Roberto en die vark

Roberto. Die naam wat wellus aanwakker sonder skroom. Die mannetjie wat die swembad skoonmaak, hemploos en met maagspiere wat jou laat kwyl van die honger.  ’n Italiaanse hings wat enige merrie kan tem. As ek ooit so hard teen die kop geklap word om Manlief te kroek, stel ek voor die seksgod wat in die kas (of onder die bed) wegkruip, sal Roberto heet. Spoggerige, pretensieuse sjefs word met sò naam gedoop.

Einste Roberto het my knieë lam gemaak en my binnegoed warm gelos. Maar voor iemand die regter bel om egskeidingsbriewe af te vaardig (ek is nie eers seker oor hoe dit sou werk nie), of sommer net Manlief per sms bedonnerd maak, of dink ek is ‘n skrywer sonder morele kompas… verstaan tog net dit: Roberto was die kelner wat ons in die Wimpy bedien het.

Nou kyk, as jy twee jaar laas ’n Wimpy koffie met room kon proe… en as jy verlang het na krakerige varkrepies… en as jou mond water as jy aan gebraaide sampioene dink… dan sal jy dalk verstaan hoekom Wimpy (en Roberto) aan soveel van my fisiese behoeftes voldoen het.

Die Moslems glo dat varke onheilige diere is. Jy mag nie swak of ongeskikte bestuurders eers padvarke noem nie, watwou nog van die sog en die bere in die winkels praat. Om dus ham, spek, eisbein of sommer ’n geroosterde varkoor aan te knibbel, is onguur en in sekere streke selfs onwettig. Om eerlik te wees mis ek nie Meneer Oink se vleis so vreeslik nie, maar toe die geleentheid homself voordoen… het ek basies net nie die bord uitgelek nie.

Ek sug ’n long vol tevrede suurstof. Kos is nou maar die een plesier waarvan ek nie kan afstand doen nie. Dit gaan nie oor die Michelin-sterre van die kookmeester, of die handelsmerk van die restaurant, of die stywe atmosfeer van die koffiekroeg nie. Vir my lê die bevrediging in die reuk, die smaak, die tekstuur… wat homself dan met tongtoets en tande klap tot in my maag bevind.

Vanoggend sit ek in ’n internasionaal bekroonde koffiewinkel in die “regte” deel van die Kaap. Ek vermoed baie van hulle is die poeierholle waarna ek in ’n vorige skrywe verwys het. Ek is nie die enigste een op ’n rekenaar nie. Inteendeel. Met ontwerpershandsakke en styfgeknoopte serpies en ingevoerde stewels, sit meeste van die mensies met oorfone in en teug aan organiese koffie gemaak deur ’n opgeleide barista. Ek bestel ’n stuk karamelkaaskoek en hoor hoe almal snak na hul gesonde asems. Gemmer in my lemoensap word aanbeveel. Die pakkie neute word met jogurtpoeier en truffels versier. En alhoewel ek gastronomies tevrede is… alhoewel ek die fynproewery waardeer en koester… is daar so klein stemmetjie in my binneste wat verklaar: ons verlang na Roberto.

Advertisements

2 thoughts on “Roberto en die vark

  1. O my genade maar jy skryf mooi!!!! En ek verstaan van Roberto, NIEMAND sal die regter kontak nie, regtig. Geniet jou kuier daar in die koffiewinkel. Veral die karamelkaaskoek…! Water my mond nou, eintlik my hele wese.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s