Karma

Die wiel draai. Die woorde wat my moet sus as ek onmenslike optrede aanskou. Ek kyk die video van ‘n oppasser wat ‘n baba ruk en pluk. Die bloed stol in my are, terwyl ek met afgryse na die barbaarsheid staar. Wel, die wiel draai nie vinnig genoeg nie. Ek weet ek is dalk net ongeduldig, maar ek wens sulke tipe mense kry bloeiende aambeie. En wurms. En kopluise. En pitswere onder hul arms. En ingroeihaartjies in hul lieste.

Wat jy gee sal jy ontvang. Trooswoorde vir as jy jou tyd opoffer om klein babahondjies te red en by die ouetehuis se fondsinsameling pannekoeke gaan bak op ‘n Saterdag. Maar wat van pas afgetreëde paartjies wat hul geld in die kerk belê het en nou sonder heenkome, inkomste of neseier sit? Hulle het gegee… en toe is daar weggeneem ook. My wens is dat elke boosdoener wat die ekwilibrium van die heelal omdonner, sy tong met kokende koffie sal brand, papiersnytjies op ongemaklike plekke sal kry en ‘n abses in elke kiestand.

Wat jy saai sal jy maai. Doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê. Bybelse verwarring word losgetorring in my binneste. Ek hoor hoe platejoggies rassistiese uitlatings maak en hoe meubelhandelaars hul advertensies onttrek en hoe ek nou nie meer na hulle mag luister (of by die Spur mag eet) of geld moet gee vir Good Morning Angels nie. Ek mag dan mos nie vir Tumi (of die Spur) haat nie, want ek wil nie hê iemand moet my haat nie? Ek het nie die septer in my hand nie, so wie is ek om hom te swaai. Ek is deurmekaar.

Wat op gaan, moet ook af kom. Maar die priesters karring steeds aan klein seuntjies. En die ongeletterde presidente kry groter huise. Terwyl die finansiële jakkalse oumense roof en seiljagte in Griekeland koop. Gravitasie se 9.8 m/s² is te stadig vir my. So engeltjies daarbo, wil julle nie maar so paar mense terugstamp aarde toe nie?

Ek wil net so klein bietjie regverdigheid in die heelal bespeur. Asseblief. So liewe tannie Karma, mag ek groot asseblief in my volgende lewe, jou afleweringsdame wees?

 

Advertisements

4 thoughts on “Karma

  1. Ja, mens verstaan nie altyd alles nie en weet jy wat, ek het al die goetertjies wat hulle moet oorkom, vreeslik geniet.
    (Dalk is dit juis die ingroeitoonnael wat so seer is en die aambei wat jeuk wat maak dat hul so wreedaardig optree. Hoe sal ons weet? ?

Lewer kommentaar op Estelle Kanselleer die reaksie

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s