Egskeiding

‘n Vriendin van my stap deur die plasse water op egskeiding-grond. Sy skree op die man wat haar ingeruil het vir ‘n jonger duiker, want hoe ouer die bok, hoe harder is die horing. Sy huil oor die vernedering en die gevoel van “ek-is-nie-goed-genoeg-nie” en die selfverwyt wat soos ‘n irriterende muskiet om haar kop en in haar binne-oor bly singel. Sy wens sy kon die horlosie terugdraai, sy het hopeloos te veel jare op ‘n poephol gemors. En nou gaan die nuwe Mevrou My_tieties_het_nog_nie_begin_hang_nie, deel in die pensioen waaraan sy ook vir 30 jaar gewerk het. Wraakgedagtes van hoe sy sekere liggaamsdele met ‘n stomp teelepel wil afsny neem oor na ‘n paar glase wyn en word eindelik met die verdriet van mislukking vervang. Sy verwens haar pa wat haar eintlik vriendelik verplig (oftewel “aangeraai”) het om met Mnr. Reg-In-Daai-Oomblik die knoop deur te haak, want die toekoms het toe so stabiel, veilig en koesterend voorgekom. Die liefde is blind, so jy sien nie die stront kom nie. Maar die liefde se neus werk goed en sy moes lankal die vis in die gras geruik het.

Ek het nie vreeslik ervaring op die gebied van egskeiding nie. Ek het dit egter in die laaste paar jaar al telkemale oorweeg,  veral as Manlief… wag, dat ek nou nie vuil wasgoed op die vloer los nie (kug-kug). Met genade was die oomblikke gelukkig van korte duur en het ons huwelik nog ‘n jaar oorleef. Nie sonder swoeg en sweet en swets nie (wyn help ook soms om die pyn te verlig), maar so staan ek dus met albei voete nog in die potplant van ons vereniging. Gelukkig, gesond, geseënd.

 

Ek verstaan dat egskeiding nie maklik is nie. Dis soos om aansoek te doen vir jou enkellopende bestuurslisensie na jare van passasier wees in die gesinskar. Jy moet jou oë laat toets (ook jou geloof). Jy moet in toue staan en op jou tong byt om nie iemand te vloek nie. Al het jy die onkeerbare drang om in die hoekie te gaan sit en jouself oor te gee aan verwesenheid, weet jy die vloer is vuil en is jy nie lus om die papgekoude Mentos uit jou broek te was nie. Maar eindelik kom jy voor, handig jy die papierwerk in en dan wag die vryheid van die pad daarbuite. Jy let op na ander voertuie. Jy gaan staan as gevolg van brandstoftekort. Jy sluit aan by sosiale versekering om jou waarde te bevestig. Jy leer dat Meneer Rooi Sportmotor rondry met ‘n pap wiel in sy kattebak. Jy kliek dat Meneer Blink BMW se kredietkaart kreun in sy Calvin Klein broeksak. Jou emosies is die N1 tussen Pretoria en Johannesburg op ‘n Vrydagmiddag. Duimgooiers, volksverraaiers, draadsitters, vriendinne wat jou nuwe meubels help kies…

 

Die plasse trane droog op. Die slagveld groei weer fynbos. Niemand trou om te skei nie. Maar as ek na my nuwe, vryer, vriendeliker en gelukkiger vriendin kyk, weet ek dat ek nog een ding vir my kinders wil leer: moenie trou omdat jy moet nie… en moenie bang wees om te skei nie.

Advertisements

Goedheid en guns

Soms voel dit mos asof die heelal jou met ‘n vuis in die maag moker. Nie met ‘n enkele dwarshou nie, maar sommer met so vinnige linker-regter-links-links wat Gerrie Coetzee sou laat bloos. Dis nou nie asof Meneer Aarde werklik jou met die plathand ‘n oorveeg gee nie, ek oordryf weliswaar, maar ek het lankal geleer om myself so elke dan en wan aan die iepekonders van selfbejammering oor te gee. Tydelik en sonder enige permanente skade, maar tydens hierdie wanhopige oomblikke sien ek in my geestesoog hoe ek die stryd teen goedheid en guns verloor.

My beursie voel dunner as ‘n supermodel se kuite. My humeur is korter as ‘n duisendpoot se toonnaels. My intelligensie val na ‘n vlak waar ek wonder of duisendpote toonnaels (of selfs tone) het. Die badkamer oorstroom vir ‘n derde keer. My oogpotlood se punt breek af. Die oranje Oros-vlek op my spliknuwe wit beddegoed is amptelik permanent afgevaardig om my te irriteer. Soos ‘n spelvout. Aspris fouteer. Ek stamp die kar dat jy drie lyne verf sien spat. Ek val by drie trappies af en my knieë herinner my aan ‘n tyd op ‘n pienk fiets in Steelpark met ‘n Ouma wat spoeg smeer om die seer te verminder. Ek verlang na my Ouma. Ek soek my Ma. Hoekom is daar plaasmoorde? En emigrasie is kak. En ek is moeg. En…

En dan kry ek uit ‘n onverwagse oord ‘n kaartjie om die spoggerige ‘La Perle by Dragone’ in Dubai by te woon. Gratis. En dan hoef ek nie vir die pragtige mengeldrankie te betaal nie. Pasella. En dan kan ek ‘n hele dag saam ‘n dierbare vriendin ontvlug na ‘n boheemse wêreld van kleur en klank. 1,5 kg Crosse & Blackwell mayonaisse staan in die kombuis. Deur dierbares uit die Moederland vir my aangevlieg. Sonder enige verwagting.

Planeet Aarde het met die regte voet om die as begin draai.

Dis ongelooflik hoe ‘n enkele gebaar… een persoon se onbaatsugtige optrede… ‘n solo vertoning van goedheid,  ‘n hele onderstebo-week weer regop kan draai. More gaan ek vir ‘n vreemdeling glimlag. Dit kantel dalk net haar dag in balans. Ek gaan ‘n boodskap stuur sonder rede. Dalk val die woord op ‘n oor in nood. ‘n Ekstra kosblik sal in die hande van ‘n besige juffrou beland. Die toiletrol sal ek ruil. Die broodkrummels van die kas sal ek afvee. Die drukkie sal ek gee. Die koffie sal ek maak. En die klagte… die klagte sal ek nie uiter nie. Want ek word omring met gaafheid en as ek net so klein bietjie harder probeer, sal ek ook by die gawes kan skaar.

 

Juffrou

Ek is ‘n juffrou. Nie ‘n neus-in-die-lug juffie nie, maar ‘n onder(stebo)wyser. Ek het ‘n wrede sin  vir humor en hoe langer die kinders in my Wiskunde klas worstel, hoe meer begin hulle my sarkasme, deurvleg met liefde vir skoolgee verstaan. Soms is ek moeg. So moeg dat ek gaap in die middel van my verduideliking oor integrale. Soms dwaal my gedagtes weg van my woorde. Dan onderbreek ek sommer my eie les oor ekwivalente breuke om die Graad 9’s in te lig dat my skoonma vandag verjaar en ek haar mis. Soms vergeet ek dat ek eintlik geduldig moet wees en dan uiter ek sommer ‘n amperse kraswoord as ek die derde keer moet herhaal “No, you don’t have to copy the question” of “Yes, it is the 8th of November today… for fudge’s sake” Dan begin ek maar weer proporsie verduidelik. Ek koop pizza. Regte pizza om hulle te laat sien, voel en proe aan breuke en persentasies. Ek en die Graad 12’s gaan teken hiperbole en parabole en lyne van integrasie met bordkryt op die tennisbaan. Enigiets sodat hulle net kan insien hoe dit eintlik moet lyk. En ek is verlief op die oomblik wat ‘n liggie in ‘n kind se kop aangeskakel word.

Ek is nie ‘n sexy juffrou nie. Ek dra nie hakke skool toe nie. Ek eet nie elke dag ‘n appel nie en daar is nie allerhande inspirerende aanhalings teen my mure geplak nie. Ek het nie spesiale gordyne wat in my klas hang nie en ek gee nie individuele briewe aan elke kind voor elke toets nie.

Ek lag as ek my skoen verloor, terwyl ek die seuns probeer verduidelik hoe ‘n sokkerbal nou eintlik geskop moet word en bloos as hulle hande klap as ek met die vierde probeerslag regtig egtig die bal raak skop. Ek rol my oë as dieselfde pieperige meisie vir die vierde keer in 15 minute die kamer moet verlaat, al weet ek sy wil eintlik net rondloop. Ek huil tot in my diepste wese as die seun vir my vertel hy het gister se toets gemis, want sy ma is eergister aan kanker oorlede. Ek vervies my dat ek sommer van bloedgroep en geloof verander toe die snip van ‘n nuwe juffrou vir my kom meedeel dat sy nie vir hierdie seun gaan uitstel gee vir die projek wat more moet in nie, so ek spandeer my pouse om saam met hom die projek af te handel. En verstaan my nou nie verkeerd nie, sommige van die gesiggies in my klas sal ek liewer verruil vir ‘n assak vol klippe. Van hulle is nie noodwendig intelektueel gestrem nie, maar hulle is so lui soos ‘n troeteldierwinkel se slang oor ‘n langnaweek. Hulle houding stink en vir hul ouers het ek nog minder tyd. Party kinders teem. oor. alles. Hulle kerm oor vol roosters, te min tyd en maagpyn. Ander vra dom vrae. Aanhoudend.

Om ‘n onderstebowyser te wees is nie altyd maklik, lekker of bevredigend nie. Dis harde werk. Dis nagte van slapeloosheid en rondrol en tob oor elke skeet en pyn in elke klas. Dis stres oor eksamentye en wonder of die kinders genoeg geleer het. Soms moet ek sommer drie glase wyn drink om te vergeet van elke paar ogies wat daagliks na my staar op soek na Wiskundige oplossings. En dis as ek ‘n knop in my keel kry oor ‘n handgeskrewe brief van ‘n reus, wat twee koppe langer as ek is, dat ek weet ek is eintlik moer dankbaar om ‘n juffrou te kan wees. Sommer so kaalvoet een wat nie kan bal skop nie.