
om hul huiswerk te doen nie
maar more is die son weer
nuut
nuut
en maak sy nog ‘n klein regmerkie.
 
© Chantelle de Wet. 2017