Om swart te dra

More moet elke Suid-Afrikaner die swart gewaad aantrek, want ons rou. Die plaasmoordsyfers is skokkend. Die foto’s wreed. Die dade ondenkbaar. Die verlies enorm. Die frustrasie tasbaar. Die woede lê vlak. Die vrees ook.

Ons moet ons profielfoto’s raam met ‘n slagspreuk waar ons die boere ondersteun. My laggende self moet getuig van ‘n warboel emosies waar ‘n 78-jarige tannie eers met ‘n strykyster gebrand, toe met ‘n vurk verkrag en eindelik met ‘n broodmes doodgesteek is.

Ek moes petisies teken, my ondersteuning onderstreep, harder bid, boodskappe en video’s versprei, want die boodskap is duidelik: ons moet nou saam staan. Ons moet die oplossing vind.

Ek stem saam: drastiese stappe is nodig. Ek bid en skree en hoop saam: dis absurd. Die haat en wraaksug moet gekeer word en die vraag is HOE… Hoe gaan my swart hempie keer dat ‘n 56-jarige mielieboer se oë met ‘n pen uitgekrap word? Hoe gaan die raampie om my foto keer dat ‘n sesjarige haar pa moet sien doodbloei? Gaan dit net oor bewusmaking? Wel, ek is bewus. Vir ‘n geruime tydjie al.

Hoe keer ons regtig ‘n ongeletterde, irrasionele massa van meer as 35 miljoen wat deur ‘n ongeletterde, irrasionele, demokratiese diktator van hebsug en mag gedryf word? Ons kan nie hierdie oorlog op ons eie wen nie. Ons het nie die getalle nie. As die Verenigde Nasies erken dat massamoord ter sprake is, gaan hulle soldate met vliegtuie stuur om te… om te wat? Die boere op plase te beskerm? Die regering omver te werp? En dan? As die BBC en CNN berig oor die gruweldade aan die Suidpunt van Afrika, gaan die koeëls in onwettige wapens vassteek? Nee. MAAR…

Ek gaan my swart gewaad more dra. My hoof gaan hang en my hart gaan bloei. Ek weet nie wat die oplossing is nie. Ek voel uiters negatief, ontnugter, desperaat en wanhopig oor die hele situasie. So ek doen wat ek kan. Ek dra swart. Ek verander my profielfoto. Ek stuur boodskappe aan. Ek teken petisies. Want al is die eindelike doel en oplossing vir my steeds onseker, sal ek aanhou hoop. Hoop dat die Boer ‘n plan kan maak. Hoop dat die sin en rede en oplossing bestaan. En solank ons hoop, is die geveg nog nie verby nie.

 

 

 

Advertisements

Memorium

Ek het hom nie geken nie, tog het sy lewe my eie beïnvloed. Ek het hom nooit hoor lag en gesels nie, tog was sy stem ‘n klankgolf in my middeloor. Ek kan nie met eerlikheid getuig van sy vernuf met ‘n braaitang, sy vermoë as ‘n Oupa of sy geduld agter ‘n minibussie op die snelweg nie, maar die energie van sy bestaan het die wêreld ‘n beter plek gemaak.

Miskien het hy Saterdae vir die Bokke geskree. Die moontlikheid van ‘n voorliefde vir biltong is groot. Dalk het hy soms bruin skoene saam met ‘n swart belt aangetrek. Dalk was daar ‘n gaatjie in sy t-hemp. Dalk het hy nie die toiletsitplek laat sak, die handoek van die vloer af opgetel of sy koffiebeker kombuis toe gevat nie. Dalk het hy gesnork. Bier drink? Camel rook? Lelik praat? Ek weet nie. Miskien. Soms. Maak nie regtig ‘n verskil nie.

Ek is nie seker of jy ‘n tattoo van ‘n draak oor jou bors gedra het nie. Was jou Oakley’s vals? Het jy meer van KFC of Nando’s gehou? As jy gras gesny het, het jy Crocs gedra? Het jy ooit gras gesny? Wat was jou gunsteling kleur? Het jy Aquafresh of Colgate gebruik? Hoekom loof naasbestaandes jou durf en deursettingsvermoë? Hoekom het jy so onwrikbaar in die Bybel geglo? Hoe het jy jou vrou geliefd laat voel? Jou kinders sò selfversekerd? Hoekom het ek nooit moeite gedoen om jou te leer ken nie? Ek het uitgemis.

 

Jy was die Boer wat gisteraand op die plaas met ‘n panga doodgekap is. Jy was die Man wat onverwags onder in die myn inmekaargesak het. Jy was die Pa wat in die motor was wat onder die trok se wiele beland het. Jy was die Broer wie se longe onder narkose plat geval het. Jy was die Sakeman wat van die brug afgespring het. Jy was die Soldaat wat in Irak die vlag vir jou Vaderland gaan swaai het. Jy was die Boemelaar wat onder die brug gevind is. Jy was die Polisieman wat die koeël moes stuit om die seun te beskerm. Jy was die Kind van ‘n ma wat nooit weer dieselfde sal asem haal nie. En vandag is ek werklik spyt dat ek jou nie geken het nie. Ek salueer jou bestaan in my stil oomblik. Want ek lewe. Jy nie. Maar jy het ‘n verskil gemaak. En ek moet nog…

Sleutel

Ek het die sleutel van my daaglikse sukses by die huis vergeet. Nie figuurlik gesproke nie. Die sleutel van my laaikas by die skool, waarin my skootrekenaar, puntelyste en beplanning gebêre word, het op die kombuiskas bly lê nadat ons net na ses vanoggend die pad skool toe gevat het. Binne 90 minute nadat hierdie besef my soos ‘n nat padda in die gesig getref het, het ek ook baie dinge van myself geleer:

Eerstens sal ek beslis nie ‘n goeie krimineel kan wees nie. Selfs na vier YouTube videos kon ek nie ‘n skuifspeld, haarnaald of gebreekte skêr gebruik om die slot te verraai nie. Tweedens het ek besef dat ‘n sleutelbeen beseer kan word as mens hard genoeg teen ‘n kas stamp met die hoop om die slot te oorreed om wonderbaarlik oop te gaan. Derdens kon my kreatiwiteit en sin vir humor darem die skoolhoof oorreed om my nie af te dank omdat ek nie die register kon voltooi of myself kon inteken vir die dag nie. Met ‘n “abrakadabra” en besonder komiese vertelling van die penarie waarin ek myself bevind, het die sleutelbord agter slot en grendel gebly en die hoof het maar net glimlaggend en kopskuddend omgedraai en weggeloop. Vierdens kon ek impulsief nuwe lesse uitdink. Die slimmes noem dit “omgekeerde klaskamers” waar die leerders beheer neem van instruksie. Ek noem dit “in tye van nood en geen beplanning maak die juffrou seker dat die muis ook maar kan baas speel.”

Ek het ophou tel by nommer vyf, maar die lysie van nuwe insig het bly groei. Mens kan koffie drink sonder suiker (my sakkies soet lê onder die puntelyste in die tweede laai). Op Maandae tydens pouse kom die skoonmaakpersoneel in die saal bymekaar om ‘n rondte vriendelike sokker te speel. Ek sit gewoonlik en werk, maar sonder ‘n rekenaar kon ek ronddwaal en verken. Hassan, die sleutelspeler van die oplossing,  is die man wat met ‘n skroewedraaier slotte kan kraak en laaikassies kan oopmaak. Hy kom van Bangladesh en is nog net drie maande by die skool. Ek het geleer dat kinders sonder tegnologie kan klaarkom. Puntelyste is nie die alfa en omega van elke beplanningstaat nie. Die hoof is nie regtig so vreesaanjaend nie.

Na vele interne kragwoorde, twee gebreekte naels, twaalf misvormde skuifspelde en ‘n dag van onsekerheid, angs en intense verligting toe die laai eindelik oopgly… vind ek die sleutel onder in my handsak, wat die hele dag reg langs my gestaan het. Toppunt van ironie. Of was die streng slot, dalk juis die sleutel tot vandag se sukses?

Die verskil

Daar is ‘n skrywer in elke asem. Nie noodwendig ‘n goeie skrywer nie, maar elkeen het tog ‘n storie om te vertel. Nie noodwendig ‘n opwindende of opbouende storie van oorwinning, oorkoming of oordadige sukses nie, maar uit elke dag spruit tog gebeure. Nie noodwendig interessante of opbouende gebeure nie, maar tog iets om om die braaivleisvure oor te vertel.

Uitgewers in Suid-Afrika sal mens maklik meedeel dat jou storie nie werklik uniek of besonder is nie. Kanker word daagliks oorwin. Kinders word weekliks gemolesteer. Egpare skei gereeld. Pleegsorg lewer gereeld suksesverhale op. Psigopate, skisofrene, pedofiele en Springbokondersteuners het almal geliefdes wat verstaan van pyn en hartseer. Uitgewers wil nie noodwendig die suksesbelewing verkleineer, die wonderwerk afkraak of die hoogtepunt van jou lewe in die asblik gooi nie, maar hulle het eintlik een doel: om geld te maak. Hulle doel is nie om werklik lewens te verander nie.

Die grootste droom op aarde word deur soveel as 90% van die populasie gedeel. Klein kindertjies wil stories oor drake en prinsesse skryf. Tieners wil met romantiese soetsappighede diabete die emmer laat skop. Jong werkendes reken hul wil die wêreld met hul kennis en insig verstom. Middeljariges wil die mensdom vertel van hul struwelinge om die suksesleer te klim. Bejaardes wil hul lewenslesse deel om seker te maak dat ander nie ook hul foute pleeg nie. Maar om ‘n boek te skryf sit nie in enige ou se broek? se pen? se hande? se persoonlike grimering nie. Enige suksesvolle skrywer (behalwe dalk daai antie wat oor vyftig skadu’s van grys geskryf het) sal jou gretig meedeel dat skryf ook maar werk is. Jy moet opstaan, voor die komper gaan sit en tik dat die sleutelbord kreun. Jou gedagtes wroeg met karakters, jou brein skommel met spelling en sintaks, leestekengebruik word heroorweeg en die tegniese aspekte van enige opstel of roman, word nooit in die hande van ‘n taalversorger alleenlik oorgelaat nie. Dit, terwyl jy die uitgewersmark se aanvraag in gedagte moet hou.

 

Vir elke gepubliseerde skrywer, is daar ‘n duisend wat afgekeur is. Agter die wat afgekeur is, is nog tienduisend wat nie die waagmoed het om die manuskrip in te stuur nie. Agter die wat die waagmoed verbeur, is nog ‘n honderd duisend wat nie eers nie gedagtes op papier kon sit nie.

Is ek negatief? Is ek ‘n doemprofeet? Is ek die moordenaar van drome? Glad nie. Ek was die persoon wat eers nie my gedagtes op papier kon pen nie. Toe het ek vir lank gehuiwer. Ek is afgekeur. Weggewys. Eindelik gepubliseer. En nou wil mense weet: hoe kan hulle ook?

Wat was die verskil vir my? Opstaan, afstof, weer probeer, uithou, aanhou, verby die cliché van deursettingsvermoë kyk. Skryf terwyl ek wag vir my lisensie, skryf terwyl die wasgoed was. Skryf terwyl ky borsvoed. Maak ‘n plan, skep tyd, doen dit net. Dit kan jóú verskil ook wees.