Suksesverpreiding

Vreemde woordjie: sukses. Dit begin met sukkel. Ses keer oor. Voor jy eindelik by die volledige en omvattende term ‘sukses’ opdaag.

Die definisie is haas onmoontlik om volrondig gevind te word. En om ’n haas met onmoontlik te vergelyk is ook maar ’n onsuksesvolle poging om metafories inteligent te klink.

Edison het 99 keer misluk (dalk was hy ook mislik) voor die gloeilampie voor hom gebrand het. Einstein reken die pad daarheen is altyd onder konstruksie. Churchill het erken dat dit nie moontlik is sonder volharding nie. Mandela soek dit in vergifnis, Federer slaan ’n slag tot ’n beker, Gates sien dit in die nulle op sy bankstaat en ek… ek soek nog na die definisie van sukses.

Allistair Coetzee reflekteer oor laas naweek se systappies en ek is seker hy voel dit. Jan Braai nog ’n tjoppie in die naam van erfenis, so hy ervaar dit tog ook. Ek hoor oor die radio dat Jo Black ’n liedjie oor skepe gesing het en dat sy album nou platinumstatus bereik het. Ek lees op Facebook dat kunstenaars benoem word vir regie en tekste. Suksesverhale.

Rolf Dobelli het geskryf dat mens tussen grafte moet gaan staan om jouself te herinner dat sukses nie almal beskore is nie. Maar die diep gedagte dwing my terug na die definiëring van sukses. Geld? Mag? Grade? Onwrikbare geloof? ‘n Gespierde lyf? ’n Gepubliseerde boek op die rak? Waar begin mens soek na sukses? Wat is die einddoel, die strewe, die baken? Of is dit net iets wat mens voel? Soos liefde, geluk, vreugde…

My ouma het met die wêreld se geduld my leer lees. Ek glo dis waar my sukses gebore is. Maar juffrou Vorster het in die laerskool vir my gesê dat ’n A+ op jou kunsfeessertifikaat, groter sukses is as ’n A. Tannie Annetjie, wat vir jare lank ons buurvrou was, het weekliks sulke kosbare suksessies gebrei… lappies vir die teepot en deksels vir die toilet. Oom Sarel se opbou van die 1975 Ford wat vir byna 12 jaar hul voortuin soos ’n jaart laat lyk het, loop vandag soos suksesvolle stroop.

Sukses. Dit lê in die traan van die ma wie se kind lag op haar troudag. Dit setel in die glimlag van ’n pa wat sy nuwe seun vir die eerste keer vashou. Dit skop nes in die man wat weier om op te gee en sy eie negosiewinkel skep. Dit wortel in die kind wat uitstyg bo die omstandigheid van die alkoholispa en afwesige ma. Dit wriemel in die vrou wat vir die wêreld wys dat sy meer is as net ’n Waterkloof-mamma. Die juffrou wat omgee… die pa wat prys… die ma wat net vashou… die suster wat water aandra… die kind wat met ope arms slaap… suksesverhale wat ongesiens in alledaagse skarrel verdwyn.

Vertel ons. Basuin dit uit. Motiveer ander. Deel met ons die kilo wat jy verloor het, die tafel wat jy gebou het, die kar wat jy gekoop het, die pastei wat jy gebak het, die kind wat jy gemaak het… Spog. Wees trots. Vier jou sukses. En as iemand kerm en as iemand kla, gooi vir hom of haar ’n groot, vet middelvinger, want daar is soveel sleg in die wêreld, dat ons nie kan bekostig om die suksesse ook te begrawe nie.

Advertisements

Huis

Vir meer as dertig jaar was Suid-Afrika my huis. Ek het hier leer kruip, leer loop, leer lees en leer skryf.  Onder die eikeboom tydens ‘n skoolvriendin se partytjie het ek my eerste soen gepleeg. Vir dae lank was daar vlinders in my maag en allerhande ongure gedagtes in my kop. Ek het skelm Konsalik se “Nag in die Woestyn” en Marita van der Vyver se “Griet skryf ‘n Sprokie” gelees, lank voor my ouderdom dit wettig gemaak het. In die huis van Moeder Afrika het ek my eerste sigaret probeer rook… agter die houthuisie in my biologiese ouers se erf. Dis ook hier waar ek aan wyn gewoond geraak het, waar ek graag skool gebank het en waar ek ‘n stukkie aartappel begrawe het sodat ek nie vratte kon kry nie.

In die kombuis van Suid-Afrika het ek verlief geraak op Afrikaans. Op die stoep het ek leer braai. In die sitkamer het ek geleer hoe ‘n bank ‘n skip kan word, terwyl Siembamba oor die draadloos vertel word. In die gang het ek leer sokkie, in die slaapkamer my dagboek begin en in die badkamer het ek geleer dat peppermintgroen eens op ‘n tyd hoogmode was. Van die bad en wasbak, tot die gordyntjies en matjies, tot die pop se rok wat die toiletrol versteek… alles het soos gesmelte roomys gelyk.

In die erf van ons Afrika huis, het ek in die Suidkus se see geswem, die laeveldson sien sak, Tafelberg se karretjie gery en kreef gebraai teen die Weskus. Ek het hier leer fietsry sonder oefenwieletjies, my knieë stukkend geval en my bydrae aan die Tandmuis geoffer. Onder die boom het ek saam met Emily, ons bediende, gesit en tee drink, uit blikbekers wat spesiaal eintlik hare was. My hart is in hierdie huis gebreek, maar ek het ook my “Vir Altyd” hier gevind. Ons kinders is hier verwek, gebore, geregistreer.

 

Vanoggend verlang ek egter na my huis op ‘n ander kontinent. Die vakansie was/is heerlik. Ons siele word gevoed met kerrie kuieraande, koffiekroeg afsprake, rugby kyk, tjoppies braai, kombuis skindersessies, laatnag pajama geselsies en Amarula uit blikbekers, wat nie meer eksklusief aan Emily behoort nie. Maar hierdie is nie meer my huis nie. Iemand het ingebreek en al my vryheid gesteel. Die Tandemuis is vermoor, die kombuistafel lê nou vol vensterkoeverte en die deure is begrens met staalhekke. Die houthuisie in die agtererf is afgebrand saam met universiteite, biblioteke en stadsale. In die sitkamer sug die mans wat die werk kry nie, in die kombuis wonder die vrouens wat van hul kinders gaan word. In die televisiekamer lê al die kinders, want dis te onveilig om buite te speel. Sokkie is nou kommin, nes Crocs, Konsalik en peppermintgroen teëls in badkamers. Die toiletrol onder die gebreide poprok is vervang met onwettige ammunisie en ‘n Bybelversie. Die Huisgenoot is dun en vol advertensies. Ek verlang na my eie bed, my diefweringlose vensters, my klein kombuis, my vinnige internet…

Elke huis het sy kruis. Abu Dhabi se kruis praat nie Afrikaans nie. Australië se kruis is duur. Kanada se kruis is koud. Afrika se kruis kry my onder. Miskien is dit dan so: jou huis is waar jou hart is. En my hart is nie meer in Afrika nie, al sal my voetspore ewig hier lê.

Tyd

Tyd gaan staan stil die oomblik wat jou vyfjarige seun uit die boom val.  Minute hou op tik die oomblik wat die leeu op die bakkie afstorm. Sekondes gaan slaap as jou sewejarige dogter uit haar maag lag as die koedoe en kameelperd mekaar laat struikel. Dae vleg in en om mekaar onder die son wat warm skyn oor die vlaktes. Die lammers gaan soek lêplek in die watervoor, die kalfies kou rustig aan nog gras en die vulletjie staan vir die eerste keer op sy eie vier bene.

My kinders is net skoon vir die twaalf minute nadat hulle uit die bad klim. Ek skrop stof uit elke gleuf in die oor en naeltjie, maar dit is asof die grond van ons aarde nie net in die hart nie, maar ook aan jou vel vasklou. 24 honde rol in die gras en kom lê dan lepel agter jou rug. Nina, die eland wat dink sy is ‘n bees, kou die tamatie uit jou hand, sodat die speg sulke drade trek tussen jou vingers. Dieselfde tamatie wat jy vanoggend in die land gaan haal het. Jou hande word groen van die soetrissies wat gesorteer word. Die vars koedoelewer word in uie gebraai. Uie, wat jy met sorg uitgesoek en gepluk het.

Selfone en rekenaars en tablette word vergete in die laai gebêre, sonder herlaaiers en fênsie kragbanke. Ligte word met behulp van sonkrag en batterye aangeskakel en die warm stort is net te danke aan Willem die Boesman wat voor sonop al die donkie aan die brand kom stook het. Die gasstoof laat die water borrel vir moerkoffie en as die son sak, knetter die bosveldtelevisie as die hout deur die vlamme gevreet word. Niemand weet eintlik hoe laat ons eindelik gaan slaap nie, want dis nie regtig belangrik nie.

Duine word oorwin, oesters word afgesluk, vis word gevang en koue bier word gedrink. Ons los die wêreld se probleme op. Ons skep ‘n plek waar die weer altyd perfek is en geld nie ‘n kwessie van kommer geword het nie.  Ons droom van ware vryheid, grensloos en onbeperk. Sonder terme en voorwaardes.

Namibië verstom my jaarliks. Ek is bevoorreg om die kinders te wys hoe lyk renosters wat nog hul horings het. Olifante groet ons met ‘n trompetter en die kameelperde gee nie eers pad as ons die plaashek laat toeklap nie. Die gemsbokke se spiere bult as hulle oor die pad jaag, die klein duikers en steenbokkies is rats tussen die takke, die luiperd beloer ons uit die boom en die blouwildebeeste kyk skaars op as ons hulle by die watergat gewaar. Was dit net voor middagete wat ons die hiënas gesien het? En is dit regtig al Sondag vandag?

Die horlosie het lankal moed opgegee in Afrika.

En wat ‘n kosbare koestering van tyd is dit nie…