Juffrou

Ek is ‘n juffrou. Nie ‘n neus-in-die-lug juffie nie, maar ‘n onder(stebo)wyser. Ek het ‘n wrede sin  vir humor en hoe langer die kinders in my Wiskunde klas worstel, hoe meer begin hulle my sarkasme, deurvleg met liefde vir skoolgee verstaan. Soms is ek moeg. So moeg dat ek gaap in die middel van my verduideliking oor integrale. Soms dwaal my gedagtes weg van my woorde. Dan onderbreek ek sommer my eie les oor ekwivalente breuke om die Graad 9’s in te lig dat my skoonma vandag verjaar en ek haar mis. Soms vergeet ek dat ek eintlik geduldig moet wees en dan uiter ek sommer ‘n amperse kraswoord as ek die derde keer moet herhaal “No, you don’t have to copy the question” of “Yes, it is the 8th of November today… for fudge’s sake” Dan begin ek maar weer proporsie verduidelik. Ek koop pizza. Regte pizza om hulle te laat sien, voel en proe aan breuke en persentasies. Ek en die Graad 12’s gaan teken hiperbole en parabole en lyne van integrasie met bordkryt op die tennisbaan. Enigiets sodat hulle net kan insien hoe dit eintlik moet lyk. En ek is verlief op die oomblik wat ‘n liggie in ‘n kind se kop aangeskakel word.

Ek is nie ‘n sexy juffrou nie. Ek dra nie hakke skool toe nie. Ek eet nie elke dag ‘n appel nie en daar is nie allerhande inspirerende aanhalings teen my mure geplak nie. Ek het nie spesiale gordyne wat in my klas hang nie en ek gee nie individuele briewe aan elke kind voor elke toets nie.

Ek lag as ek my skoen verloor, terwyl ek die seuns probeer verduidelik hoe ‘n sokkerbal nou eintlik geskop moet word en bloos as hulle hande klap as ek met die vierde probeerslag regtig egtig die bal raak skop. Ek rol my oë as dieselfde pieperige meisie vir die vierde keer in 15 minute die kamer moet verlaat, al weet ek sy wil eintlik net rondloop. Ek huil tot in my diepste wese as die seun vir my vertel hy het gister se toets gemis, want sy ma is eergister aan kanker oorlede. Ek vervies my dat ek sommer van bloedgroep en geloof verander toe die snip van ‘n nuwe juffrou vir my kom meedeel dat sy nie vir hierdie seun gaan uitstel gee vir die projek wat more moet in nie, so ek spandeer my pouse om saam met hom die projek af te handel. En verstaan my nou nie verkeerd nie, sommige van die gesiggies in my klas sal ek liewer verruil vir ‘n assak vol klippe. Van hulle is nie noodwendig intelektueel gestrem nie, maar hulle is so lui soos ‘n troeteldierwinkel se slang oor ‘n langnaweek. Hulle houding stink en vir hul ouers het ek nog minder tyd. Party kinders teem. oor. alles. Hulle kerm oor vol roosters, te min tyd en maagpyn. Ander vra dom vrae. Aanhoudend.

Om ‘n onderstebowyser te wees is nie altyd maklik, lekker of bevredigend nie. Dis harde werk. Dis nagte van slapeloosheid en rondrol en tob oor elke skeet en pyn in elke klas. Dis stres oor eksamentye en wonder of die kinders genoeg geleer het. Soms moet ek sommer drie glase wyn drink om te vergeet van elke paar ogies wat daagliks na my staar op soek na Wiskundige oplossings. En dis as ek ‘n knop in my keel kry oor ‘n handgeskrewe brief van ‘n reus, wat twee koppe langer as ek is, dat ek weet ek is eintlik moer dankbaar om ‘n juffrou te kan wees. Sommer so kaalvoet een wat nie kan bal skop nie.

Advertisements

11 thoughts on “Juffrou

  1. Ons twee het die onderstebo wyser se skrywe sooo geniet!!Beide van ons was self in die onderwys en ja het ook baie foute gemaak maar daardie bevrediging as dit wat daar belê is ,posgevat het,kan geen daarvoor vergoed nie!!! n Roeping verseker!!!!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s