Rook gerus

Kyk, ek is nie ‘n prediker, preker of predikant nie. Ek lig so nou en dan ‘n wenkbrou, maar as dit nie ‘n kwessie van lewe en dood is in my binnekring nie, ignoreer ek nogal maklik ander se sake. Ek is nou nie hoogheilig nie, allermins perfek en in ‘n glashuis sal ek ook nie kan bly nie, maar dat ek ‘n wil van my eie het, is die reine waarheid. Die laaste paar weke is ek telkemale vasgevang in die oorlog tussen rokers en nie-rokers. Na navorsing om die braaivleisvuur en in die kombuis, na gesprekke met die walmweses en die rookvryes, na artikels en advertensies… wil ek graag vir alle rokers sê: rook gerus.

Ek moet egter byvoeg: MAAR…

Rook gerus, maar dan wil ek asseblief nie klagtes aanhoor oor jy nou al oor die R40 vir twintig suigstokkies moet opdok nie. Ek sukkel om die logika agter jou finansiële moeilikheid te verstaan as jy ‘n dosyn tabaktakkies daagliks kan laat verdwyn, maar jy wil nie jou eie vleisie bring as ons braai nie, want jy het nie geld nie.

Rook gerus, maar moet my dan asseblief nie kwalik neem as ek nie langs jou aan etenstafel wil sit nie. Die geur van ‘n Stywe Sant lê dalk lekker in jou neusholte, maar dis vir my minder aangenaam. Moet dan ook asseblief nie verklaar dat ek dink ek is beter as jy net omdat ek nie in die rokersafdeling by die restaurant wil sit nie. Ek wil my kos proe, dankie.

Rook gerus, maar as jy hoes en proes, kug en sug, terwyl jou longe hande klap vir pouse, moet asseblief nie van my verwag om simpatiek te vra wat nou (weer) fout is nie.

Rook gerus, maar ek gaan nie my storie tot halt roep tot jou wederkoms nie. Ek wil aanhoudend kuier. Ek smeek maar jou vergifnis as ek na jou gevlekte naels en tabaktande staar, dit is maar vir my vreemd.

Rook gerus, maar moenie mompel en mor oor hoe koud dit buite is in die middel van die winter nie. Ek is nie seksisties, rassisties of enige -isties net omdat ek nie wil hê jy moet in my huis rook nie. My huis, my reëls. Ek sal nie boontjies eet en aspris in jou kombuis gaan staan en poep nie, so moet asseblief nie daaraan dink om in my sitkamer te kom sit en rook nie.

Rook gerus, maar asseblief tel jou stompies op en gooi dit in die asblik. Blaas asseblief jou wolkwolle weg van my kinders af. En verskoon maar as ek nies oor jou reukwater nie regtig jou reukroes verdoesel nie. My sinusholtes is maar sensitief.

Ek sal nie kla as ek in die kroeg staan nie. Dis ‘n rokersvriendelike plek. Ek sal my bes probeer om nie te preek nie. Ek gun jou elke trek, elke oomblik van vreugde en elke spanningsverligting wat jy ervaar met elke nikotienbelaaide asemteug. Ek salueer jou weiering om op te gee. Ek respekteer dat dit jou keuse is en nie jou verslawing nie. Ek erken jou besef dat jy nie ‘n slaaf is nie, maar ‘n vrywilliger. Ek sal jou met ope arms ontvang en onthaal, ek sal gesels en uitvra en nie ‘n wenkbrou lig as jy eenkant toe tree en ‘n liggie gebruik om jou trekpleister te laat vlam vat nie. Ek sal steeds van jou hou, liewe roker, maar ongelukkig is dit voorwaardelik.

 

Advertisements

5 thoughts on “Rook gerus

  1. My man is gediagnoseer met blaaskanker.. die Onkoloog het vertel dat Blaaskanker meeste by mans voorkom wat rook.. hy het toe opgehou rook, al die geld wat gespandeer was op sigarette na sommetjies gemaak is, nogal verstommendr bedrag.. en ons juig daardie asbakkie ruik en rookruikie weg soos mis voor die son.

  2. Jy’s ‘n beter mens as ek. As ex-roker is ek ‘n sigaret-Nazi (wat gewoonlik die geval is – is dit nie eienaardig nie?) en ek het geen simpatie met rokers nie. Elke keer as ek dink aan die skade wat 40 jaar se rook my aangedoen het, het ek lus om myself te klap.

  3. Menz rook. Menz rook nie binneshuis nie, menz gooi nie stompies rond nie maar altyd in die asblik as daar nie fasiliteite is nie. Menz staan eenkant toe sodat die rook nie in die geselskap inwaai nie.

    Menz sal seker ophou, eendag. Wanneer menz so voel.

  4. Hoe sleg voel die standerd 4 seuntjie wat st pa se Gold Dollor begin steel het .Wat teen sy diensplig jare by 90 per dag getrek het.
    Het begin besef dit is NIE goed vir hom toe die weermag uiitklaar ondersoek die kol op sy longe kry.

    Nou is ek in die lang oorlog

    Kougommetjies werk nie Plakkers het soort van gewerk.

    E siggarette werk sover die beste en ek trek nou by 15 sigarette per dag

    miskien kry ek reg om op te hou voor hul my vermoor?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s