Om lank en gelukkig te lewe

Kry maar reg julle klippe en slyp maar die tonge…

Ek laat my seuntjie toe om met poppe te speel. En my meisiekind skiet ook met gewere. Saam bou hulle blokkies, skep hulle kastele in die sand en ontsnap hulle as dolfyne, meerminne en seeslange in die swembad. Hulle maak beurte om die vullissak weg te gooi, die tafel te dek, die skottelgoedwasser uit te pak en elkeen pak sy eie wasgoed weg. Oor naweke verf ons, lees ons stories oor prinsesse en dinosourusse en soek ons Power Rangers en My Little Pony episodes op Netflix. So sit en en my dierbare dogter ons naels en verf, toe seunskind aankondig dat hy blou op sy vingerpunte wil dra. Tien minute later sou hy meeste kerkgangers na hul harte laat gryp, want toe spog hy sommer met maskara en blosser ook.

Ek is so gatvol (jammer, maar “moeg” doen eenvoudig nie my versadigingspunt gestand nie) vir mense wat sê: “ek oordeel nie, maar…” dat ek sommer in my mond wil kots. Ek rol my oë soveel keer per dag dat ek nou al met hoofpyn opstaan. Feminisme leer ons dat vrouens gelyke regte wil geniet. Ons moet kan kook, knope kan aanwerk, kinders kan grootmaak, maar ook die suksesleer by die werk kan klim. Ons moenie terughou vir enige man in die wêreld nie. Tog word seuns nie noodwendig geleer om gelyk te wees met vrouens nie. Hoekom mag seuns nie klavier speel, kook, Barbies aantrek of hulle naels verf nie? Wie maak die reëls oor grensdrade van geslagte? My meisiekind mag blou dra sonder dat enige wenkbrou lig, maar behoede my hemelplasing as ek dit sou waag om vir my seun ‘n pienk trui te koop.

Daar word hierdie reuse verantwoordelikheid op die voorstoep van ouers geplaas… asof alles wat hulle doen en voel regtig in ons beheer is. Ek wens baie dinge vir my kinders se toekoms toe: rykdom, intelligensie, kennis, insig, liefde, vrede, self-aanvaarding, geselskap, vriendskap, selfvertroue, hardwerkendheid, goeie maniere, mededeelsaamheid… en in die proses om my kinders hierdie lewenslesse aan te leer, volg ek dikwels my eie, unieke en soms vreemde instink. Dan kry ek vrae:

“Sê nou hy is eendag ‘n moffie?”

“Sê nou sy wil eendag met ‘n swart man trou?”

“Sê nou hy wil eendag ‘n vrou wees, soos daai Jenner knaap?”

“Sê nou sy wil geel kinders aanneem?”

“Sê nou hulle wil eendag emigreer?”

“Sê nou hulle weet nie hoe om Afrikaans te praat nie?”

“Sê nou hulle bid vir die verkeerde god?”

“Sê nou hulle wil nie gaan swot nie?”

Ek het nie antwoorde nie. Maar ek het wel ‘n teen-vraag: “Sê nou hulle is gelukkig?”

 

Advertisements

2 thoughts on “Om lank en gelukkig te lewe

  1. Presies. Mense wil so graag hulle kinders in die “regte” rigting druk dat hulleself die kluts kwyt raak; die kinders word doodeenvoudig groot en gaan hulle eie gang, en dis goed.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s