Skaap

As een skaap eers deur die hek is, sal al die ander volg. Ons glo almal onverbiddelik in die krag van agt glase water per dag vir ‘n gereguleerde dunderm. Ons vertrou dat die son ons plooie gaan gee, dat ons regtig banke soos ABSA nodig het en dat twee-laag-toiletpapier lekkerder afvee as net een lagie.

Dit vat egter net een brandsiek skapie om die hele trop aan te steek. Een mannetjie met ‘n rooi kêps. Een padda met ‘n aambei wat homself president noem. Een Gupta. En in my Graad 10 seunsklas is daar een Ahmed wat die hele klas in ‘n sirkus kan verander. Om alles te kroon is hy so skeel soos ‘n skaap en kort sy wollerige kop ook ‘n skeer.

Daar is wolwe in skaapsklere wat byt en plunder en moor en steel en nee, nie almal van hulle is swartskape nie. Elke mamma dink mos maar haar lammetjie gaan die stoetbul word, maar enige onderwyser sal sonder aarseling kan verduidelik dat daar ongelukkig heelwat meer skaapkoppies as teelramme is.

 

Ek verstaan ek is dikwels nie die reinste, witste skapie in ons familie nie en dat daar ‘n fyn lyn tussen ‘n nooi en ‘n ooi in ‘n naartjie kan skuil, maar eindelik is ons ‘n nasie van volgelinge. Ons maak wolwe skaapjagters en hok almal mooi in. Jy sien hulle in karre op pad werk toe, skool toe, klas toe, winkel toe. Jy sien hulle sit in kantore en klaskamers en kubieke hokkies. Jy sien hulle vorms invul vir belasting, universiteite, waterrekeninge.

Ons wil glo ons is nie skape nie. Ons wil glo ons is uniek. Ons wil glo ons doen en glo soos net ons eie, vrye wil ons toelaat. Die waarheid is die teendeel. Ons is skape. Dorpers, Merino’s, Cheviots, Yslandies, Lincolns… almal skape nietemin. En dit is oukei. Die wêreld het nie biljoene teelramme nodig nie. Die aardbol soek nie nog visse wat stroomop swem en skape wat hul wolle skeer voor die seisoen reg is nie. Die tyd is hier om ons skaapmetaliteit VIR ons te laat werk. Ons moet ophou afstig, ontspan en uittree. Ons moet saamtrek en leer om as ‘n trop te beweeg. Of dit nou in Suid-Afrika, in jou skool, binne die gesin of sommer as vriendekring is. ‘n Trop skape is baie meer magtig as een poephol met ‘n megafoon. Nou moet ons nog net die megafoon by die skaap se bek kry.

Advertisements

Vraag

As onderwyser glo ek dat daar iets soos dom vrae is. As ‘n kind wil weet of hy ‘n skerpmaker kan lek, klink die vraag dalk net onveilig, maar as die betrokke kind reeds 15 jaar op die aarde wandel, begin ek wonder oor die “intellektuele” reuse in die klas. As ‘n Graad 9 leerder steeds nie die logika insien om, nadat hy ‘n hele bladsy vol geskryf het, net eenvoudig om te blaai nie, maar eerder my te wil irriteer met die leepoog vraag van “wat nou?”, dan wil ek myself sommer beskyt / beskuit / beskeit… en ja, in al drie onwettige uitlatings.

As ouer verstaan ek ook die geduld wat aan die einde van die dag gelê moet word oor vraagsinne. Ek weet dalk hoekom die hemel blou en die wolke wit is, ek verstaan hoekom sekere lekkergoed duurder is as ander en ek het absoluut begrip vir die nuuskierige agie wat in my kinders se koppe woon. Ek het egter geen idee hoekom toiletpapier net wit is, hoekom ons toonnaels het of hoekom slegte kos so goed is vir ons nie. Nou kyk, as my seun wil weet hoekom hy moet gaan bad, kan ek hom antwoord met ‘n logiese “want jy stink” of “jou voete is pikswart” of “daar sit kaas in jou hare”, maar as die dertigste “hoekom” homself in die gesprek inwikkel, veral na ‘n baie, baie lang dag, propvol dom vrae van kinders by die skool, dan kom die antwoord bitsig “want ek sê so”.

As vrou het ek ongetwyfelde begrip dat ons ‘n spesie is wat nie aldag maklik verstaan word nie, dat ons kompleks en analities en emosioneel en sommer nou nog mooi ook is, alles toegedraai ‘n abstrakte denke propvol sinvolle redenasies. Dan bel Manlief my tydens pouse en hy wil weet waar ek die hammer gebêre het.  Die frons verskyn spontaan en ek probeer dink aan die laaste keer wat ek alleen die spykerwerk moes doen. Uiteindelik lui hy af, woedend omdat ek nie sy goed kan uitlos nie. Die hemel help my. Natuurlik is daar die stelsinne wat eindelik met ‘n vraagteken verdoesel word: “Is daar nie bietjie baie sout in vanaand se kos nie?” of  “Gaan jy bietjie die ketel aansit vir koffie?” of “Het jy die nuwe Mauser M12 gesien?” Natuurlik my liefste… want as ek ooit tyd het vir niks doen, dan lees ek geweer- of jagtydskrifte.

Miskien het die tyd aangebreek dat ons nie net dink voor ons skinder, voor ons praat en voor ons doen nie, maar miskien moet ons ook fokus op ons vraagstelling. Want daar is dom, irriterende, sinnelose vrae, al sê die mense anders. En eindelik het ALMAL ‘n antwoord, al is hulle nie eers seker wat die vraag regtig was nie.

Alvorens

Babas moet eers sit, voor hulle kan kruip, voor hulle kan loop, voor hulle kan hardloop en eindelik kan spring. Om haglike spelfoute te vermy in die grootmenswêreld, moet daar van kindsbeen af gelees word. As die Springbokke weer ‘n Wêreldbeker wil huis toe bring, sal hulle moet afstaan van belaglike politieke speletjies en weer leer om die bal te vang, as ‘n span saam te werk en nie net speel om op die voorblad van die Huisgenoot te kan beland nie. Gewig verloor nie hulself nie en volgens dieetkundiges is daar slegs een wet wat gevolg moet word, alvorens die sentimeters sal wegsmelt: VDHM. Vreet. Die. Helfte. Minder.

As jy oorsee wil reis, moet jy spaar. Voor jy kan spaar, moet jy verdien. Voor jy kan verdien, moet jy kwalifiseer. Voor jy kwalifiseer, moet jy (en moontlik ook jou ma) bid vir goeie onderwysers. Voor goeie onderwysers, moet ‘n regering eers die waarde van onderrig verstaan.

Daar is min hande op aarde wat ‘n verfkwas kan optel en kan skilder soos Van Gogh, min bene wat met 100 meter gaan klaarspeel in minder as 10 sekondes, min ore wat die fyn spel van note oor ivoorklawers kan identifiseer… as daar nie eers geoefen, afgerig of ten minste ontwikkel is nie.

As dit by die kuns van Wiskunde kom, is die grondbeginsels en wette van syfers nie onderhandelbaar nie. Jy hoef nie skoon te maak as daar nie eers vuil gemaak is nie. (Let wel dat laasgenoemde takies nie noodwendig deur dieselfde persoon / kinders verrig word nie.) Om ‘n kar vol brandstof te maak as hy nie leeg is nie, is haas onmoontlik.  Om skoon klere weer te was is net… wel, eintlik het ek nog nooit gehoor van hierdie gebeurtenis nie, want almal haat wasgoed was, nes niemand ‘n kreukellose kraaghemp gaan stryk nie. Voor elke aksie, hoe klein en gering dit ook al mag wees, is daar ‘n eers.

Want nes ‘n matriekeksamen nie homself aflê nie… nes potlode nie lelike briefies skryf nie… nes ‘n Bybel jou nie ‘n goeie mens maak nie… net so word die lewe saamgestel uit stelle reëls en regulasies wat voor suksesse, mislukkings, teleurstellings en alle menslike emosies geplaas word. Die terme en voorwaardes van die lewe is allermins regverdig en dikwels stem dit ons nie wel nie, maar ons het so klein titseltjie mag as ons die reuse impak van die woordjie ‘alvorens’ begryp.

Vandaar die stilte van woorde. Alvorens ek die vreemdeling in die spieël kon vind, moes ek myself eers in die lewe gaan verloor het. Ek vind nou my weg terug en die reis is kosbaar. Maslow se boonste trappie van selfaktualisering begin nou vorm aanneem. Maar alvorens mens daar kan rus, moet jy ten minste eers eet.