Jakaranda

In 1971 het die Jacaranda skeepsvrag gesink na byna twintig jaar van seevaart. Voor die herrie losgebars het rondom die radiostasie, het ek maar eintlik altyd die woord “Jakaranda” langs die pers bome in Pretoria geplaas. Op pad na die Universiteit toe, af met die destydse Koningin Wilhelminastraat, deur Brooklyn en Groenkloof, op die ritme van Jak de Priester se Sally Williams… dis waaraan Jakaranda my herinner het. Ek het nie eers kennis gedra van die Jacaranda nie.

Ek het myself eintlik voorgeneem om nie betrokke te raak by die hele “ek het ‘n puisie op my voorkop tiener-tantrum” uitlating van ‘n ene Tumi nie. Ek het hand op die bors belowe om nie deel te word van die “ek roep rassisme”-brigade wat deesdae onder elke molshoop kop uitsteek nie. In die nag lê ek wakker en forseer my vingers om nie dreigboodskappe uit te tik nie. In die dag byt ek my tong stukkend, want die wêreld het genoeg galbrakers en droomblasiebrekers.

Toe kom die pleidooi uit nie een nie, nie twee nie, maar drie oorde: sê tog net iets wat sin maak, want selfs die engele skud nou al kop vir die lawwigheid wat homself in die Jakarandastad afspeel. Ek kan egter nie hier voor my onskuldige rekenaar sit en duim suig, tande trek of spek skiet nie, so ek sal allermins myself as vryheidsvegter uitlaat. Vir navorsingsdoeleindes gaan luister ek na oom Martin en tannie Tumi se uitlatings. Ek lees die briewe van Solidariteit, Steve en die baas van die 94.2 FM. My oë rek soos ek Facebook raadpleeg en die radio- en skokgolwe tref my soos Wiskunde vir Zuma gepootjie het.

Pre-1994 was daar bordjies op publieke bankies: “Slegs blankes” en in 2017 hang die etiket om rassisme se nek: “Slegs swartes”. Die oomblik wat nie-swartes (let wel… nie net blankes nie) die woord “rassisme” gebruik, is ons ondankbaar, onvergenoeg, kwaad, onregverdig en sommer nog ‘n helse lys van byvoeglike naamwoorde wat my sommer nog meer de *plaas enige kragwoord van keuse hier* in maak. Dis asof die “voorheen benadeeldes” nou alleenmandaat verkry het op die seepboksie in die media en waag die nie-swartes dit om Spur te boikot en Jakaranda af te skakel, is ons kleinsinnig, hardkoppig en intellektueel gestrem. Maak Tumi die verklaring dat sy “pro-swart” is, kry sy staande ovasie vir die regte waarin sy so sterk glo. Eintlik kort sy net ‘n moerse ovulerende klap. (Ek weet nie regtig wat sò klap sou behels nie, ek stel myself maar voor dat haar eierstokke ook sal draai in die proses)

Ek bly in die woestyn. Ek luister selde na Jakaranda. Ek het ‘n langer as ‘n dekade gelede by Eric Barnard meubels gekoop. Ek eet nie by die Spur nie, want die naaste een is 14 876 km van ons huis af. Ek wou nie iets sê oor hierdie insident wat almal so op hol het nie. Maar Suid-Afrika bly my wêreld en hierdie is my stem. My stem wat MAG tel. My stem wat pro-lewe is. Pro-Afrikaans. Pro-vooruitgang. Met elke pro- word nie noodwendig geïmpliseer dat ek anti-dood, anti-Engels of anti-sentimenteel is nie. Tog is almal so sensitief soos bababoudjies as tande gesny word. Tumi, jy het die verkeerde bul by die horings gepak. Jy het jouself nie goed uitgedruk nie, wat nogal ironies is as mens in ag neem jy verdien jou brood en botter met jou woordvernuf. Ek ken jou nie persoonlik nie, maar ek hou nie van jou houding nie. Ek dink Martin verdedig sy spanmaat sonder ruggraat vir sy eie opinie. Ek neem hom nie kwalik nie… werk is skaars vir blanke mans bo dertig in Suid-Afrika. Werk is egter ook skaars vir swart mans bo dertig in Suid-Afrika. En bruin mans. Almal se bloed is rooi. Almal se mae grom as hulle honger raak. Almal soek ‘n ordentlike dokter en ‘n skoon hospitaal in ‘n noodgeval. In die binnekant is ons almal mens en die wat nie sò glo nie, is dalk self nie.

Aan die hoogheiliges wat in die Kaap sit en wyn drink, koppe skud vir die Gautengers se humeure wat los is en dink dit gebeur nie met julle nie… julle sit maar net in die eksklusiewe suites… op die top dek… van die Jacaranda… wat stadig maar seker besig is om te sink. Miskien, net miskien, as almal die spreekwoordelike radio afsit, sal ons die noodkrete van ver af kan hoor.

 

Advertisements

Negatief

Vlerkies het ek nie. My ma sal getuig dat ek allermins perfek is. My pa sal jou sonder aarsel vertel van sterk opinies en ‘n ysere wil. Maar twee woorde wat ek nog nooit aan my persoonlikheid kon koppel nie, was “lui” en “negatief”.

Natuurlik het ek lui dae. Ek wil nie ‘n bra aantrek, my tande borsel of my slaapklere ruil nie. Ek wil met ‘n pak kaaskrulle voor die televisie lê en lees. O, die tv moet verkieslik afgeskakel wees. Ek wil die Lindt 85% kakao sjokolade met rooiwyn afsluk as ek die tweede boek oopmaak. Die stofhasies wat in die hoeke van die woonstel vergader, word soos die nommers op my skaal geïgnoreer. Vuil borde stapel in die wasbak, die wasgoedmandjie loop oor en die koffievlek op die kombuisvloer verdwyn onder ‘n servet wat grasieus val. Gelukkig vir my gesin en globale higiëne, verskyn hierdie lui fases net so een keer per maand en teen sononder op dieselfde dag is ek gestort, die huis is skoon en kan Manlief my weer oopmond soen.

Ek werk egter baie hard daaraan om elke oomblik positief te wees. Ek wil die silwer randjie sien skyn. My hoop mag nie beskaam nie. Ek plak geel Post It’s teen my kasdeur om my aan al die mooi te herinner. Ons sing opgekikkerde melodieë en optimistiese lirieke in die kar. Die Suid-Afrikaners word kwaad oor die toestand van ons pragtige land. Ek doen ook. Maar ek bly glo dat die wiel gaan draai. Onderwysers mompel oor administratiewe werkslading wat ons verhoed om optimaal te onderrig. Maar ek sit skouer aan wiel en handel nog ‘n lesbeplanning af. Vrouens brom binnesmonds oor alles wat vet maak lekker is. Ek kyk verby die broekgrootte en sien die glimlag in die gesig raak. As ek enige negatiewe gedagte voel aankom, draai ek die ander wang en klou ek vir genade aan elke vesel motivering in my binneste.

Vanoggend maak ek my kasdeur oop en ek ruik my ma. Ek wil haar bel en vra of sy saam met my kan gaan dobbel. Sommer 5-sent masjiene en net vir ‘n uur. Dan kan ons gaan sushi eet en wyn drink. Ek sluk aan suikerlose koffie en proe my pa. Ek wil hom vra of hy nie saam met my wil gaan vleis koop nie. Dan kan ons ekstra droëwors kry, draaie ry en huise kyk en lekker aan die stry raak oor een of ander denkpatroon. Dis toe ek in die sitkamer kom en ek die leë eetkamertafel sien wat ek sommer regtig negatief voel. My ma het nie gisteraand hier gesit en lag nie. My pa was nie hier om my laggend te bestempel as ‘die ander ene’ nie. Ons huis was eensaam en geen ander mense sou die leegheid kon vul nie. Ek voel negatief. Ek het nog nie genoeg herinneringe gemaak nie en nou is ons ver weg. ‘n Tweedimensionele gesig te danke aan Skype is nie dieselfde as ‘n driedimensionele drukkie nie. Ek soek Mamma en Pappa. Ek bekla my lot by Manlief.

“Nee, jy is nie negatief nie” stel hy my gerus, “jy verlang net.”

Hy is reg. Dis ‘n positiewe ding om te kan verlang. Dit beteken ek het geliefdes. En so staan dit dan bewys: alle positiewe dinge is nie altyd lekker nie.

Karma

Die wiel draai. Die woorde wat my moet sus as ek onmenslike optrede aanskou. Ek kyk die video van ‘n oppasser wat ‘n baba ruk en pluk. Die bloed stol in my are, terwyl ek met afgryse na die barbaarsheid staar. Wel, die wiel draai nie vinnig genoeg nie. Ek weet ek is dalk net ongeduldig, maar ek wens sulke tipe mense kry bloeiende aambeie. En wurms. En kopluise. En pitswere onder hul arms. En ingroeihaartjies in hul lieste.

Wat jy gee sal jy ontvang. Trooswoorde vir as jy jou tyd opoffer om klein babahondjies te red en by die ouetehuis se fondsinsameling pannekoeke gaan bak op ‘n Saterdag. Maar wat van pas afgetreëde paartjies wat hul geld in die kerk belê het en nou sonder heenkome, inkomste of neseier sit? Hulle het gegee… en toe is daar weggeneem ook. My wens is dat elke boosdoener wat die ekwilibrium van die heelal omdonner, sy tong met kokende koffie sal brand, papiersnytjies op ongemaklike plekke sal kry en ‘n abses in elke kiestand.

Wat jy saai sal jy maai. Doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê. Bybelse verwarring word losgetorring in my binneste. Ek hoor hoe platejoggies rassistiese uitlatings maak en hoe meubelhandelaars hul advertensies onttrek en hoe ek nou nie meer na hulle mag luister (of by die Spur mag eet) of geld moet gee vir Good Morning Angels nie. Ek mag dan mos nie vir Tumi (of die Spur) haat nie, want ek wil nie hê iemand moet my haat nie? Ek het nie die septer in my hand nie, so wie is ek om hom te swaai. Ek is deurmekaar.

Wat op gaan, moet ook af kom. Maar die priesters karring steeds aan klein seuntjies. En die ongeletterde presidente kry groter huise. Terwyl die finansiële jakkalse oumense roof en seiljagte in Griekeland koop. Gravitasie se 9.8 m/s² is te stadig vir my. So engeltjies daarbo, wil julle nie maar so paar mense terugstamp aarde toe nie?

Ek wil net so klein bietjie regverdigheid in die heelal bespeur. Asseblief. So liewe tannie Karma, mag ek groot asseblief in my volgende lewe, jou afleweringsdame wees?

 

Rook gerus

Kyk, ek is nie ‘n prediker, preker of predikant nie. Ek lig so nou en dan ‘n wenkbrou, maar as dit nie ‘n kwessie van lewe en dood is in my binnekring nie, ignoreer ek nogal maklik ander se sake. Ek is nou nie hoogheilig nie, allermins perfek en in ‘n glashuis sal ek ook nie kan bly nie, maar dat ek ‘n wil van my eie het, is die reine waarheid. Die laaste paar weke is ek telkemale vasgevang in die oorlog tussen rokers en nie-rokers. Na navorsing om die braaivleisvuur en in die kombuis, na gesprekke met die walmweses en die rookvryes, na artikels en advertensies… wil ek graag vir alle rokers sê: rook gerus.

Ek moet egter byvoeg: MAAR…

Rook gerus, maar dan wil ek asseblief nie klagtes aanhoor oor jy nou al oor die R40 vir twintig suigstokkies moet opdok nie. Ek sukkel om die logika agter jou finansiële moeilikheid te verstaan as jy ‘n dosyn tabaktakkies daagliks kan laat verdwyn, maar jy wil nie jou eie vleisie bring as ons braai nie, want jy het nie geld nie.

Rook gerus, maar moet my dan asseblief nie kwalik neem as ek nie langs jou aan etenstafel wil sit nie. Die geur van ‘n Stywe Sant lê dalk lekker in jou neusholte, maar dis vir my minder aangenaam. Moet dan ook asseblief nie verklaar dat ek dink ek is beter as jy net omdat ek nie in die rokersafdeling by die restaurant wil sit nie. Ek wil my kos proe, dankie.

Rook gerus, maar as jy hoes en proes, kug en sug, terwyl jou longe hande klap vir pouse, moet asseblief nie van my verwag om simpatiek te vra wat nou (weer) fout is nie.

Rook gerus, maar ek gaan nie my storie tot halt roep tot jou wederkoms nie. Ek wil aanhoudend kuier. Ek smeek maar jou vergifnis as ek na jou gevlekte naels en tabaktande staar, dit is maar vir my vreemd.

Rook gerus, maar moenie mompel en mor oor hoe koud dit buite is in die middel van die winter nie. Ek is nie seksisties, rassisties of enige -isties net omdat ek nie wil hê jy moet in my huis rook nie. My huis, my reëls. Ek sal nie boontjies eet en aspris in jou kombuis gaan staan en poep nie, so moet asseblief nie daaraan dink om in my sitkamer te kom sit en rook nie.

Rook gerus, maar asseblief tel jou stompies op en gooi dit in die asblik. Blaas asseblief jou wolkwolle weg van my kinders af. En verskoon maar as ek nies oor jou reukwater nie regtig jou reukroes verdoesel nie. My sinusholtes is maar sensitief.

Ek sal nie kla as ek in die kroeg staan nie. Dis ‘n rokersvriendelike plek. Ek sal my bes probeer om nie te preek nie. Ek gun jou elke trek, elke oomblik van vreugde en elke spanningsverligting wat jy ervaar met elke nikotienbelaaide asemteug. Ek salueer jou weiering om op te gee. Ek respekteer dat dit jou keuse is en nie jou verslawing nie. Ek erken jou besef dat jy nie ‘n slaaf is nie, maar ‘n vrywilliger. Ek sal jou met ope arms ontvang en onthaal, ek sal gesels en uitvra en nie ‘n wenkbrou lig as jy eenkant toe tree en ‘n liggie gebruik om jou trekpleister te laat vlam vat nie. Ek sal steeds van jou hou, liewe roker, maar ongelukkig is dit voorwaardelik.

 

Emosioneel

Ek is vandag emosioneel. My traankliere is met die sonsopkoms ooraktief verklaar. Ek kry ‘n knop in my keel toe ek sien hoe my sewejarige haar eie hare vleg. My hande is nie meer nodig nie. Ek sluk swaar toe ek my dagboek oopmaak en ek die liefdesverklaring, wat Manlief op ‘n Post It geskribbel het, ontdek. Is ek regtig so besonders? Die waterwerke dreig om die damwal te breek toe ek die boodskap van ‘n vriendin kry dat ek gemis word. Ek voel vir ‘n oomblik baie spesiaal. My oë raak waserig toe my vyfjarige seun terughardloop na sy klas toe, want sy meneer moet met ‘n handdruk én ‘n drukkie gegroet word. Ons het iets reg gedoen. Daar loop ‘n vreugdestraan uit die hoek van my oog as ek sien hoe Manlief ‘n kind op elke skouer optel in die swembad. Kosbare oomblikke.

Ek is tranerig. Ek wil in die bed gaan klim, al skyn die son nog buite. Ek wil die verkoeler op sy koudste stel sodat ek die komberse tot onder my ken kan trek. Ek wil myself oorgee aan ‘n tranetrekkery van epiese proporsies. My kussing moet met soutwater bevlek word van weemoed en wanhoop. Verwese wil ek wegsink in die melodramatiese oomblikke van my bestaan. Ek wil huil oor orgaanskenkers se families wat agterbly. Ek wil tjank oor kinders wie se ouers hulle nie by die skool kom haal nie. Krokodiltrane moet spat oor elke rand en sent wat al ooit by goeie mense gesteel is. Ek wil emosioneel raak oor die onregverdigheid van die lewe. My wange moet gloei oor afgestorwe ouma’s en familie wat in Australië bly. Woede moet omgeskakel word in mistroostigheid en dan wil ek die laaste bietjie aggressie wat in my skuil, uitstort.

Verdrietig wil ek wees oor slagoffers van orkane. Soos ‘n smartvraat wil ek myself voor die voete van selfbejammering neergooi… en nie eers omgee as iemand iets daaroor kerm nie. Vog moet onder my ooglede ontsnap omdat ek vandag glo dat ek nie my seëninge verdien nie. Ek wil my traanbuis se uithouvermoë toets omdat so baie goeie, eerlike, wonderlike mense sukkel.

Om te huil is goed. Dis soos ‘n emosionele detoksifikasie. Om op te krop het niemand nog iets goeds in die sak gebring nie. Trane was jou gemoed skoon. Dit hoef nie logies, rasioneel, sinvol of analities korrek te wees nie. Maar in my oordrewe toestand van emosionele oorhel na die dramatiese, is behoefte. Ek gun myself die ontlading, want dit is vlietend. Ek gee myself toestemming om my emosies koning te laat kraai, want elke traan is ‘n pleister wat net tot genesing lei. Sonder trane, sou ek mos nooit so lekker kon lag soos juis more nie.

 

Belasting

Om belasting te betaal is vir niemand… NIEMAND ‘n plesier nie. Die Amerikaners brom egter nie te erg nie, want immers word hul paaie herstel en is die krag altyd aan. Die Australiërs kerm nie, want hulle staatshospitale is van die beste in die wêreld. Die Swede mompel niks, want hulle onderrig en selfs universiteite is gratis vir burgers en die opvoeding is topklas. Die Britte  lig skaars ‘n wenkbrou, want die Moedertjie met haar kroon maak seker dat niemand op hul oudag sukkel nie.

In Suid-Afrika is belasting egter nader aan ontlasting. Die slaggate is groter as Nkandla se vuurpoel; Umtata General Hospital het rooigrond as vloere in hul operasiesale en is aangewys as die swakste hospitaal in die Suidelike halfrond; 84,9% van alle polisielede het ‘n kriminele rekord; die matrieksertifikaat is nie die papier werd waarop die groen ink gedruk word nie en en en en en en…

Belastinggeld, soos omskryf deur die VN, moet aangewend word om drie basiese behoeftes van die nasie te voorsien: onderrig, gesondheidsdienste en veiligheid. Suid-Afrika faal in elke kategorie. Nou staan die saak so:

Ons is meer as 100 000 Suid-Afrikaners wat woon en werk in die Midde Ooste, waar ons 0% belasting betaal. Ons stuur geld maandeliks terug RSA toe om huislenings, karre, pensioenfondse, universiteitsgelde, karpaaiemente en vensterkoevertjies te betaal. Ons kom hou vakansie en gee nie net ons harte nie, maar elke laaste sent aan ons tuisland. Hoekom? Want daar is nie werk is Suid-Afrika nie. En AS jy werk kry, hoes en betaal jy om net kop bo water te hou. Hier kan ons asemhaal sonder om ons burgerskap prys te gee of permanent te emigreer. Ons offer tyd saam met Oupa en Ouma op. Ons mis troues, begrafnisse en Sondagetes. Ons praat in vreemde tale en kners op ons tande oor vreemde kulture, alles in die naam van vooruitgang. Ons doen dit, want ons eie land kan nie so goed vir ons sorg nie.

Maar nou wil ons liewe, liefste regering belasting van ons eis. Ons bloedgeld moet nou vir hulle swieties koop. Hulle dink nie aan die verliese wat hulle op die langtermyn gaan ly nie. Hulle oorweeg nie ons omstandighede en leefkoste hier nie. Nee, soos gulsige hamsters wil hulle hul eie kieste vol prop met ander se neute.

Begryp dit reg, die wet is nog nie deurgevoer nie. Dis nog net sprake. Maar verstaan my mooi Vader Jakob: Ek gaan nie die dogter wees wat net lê sodat jy my kan verkrag nie. Ek sou nog kak en betaal in die ou Transvaal, maar ek sal eerder ‘n vlugtende emigrant word voor ek vir u ‘n nuwe stortkop koop. Ek sal my paspoort brand en my belasting gaan betaal vir iemand wat my met ope arms gaan ontvang. Ek gaan die taal van hart verloën in die naam van regverdigheid. Ek is bereid om te verloor, net sodat jy nie kan wen nie.

Lughawe

Die lughawe is ’n kosmos wat nie eintlik aardse standaarde handhaaf nie. In die aankomsaal huil mense van vreugde, word geliefdes omhels met ’n verlange wat min mense kan omskryf en trippel klein kindertjies opgewonde rond, terwyl hulle wag vir Oupa en Ouma. Daar is dan ook Oupa en Ouma wat ongeduldig wag om hul kinders wat lankal emigreer het, te ontmoet vir die kuiertjie in hul geboorteland.

By die hekke waar mens moet groet, is die trane egter van ’n ander kleur. Om te groet is nooit maklik nie, of dit nou vir ’n vinnige vlug Kaap toe is en of die gesin hul weg vind na groener weivelde… êrens tussen die tasse met wieletjies, stootwaentjies en gemaklike skoene, kan jy ’n hart hoor breek.

Die Chinese mannetjie oorkant my sit kiertsregop en slaap. Die vreemde wese met haar pienk hare, neusringe en spykerhakke fassineer my tot ’n punt waar ek oopmond staar. Ek sug as ek sien wat water kos in die klein winkeltjie en frons myself sommer ’n plooi ryker toe ek sien dat mens hier R32.50 moet opdok vir ‘n Crunchie.

Voor die hek staan iets met kierietjiesbene en ’n geel, offisiële oorjassie wat my skeelhoofpyn gee. Die stempel in haar hand gee haar onverdiende mag… en sy weet dit.

Die paartjie met die drie woelige seuntjies het donker kringe onder hul oë en as jy na die mense om hul kyk, kan ek hoor hoe almal bid om nie naby hulle te sit nie.

Hier mag ons nie oor bomme grappies maak nie, moet jy jouself tot 100ml vloeistof beperk, ‘n stuk vleis met ‘n plastiekmes probeer sny en ervaring leer my om liefs nie met stywe klere lang vlugte aan te pak nie.

Die lughawe is koud en warm in een asem. Dis ‘n paradoksale plek van vreugde en hartseer, opwinding en vrees, hoop en wanhoop, opstyg en landing… ‘n hawe wat die tyd van kom en die tyd van gaan aankondig.

Al is elke lughawe uniek gebou, is dit ook ‘n universele waarheid van Babel se tale en emosies. Mag ek nog vir baie jare die voorreg geniet om hier my inspirasie te kom vind, want al streef ek om veilig op aarde te loop, is my kop op sy oopste in die lug.