Feestelik

Ek word wakker met die liedjie “Laat my nooit U grond verlaat nie” wat deur my gedagtes maal. Vreemd vir ‘n Vrydagoggend tydens die Vryfees in die Vrystaat. Ek gryp na die stuk klapperys wat langs my bed lê en suig skaamteloos suiker tot my bloedvlakke stabiliseer. Daar is so wanhopige hoofpyn agter my regteroog en ek wonder of die wyn, min slaap of natuurlike dwelmmiddel van drama die oorsaak is.

‘n Kunstefees is soveel meer as net kuns en ‘n fees. Dit behels die ontlaai van spanning deur middel van ‘n skreeulag as Antoinette Kellerman lelik buk op die verhoog; as my hart wild klop as ek langs Antjie Krog staan vir ‘n foto; as Sandra Prinsloo huil oor dementia, huil ek ook; as Nico Scheepers se teks oor Nêrens, my in my serp laat tjank; as Tinarie Van Wyk-Loots ‘n kind se graf streel, snik en onverpoos voort; as Nicole Holm ‘n piekniek saam Mpande hou en ek herkou aan politiek; as Elize Cawood my laat trippel van lekkerkry met ‘n reis na Londen en natuurlik as ons Stian Bam se klein rolletjie waarneem in ‘n Asem.

 

Tydens ‘n ete van afval en biltongsop verklaar ‘n dierbare, oopkop, kunstefeesspesialis van gevorderde jare: “Dis net ‘n hoer wat haar lippies aansit sonder ‘n spieël”. Ek koester die wysheid. Voor die vertoning begin fluister die bleek man: “Daar is SON in sonde ook”. My kop knik sonder aarsel. Ek swerf tussen stalletjies en verhoë, verjeug my in die toneelspel en woordkuns, verloor my sintuie tussen kaneelpannekoek en koffie in kartonbekers, verdwaal tussen ellende en weemoed… ek is melodramaties gelukkig.

Vir ontbyt eet ek koue pizza, fudge en beskuit. Sommer so saam. Ek beloer na die kaartjies vir die dag en ek voel die opwinding borrel. “Superma” is op die rakke, my mede-#FeesFlerries is aangetrek en reg vir die dag van kultuur en ek neem myself voor om vanoggend my lippies sonder ‘n spieël aan te sit, want vir hierdie feestelikheid is ek bereid om my lyf, met ‘n dankbare hart, te verkoop.

 

“Superma en ander mites” is beskikbaar by http://www.lapa.co.za

 

 

Advertisements

Akademies

Enige ondersoek noodsaak ‘n bepaalde lens waardeur daar na die navorsingsvraag, ontwerp en metodologie gekyk word (Engelbrecht, 2009). Om ‘n kwalitatiewe, kritiese diskoers-analise as teoretiewe raamwerk te gebruik, behels ‘n filosofiese vertrekpunt (Cresswell, 1994)  en binne die ideologiese paradigma van perspektiewe konstruksie, word die institusionele struktuur van ‘n ontologiese onderhandeling dinamies gekonstrueer (Durrheim, 2002). Akademiese taal is allermins nie altyd romanties nie (DeWet, 2017).

Eintlik is die waarheid dat ek tans met verlof is. Wel, behoort te wees. Nee, ek is. Dit is immers 10:21 op ‘n Dinsdag en ek sit nog in slaapklere, met ongeborselde tande en deurmekaar hare, op die sonstoep. Ek distansieer myself van ander mense, want na gisteraand se wyn, Amarula en gin & tonic, dink ek daar perspereer suiwer alkohol deur my porieë wat allermins welriekend is. My ma dra roosterbrood met appelkooskonfyt en dik stukke kaas aan. My pa maak die lekkerste, soetste boeretroos en kom soek geselskap waar ek sit-lê en probeer om akademiese artikels te lees. Die worshond (sy is verstandelik spesiaal georiënteerd) se tong hang skeef tot op die grond soos sy haar oggendkiep inwerk. Ek poog weer om op multi-geletterdheid en die skep van ‘n voorlegging te konsentreer.

My aandag word afgelei deur die woord “diskoers” wat my des moers van koers af slaan, naas die woord “paradigma” wat my aan ‘n dom (dig) prostituut (para) met kinders (ma) herinner. Tussen die magswerking (geen verband met politiek) van epistemologie (dis nie wanneer vrouens in kraam geknip word nie) en filosofie (blykbaar nie die deeg wat bo-op pasteie gebruik word nie) wil die kreukels en voue van my brein nie vanoggend die inhoud van akademici verwerk nie. Ek weet dat ek moet evalueer en ontdek en my benadering moet aanpas en ek sweer, ek wil, maar die kapasiteit beskaam.

My vingers verdwaal na Facebook. My ore word aan die musiek van die bure geleen. My oë wandel na die tekenprent van ‘n otter en ‘n vlermuis op televisie. Ek wil slimmer word. Ek wil my meestersgraad met lekkerkry klaarkry, maar vanoggend is dit net swaarkry. Die woorde met sewe lettergrepe laat my droëbek sit en staar. Navorsingsbelanghebbendes traak my nie veel nie. Ek wil slimmer word, maar die verkennende studie se dilemma druk teen my slape. Ek wil slimmer word, maar nie vandag nie. Miskien more.

En voor die preke van stapel gestuur word, laat ek met ‘n bietjie akademiese vernuf afsluit:

“Studies gedoen deur die Universiteit van Ontario bewys reeds in 1978 dat die menslike kapasiteit om effektief te leer, geinhibeer kan word deur dwangstudie. In 2004 verklaar prof. Bellinger van die Universiteit van Minnesota dat studente wat sommige dae eenvoudig niks doen nie, meer konstruktief betrokke is by hul studieroosters. Malcolm Gladwell reken dat mens tien duisend ure aan ‘n saak moet wy om sukses te kan ervaar, maar navorsing deur Harvard Universiteit bewys die teendeel. Om jou brein te ooreis het meer newe-effekte as voordele. En Chantelle de Wet, van die Wynhuisie Kollege vir mense wat blare in hul slaai verpes, bewys in Junie 2017 dat niksdoen, soms lekker en nodig is. Klaar.”

 

Sorrie

So sit ons toe gisteraand langs die braaivleisvuur. Ons is in Amanzimtoti aan die Natalse Suidkus en die publieke area wat bedoel is vir al 80 woonstelle se honger vakansiegangers, is besig. Langs ons staan ‘n gesin van drie, al die pad van Vereeniging af. Die laaitie se naam heet iets met ‘n K. Die pa het homself nie voorgestel nie en Mamma is te besig om aan haar pienk vloeistof in ‘n botteltjie te teug. Ek en my ouers sit rustig en lag en gesels, maar so oor my eie ma se skouer neem ek waar hoe die pappa van die Vaaldriehoek bier drink soos net ‘n baie dors man kan. ‘n Dors wat duidelik nie geles kan word nie. My kaalvoetkinders speel met K. Ons drink wyn en die mense van V-town sluk uit botteltjies. Almal is gesellig.

Toe hulle wors al verby gaar is en die biefstuk reïnkarneer tot ‘n miskruier, staan die man met ‘n sug op en gooi die leë glasbotteltjie in die asdrom. Ongelukkig is die asdrom ook leeg en klingel-klangel-klongel daai glas teen die rante van die drom. Al die mense draai hul nekke om te sien waar die geraas vandaan kom. Dis toe wat die man my verbaas. Hy vryf sagkens met sy hand oor die kant van die drom en fluister (onsuksesvol): “Sorrie hoor”.

Ek wou opkrul van die lag, maar in my binneste het ietsie geroer. Nie oor ek die woord “sorrie” so verafsku nie, maar oor die onvoorwaardelike verskoning wat so maklik geuiter is.  Hoekom het ons ses/sewe biere nodig voordat ons om verskoning vra? Hoekom sukkel die mensdom so om jammer te sê? En hoekom wil ons uitbars van die lag as ons iemand anders dit hoor uiter?

Ek dink oorloë kon vermy word, as leiers net kon jammer sê. Egskeidings kon verhoed word, gebroke harte kon heelgemaak word en familiedrama kon verminder… as iemand net kon sorrie sê. Vergifnis is onmoontlik as daar nie eers ‘n jammerte is nie.

Ek trap gereeld op tone, dikwels onwetend. Ek laat ore brand met ‘n skerp tong en bitsige humeur. My sin vir humor, met swak tydsberekening laat dikwels vir ongemaklike situasies en die taktlose, etiketlose en roekelose metodes waarmee ek my bestaan voer, laat mense nie altyd saamstem nie. Die woorde klink dalk kômmin, onopreg en geforseerd, maar die bedoeling kom vanuit die hart: sorrie hoor. Ek moet êrens begin. Die man in sy vals Crocs en geskeurde broek het by die asdrom vertrek. Miskien moet die les hier geleer word: dat die mense wat ons soos vullis behandel, dalk die verskoning, die nodigste het.