Geldjie asseblief?

Die Rooikruis doen dit. Solidariteit doen dit. Jakaranda doen dit. Skole doen dit. Die buurman, die dominee, die bejaardes, die kinderhuise en die familie doen dit. Almal vra vir geld. Hulle vra nie noodwendig vir my nie, want ek het nie veel nie, maar dit wil voorkom asof almal bakhand staan en bedel.

Daar word nie noodwendig ‘n diens gelewer, ‘n produk verkoop of ‘n vermaak verskaf nie, maar daar word sonder versuim gevra vir donasies, bydraes, borge en bedraggies. Op Facebook word tragiese foto’s van kinders in hospitale gedeel, bankbesonderhede en al. In e-posse word gepleit vir behoeftiges regoor die aarde heen.

Ek verstaan hoekom, want geld wat geel is, maak rond wat skeel is. Almal weet mens is arm as jy net oor geld kan praat, maar die waarheid is dat ons eenvoudig nie kan bestaan sonder geld nie. Ons almal sal dalk kan doen met ‘n miljoen, maar eintlik hoef geld net in ons basiese behoeftes te voorsien vir ons om te kan oorleef. Omdat dit so broodnodig is, word geld gesien as die wortel van alle kwaad, maar helaas… geld is ‘n sleutel wat in alle slotte pas.

Scientology, die geloof waarin Tom Cruise en John Travolta behoort, kos meer as net gebed. Jy moet ook maandeliks paaiemente betaal om in die geloofskringe op te beweeg, al hoe nader aan hulle nirvana. Rande kan dalk nie perfekte gesondheid koop nie, maar dit kan wel sorg vir spoedige diens, die beste medikasie, persoonlike verpleegsorg en privaatkamers in hospitale. Opleiding en onderrig is nie verniet nie. Veiligheid is nie pasella nie. En alhoewel daar al beweer is dat mens nie ‘n salige nagrus kan koop nie, is daar ongeveer seshonderd verskillende slaappille op die mark wat (teen ‘n prys natuurlik) die teendeel bewys. Geld laat eenvoudig die wêreld draai. Vra maar vir Gupta, Douw Steyn, Bill Gates, enige Oppenheimer of sommer daai maagdelike Branson. Ons werk vir net een rede: geld. En as iemand iets anders sê, jok hy heel moontlik… of sy het ryk getrou. Poep en betaal, dis elke land se taal.

Geld maak mense krom, geld maak slimmes dom, geld maak eerlikes stom en ons almal klou aan geld soos gom… genade, geld laat my daal tot op die vlak van onintellektuele dwangrym. Helaas, kom ek tot my eie slotsom: geld is soos ‘n kateter. Dit is nie mooi nie, dit is nie aangenaam of gemaklik nie, maar dit verhinder ‘n potensiële gemors en dit is nodig. Nou moet ek nog net oefen om die balans te handhaaf tussen leef en oorleef, spaar en spandeer, uitdeel en vashou, belê en belas word… en dan bid ek maar dat ek die bakhand-staan gespaar bly, want dit blyk maar net genade te wees.

 

 

Advertisements

4 thoughts on “Geldjie asseblief?

  1. In my huis is daar is net een motiveerder, geld! Ek het al probeer paai en lof toeswaai maar die beste resultate is as ek ‘n geldjie swaai soos wafferse wortel – dan kry ek die beste resultate.

    Die ewige bakhande pes ek. Mens probeer regverdig uitdeel,maar ai – skuldig sal ek nou maar voel want mens kan ook nie almal help nie! Maar my tiende deel ek uit…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s