Aanpassing

Die eerste twee weke in ‘n nuwe land, is opwindend. Alles is nuut en blink en soos ‘n toeris op steroïedes neem jy foto’s van alles: elke fontein, elke boom, elke straatkafee en elke moskee. Die lug skyn blouer, die water proe soeter en jy is baie bewus van die feit dat jy nie jou voordeur hoef te sluit nie. Ek het elke aand in die donker gaan stap, want ek kon. Alles voel soos vakansie en die onwerklike Utopia is soos ‘n riem onder die hart met die gerusstelling: ons het die regte besluit geneem.

Maar stelselmatig begin die nuutjie sy blink verloor. Jy strip jou moer vir die stadige Nissan in die vinnige baan. Jy sug as jy die lang tou mense by die Departement van Vervoer sien. Jy word warm onder die kraag oor die bot man by Binnelandse Sake die “gesluit” bordjie reg voor jou neersit, al weet jy hulle maak eers oor ‘n halfuur toe. Die klein kombuis begin jou irriteer. Jy verlang na jou ma se kookkos en om Afrikaans in die winkels te hoor. Die wittebrood is verby. Die roetine van opstaan, aantrek, skool toe gaan word afgewissel met wasgoed was, kos maak en lakens ruil. Jy verlang na jou bediende en wens jy kon haar invoer (of is dit uitvoer?)

 

Mens bly mens en onvergenoegd is deel van ons genetika. Maak nie saak wie jy vra nie, meer word altyd verwag. Vir die honger meisie in Indië is die smag na ‘n bord kos groot; vir die hawelose in New York sal ‘n bed nie te versmaai wees nie; vir die vuil myner in Middelburg wink ‘n warm stort; onderwysers bid vir vakansies; mammas hoop vir ‘n goeie nagrus… en so is ons eintlik selde tevrede. Ons is nou twee jaar in Abu Dhabi. Ons het die oorspronklike tweeslaapkamerwoonstel verruil vir ‘n lielike, ruim stukkie hemel. Ons ry ‘n spliknuwe 4×4 en elke klagte word eintlik met ‘n witbrood onder elke arm gepleeg. Dalk is dit die onvergenoegde natuur van ons samestelling, dalk is dit sommer die wete dat ons oor drie weke met vakansie na Suid-Afrika gaan reis, dalk is dit die feit dat my boetie en sy familie more na Australië emigreer, dalk het ek eenvoudig pms… vandag voel ek effe moeg.

Ek wens ek kon my ma vashou as sy gaan treur oor haar seun en skoondogter en kleinkind die land verlaat. Ek wens ek kon my pa gerusstel deur die aanpasbaarheid van die menslike natuur, wetenskaplik en sielkundig, met hom te bespreek. Ek wens ek kon op die lughawe wees. Al pas die mens aan in sy nuwe omgewing, al maak ons wonderlike nuwe vriende en ervaar ons ongelooflike dinge… ons hart hunker maar altyd na die oorspronklike reuke, klanke, geure en gevoel van ons Vaderland en Moedertaal. Ons het aangepas. Ons is gelukkig en nie spyt nie. Tog wil ek vandag baie eerder daar wees, as hier.

Advertisements