Poeierholle

Poeierhol. Dis nou ‘n oulike woord wat vandag sy weg tot by my gevind het. Dit word gebruik om ‘n aanstellerige persoon te beskryf. Julle almal weet waarvan ek praat: daardie mense wat dink hulle poep parfuum… duur, ingevoerde, eau de parfum.

Die manne wat staan met ‘n Heineken in die hand om die braaivleisvuur, want Black Label is mos kommin en nes die klein tekentjie van ‘n mannetjie op ‘n perd op sy bors, moet die bier in sy hand ook die finansiële klem op sy welvaart lê. Hulle is selferkende boerseuns, maar dra net Guess en Polo hempies. Die huis op die gholflandgoed is eintlik net vir sekuriteit, want hy is so besig dat hy lanklaas sy TaylorMade drywer gaan swaai het. Hy het nog nie eers die Tiger Woods putter, wat hy laasjaar ingevoer het, gebruik nie. Hulle praat Afrikaans, maar net oor die ekonomie en beleggings. Kermend kla hulle oor hul strandhuise se sekuriteitstoelaag wat alweer opgegaan het en hoe Discovery se topplan eintlik nie waarde vir geld is nie. In leerplakkies (uit die kalfies se rugstring gesny, want dit is waar leer die sagste is) staan hy, poeierhol, en kla oor hoe kak dit nou eintlik in Suid-Afrika gaan…

Die Eva wat in die ontwerperskombuis haar neus optrek vir die bottel wyn wat die bure hier aangedra het. Checkers se versnitte gaan verseker nie haar palet bevredig nie. Sy glo vas dat kristal die wyn ‘n beter smaak gee. Haar konstitusie verwerp enige vorm van gluten en sy probeer liefs suiker, vet en enigiets met smaak het, vermy. Swarovski is die arm man se diamant en haar versameling horlosies is kwansuis toekomstige erfstukke. Sy weier om enigiets anorganies op haar vel te gebruik en die nuutste modegier om walvissperm in jou lippe te spuit is die een ding wat sy op hul Noorweë-vakansie wil gaan uittoets. Die wit lelies is in ‘n glasvaas rangskik wat meer kos as ‘n klein motor en as jy na haar naels loer, hoef jy nie ‘n ingeneur wees om te weet dat sy nie weet hoe Sunlight ruik nie.

Hierdie mense plant dan voort… en gee geboorte aan neus-in-die-lug poeierholletjies wat nie enigiets anders as 100% katoen en sy kan dra nie. Volgens die nuwe mamma kom hierdie baba se drolle met strikkies uit en kan hulle reeds teen die einde van hul eerste week op aarde sien dat die kind talentvol en slim gaan wees.

 

Nou goed… ek hou ook van my klein luukses. Ek bederf my soms met ‘n lekker handeroom of duur parfuum, maar dit beteken nie dat ek nie kaalvoet en bra-loos in die sitkamer kan lê en Lays vreet uit die pak nie. Ek hou ook van ‘n mooi glas, ‘n blink dingetjie in die oor en ‘n komper wat my kop verstaan, maar helaas, drink ek ook kondensmelk uit die blikkie uit, lek ek ook die lepel af voor ek die pot roer en vloek ek te veel. Ek is eerder kommin as ‘n poeierhol. Tyd vir aansit en fiemies het ek nie. Ek is wie ek is. Ek hou van wie ek is. En basta met die res.

Liewe snob, as u egter weer op die troon gaan sit om Candy Crush op jou IPhone te speel of die De Kat te lees, onthou tog maar dat ek weet dat u nie regtig u neus daarbinne poeier nie. Jou toilet is dalk van diamante en goud gesmee, maar eindelik gaan jy nes die res van ons… stink.

 

Advertisements

75 thoughts on “Poeierholle

  1. Ek wens ek kan dit uitdruk en teen die lamppale opsit want baie van die poeierholle lees nie fb of die commin tydskrifte nie.

    Luuuuuuvvvv it

  2. Baie lekker gelag, dankie, en toe nog meer vir al die kommentare (“kommin”-tare vir ons gewone plebs?) – verbasend hoeveel poeierholle hulle hier gewip het vir jou. Wel, as die skoen pas… 🙂

  3. Wat is fout met Heineken? Almal sal op een of ander punt hulle neus op trek vir iets. As jy eerder algemeen wil wees, gaan jy op eindig in Brakpan, besig om na Die Antwoord te luister & jou buite egtelikke kinders ‘watch’ deur die venster terwyl jy jou skoonpa ‘rofstoei’ in die hoof slaapkamer. Ek glo daar moet iewers balans gehou word. Maar dit was ‘n lekker lees.

    • Ag shame man! Het jou poeiertjies bietjie op geraak? Gaan maak maar een van jou 15-jaar oue landgoedwyne oop en verdrink jou sorge… Daar op jou stoep wat oor die 9de putjie se fairway uitkyk… Dalk laat dit jou weer high and mighty voel nadat die “minderwaardige pleb” jou bietjie terug laat val het aarde toe.
      PS: Moenie uit die bottel of goedkoop glase uit drink nie, net plebs doen dit.

    • Salig is die armes van gees. Ek het as jongmens met hulle geld wat hulle nie gehad het gewerk. Toe het ek hulle onthaal met musiek by huispartytjies. Daarna met hulle besigheid gedoen. Oral het die poeierhollsindroom uitgewys. Vandag het die meeste van hulle uitgeboer maar speel steeds blinkgat want die blink karre en huise van toe is of nie meer nie daar nie of stokoud. Intussen het al die gewone mense se lewens in realiteit voorgegaan met al die onskatbare rykdomme van die wet op gemiddeldes. Ek lag my gat af vir hierdie poeierhol apies.

  4. Ek drink ook kondensmelk uit die blik en lek die houtlepel af!!😋😋 so lekker gelag😅😅 Haat aanstellerige mense…hulle het altyd ñ voorgee…

  5. Ja, die skrywer het ‘n briljante, skreeusnaakse werk geproduseer.
    Koos du Plessis se gebed het onmiddellik in my gedagte op gekom.
    Wat ek is, is net genade,
    Wat ek het is net geleen!!
    Hoe bevrydend is dit van wêreldsgoed as jy dit werklik glo.

  6. Ek ken die woord as poeiergat. Dit is vir my n bietjie meer kru en beskrywend, as of ek my regtig wil distansieer.

    Goed geskryf en lekker gelag, dankie.

  7. Mense wat dink hulle is beter, is inderwaarheid slegter, die wat dink hulle is slimmer is dommer en diegene wat hulleself hoër ag is laer as wat hulle ooit kan droom, want as jy nie mense met nederigheid en respek kan behandel nie, verdien jy nie om gerespekteer te word nie. Eenvoudig nê? Ek voel jammer vir hulle, want hulle besef nie hoe alleen en pateties hulle eintlik is nie. My komplimente aan die skrywer.

  8. Nog erger is die nederige snobs – my beskrywing van die grênd mense wat kwansuis so ‘plat-op-die-aarde’ mense is.. Wat verskoning maak vir die eenvoudige (double storey) huis

  9. Ek wil soooo graag ‘n poeierhol wees!!!! ASSEBLIEF gun my dit. 🙂 LOL Hierdie skrywe is BRILJANT!! *Hande klap van ‘n toekomstige poeierhol*

  10. Baie goed gese, Dog ek haal sommer aan:
    Nou goed… ek hou ook van my klein luukses. Ek bederf my soms met ‘n lekker handeroom of duur parfuum, maar dit beteken nie dat ek nie kaalvoet en bra-loos in die sitkamer kan lê en Lays vreet uit die pak nie.
    Ek hou ook van ‘n mooi glas, ‘n blink dingetjie in die oor en ‘n komper wat my kop verstaan, maar helaas, drink ek ook kondensmelk uit die blikkie uit, lek ek ook die lepel af voor ek die pot roer en vloek ek te veel.

    Ek is eerder kommin as ‘n poeierhol.
    Tyd vir aansit en fiemies het ek nie.
    Ek is wie ek is.
    Ek hou van wie ek is.
    En basta met die res.

    😉

  11. Volgens die nuwe mamma kom hierdie baba se drolle met strikkies uit 😂😂😂😂 Dis toe nou net hier waar ek glad nie meer my lag kon hou nie! Puik gekryf Chantelle 👌

  12. Die manne verstaan nie die vyf jaar oue kar wat ek ry nie maar is elke keer verbaas as ek hom kontant vervang
    Verstaan nie die tuisgemaakte koeldrank of konfyt nie.
    Ja ek het ook sondes soos die malt whisky al hou ‘n bottel my ‘n jaar WANT ek weet dis ‘n bederf

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s